Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 2/8 bl. 4-6
  • Wanneer kinders deur vreemdelinge ontvoer word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer kinders deur vreemdelinge ontvoer word
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Skrikwekkende nagmerrie
  • Dra die gemeenskap ook skuld?
  • Beskerm jou kind teen pornografie
    Hulp vir die gesin
  • Seksuele uitbuiting van kinders—’n wêreldwye probleem
    Ontwaak!—1997
  • Pornografie—Onskadelik of gevaarlik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Die skade wat pornografie veroorsaak
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 2/8 bl. 4-6

Wanneer kinders deur vreemdelinge ontvoer word

“HELP ONS ASSEBLIEF OM HAAR TE VIND. ASSEBLIEF, HELP TOG VIR SARA!”

Hierdie desperate pleidooi deur twee beangste ouers is regoor die Verenigde State oor die televisie uitgesaai in ’n poging om hulle 12-jarige dogter, Sara Ann Wood, terug te kry. Sy is drie weke tevore ontvoer terwyl sy per fiets met die plaaspad langs, waar sy gewoon het, huis toe gery het.

’N GROOT soekgeselskap het woude, velde en nabygeleë mere gefynkam op soek na tekens van die vermiste meisie. Om en by dieselfde tyd het Tina Piirainen, nog ’n beangste ouer in ’n buurstaat, ook op televisie verskyn en om haar vermiste dogter se onthalwe gepleit. Die tienjarige Holly is met ’n begroeide paadjie langs weggelok en het in minder as ’n uur verdwyn. Haar liggaam is later in ’n veld gevind.

Die lewe vir ouers van vermiste kinders is ’n folterende beproewing. Hulle voer daagliks ’n stryd met die onsekerheid of hulle kind nog lewe en dalk fisiese leed aangedoen of seksueel misbruik word, of dood is, soos dit met klein Ashley die geval was. Ashley het saam met haar gesin na ’n sokkerwedstryd gaan kyk waaraan haar broer deelgeneem het. Sy het verveeld geraak met die wedstryd en na die speelterrein toe geloop—en verdwyn. Ashley se liggaam is later in ’n nabygeleë veld gevind. Sy is verwurg.

’n Skrikwekkende nagmerrie

In die Verenigde State sal 200 tot 300 gesinne jaarliks die skrikwekkende nagmerrie beleef van ’n kind wat ontvoer word en die kind dan moontlik nooit weer lewendig sien nie. Hoewel die syfers klein lyk in vergelyking met ander gewelddade wat gepleeg word, raak die vrees en angs wat deur hele gemeenskappe versprei duisende mense. Hulle wonder geskok: ‘Hoe kon so iets hier gebeur het? Is my kind volgende?’

In die Verenigde State word daar jaarliks tussen 3 200 en 4 600 gevalle gerapporteer van kinders wat ontvoer word. Twee derdes of meer van hulle word seksueel aangerand. Ernest E. Allen, die president van die Nasionale Sentrum vir Vermiste en Mishandelde Kinders, het gesê: “Die hoofrede is seksueel van aard en die tweede grootste rede is met moord in gedagte.” Volgens die Departement van Justisie is daar ook jaarliks meer as 110 000 ander pogings om kinders te ontvoer, meestal deur bestuurders, gewoonlik mans, wat ’n kind in hulle motor probeer inlok. Ander lande ondervind ook ’n golf van geweld teen kinders.

Dra die gemeenskap ook skuld?

’n Australiese navorser toon aangaande kindermoord dat dit “nie ’n toevallige gebeurtenis is nie”. In sy boek Murder of the Innocents—Child-Killers and Their Victims sê Paul Wilson dat “die moordenaars asook die vermoordes hulle in ’n wrede kringloop bevind wat die gemeenskap self geskep het”.

Dit is dalk vreemd om te dink dat die gemeenskap verantwoordelik kan wees vir, of dat hulle ten minste tot hierdie tragedie kan bydra, aangesien die meeste mense die uitbuiting van kinders sowel as kindermoord as ’n verskriklike daad beskou. Tog is daar in geïndustrialiseerde gemeenskappe, en selfs in talle minder ontwikkelde gemeenskappe, ’n oorvloed van rolprente, TV-programme en leesstof wat seks en geweld verheerlik.

Daar is nou al hoe meer eksplisiete pornografiese rolprente wat kinders en selfs volwassenes wat aangetrek word om soos kinders te lyk, uitbeeld. Hierdie rolprente beeld eksplisiete seks en geweld uit waarby kinders betrokke is. Paul Wilson sê verder in sy boek dat daar rolprente is met titels soos Death of a Young One, Lingering Torture en Dismembering for Beginners. Hoeveel mense kyk na hierdie sadistiese geweld en pornografie? Dit is ’n bedryf met ’n omset van miljarde rande!

Eksplisiete geweld en pornografie het ’n geweldige impak op die lewens van diegene wat kinders uitbuit. ’n Veroordeelde seksmisdadiger wat vyf jong seuns vermoor het, erken: “Ek is ’n homoseksuele pedofiel wat aan moord skuldig bevind is, en pornografie was ’n deurslaggewende faktor in my ondergang.” Professor Berit Ås, van die Universiteit van Oslo, verduidelik die uitwerking wat kinderpornografie het: “Ons het aan die einde van die sestigerjare ’n groot fout gemaak. Ons het gedink dat pornografie seksmisdade kon vervang deur seksoortreders van ’n uitlaatklep te voorsien, en ons het die beperkings oorboord gegooi. Nou weet ons dat ons verkeerd was: sulke pornografie regverdig seksmisdade. Dit laat die oortreder dink: ‘As ek daarna kan kyk, kan ek dit seker ook doen.’”

’n Volwassene se begeerte na prikkeling neem toe namate hy aan pornografie verslaaf raak. Gevolglik is party bereid om dwang of geweld te gebruik om kinders vir hulle verdorwe gebruike te verkry, wat verkragting en moord insluit.

Daar is ander redes waarom kinders ontvoer word. In party lande het dit toegeneem weens swak ekonomiese toestande. Ontvoerders maak kinders hulle teiken omdat hulle deur die groot bedrae losprysgeld gelok word wat deur ryk families betaal word. Daar word elke jaar baie kinders gesteel en aan aannemingsindikate verkoop wat hulle uit die land neem.

Wie maak die grootste deel van die vermiste kinders uit? Wat gebeur met hulle? Die volgende twee artikels sal hierdie kwessie ondersoek.

[Venster op bladsy 6]

Miljoene kinderprostitute

Volgens die Verenigde Nasies is daar, meestal in ontwikkelende lande, ongeveer tienmiljoen kinders, waarvan baie ontvoer is, wat gedwing word om as prostitute te werk. Hierdie bose bedryf het saam met die toename in buitelandse toerisme in Afrika, Asië en Latyns-Amerika toegeneem. In sommige gebiede is ongeveer twee derdes van die miljoene toeriste, veral uit ryker lande, “sekstoeriste”. Maar daar is ’n dag van vergelding, aangesien die mens se misdade ‘oop en bloot is voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee’, Jehovah God.—Hebreërs 4:13, NW.

[Prent op bladsy 5]

Dit is ’n skrikwekkende nagmerrie wanneer ’n kind ontvoer word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel