Dramatiese Groei
JEHOVAH SE GETUIES was nog nooit ’n bedreiging vir die politieke owerhede van die lande waarin hulle woon nie, en dit word nou erken. Toe die koerant Krasnojarskij Komsomolets oor een van hierdie somer se byeenkomste in die Sowjetunie kommentaar gelewer het, het dit opgemerk: “Die ideoloë van ons land het uiteindelik besef dat Jehovah se volk geensins ’n bedreiging vir openbare wet en orde is nie.”
Die Sowjetkoerant Vostotsjno-Sibirskaja Prawda het insgelyks gesê: “Aangesien die organisasie van Jehovah se Getuies streng godsdienstig is, het hulle nie deel aan politieke konflikte nie en moedig hulle ook nie hulle lidmate aan om enige politieke blok te ondersteun nie, maar hulle ondersteun die gesag van die Bybel en sy Outeur, Jehovah God.”
Groei in die vroeë jare
Jehovah se Getuies is al baie dekades lank in Oos-Europa bedrywig. Daar was teen die einde van die dertigerjare reeds meer as tweeduisend van hulle in Roemenië, duisend in Pole en honderde in Tsjeggo-Slowakye en Hongarye, en daar was tientalle in Joego-Slawië. Hoewel daar net ’n paar in die uitgestrekte Sowjetunie was, het dit oornag verander.
Walter Kolarz, ’n kenner op die gebied van Sowjetaangeleenthede, het in sy boek Religion in the Soviet Union gesê dat ander Getuies in Rusland beland het “deur die gebiede wat in 1939-40 deur die Sowjetunie geannekseer is, waar daar klein maar baie bedrywige groepe van Jehovah se Getuies was”. Getuies wat in die oostelike dele van Pole, Tsjeggo-Slowakye en Roemenië gewoon het, het hulle dus skielik, as ’t ware oornag, in die Sowjetunie bevind!
Nog ’n merkwaardige manier waarop Jehovah se Getuies in die Sowjetunie ingebring is, was deur middel van die Duitse konsentrasiekampe. Hoe so? Wel, gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Russiese gevangenes hulle saam met duisende Duitse Getuies in hierdie kampe bevind. Hierdie Duitsers is in die kampe gegooi omdat hulle ’n onwrikbare standpunt ten opsigte van Christelike neutraliteit gehandhaaf het (Johannes 17:16; 18:36). Hulle sou eerder ly en sterf as om God se wette te verbreek deur by Hitler se leërs aan te sluit en hulle sodoende daaraan skuldig te maak dat hulle mede-Christene in ander lande of, trouens, enigiemand anders doodmaak.—1 Johannes 3:10-12.
Soos Kolarz dus geskryf het, “is die Duitse konsentrasiekampe, hoe ongelooflik dit ook al klink, een van die kanale waardeur die boodskap van Jehovah se Getuies na Rusland gekom het. Dit is daarheen gebring deur Russiese gevangenes in Duitsland wat die moed en standvastigheid van die ‘Getuies’ bewonder het en hulle teologie waarskynlik om daardie rede aantreklik gevind het.” In die vrouekamp in Ravensbrück alleen het talle jong Russe volgens berig die Bybelse boodskap aanvaar wat deur Jehovah se Getuies verkondig is.
Ná die oorlog het gevangenes uit Oos-Europese lande wat Getuies van Jehovah geword het na hulle geboortelande teruggekeer. Daar het hulle ywerig verkondig dat heerskappy deur God se Koninkryk die enigste hoop op blywende vrede is. Die aantal Getuies in Oos-Europa het derhalwe dramaties toegeneem. Teen April 1946 was daar meer as vierduisend wat die predikingswerk in die Sowjetunie gedoen het, en hierdie getal het vinnig verdubbel. In September 1946 het die Getuies in Roemenië ’n byeenkoms in Boekarest gehou wat deur ongeveer 15 000 mense bygewoon is.
Die Koue Oorlog het kort daarna begin, en dit het verkeer en kommunikasie tussen Oos-Europa en die Weste stopgesit. Daarbenewens het Oos-Europa se nuwe heersende magte Jehovah se Getuies begin teenstaan. Ongelukkig het hulle die Getuies as ’n bedreiging beskou, en baie van hulle is in die tronk gesit. Ten spyte hiervan het Tsjeggo-Slowakye teen 1951 3 705 bedrywige Getuies gehad; Hongarye, 2 583; Joego-Slawië, 617 en Pole meer as 15 000.
