Die wonder van die volstruiseier
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA
DIE volstruiseier lê bewegingloos in die broeikas, sonder enige aanduiding van wat binne-in aangaan of die dramatiese vertoning wat binnekort gaan begin. Maar hier op die volstruisplaas het ons die geleentheid om van die fassinerende ontwikkeling van ’n volstruis te leer, vandat die eier gelê word.
Die eiers word met sorg behandel
Die volstruiswyfie lê haar ivoorkleurige eiers, wat elk tot 1,45 kilogram kan weeg, in ’n eenvoudige nes in die sand.a Die werkers dra dan elke dag die pasgelêde eiers na die plaas se broeikaste, wat sowat ses weke lank hulle tuiste gaan wees.
Die eiers word gedurende hierdie tyd in die broeikas met sorg behandel. Hulle word warm en snoesig gehou teen ’n temperatuur van sowat 37 grade Celsius—’n ideale temperatuur vir die nuwe kuikens om binne-in die dop te ontwikkel. Om te keer dat die dooier of embrio in die eier afsak en aan die eiervlies vassit, hou die boer die eiers in spesiale laaie waarin hulle outomaties omgedraai word, of hy laat die eiers elke dag met die hand omdraai. Dit boots die manier na waarop die volstruisouers gereeld die eiers in hulle sanderige nes in die veld omdraai.
’n Kykie binne-in die eier
Maar hoe kan ons sien wat binne-in die eier aangaan? Die boer tel een van die eiers versigtig op en sit dit in ’n opening bo-in ’n kartondoos waarin ’n helder gloeilamp is. Hierdie metode, wat as ’n kerstoets bekend staan, stel die boer in staat om vaagweg te sien watter merkwaardige ontwikkeling binne-in die eier plaasvind. Hy gebruik van tyd tot tyd ’n kerstoets om die vordering te monitor. As ’n paar kerstoetse toon dat die kern van ’n eier nog steeds vloeibaar is, is dit klaarblyklik onvrugbaar en word dit nie in die broeikas teruggesit nie.
Gedurende die 39 dae wat die volstruiseier in die broeikas gehou word, vind wonderdadige groei binne-in die porseleinagtige dop plaas. ’n Lugsakkie vorm terselfdertyd, wat uiteindelik ongeveer een derde van die beskikbare ruimte in die eier in beslag neem.b Die onuitgebroeide kuikens raak taamlik beknop binne-in hulle dop en maak hulle gereed om uit hulle dop te breek. Maar eers moet ’n uiters belangrike proses plaasvind—die dooiersak moet deur hulle naelstring en naeltjie tot in hulle onderlyfie begin beweeg. Dit is noodsaaklik omdat die dooiersak die voedingstowwe en energie bevat wat hulle binnekort nodig gaan hê wanneer hulle na die buitewêreld deurbreek.
Die eiers broei uit
Die groot dag breek uiteindelik aan, en ons is hier om dit te sien. Die kuikens moet eerstens deur die vlies tot in die lugsak deurbreek voordat hulle by die dop self kan uitkom. In teenstelling met ander kuikens wat ’n eiertand het om hulle dop mee te breek, het volstruise ’n beskermende laag wat help om die punt van hulle sagte snawel te beskerm. Die kuiken hou sy beskermde snawel teen die binnekant van die dop en druk met die agterkant van sy nek teen die vlies wat tussen hom en die lugsak is. Nadat hy baie gedruk en geskuur het, breek hierdie vlies uiteindelik. Hierdie proses stel die kuiken in staat om die hele dop vol te lê.—Sien diagram A.
Uiteindelik word die kuiken se longetjies met hulle eerste asemteug gevul! Sy longetjies werk nou. Al die inspanning laat dit egter vreeslik bedompig word in die beknopte eier. Die kuiken kan die stryd dus nie nou gewonne gee nie—hy moet aanhou spartel en deur die dop breek. Die kuiken begin met al sy mag en krag om herhaaldelik met sy snawel teen die binnekant van die dop te stamp. Skielik sien die uitgeputte kuikentjie ’n ligstraaltjie wanneer die dop effens kraak—en terselfdertyd word die kuiken van vars lug bewus!—Sien diagram B.
