Hou julle gereed vir ’n blink toekoms
‘HOU julle gereed’, het Jesus sy hoorders gemaan (Lukas 12:40). As ons dit doen, kan ons, wanneer Christus “met krag en groot heerlikheid” kom, met vreugde reageer op sy bevel: “Rig julle dan op en hef julle hoofde op, want julle verlossing kom nader.”—Lukas 21:27, 28.
Watter soort verlossing? Die soort verlossing wat Noag en sy gesin ondervind het natuurlik—ja, deur die einde van hierdie wêreld heen! “Die wêreld gaan verby”, het die apostel Johannes geskryf, “maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.
In Jehovah se nuwe wêreld sal aardse onderdane van die Koning, Jesus Christus, ewige lewe geniet. Die Bybel sê: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Wat ’n wonderlike toekoms belowe God tog nie vir sy knegte nie! “God self sal by hulle wees”, sê sy Woord. “Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie.” Dit is ware profesieë!—Openbaring 21:3, 4.
Maar jy moet optree as jy hierdie toekoms wil geniet. Om kennis op te doen, is die eerste vereiste. Die Bybel verduidelik: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.
Jy moet ook gereeld saam met diegene vergader wat na hierdie kennis soek, soos die apostel ons aangespoor het: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat [nie], en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Jehovah se volk sien inderdaad hoe die dag van verlossing tot in God se nuwe wêreld al hoe nader kom, en gevolglik het hulle bekend geword vir die feit dat hulle saam vergader.
Waar dit kommentaar lewer oor een byeenkoms by ’n groot stadion het die Sunday Telegraph van Londen berig: “Die somberheid wat gewoonlik met diegene geassosieer word wat ‘Die einde is naby’ verkondig, is heeltemal afwesig. Die einde ís dalk naby. Intussen geniet almal hulle lewe op ’n nugter, eerbare, godvresende maar gelukkige wyse.” Die koerant het toe bygevoeg: “As die huidige wêreldorde werklik op die punt staan om ineen te stort, lyk dit asof die Getuies by Twickenham goed voorbereid is om die nuwe wêreldorde te organiseer.”
Om jou gereed te hou, beteken om jou besig te hou, besig met ’n werk soos deur Noag gedoen is, wat in die dae voor die Vloed as “’n prediker van regverdigheid” gedien het (2 Petrus 2:5). Om jou gereed te hou, beteken ook om “heilige gedragshandelinge en dade van godvrugtige toegewydheid” te beoefen. Jy word genooi, ja, aangespoor, om by Jehovah se volk aan te sluit “terwyl [hulle] die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou”.—2 Petrus 3:11, 12.