Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 6/8 bl. 12-14
  • Betaal dit om skuld te maak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Betaal dit om skuld te maak?
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vermy te veel skuld
  • Kan die Bybel jou help?
  • Skuld! Hoe jy daarin kom—Hoe jy daaruit kom
    Ontwaak!—1990
  • Advies vir diegene met skuld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Geldprobleme en skuld—Kan die Bybel help?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Geldsake
    Ontwaak! – 2019
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 6/8 bl. 12-14

Betaal dit om skuld te maak?

“MOET nooit jou geld bestee voordat jy dit het nie.” Klink hierdie raad wat deur die eertydse Amerikaanse president Thomas Jefferson gegee is outyds, aangesien dit vandag vir baie mense ’n lewenswyse is om skuld te maak?

In baie lande bly lone laag in vergelyking met pryse, en inflasie verslind spaargeld. Verder beïnvloed die ekonomiese klimaat mense se waardebegrip. Tog is eerlikheid belangrik. Omdat dinge soos belastingbedrog en die versuim om skuld af te betaal algemeen is, is dit inderdaad ’n uitdaging om ’n goeie gewete te behou. Dit is dan geen wonder nie dat die ekonomie dikwels die onderwerp van gesprekke is en dat wenke oor hoe om geld te spaar of te maak volop in koerante en tydskrifte en op televisie is namate mense probeer uitvind hoe om ekonomiese probleme die hoof te bied. Terselfdertyd is jy tereg bekommerd oor hoe jy in jou en jou gesin se behoeftes gaan voorsien.—1 Timoteus 5:8.

Wat kan jy doen om te voorkom dat jou gesin gebrek ly, aangesien betreklik min mense ekonomiese bestendigheid geniet? In die eerste plek is daar ’n noodsaaklike les om in gedagte te hou.

Vermy te veel skuld

Waarom maak party skuld? Mense leen nie altyd net as gevolg van ’n kritieke situasie soos siekte nie. Die begeerte om sekere materiële dinge te besit, is dalk baie sterk. Daarenteen is die rede waarom skuld gemaak word op sigself moontlik nie verkeerd nie. Trouens, dit kan beter wees om ’n verband op ’n huis af te betaal as om huur te betaal, of dit is dalk nodig om ’n motor te koop. ’n Broodwinner wil hê dat sy gesin gelukkig moet wees. Hy wil ’n goeie man en vader wees. Hy voel waarskynlik dat sy gesin daarop geregtig is om baie van die materiële dinge te geniet wat ander besit.

Die versoeking kan weliswaar ontstaan om geld te leen om iets te koop wat begeer word maar nie noodsaaklik is nie. Om dinge aan te skaf, laat ’n mens goed voel, nie waar nie? Wie hou nie van ’n pragtige rok, ’n nuwe paar skoene of selfs iets soos ’n splinternuwe motor nie? En wie wil nie graag ’n mooier huis hê nie? Maar pas op! Sakemanne kan glad van tong wees, en baie geld word gemaak deur artikels aan mense te verkoop wat dit nie nodig het en dit nie kan bekostig nie.

Onthou ook dat volgehoue afbetalings druk op gesinsverhoudinge kan plaas. Dit kan onenigheid en bitterheid veroorsaak. Die dramaturg Henrik Ibsen was reg toe hy gesê het: “Die gesinslewe hou op om ongebonde en mooi te wees sodra dit op lenery en skuld gegrond is.” As jy nie betyds betaal nie, kan dit jou goeie naam skend. Aangesien dit baie makliker is om die geleende geld te bestee as om dit met rente terug te betaal, kom baie agter dat dit wat hulle gekoop het hulle nie soveel vreugde verskaf as wat hulle verwag het nie.

Regerings hou oor die algemeen aan om al hoe meer te leen en verhoog sodoende die rente wat hulle moet betaal. Dit is dalk normaal. Maar waarom moet jy die skuldbelaaide nasies navolg? In plaas van rykdom vir die mense te skep, kan te veel skuld armoede en onveiligheid laat toeneem. ’n Deense spreekwoord stel dit só: “Dit is moeilik om vir brood te betaal wat reeds geëet is.”

Gelukkig verminder die spanning wat deur ’n skuldlas veroorsaak word grootliks wanneer jy leer om jou geld wyslik te bestee. Ruim dus die tyd in om jou inkopies sorgvuldig te beplan sodat jy die druk om te leen, kan vermy. Selfs in lande met hiperinflasie is daar maniere om geld te bespaar—deur winskopies te soek en deur net die noodsaaklikhede te koop. Dit vereis dat jy binne jou inkomste moet lewe en bereid moet wees om te wag of om sonder iets klaar te kom.

