Bybellektuur word waardeer in die voormalige Sowjetunie
Deur Ontwaak!-medewerker in Rusland
VROEG in 1991 het die destydse Sowjetunie uit Rusland en 14 ander republieke bestaan. Sedertdien het die republieke onafhanklike lande geword. Rusland het egter ’n groter bevolking as die ander 14 lande saam en het heelwat meer as drie keer soveel landoppervlakte as hulle. Teen September 1994 was daar 117 276 Getuies van Jehovah in die voormalige Sowjetunie wat Bybelwaarhede aan hulle naaste verkondig het.
Vandag word groot hoeveelhede van Die Wagtoring en Ontwaak! elke maand in Russies gedruk vir gebruik in die voormalige Sowjetunie. Daarbenewens word baie traktate en gebonde boeke daar versprei. Die feit dat hierdie Bybellektuur diep waardeer word, kan duidelik gesien word uit briewe wat deur Rusland se kantoor van Jehovah se Getuies naby St. Petersburg ontvang is.
Kleurryke tydskrifte word waardeer
’n Man uit Sentraal-Siberië het geskryf: “Ek het heel toevallig Die Wagtoring in my medewerker se hand gesien. Ek het haar gevra om dit vir my te wys. Ek het eers net vlugtig na die aantreklike, volkleurprente gekyk. Toe het ek al hoe meer gelees . . . Voordat ek dit besef het, het ek die tydskrif deurgelees. Die vrae is op ’n interessante, lewendige en eenvoudige manier gestel.”
’n Ander man uit Siberië het verduidelik: “Ek het toevallig een van julle tydskrifte ontvang. Ek wil julle nie vlei nie, maar dit is die beste inligting wat ek nog oor geloof gelees het.”
’n Verpleegster uit St. Petersburg, Rusland se tweede grootste stad, het geskryf: “Baie dankie vir die wonderlike reeks artikels in die Ontwaak! van 8 Januarie 1995 oor uitbranding. Hierdie artikels het nie my probleme weggeneem nie, maar het my die hulp gegee waarvoor ek gewag en waarna ek gesoek het.”
’n Sewentienjarige leerling het geskryf: “Ek is baie dankbaar teenoor almal wat hierdie wonderlike lektuur publiseer. Toe ek en my vriende ’n bioskoop verlaat het, het ons ’n paar tydskrifte gesien wat op ’n leë sitplek gelaat is. Ons het dit opgetel. . . . Terwyl ek Die Wagtoring gelees het, kon ek my oë nie glo nie. Sal die toekoms werklik so wees? Nou lees ek die Evangelies en probeer ek dit verstaan. Julle tydskrifte verduidelik baie deeglik wat die Bybel sê.”
’n Ses-en-twintigjarige man het gesê: “Ek is baie dankbaar vir die artikel ‘Is selfmoord die oplossing?’ in die Ontwaak! van 8 April 1994. Weens my neiging tot depressie en die gewoonte van masturbasie het ek al baie maal aan selfmoord gedink. Maar God se Woord en gebede tot Jehovah het my daarvan weerhou om my lewe te beëindig. Hierdie artikel het my geloof in God se barmhartigheid versterk, asook my geloof dat God my sal help om my probleme die hoof te bied. Hy sien dat ek berou het. Hy wil hê dat ek moet lewe. Ek dank hom vir sy steun wat deur middel van hierdie artikel gegee is.”
Aangaande dieselfde Ontwaak!-artikel het ’n 15-jarige meisie verduidelik: “Hierdie tydskrif het ’n groot rol in my lewe gespeel. Toe ek agt jaar oud was, het ek begin voel dat niemand my nodig het nie. My ouers het nie tyd gehad om met my te gesels nie, en ek het my probleme self probeer oplos. Ek het teruggetrokke geraak. Ek het voortdurend met my familielede rusie gemaak. Toe het die gedagte van selfmoord by my opgekom. Hoe bly was ek tog nie om Jehovah se Getuies te ontmoet nie!”
’n Vrou uit die Europese deel van Rusland het gesê: “Ek het eenkeer toevallig ’n Bybelbespreking tussen twee jong mans by ’n bushalte gehoor. Ek het begin belangstel en hulle genader. Hierdie jong mans het my ’n eksemplaar van Die Wagtoring gegee. Ek het die tydskrif met genot en belangstelling gelees, en ek wil meer van die Bybel weet. Ek wil graag met julle in aanraking bly deur middel van julle tydskrifte, en ek wil die Bybel gereeld leer en bestudeer.”
Ander lektuur word waardeer
’n Jong vrou uit die Kaukasus het geskryf: “’n Vrou het na ons kantoor gekom en van die een of ander byeenkoms begin vertel. Ek het haar vreugde en entoesiasme gesien en begin belangstel. Sy het die volgende dag vir my die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe gegee. Ek het dit verslind. Dit was wonderlik. Ek het gevoel dat ek die deur gevind het wat na die lig lei nadat ek in donkerte rondgedwaal het. Ná ek so lank gesoek het, het ek in een enkele boek die antwoorde op al my vrae gevind. Dit is ’n onbeskryflike vreugde.”
’n Man uit Sentraal-Asië het gesê: “Ek is ’n gemeentelid van die evangelistiese Goeie Nuus-kerk. Ons is bewus van ’n ernstige tekort aan geestelike lektuur. Ons versoek julle dringend om boeke, brosjures en boekies vir studie en verdere verspreiding aan ons te stuur.”
Iemand uit Armenië, naby die Swart See, het geskryf: “Ek het die brosjure Gee God werklik vir ons om? gelees, en dit was verkwikkend. Ek het uiteindelik lektuur gevind wat my sal help om die Bybel te bestudeer. Sal julle asseblief aan my boeke vir so ’n studie stuur.”
’n Vrou uit Siberië het gesê: “Een van Jehovah se Getuies het ons huis besoek en ’n eksemplaar van die boek Die grootste mens wat nog geleef het gelaat. Hoewel ek al sedert my skooldae ’n ateïs is, het dit wat ek gelees het my aangespoor om diep te peins en die Bybel te begin bestudeer.”
’n Moeder van twee kinders het haar waardering uitgespreek vir dieselfde boek oor die lewe van Jesus Christus en het verduidelik: “Kinders kan dit verstaan en stel daarin belang. Dit wek ’n verdere begeerte om die Bybel te bestudeer en om godsdienslektuur te lees. Die boek is uitstekend gedruk en geskryf.”
Verlede jaar het 34 608 mense in die voormalige Sowjetunie hulle waardering getoon vir wat hulle geleer het deur gedoop te word. Mag die Bybelse lektuur wat deur Jehovah se Getuies gepubliseer word ’n deeglike en wye verspreiding in hierdie deel van die wêreld hê, en mag nog baie duisende reageer op die Bybelwaarhede wat dit bevat!