Vermiste kinders—Hoe wydverspreid is die tragedie?
‘MY KIND IS WEG!’
Daar kan vir die meeste ouers nie veel dinge wees wat sorgwekkender is as om daardie woorde te sê nie. Hoewel daar nie presies vasgestel kan word hoeveel kinders regoor die wêreld uit hulle huise vermis word nie, kan ons deur gepubliseerde verslae uit baie lande uitvind hoe wydverspreid die tragedie is.
IN DIE Verenigde State word daar jaarliks van 500 000 tot meer as 1 000 000 kinders, na gelang van hoe hulle geklassifiseer word, as vermis uit hulle huise aangegee. Hulle word dalk ’n kort rukkie of permanent vermis. Engeland berig dat daar jaarliks byna 100 000 kinders verdwyn, hoewel party sê dat die syfer baie groter is. Die voormalige Sowjetunie het van tienduisende kinders gepraat wat vermis word. In Suid-Afrika is die syfer blykbaar groter as 10 000. En in Latyns-Amerika staar hierdie tragedie miljoene kinders in die gesig.
’n Woordvoerder vir die Italiaanse Departement van Binnelandse Sake het ’n aanduiding van die omvang van die probleem in Italië gegee toe hy in L’Indipendente geskryf het: “Hulle verlaat die huis op ’n dag soos enige ander dag. Hulle gaan skool toe of gaan speel, maar hulle kom nie terug nie. Hulle verdwyn in die niet. Familielede soek desperaat na hulle, maar daar is slegs vae spore, onvoldoende leidrade, min ooggetuies—wat nie altyd seker van hulle feite is nie.”
’n Onlangse studie in die Verenigde State oor die omvang van hierdie probleem het aan die lig gebring dat die opskrif “vermiste kinders” in werklikheid verskillende kategorieë insluit. Een kategorie is kinders wat deur vreemdelinge ontvoer word. ’n Ander is kinders wat deur ’n ouer ontvoer word, soos in die geval van toesigsake. Dan is daar die weggooikinders, kinders wie se ouers of voogde hulle nie wil hê nie. Daar is ook wegloopkinders; nog ’n groot kategorie. En daar is die kinders wat verdwaal of andersins slegs ’n paar uur lank of ’n dag of twee van hulle gesin geskei word—dit is merendeels kinders wat later as die afgespreekte tyd uitbly of kinders wie se ouers hulle planne misverstaan het. Baie, baie min van hierdie kinders word permanent vermis.
Wat gebeur egter met die vermiste kinders in die ernstiger kategorieë? Waarom vind hierdie tragedie plaas? Hierdie nommer van die Ontwaak! ondersoek verskeie aspekte van die tragedie en beantwoord die vraag: Wanneer sal dit ophou?