Ons uitnodiging aan jou
Ons het dit geniet om deur middel van hierdie brosjure met jou te gesels. Ons hoop dat jy dit geniet het om meer omtrent Jehovah se Getuies te wete te kom. Aanvaar asseblief ons uitnodiging om ons by ons plaaslike Koninkryksaal te besoek. Kyk hoe ons vergaderinge gehou word. Kyk hoe ons probeer om die goeie nuus van ’n paradysaarde onder Christus se Koninkryk aan ander te verkondig.
God het dit beloof. “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:13). Negentien eeue het verstryk. Die wagtyd loop ten einde. Wêreldtoestande dui daarop. Die vervulling van Jesus se volgende belofte kom nader: “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”—Lukas 21:28.
“Namate julle die dag sien nader kom”, het die apostel Paulus gesê, moet julle “op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en . . . [julle] onderlinge byeenkoms nie versuim” nie (Hebreërs 10:24, 25). Ons uitnodiging aan jou is: Slaan ag op Paulus se raad deur saam met ons byeen te kom.