Jongmense vra . . .
Waarom het ek so ’n streng aandklokreël?
LEN het dit geniet om laat saam met sy vriende uit te bly. Maar sy pa het gou agtergekom dat Len se nagtelike bedrywighede alles behalwe onskuldige pret was. “Ek het eenkeer in soveel moeilikheid beland”, sê Len, “dat ek twee weke lank nie toegelaat is om my kamer te verlaat nie—behalwe om te gaan eet en skool toe te gaan. Ek moes dit nie eens waag om deur die venster te kyk nie! Toe my straf verby was, het ek saam met ’n paar vriende uitgegaan en tot middernag uitgebly. Toe ons by die oprit inry, het ek gesien hoe my pa op die voorstoep vir my sit en wag . . . ”
Baie jongmense voel gegrief wanneer hulle ouers hulle kom en gaan beheer. Een jong meisie sê: “Toe ek my tienerjare bereik het, het my ouers begin om my vryheid op allerhande maniere te beperk, soos dat ek teen middernag by die huis moes wees. Dit het my dwars in die krop gesteek.” Wanneer sulke jongmense uiting gee aan hulle gekrenktheid deur opstandig te raak, is die gevolg gewoonlik nie groter vryheid nie, maar meer en strenger beperkings.
In die geval van ’n geringe oortreding is die straf dalk net dat jy vroeër tuis moet wees. Vir ernstiger oortredings word ’n jongmens dalk sekere voorregte ontneem of hy word dalk tydelik gehok. “As jy op ’n Saterdagaand laat tuiskom”, verduidelik een tienermeisie, “word jy dalk glad nie toegelaat om die volgende Saterdag uit te gaan nie.” En dan is daar ‘alleenopsluiting’: geen besoekers, geen telefoonoproepe, geen televisie nie. Maar vir party jongmense is die ergste straf van alles wanneer daar vir hulle gepreek word. “O, hoe skuldig laat hulle jou tog nie voel nie!” roep een tienerseun uit. “Hulle vertel jou presies hoe bekommerd hulle oor jou was. Die skuldgevoel is verskriklik.”
Maar is dit nie waar dat jou ouers jou liefhet en die reg het om daarop aan te dring dat jy teen ’n redelike tyd tuis moet wees nie? En wanneer jy nie teen daardie tyd tuis is nie, is hulle onrustig, besorg of kan hulle miskien nie eens slaap nie. ’n Jongmens wat sy ouers werklik liefhet en vir hulle omgee, sal beslis nie die oorsaak van sulke onnodige kommer wil wees nie. Sal dit nie toon dat jy uiters selfsugtig is nie?
Maar baie jongmense voel dat hulle ouers vir hulle beperkings stel wat onregverdig of onredelik is. “Dis malligheid dat hulle my soos ’n vyftienjarige probeer behandel”, maak 18-jarige Fred beswaar. “Ek weier net om te doen wat my pa sê, en ons is permanent in ’n stryd gewikkel daaroor.” Maar daar is beter maniere om die situasie te verwerk as om opstandig te raak.
Regverdig of onregverdig?
In die eerste plek, hoe onregverdig is daardie beperkings nou eintlik? Soos ’n vorige artikel getoon het, het jou ouers heel waarskynlik grondige redes waarom hulle oor jou veiligheid en welstand besorg is.a Word ander Christenjongmense van jou ouderdom nie ook so beperk nie? Indien wel, watter grondige redes het jy om jou ouers se goeie oordeel te bevraagteken?
Jong Len, wat aan die begin gemeld is, het nie besef dat sy pa sy belange op die hart dra nie. Jy sal onthou dat hy sy aandklokreël oortree het, en dat sy pa hom op die voorstoep ingewag het. Wat was Len se oplossing hiervoor? Meer ongehoorsaamheid. “Toe die motor by die oprit inry, het ek in die motorsitplek afgeskuif sodat Pa my nie kon sien nie, en ek het my vriend gevra om die motor weer uit te trek. Ek het besluit om die huis te verlaat.” Len hét die huis verlaat en het met ’n wilde groep jongmense begin omgaan wat daartoe gelei het dat hy by geslagsonsedelikheid, motordiefstal en dwelmmisbruik betrokke geraak het. Hy het uiteindelik in die tronk beland. ’n Uiterste geval? Miskien. Maar dit lig die waarheid van Spreuke 1:32 goed toe: “Want die afvalligheid van die onervarenes kos hulle die dood.”—NW.
Party jongmense maak moontlik nie beswaar teen die idee van ’n aandklokreël nie, maar hulle voel gegrief wanneer hulle broers of susters skynbaar meer vryheid as hulle geniet. “My ouer broer Mark kon so laat uitgebly het as wat hy wou”, kla ’n jong meisie, Patti, “maar hy is nooit gehok nie. Ek—as ek net ’n paar minute laat is, is dit neusie verby! Dis nie regverdig nie.” Dit is duidelik waarom so ’n situasie jou kan ontstel. Maar voordat jy “onregverdig!” uitroep, beskou die Bybelbeginsels wat in Galasiërs 6:4, 5 uiteengesit word: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel; en dan sal hy grond vir roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander betref nie. Want elkeen sal sy eie pak dra.”
Jy is ’n individu. En die feit dat ’n ouer broer of suster sekere voorregte geniet, beteken nie noodwendig dat jy ook daarop geregtig is nie. Jou ouer broer of suster moes heel waarskynlik oor ’n tydperk bewys dat hy of sy vertrou kan word. Jy sal ook. Hou jy in elk geval daarvan wanneer jou ouers jou met ’n ouer broer of suster vergelyk? Waarom doen jy dit dan deur julle verskillende voorregte te vergelyk? In sy boek “After All We’ve Done for Them” sê dr. Louis Fine: “Die manier waarop ouers hulle kinders behandel en tugtig, verskil dikwels van kind tot kind. Dit is moontlik omdat hulle besef dat hulle kinders individue is met hulle eie behoeftes en vermoëns en dat hulle verskillende persoonlikhede in ag geneem moet word.”
Maar partykeer voel jongmense dat hulle vir ’n ouer broer of suster se foute moet boet. “Net omdat my suster die motor geneem en te laat uitgebly het, mag ek nou glad nie laat uitbly nie. Ek word nie eers die kans gegun om myself te bewys nie!” Maar hierdie situasie is heel moontlik nie so onregverdig as wat dit lyk nie. Jou ouers is ouer en verstandiger as toe hulle jou broer of suster grootgemaak het. Omdat hulle nie hulle foute wil herhaal nie, is hulle moontlik ’n bietjie strenger met jou.
Maar waarom moet jy gestraf word omdat jy ’n bietjie laat tuiskom? Dit is beslis nie pret wanneer ’n mens gehok word nie. Jy sal dus eers goed dink voordat jy weer laat tuiskom. Jong Marcus stel dit só: “Ek is al baie gestraf. . . . As jy nie gestraf word nie, sal jy nooit iets leer nie.” Die Bybel sê dus: “Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe.”—Spreuke 10:17, NAV.
Oorbeskermende ouers
Dit lyk weliswaar asof die straf soms baie erger as die “misdaad” is. Ouers kan ’n bietjie oorbeskermend wees en miskien onredelike eise stel. Maar deur goeie kommunikasie kan probleme dikwels in die kiem gesmoor word. As jy jou ouers sê waarheen jy gaan, wat jy gaan doen, saam met wie jy gaan en wanneer jy terug sal wees, sal hulle waarskynlik gewilliger wees om jou ’n bietjie vryheid te gee. As dit lyk asof hulle onredelik is, kan jy probeer om hulle “op die regte tyd” te nader—moontlik wanneer hulle kalm en rustig is (Spreuke 25:11). Erken dat hulle vrese en bekommernisse het. Verseker hulle van jou liefde vir hulle en jou begeerte om hulle jou samewerking te gee. Help hulle om te besef dat meer vryheid ’n deel van die grootwordproses is.
“Jy moet hulle ook presies laat weet wat die situasie is”, sê een tienermeisie. “Wanneer jy verduidelik waarom jy by ’n sekere geleentheid nie vroeg tuis kan wees nie, verstaan hulle gewoonlik.” As jy sake op ’n volwasse manier bespreek, sal jou ouers besef dat jy ’n verantwoordelike persoon is—iemand wat vertrou kan word. As jou ouers nog twyfel, kan jy miskien ’n redelike kompromis voorstel.
Sê nou jy kry hulle toestemming? ‘Laat jou Ja Ja wees’ en wees betyds tuis! (Mattheüs 5:37). Maar selfs die beste planne kan skeef loop. (Vergelyk Jakobus 4:13, 14.) Iets kan onvoorsiens voorval of jy moet jou planne dalk skielik verander. Wanneer dit gebeur, moet jy huis toe bel as dit moontlik is, en jou ouers laat weet wat aangaan. “As my ma weet waar ek is en dat ek op pad huis toe is, is sy tevrede”, sê een tiener.
Nog iets wat belangrik is, is hoe jy jou in die verlede gedra het. Spreuke 20:11 sê: “Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is.” As jy nog altyd gehoorsaam was en jou gedrag onberispelik was, sal jou ouers moontlik kalm bly indien jy by een geleentheid ’n bietjie laat tuiskom. Soos jy weet, was Jesus se ouers, selfs met sy geskiedenis van volmaakte gedrag, “met angs” vervul toe hulle hom nie kon vind nie (Lukas 2:48). Jy moet dus nie verbaas wees as jou ouers ontsteld raak nie—só ontsteld dat hulle jou dalk nie eers toelaat om te verduidelik waarom jy laat is nie!
Spreuke 29:11 sê: “’n Dwaas laat al sy toorn uitvaar, maar ’n wyse bring dit eindelik tot bedaring.” Wag eers totdat hulle nie meer so kwaad is nie. Wanneer dinge ’n bietjie bedaar het, kan jy verduidelik wat gebeur het. Maar ‘praat die waarheid’ (Efesiërs 4:25, NAV). Moenie vergesogte verskonings uitdink nie; dit sal net bewys dat jy nie vertrou kan word nie. As jy nalatig was of vergeet het, moet jy opreg om verskoning vra en gewillig wees om straf te aanvaar. Miskien sal jou ouers dit nie nodig ag om die saak verder te voer nie. Maar aan die ander kant voel hulle dalk dat verdere beperkings nodig is, en jy sal eenvoudig hulle vertroue moet terugwen.
Aandklokreëls kan ongerieflik wees, maar hulle is beslis nie ’n wrede of ongewone straf nie. Berus jou daarin. As jy met jou ouers saamwerk en nie opstandig raak nie, kan hulle selfs besluit dat hulle nie so streng hoef te wees nie en dat hulle jou meer vryheid moet gee.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Jongmense vra . . . Waarom moet ek so vroeg tuis wees?” in die Ontwaak! van 8 Mei 1992.
[Prent op bladsy 23]
As jy opstandig raak teenoor jou ouers lei dit dikwels daartoe dat jou vryheid verder beperk word