Volgehoue groei ten spyte van teenstand
Maurice Hindus het in 1967 in sy boek The Kremlin’s Human Dilemma oor Jehovah se Getuies geskryf. Wat hy gesê het, was op die Getuies in die Sowjetunie, sowel as op dié in ander dele van Oos-Europa, van toepassing. “Hoewel hulle ondergronds werk, word hulle opgespoor en kry hulle lang tronkstrawwe. Maar ’n mens kan hulle nie keer nie. As hulle in die een plek onderdruk word, verskyn hulle in ’n ander . . . Dit lyk of hulle net so onvernietigbaar soos die Sowjetpolisie is.”
Gedurende die lente van 1951 is Jehovah se Getuies in die Sowjetunie swaar getref. Meer as seweduisend van hulle in die Sowjet-Europese republieke is gearresteer en na gevangeniskampe in verafgeleë dele van die land, waaronder Siberië en Workoeta, in die verre noorde, geneem. Wat was die gevolg?
“Dit was nie die einde van die ‘Getuies’ in Rusland nie”, sê Kolarz, “maar slegs die begin van ’n nuwe hoofstuk in hulle werksaamhede om bekeerlinge te maak. Hulle het selfs probeer om hulle geloof te propageer wanneer hulle stasies aangedoen het op pad na die plek van hulle ballingskap. Deur hulle te deporteer, het die Sowjetregering die verspreiding van hulle geloof grootliks bevorder. Die ‘Getuies’ is uit afsondering in hulle dorpies na ’n groter wêreld gebring, al was dit net die verskriklike wêreld van die konsentrasie- en slawekampe.”
Binne en buite die gevangenisse
Net soos die eerste-eeuse Christene het Jehovah se Getuies in die Sowjetunie onverpoos aangehou preek onder vervolging (Handelinge 5:42). Helene Celmina, ’n Let wat weens beweerde misdade in die tronk gesit is, sê dat daar sowat 350 gevangenes in die afdeling van die strafkamp in Potma was waar sy van 1962 af tot 1966 aangehou is. “Omtrent die helfte van hulle was Jehovah se Getuies”, het sy gesê. Celmina het in haar boek Women in Soviet Prisons geskryf oor wat sy in die kamp gesien het:
“Daar kom gereeld groot hoeveelhede lektuur wat in goeie toestand is deur nie-amptelike en goed georganiseerde kanale van Brooklyn af . . . Niemand kon verstaan hoe verbode lektuur in hierdie land van doringdraad en beperkte kontak tussen mense kon inkom nie—en dit nogal van die Verenigde State af! Baie van Jehovah se Getuies het tien jaar dwangarbeid gekry net omdat hulle ’n paar eksemplare van Die Wagtoring in hulle woonstel gehad het. Aangesien mense gearresteer word as hulle hierdie lektuur besit, kan ’n mens verstaan waarom die regering so bekommerd en woedend is dat hierdie lektuur in die kamp is.”
Met Jehovah se hulp kon niks die verspreiding van hierdie geestelike voedsel stuit nie! Celmina het gesê: “Niemand het nog uitgevind hoe [Die Wagtoring] in die kamp inkom nie. Trouens, elke gevangene word, nadat hy skuldig bevind is, heeltemal uitgetrek en deeglik deursoek. Met sy aankoms by die kamp word elke gevangene weer deeglik deursoek, tot in die fynste besonderhede. Tasse word vir dubbele bodems deursoek. Geen vreemdeling word sonder goeie rede in die kamp toegelaat nie. Wanneer gevangenes uit die kampgebied uitgelaat word om in die landerye te gaan werk, is hulle omring deur gewapende wagte en niemand word toegelaat om naby hulle te kom nie. Elke gevangene word deeglik deursoek wanneer hulle in die aand na die kamp terugkeer. Maar ten spyte van hierdie bewaking kom die lektuur van Brooklyn af by hulle lesers uit.”