Vra jou af: Sal dit my gesin laat swaarkry as ek skuld maak? Wat van my reputasie as ek die lening nie kan terugbetaal nie? Dit kan lank duur voor jy weer vertrou word! In hierdie opsig is daar praktiese, betroubare raad beskikbaar. Ondersoek gerus die Bybel om te sien of dit jou en jou gesin met die kwessie van skuld kan help.

Kan die Bybel jou help?

Die belangrikste is dat die Bybel ons almal kan help om volle vertroue in Jehovah aan te kweek. Ons het beslis hulp nodig in hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Ons word vermaan: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge. Want hy het gesê: ‘Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie.’ Sodat ons goeie moed kan hou en sê: ‘Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?’” (Hebreërs 13:5, 6). Hoe noodsaaklik is dit tog nie dat ons ’n sterk geloof in God as ons Voorsiener ontwikkel nie!

Hoewel die Bybel nie vir elkeen sê hoe om ’n bestaan te maak nie, voorsien dit wel betroubare riglyne. Jesus Christus het sy luisteraars aangespoor om eers na hulle geestelikheid om te sien: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Ons word ook aangesê om doelwitte te stel: “[Stel] julle dit ten doel . . . om rustig te lewe en om julle met julle eie sake te bemoei en met julle hande te werk, net soos ons julle beveel het; sodat julle welvoeglik kan wandel ten opsigte van mense wat buite is en niks nodig sal hê nie” (1 Tessalonisense 4:11, 12). Vereis dit nie dat ons binne ons inkomste moet lewe as ons ’n rustige lewe en ’n mate van kalmte wil geniet nie?

God se Woord kan ons help om ons denke te wysig. Die skrywer van Spreuke het ’n gebalanseerde beskouing geopenbaar toe hy God gevra het: “Gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie” (Spreuke 30:8, 9). Moet dus nie skaam voel as jy, ten minste tydelik, met ’n bietjie minder oor die weg moet kom nie. Moet nooit jou geluk van materiële dinge laat afhang nie, soos baie doen deur hulle met ander te vergelyk of hulle uitermate oor materiële besittings te bekommer.—Matteus 6:31-33.

Daarbenewens kan die Bybel jou help om goeie gewoontes aan te leer. Leer om spaarsaam te wees sonder om suinig te wees en om tevrede te wees met die dinge wat jy kan bekostig. As jy ’n jongmens is, moet jy nie verwag om onmiddellik dinge te kry waarvoor volwassenes jare lank gewerk het nie. Moenie ’n slaaf van materialisme word nie. Die Bybel waarsku ons gepas, nie oor geld nie, maar oor “die liefde vir geld” en sê: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort. Want die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, is party van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor” (1 Timoteus 6:9, 10). Hoe noodsaaklik is dit tog dat jy onderskei tussen wat jy werklik nodig het en wat jy bloot wil hê!

Voel jy egter dat jou inkomste te laag is? Dit spreek vanself dat dit nie maklik is om gebrek te ly sonder om gefrustreerd te raak nie. Wees nietemin bereid om eerder sonder party onnodige dinge oor die weg te kom as om daarvoor skuld te maak, iets wat jou swaar laste en selfs finansiële verliese kan besorg. Beplan sorgvuldig en wees ekonomies. Jy kan moontlik praktiese wenke kry deur met ’n ervare vriend te praat. Sal dit dalk help om ’n nuwe vaardigheid aan te leer? Onthou: Dit is noodsaaklik om Bybelbeginsels te volg, geestelike dinge eerste te stel en ten volle op Jehovah te vertrou—wat die omstandighede ook al mag wees.—Filippense 4:11-13.

Ja, dit betaal dalk nie om skuld te maak nie. Daar is al gesê: “’n Man met skuld is in ’n net vasgevang.” Die skuldlas kan jou gesinslewe, gesondheid en geestelikheid skaad. Skuld kan die lener nog armer maak. Spreuke 22:7 sê: “Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen.” Vermy derhalwe onnodige skuld. Ons kan steeds baat vind by die beginsel wat vervat is in Paulus se vermaning aan Christene: “Julle moet niemand enigiets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat sy medemens liefhet, het die wet vervul.”—Romeine 13:8.

Ongeag wat die toestand van die ekonomie in jou land is, jy moet vol vertroue na God se nuwe wêreld uitsien. Die mensdom sal binnekort nie meer uit uitleners en leners bestaan nie. Onder God se Koninkryk sal niemand arm wees nie. Jehovah se belofte sal waar word: “Hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red” (Psalm 72:12, 13). Die aarde se bewoners sal hulle dan eerder “verlustig oor groot vrede” as om te sukkel net om aan die lewe te bly.—Psalm 37:11.

[Prent op bladsy 12]

Thomas Jefferson

[Erkenning]

Painting by Gilbert Stuart. Courtesy Bowdoin College Museum of Art/Dictionary of American Portraits/Dover

[Prent op bladsy 13]

Groot skuld kan druk op jou huwelik plaas

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel