Skuld! Hoe jy daarin kom—Hoe jy daaruit kom
LOIS en Rick was bykans ’n jaar getroud. Soos talle jong paartjies wou hulle alles dadelik hê—en dit was maklik! Die paaiement op die TV was net R138 per maand, en met ’n videokasset-opnemer by was die paaiement slegs R203. Dit was ’n bietjie moeiliker met die nuwe meubels—die paaiement was R746 per maand. Dit het natuurlik nie die gordyne en die tapyt ingesluit nie, wat die paaiement met R121 opgestoot het. Maar die finansieringsmaatskappy was tegemoetkomend.
Met die elektriese toebehore het dit ’n bietjie makliker gegaan omdat die winkel hulle kredietkaart aanvaar het. Maandelikse paaiemente was outomaties, en hulle het nie nodig gehad om ’n lening aan te vra nie. Dit sou makliker gewees het as Rick se sportmotor voor die troue afbetaal was soos hy beoog het, maar hy kon dit nie heeltemal regkry nie.
Rick het dit so gestel: “Ek het gedink dat die huwelik wonderlik sou wees, maar ek bekommer my so oor ons skuld dat dit net nie ’n plesier is nie.” Lois het saamgestem en bygevoeg: “Dit was so maklik om in die skuld te kom. Sal ons ooit, ooit daaruit kom?”
Hierdie droefgeestige vraag weerspieël die dilemma wat miljoene gesinne in die meeste lande van die wêreld in die gesig staar. Daar is inderdaad min mense wat dit regkry om sonder ’n groot, soms onhanteerbare, skuldelas op hul skouers te lewe.
Hoe jy in die skuld kom
Hoe kom ’n mens in die skuld? Eenvoudig! Dit is ’n lewenswyse. Regerings, multinasionale korporasies, klein ondernemings, gesinne en individue aanvaar almal vandag dat skuld normaal is.
Trots veroorsaak dikwels skuld. Skuld veroorsaak spanning. Spanning lei tot ander probleme. Die vraag is dus: Hoe leef ’n mens in ’n skuldgeoriënteerde wêreld sonder om self in die skuld te beland?
Moontlik die eerste les wat geleer moet word, is eenvoudige kopersweerstand. By die meeste finansiële instellings word ’n mens sommer met die intrapslag al bestook deur plakkate wat lenings aanbied. Kredietkaarte is maklik bekombaar. Daar is miljoene suksesvolle, aggressiewe mense, van geldhaaie tot gerespekteerde bankiers, wie se beroep dit is om geld te verkoop. Geld is vir hulle ’n handelsartikel—soos kruideniersware—en hulle werk is om dit aan jou te verkoop. Leer om NEE te sê.
Skuldbeheer
Daar bestaan baie formules wat ’n aanvaarbare verhouding van skuld tot inkomste definieer. Maar hulle verskil só dat talle daarvan min betekenis het. Party ekonome meen byvoorbeeld dat ’n gesin maklik 30 persent van hul bruto inkomste aan behuising kan afstaan. Dit is vir verbandpaaiemente of vir huur. Maar hierdie formule is miskien nie prakties vir die heel armes nie. Algemene formules is dus dikwels te vaag. Die hele probleem van skuldbeheer moet liefs op ’n persoonlike vlak beskou word.
Sekere skuld kan aanvaarbaar wees, maar dit vereis goeie oordeel en sorgvuldige skuldbeheer. Die meeste mense kan byvoorbeeld nie ’n huis koop sonder om skuld te maak nie. Dit is onrealisties om te dink dat ’n gesin in ’n huurhuis of -woonstel moet bly totdat hulle genoeg geld gespaar het om kontant vir ’n huis te betaal. Dit sal waarskynlik nooit gebeur nie. Die gesin meen dalk dat die geld wat hulle vir huur betaal vir die afbetaling van ’n huisverband gebruik kan word. Al neem dit baie jare om hierdie plan deur te voer, sal die gesin dit moontlik as meer prakties beskou.
As ons besef dat die huis se waarde waarskynlik met verloop van tyd sal toeneem, volg dit dat hoewel verbandpaaiemente hoër kan wees as maandelikse huur, die gesin dalk beter daaraan toe sal wees omdat hulle ekwiteit skep, wat die huis se waarde minus die eise daarteen is. ’n Huisverband teen ’n redelike koers, met billike paaiemente, kan dus aanneemlike skuld wees. Dieselfde kan van ander groot, noodsaaklike gesinsaankope gesê word.