Ná ’n uiters nodige blaaskansie het die kuiken genoeg krag om verder deur die gekraakte dop te breek terwyl hy goed van sy regtervoet en sy klein beskermde snawel gebruik maak. Die kuiken breek dan soos ’n klein Goliat deur die gekraakte dop en probeer regop sit terwyl hy vir die buitewêreld knipoog met soveel waardigheid en selfvertroue as wat ’n pas uitgebroeide, bewerige volstruisie bymekaar kan skraap.—Sien diagram C.
Waarom help die boer nie die kuiken uit sy gekraakte dop nie? Dit is vir die kuiken se eie beswil. Dit neem tyd vir die dooier om deur die kuiken se naeltjie geabsorbeer te word, wat dan saamtrek en toegaan. ’n Onverstandige helper wat die proses probeer bespoedig, kan die swak voëltjie seermaak of dit aan ’n ernstige infeksie blootstel.
Hoe dit ook al sy, eindelik het die kuikentjies hier op die plaas uitgebroei. Vir ons as toeskouers is dit ’n wonderlike ondervinding om te sien hoe die volstruiskuikens—doodmoeg maar seëvierend—uit ’n hoop gebreekte doppe te voorskyn kom.
Hulle ontmoet hulle pleegouers
Na ’n rukkie maak die warm lug in die broeikas die kuikens se fluweelagtige donsvere droog en word hulle te oulik en donserig vir woorde. Dan word hulle in ’n kampie buite in die son gesit. En hoe geniet hulle dit tog nie! Uiteindelik kan hulle bewerige beentjies die oefening kry wat hulle so graag wil hê.
Die volgende dag is baie belangrik vir die donserige jong voëls. Hulle word voorgestel aan hulle pleegouers—volgroeide volstruise wat die volgende drie maande vir hulle sal sorg. Tot dusver het die kuikens nie honger gevoel nie omdat hulle deur die voedingstowwe in die dooier gevoed is. ’n Paar dae nadat hulle uitgebroei het, begin hulle egter ’n bietjie honger voel. Maar wat kan hulle eet? Tot ons verbasing begin die kuikens die vars mis van hulle pleegouers eet! Die boer verduidelik dat dit hulle immuunstelsel, wat nog nie ten volle ontwikkel het nie, help versterk.
Kyk net hoe probeer die outjies om met al hulle mag by die ontsettende lang treë van hulle pleegouers by te bly! Dit verg beslis baie inspanning. Maar volstruiskuikens groei ongelooflik vinnig—’n verstommende 30 sentimeter per maand. Hulle kan dus verbasend genoeg binne net een maand by die volwasse volstruise, wat heelwat groter as hulle is, bybly.
Wanneer die jong volstruisies ses maande oud is, is hulle volgroeid en staan hulle bykans 2,5 meter hoog. Dit is moeilik om te glo dat hierdie skraal voëls—met hulle lang nek en bene—meer as sewe maande gelede net beweginglose eiers in ’n broeikas op ’n volstruisplaas was.
[Voetnote]
a Sien asseblief die artikel “’n Vlugvoetige, fassinerende loopvoël—die volstruis” in die Ontwaak! van 22 Julie 1999, bladsye 16-18, vir meer inligting oor die volstruis.
b Die volstruiseier “is vol porieë wat die deurgang van gasse tot in die eier moontlik maak. ’n Lugruimte word tussen die twee dopvliese aan die dik kant van die eier gevorm weens verdamping nadat die eier gelê is.”—Ostrich Farming in the Little Karoo.
[Diagram op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
DIE UITBROEIPROSES
A
B
C
[Erkenning]
Bron van sketse: Dr. D. C. Deeming
[Prent op bladsy 23]
Die groot dag—die kuikens breek uit hulle dop!
[Foto-erkenning op bladsy 25]
John Dominis/Index Stock Photography