Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 7/8 bl. 7-11
  • Lewe in liefde saam

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lewe in liefde saam
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Liefde—“’n volmaakte band van eenheid”
  • “Grysheid is ’n sierlike kroon”
  • Die voordele wanneer familieverhoudinge opgebou word
  • Die voordele van wedersydse respek
  • Die opvoedkundige rol van grootouers
  • Tree in ooreenstemming met goddelike onderrigting op
  • Wat is party van die probleme?
    Ontwaak!—1995
  • Grootouers—die vreugdes en uitdagings
    Ontwaak!—1999
  • Hoe kan ek nader aan my grootouers kom?
    Ontwaak!—2001
  • Wanneer grootouers ouers word
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 7/8 bl. 7-11

Lewe in liefde saam

Liewe Ouma en Oupa,

Hoe gaan dit met julle? Ek dink ek is besig om verkoue te kry.

Dankie dat julle die ander dag met my gespeel het. Julle het my na die park en die openbare swembad geneem. Ek het dit baie geniet.

Volgende jaar het ons op 11 Februarie ons skoolkonsert. As julle weer kan kom, kom asseblief.

Ons is baie bly wanneer julle kom, Ouma en Oupa.

Pas julleself asseblief goed op en bly altyd gesond. Dit gaan koud word. Pas dus op dat julle nie verkoue kry nie.

Ek sien uit na die volgende keer wanneer julle met my kom speel. Sê asseblief groete vir Joemi en Masaki.

Mika (Japannees)

HET jou kleinkind al ooit vir jou so ’n brief geskryf? Indien wel, het dit jou ongetwyfeld baie vreugde verskaf toe jy dit ontvang het. Sulke briewe is ’n bewys van ’n mooi en liefdevolle verwantskap tussen grootouers en kleinkinders. Maar wat is nodig om hierdie soort verhouding op te bou, dit te behou en te versterk? En hoe kan dit vir al drie geslagte nuttig wees?

Liefde—“’n volmaakte band van eenheid”

Roy en Jean, twee Britse grootouers, sê: “Die hoofbeginsels is na ons mening om hoofskap te erken en om in liefde met mekaar oor die weg te kom.” Hierdie twee Getuies van Jehovah het spesifiek die teks in Kolossense 3:14 gemeld wat Christelike liefde as “’n volmaakte band van eenheid” beskryf. Liefde wek respek, bedagsaamheid, geneentheid en familie-eenheid. Wanneer pa van die werk af kom, is die hele gesin vinnig daar om hom hartlik te verwelkom. As daar liefde in die familie is, gebeur dieselfde wanneer die grootouers opdaag. “Ouma en Oupa is hier!” skreeu ’n opgewonde kind. Daardie aand sit die familie aan om te eet en neem oupa, ooreenkomstig die plaaslike tradisie, die plek aan die hoof van die tafel in wat vir hom gehou word. Kan jy jou en jou familie in hierdie liefderyke toneel voorstel? Geniet julle hierdie seëning?

“Grysheid is ’n sierlike kroon”

Dit spreek vanself dat liefde en respek vir grootouers voortdurend getoon moet word, nie net by spesiale geleenthede nie. Daarom is dit nodig om kinders gedurig op te lei. In die gesin leer kinders om familielede en ander lief te hê deur die voorbeeld wat hulle ouers stel te volg. Hulle voorbeeld is fundamenteel, soos gemeld deur baie van dié met wie daar ’n onderhoud oor hierdie onderwerp gevoer is. Macaiah, ’n vader in Beninstad, Nigerië, sê: “Ek dink dat my voorbeeld van respek vir my skoonouers my kinders ook gehelp het om nederig en eerbiedig te wees. Ek spreek my skoonouers as ‘Pa’ en ‘Ma’ aan. My kinders hoor en sien dat ek hulle soos my eie ouers respekteer.”

As kleinkinders nie hulle grootouers respekteer nie, raak dié dalk ontsteld, nie soseer oor die tekortkoming self nie, maar oor die feit dat die ouers hulle nie teregwys nie. Demetrio, ’n oupa in Rome, Italië, sê: “Ek kan die liefde sien wat my dogter en skoonseun vir ons het in die manier waarop hulle ons kleinkinders leer om ons te eer en te respekteer.” Soms behandel kleinkinders dalk hulle grootouers te familiêr, asof hulle net speelmaats van dieselfde ouderdom is, of anders met ’n meerderwaardige houding. Dit is die ouers se verantwoordelikheid om so ’n neiging reg te stel. Paul, ’n Nigeriese Getuie, sê: “Ongeveer ’n jaar gelede het die kinders op my moeder begin neersien. Toe ek dit opmerk, het ek Spreuke 16:31 vir hulle gelees: ‘Grysheid is ’n sierlike kroon’, en ek het hulle ook daaraan herinner dat Ouma my moeder is. Net soos hulle my respekteer, moet hulle haar ook respekteer. Ek het ook hoofstuk 10 van die boek Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benuta met die titel ‘Hoe beskou jy jou ouers?’ met hulle gestudeer. Nou is dit nie meer vir hulle moeilik om hulle ouma te respekteer nie.”