Ander vorme van skuld kan geheel en al onaanneemlik wees. Skuldbeheer sluit die vermoë in om dit te verwerp. Die beste reël is moontlik: Moenie koop wat jy nie nodig het en nie kan bekostig nie. Vermy oomblikskope. Al is iets halfprys is dit nie vir jou ’n winskopie as jy dit nie kan bekostig nie. Moenie leen vir weelde-items nie. Moenie op vakansiereise gaan tensy jy daarvoor kan betaal voor jy gaan nie. Wat jy ook al koop, moet vroeër of later betaal word. Kredietkaarte is nuttig as jy nie kontant by jou wil hou nie, maar is baie duur wanneer dit gebruik word as ’n middel om geld te leen.
Hoe jy uit die skuld kom
Party mense meen dalk dat advies oor skuldbeheer vir hulle te laat is. ‘Ek is reeds toegegooi onder die rekeninge en verpligtinge. Hoe kom en daaruit?’ Feit is dat dit nooit te laat is om te begin nie.
Die eerste stap is om ’n werkverhouding met ’n goeie bank tot stand te bring. As jy moet leen, is dit hiér waar jy waarskynlik die beste rentekoers sal kry. As jou bank jou ’n lening weier, doen dit jou bes moontlik ’n guns. Onthou, banke is daar om geld uit te leen en sal aan jou leen as dit vir hulle redelik lyk.
In die tweede plek moet jy die skuld op ’n georganiseerde manier begin terugbetaal. Beraam, op papier, jou verwagte persoonlike kontantvloei vir die volgende 24 maande. Wees realisties. Sluit elke bietjie inkomste in wat jy verwag om te hê. Noteer dan alles wat betaal moet word. Sit ’n bietjie by vir items waaraan jy op die oomblik nie eens kan dink nie. Skryf die skuld in voorkeurorde neer. Verdeel dan jou geld regverdig sodat jy darem iets betaal op al jou skuld. Stel ’n teikendatum waarop jy elke skuld wil afbetaal.
Benewens hierdie plan moet jy ook aan maniere dink om koste te besnoei. Skuldvermindering vereis altyd ’n mate van opoffering. Kan die kruideniersrekening verminder word deur na winskopies te soek? Watter goedkoper plaasvervangers kan in maaltydbeplanning oorweeg word? Kan vakansies beperk word? Kan jou lewenstandaard verlaag word? Kan sekere weelde-items minder dikwels geniet word? Partykeer moet ons eenvoudig onverbiddelik met onsself wees. Sekere uitgawes kan van die kolom vir “noodsaaklikhede” na dié vir “luukses” verskuif word.
Sodra jy ’n plan op papier uitgewerk het, moet jy dit met jou bankleningsbeampte bespreek. Hy sal beïndruk wees as hy sien dat jy dit ernstig bedoel. Hy kan jou moontlik wys hoe om die plan te verbeter. Hy kan selfs ’n skuldkonsolidasielening aanbeveel. Indien wel, dink goed na oor die rentekoers en die termyn waaroor die konsolidasieskuld terugbetaal moet word. Dit sal gewoonlik kleiner paaiemente oor ’n langer tydperk beteken. Maar moenie in die versoeking kom om die skuldkonsolidasie te gebruik om meer geld te leen nie.
Kommunikeer!
Die sukses van enige skuldverminderingsprogram hang van kommunikasie af. Besoek of skakel elke persoon aan wie jy geld skuld. Wys hulle jou plan as jy dink dit sal help. Praat ten minste met hulle. Onthou, hulle wil weet wat jy doen. Hou hulle op hoogte. Een ding wat geen krediteur kan verdra nie, is stilswye. Stilswye word gou vertolk as onverskilligheid of selfs weiering om te betaal. Menige krediteur het al ’n hofsaak aanhangig gemaak om geld terug te kry net omdat niemand die moeite gedoen het om te verduidelik wat gebeur nie.
Moet jy bankrotskap oorweeg? In party lande is alle mense geregtig op sulke bepalinge van die wet, maar dit moenie lig opgeneem word nie. Skuld is ’n verbintenis. Dit behels morele verpligtinge. Bankrotskap het ’n golwingseffek wat probleme vir ander veroorsaak. Dit sal ’n klad op jou naam bly.
Daar skort niks met die ouderwetse konsep van “deurlopend betaal” nie. Die verstandigste is inderdaad om, sover moontlik, in die eerste plek nie in die skuld te kom nie. Skuld kan soos dodelike dryfsand wees wat jou insluk. Rick en Lois het toegelaat dat hulle ingesluk word. Hulle het veranderinge om aan te bring, maar stapsgewys kan hulle hul skuld afskud.
As jy onder ’n letterlike grondstorting begrawe word, sal jy enige beskikbare beweegruimte gebruik om jouself te begin uitgrawe. Dit sal stadig gaan, maar dit werk! Onthou, ongeag hoe lank dit neem of hoe moeilik dit is, dit is beslis die moeite werd om uit die skuld te kom.
[Prent op bladsy 23]
Te veel skuld kan jou insluk soos dryfsand