Die skrophoender en roereiers
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE SALOMON-EILANDE
OMTRENT twee uur per kano uit Honiara, die hoofstad van die Salomon-eilande op die Guadalcanal, is die eiland Savo wat bekend is vir sy aktiewe vulkaan en die skrophoender, wat ook as die Australiese boskalkoen bekend staan. Die inboorlinge gebruik soms die warm rotse en die strale stoom wat uit krake in die grond kom om hulle kos te kook en hulle watervoorraad te verhit. Die skrophoender maak ook op ’n baie slim manier hiervan gebruik.
Hoewel die skrophoender heelwat kleiner as die gewone hoender is, lyk hulle dieselfde, met ’n swaar lyf, kort geronde vlerke en groot, sterk pote met vier tone. Die snawel is kort en effens afwaarts gekrom. Die skrophoender se vlug is vinnig maar van korte duur.
Die skrophoender behoort aan dieselfde voëlorde as die gewone hoender—Galliformes. Hy is ’n voël wat sy eiers in hope verrotte plantmateriaal begrawe sodat die eiers in ’n broeikas teen ’n konstante temperatuur van 32 grade Celsius kan uitbroei. Op hierdie eiland het die skrophoender ’n ander soort broeikas. Wat kan beter wees as die vulkanies verhitte sand op die strande van Savo?
Die inboorlinge het ’n uitgestrekte, gelyk stuk strand sorgvuldig met stewige palmblare afgekamp. Dit is die skrophoender se “velde”. Binne-in die gebied lyk dit soos ’n sorgvuldig aangeplante boord. Klein boompies word in ordelike rye geplant, waarskynlik om ’n gerusstellender omgewing vir die besoekende voëls te skep. Die sand oor hierdie hele gebied is vol gate wat omtrent 60 sentimeter in deursnee is, en dit is ’n bewys dat hierdie vreemde wilde voëls met dagbreek en sononder daar was. Hulle kom om ’n nou gat van tot 90 sentimeter diep te maak waarin hulle hulle eiers lê en begrawe.
En hoe groot is die eiers tog nie! Hulle is gemiddeld agt tot nege sentimeter lank en omtrent ses sentimeter in deursnee, ’n verbasende grootte vir so ’n klein voël. Wanneer die kuiken uitbroei, het hy al sy vere en grawe hy vir hom ’n pad na die oppervlak en hardloop op sy eie weg. Hy kan binne 24 uur vlieg.
Die dorpsbewoners kom elke dag na die “velde” om die eiers uit te grawe, aangesien dit blykbaar ’n groot deel van die eilandbewoners se stapelvoedsel uitmaak. Dit is verbasend hoe hulle hulle ligte roereiers voorberei. Die skrophoendereiers word behendig oopgebreek op die steelpunt van ’n stuk groen bamboesstam en dan in die hol stam gegooi. Die bamboesstam, wat nou vol eier is, word versigtig teen ’n hoek van 45 grade in die warm kole van die vuur neergesit. Die eier begin gou prut en meng met die sap van die warm groen bamboes. Wanneer dit gereed is, word die bamboes oopgebreek, en ’n mens het worsvormige roereier met ’n besondere, lekker smaak. Kom gerus eendag na die Salomon-eilande en probeer dit!