’n Sonsverduistering en die fassinerende sterrekunde
DIE 10de Mei 1994 was vir party mense in Noord-Amerika ’n unieke dag. Dit was die geleentheid van die ringverduistering van die son deur die maan. Miljoene mense is ’n paar kortstondige ure bewus gemaak van die fassinerende sterrekunde. Maar wat presies is ’n verduistering?
’n Verduistering vind plaas wanneer “een hemelliggaam gedeeltelik of heeltemal, na gelang van die posisie van die waarnemer, deur ’n ander een bedek word” (The American Heritage Dictionary of the English Language). ’n Sons- of maansverduistering kan net plaasvind as die aarde, son en maan in ’n byna reguit lyn lê. Of daar ’n sonsverduistering of ’n maansverduistering is, hang af van watter hemelliggaam bedek word. Soms werp die aarde sy skaduwee op die maan, wat ’n maansverduistering tot gevolg het. In Mei verlede jaar het die maan andersyds sy skaduwee op die aarde gewerp, in ’n nou strook wat gewissel het van 230 tot 310 kilometer wyd. Namate die maan geleidelik tussen die aarde en die son deur beweeg het, het dit die son amper heeltemal verberg. Die skaduwee het oor die Stille Oseaan en toe oor Noord-Amerika van die suidweste na die noordooste beweeg. Dit het gelyk asof die maan stadig voor die son verbybeweeg. In werklikheid het die skaduwee teen sowat 3 200 kilometer per uur oor die aarde beweeg.
Allerhande metodes is gebruik om die verduistering waar te neem sonder om die oë te beskadig. Party het deur ’n sweisbril gekyk. Ander het ’n sterk filter gebruik. Nog ander het die beeld deur ’n speldegaatjie op papier laat val. Een fotograaf het iemand ’n vergiettes laat vashou, en toe die lig deur die gaatjies geval het, het dit veelvoudige beelde van die verduistering op die grond gewerp. Soortgelyke effekte is waargeneem toe die lig deur die blare van bome geval het. Nog ’n metode was om die lig deur ’n verkyker te laat val om ’n dubbele beeld op ’n donker oppervlak te verkry.
Tot vyf sonsverduisterings en tot drie maansverduisterings kan in een jaar plaasvind. “Ten minste twee sonsverduisterings van die een of ander aard moet elke jaar plaasvind”, sê The International Encyclopedia of Astronomy. Maar elkeen is van ’n ander ligging af sigbaar. Enigiemand in die Verenigde State wat dus nie die verduistering in 1994 gesien het nie, sal tot die jaar 2012 moet wag vir nog ’n geleentheid of na Peru, Brasilië of Siberië moet reis vir ’n vroeër verduistering.a
Die raaisel van ’n algehele verduistering
Die algehele sonsverduistering, wanneer die maan die son heeltemal bedek, het in vorige eeue vrees en paniek veroorsaak. Waarom? The International Encyclopedia of Astronomy sê: “Die raaisel van ’n algehele verduistering word vergroot omdat die oningeligtes geen waarskuwing van die naderende skouspel het nie, aangesien ’n mens nie die Maan nader aan die Son kan sien beweeg nie.” Daardie skouspel sluit hierdie verskynsels in: “Die lug word donkerder, dikwels met ’n onheilspellende groenerige kleur wat heel onbeskryflik is en glad nie soos die verdonkering is wat deur wolke veroorsaak word nie. . . . Gedurende die laaste paar sekondes van die gedeeltelike fase word die lig vinnig flouer, word dit opmerklik koeler, gaan die voëls slaap, maak party blomme toe en is die wind geneig om te gaan lê. . . . Donkerte sak op die landskap toe.”
George Chambers vertel in sy boek The Story of Eclipses van “een van die beroemdste verduisterings van die Middeleeue . . . , wat in Skotland as ’n algehele verduistering sigbaar was” en op 2 Augustus 1133 plaasgevind het. William van Malmesbury het geskryf: “Die Son het op daardie dag op die 6de uur sy glansryke gesig verberg, . . . in afskuwelike donkerte, wat die harte van die mense met ’n verduistering verontrus het.” Die eertydse Anglo-Saxon Chronicle het gesê dat “mense stom van verbasing asook verskrik was”.