Getroue Christene buite die Sowjetgevangeniskampe het terselfdertyd voortgegaan met hulle openbare predikings- en onderrigtingsbedrywighede. Dit kon duidelik gesien word uit publikasies en films wat gemaak is om hulle bediening te probeer teenwerk. Die boek The Truths About Jehovah’s Witnesses is byvoorbeeld in 1978 uitgegee om, soos in sy inleiding verduidelik is, “ateïstiese onderrig onder die volgelinge van hierdie godsdiensbeweging te gee”.
Die skrywer, V. V. Konik, het onder andere daarop gewys dat Jehovah se Getuies die meeste van hulle openbare toesprake by hulle begrafnisse en huweliksplegtighede gehou het. Hy skryf: “In Augustus 1973 is daar byvoorbeeld ’n huwelik van twee lidmate van die organisasie in die dorpie Krasnaja Poljana, in die Krasnodarskij-streek, gehou wat deur 500 mense bygewoon is. Ses predikers het vir hulle toesprake gehou, en hulle toesprake is oor twee luidsprekers gehou. Toe is ’n drama opgevoer om te toon hoe Jehovah se Getuies gesprekke met mense van ander godsdienste en met ateïste voer.”
Ja, ten spyte van die verbod op hulle werk het Jehovah se Getuies deur die hele Oos-Europa ywerig voortgegaan om die goeie nuus van God se Koninkryk in gehoorsaamheid aan Christus se profetiese opdrag te verkondig (Mattheüs 24:14). Jehovah se Getuies het uiteindelik in Mei en Junie 1989 wetlike erkenning in Pole en Hongarye gekry, in April 1990 in Roemenië, in Maart 1991 in die Sowjetunie en in Julie 1991 in Bulgarye. En hulle werk gaan ook ongestoord in Tsjeggo-Slowakye voort.
Vreugdevolle byeenkomsgangers
Teen hierdie agtergrond kan jy miskien beter verstaan waarom die tienduisende byeenkomsgangers wat Oos-Europese byeenkomste bygewoon het, gejuig het—hulle het gehuil, mekaar omhels, hande geklap en van die een kant van die stadion na die ander vir mekaar gewaai.
Boedapest, Praag en Zagreb is as “internasionale byeenkomste” aangewys, en spesiale reëlings is getref om tienduisende afgevaardigdes uit ander lande te huisves. In die Sowjetunie is byeenkomste in sewe stede gehou met ’n opkoms van 74 252; Pole het 131 554 by hulle 12 byeenkomste gehad en 34 808 het die 8 byeenkomste in Roemenië bygewoon. Hoewel die Getuies nie ’n byeenkoms in Bulgarye kon hou nie, het ongeveer driehonderd uit daardie land die grens oorgesteek na Thessalonika, Griekeland, waar hulle die program in hulle eie taal geniet het.
Dit was vir die Oos-Europese Getuies nie ’n maklike taak om vir duisende byeenkomsgangers voorbereidsels te tref en huisvesting te voorsien nie. Dink daaraan: Sulke byeenkomste is nog nooit in die Sowjetunie gehou nie! En dit was ’n ongelooflik groot projek om tienduisende gaste te huisves, soos die Getuies in Boedapest en Praag gedoen het. Stel jou boonop voor hoe dit was om ’n byeenkoms in Zagreb te hou onder die bedreiging van ’n burgeroorlog en terwyl ’n mens ontploffings in die verte kon hoor!
Dit sal jou beslis ontroer wanneer jy die volgende verslag oor hierdie byeenkomste lees.
[Kaarte op bladsy 7]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
DIE DRIE INTERNASIONALE BYEENKOMSTERREINE EN DIE SEWE PLEKKE WAAR BYEENKOMSTE IN DIE SOWJETUNIE GEHOU IS
SOWJETUNIE
TALLINN
KIËF
LVOV
TSJERNOWTSI
ODESSA
POLE
DUITSLAND
TSJEGGO-SLOWAKYE
PRAAG
OOSTENRYK
HONGARYE
BOEDAPEST
ROEMENIË
JOEGO-SLAWIË
ZAGREB
BULGARYE
ALBANIË
ITALIË
GRIEKELAND
TURKYE
[Kaart]
SOWJETUNIE
ALMA-ATA
OESOLJE-SIBIRSKOJE