George Chambers het ook die lewendige beskrywing van ’n maansverduistering opgeteken wat op 2 September 1830 plaasgevind het en deur twee reisigers in Afrika gegee is: “Toe die Maan geleidelik bedek is, is almal deur vrees oorval. Namate die verduistering toegeneem het, het hulle meer verskrik geraak. Almal het in groot benoudheid na hulle heerser toe gehardloop om hom van die gebeurtenis te vertel, want daar was nie ’n enkele wolk wat so ’n groot skaduwee kon veroorsaak het nie, en hulle kon nie die aard of betekenis van ’n verduistering begryp nie.”
In onlangser tye het die bestudering van die sterrekunde die mensdom se vrese oor ’n sonsverduistering verdryf—ons weet dat die son weer sal verskyn.
Hoe die Jesuïete ’n sonsverduistering gebruik het
Lank gelede, in 1629, het Jesuïetesendelinge in China die keiser se guns deur middel van ’n sonsverduistering gewen. Hoe het hulle dit gedoen?
Die Jesuïete het opgemerk dat “die Chinese maankalender verkeerd was, soos dit eeue lank al was. Die Keiserlike Sterrekundiges het die verduistering van die son keer op keer verkeerd voorspel . . . Die Jesuïete se gulde geleentheid het gekom toe ’n verduistering die oggend van 21 Junie 1629 verwag is. Die Keiserlike Sterrekundiges het voorspel dat die verduistering om 10:30 sou plaasvind en twee uur sou duur. Die Jesuïete het voorspel dat die verduistering eers om 11:30 sou aanbreek en net twee minute sou duur.” Wat het gebeur?
“Op die beslissende dag het die son in sy volle helderheid geskyn terwyl 10:30 gekom en gegaan het. Die Keiserlike Sterrekundiges was verkeerd, maar was die Jesuïete reg? Toe, presies om 11:30, het die verduistering begin en ’n kortstondige twee minute geduur, soos die Jesuïete voorspel het. Hulle was nou verseker van die Keiser se vertroue.”—The Discoverers, deur Daniel J. Boorstin.
Sterrekunde in die Bybel
Sterrekundige inligting word selfs in die Bybel voorsien. Verskeie sterrebeelde word in die boek Job genoem. Daarbenewens nooi Jehovah sy dienaars uit om die hemele te ondersoek, nie om sterrewiggelary of ander valse godsdiens te bestudeer nie, maar om die grootsheid van sy skeppingswerke te waardeer. Jesaja is geïnspireer om te skryf: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.”—Jesaja 40:26.
Job het die Skepper se oppergesag erken toe hy van hom gesê het: “Hy . . . maak die Asj-sterrebeeld [moontlik Ursa Major, of die Groot Beer], die Kesil-sterrebeeld [moontlik Orion, of die hemelse jagter], en die Kima-sterrebeeld [moontlik die Pleiades-groep in Taurus, of die Bul] en die binnekamers van die Suide [wat na mening die sterrebeelde van die Suidelike Halfrond is].”—Job 9:7-9, NW.
Hoe fassinerend gaan die studie van die sterrekunde tog nie wees wanneer Jehovah die ewige lewe aan die gehoorsame mensdom gee nie! Dan sal die raaisels van die heelal in toenemende mate onthul word namate ons God se voornemens met betrekking tot die ontsaglike heelal leer verstaan. Sodoende sal ons Dawid se woorde met selfs groter gevoel ons eie kan maak: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het—wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?”—Psalm 8:4, 5.
[Voetnoot]
a Daar was op 3 November 1994 ’n algehele sonsverduistering wat vanuit dele van Suid-Amerika sigbaar was.
[Foto-erkenning op bladsy 12]
Photo courtesy of NASA/Finley-Holiday Film Corporation