Die voordele wanneer familieverhoudinge opgebou word

Wedersydse geneentheid kan selfs aangekweek word wanneer familielede ver van mekaar af bly. Stephen, ’n Nigeriese oupa, sê: “Ons skryf aan elkeen van ons kleinkinders afsonderlik. Dit is ’n veeleisende taak, maar die beloning om ’n hegte verwantskap met die kleinkinders op te bou en te behou, is baie groot.” Ouers se pogings in hierdie opsig is noodsaaklik. Ander bly, na gelang van hulle omstandighede, per telefoon met mekaar in aanraking.

Giuseppe, ’n oupa in Bari, Italië, wat 11 kleinkinders het, verduidelik hoe hy ’n hartlike vriendskap met sy naverwante kweek: “Op die oomblik bly drie van die ses gesinne waaruit my ‘stam’ bestaan ver hiervandaan. Maar dit is nie ’n struikelblok vir aangename omgang en samekomste onder ons nie. Ons 24 het die gewoonte om ten minste een keer per jaar almal bymekaar te kom.”

Wanneer grootouers alleen woon, kan verhoudinge onpersoonlik raak as hulle en familielede mekaar nie gereeld besoek, bel of vir mekaar skryf nie. Geneentheid moet voortdurend getoon word. Party grootouers wat middeljarig of gesond is, wil op hulle eie woon terwyl hulle nog energiek en selfversorgend is. Maar as hulle hulle heeltemal van familielede afsonder, sal hulle dalk ook vind dat hulle nie so gou geneentheid ontvang wanneer hulle ’n groter behoefte daaraan het nie.

Michael, ’n Nigeriese oupa, gee nog ’n nuttige wenk: “Ek pas Jesus se Gulde Reël toe—doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen. Daarom het my kinders my baie lief. Ons kommunikeer goed.” Hy voeg by: “As enige van my kleinkinders iets doen wat my ontstel, praat ek met hulle as dit nodig is. Maar as dit iets is wat ek kan oorsien, vergeet ek gewoonlik net daarvan.”

Geskenkies en klein gebare deur die grootouers het ’n positiewe uitwerking. Goedhartige, bemoedigende woorde, eerder as aanhoudende klagtes, maak die familielewe aangenaam. Wanneer tyd aan die kleinkinders gewy word, hulle amusante speletjies en nuttige werkies geleer word en hulle Bybelverhale en familiestaaltjies vertel word, skep dit innige en blywende herinneringe. Sulke klein maar belangrike dingetjies maak die lewe genotvoller.

Die voordele van wedersydse respek

“Grootouers”, sê dokter Gaspare Vella, “moet versigtig wees dat hulle nie die ouers se gesag om hulle kinders groot te maak, teëstaan of daarmee meeding nie.” “Anders”, voeg hy by, “oorskry hulle hulle terrein as grootouers en word hulle grootouer-ouers.” Hierdie wenk is in ooreenstemming met wat die Skrif sê, naamlik dat dit hoofsaaklik die ouers se verantwoordelikheid is om hulle kinders op te lei.—Spreuke 6:20; Kolossense 3:20.

Weens hulle lewensondervinding is dit vir grootouers maklik om advies te gee. Maar hulle moet versigtig wees om nie ongewenste en partykeer onwelkome raad te gee nie. Roy en Jean sê: “Dit is belangrik om te besef dat dit hoofsaaklik die ouers se verantwoordelikheid is om hulle kinders op te lei en te dissiplineer. Soms voel ’n mens dalk dat hulle ’n bietjie te streng is en in ander gevalle nie streng genoeg is nie. Derhalwe is dit nodig om te stry teen die groot versoeking om in te meng.” Michael en Sheena, twee ander Britse grootouers, bevestig dieselfde punt: “As die kinders ons advies vra, sal ons dit gee, maar ons verwag nie noodwendig dat hulle dit moet aanvaar nie en ons raak ook nie ontsteld as hulle dit nie doen nie.” Dit is goed vir bejaarde ouers om vertroue in hulle getroude seuns en dogters te hê. Sulke vertroue verbeter verhoudinge tussen die drie geslagte.

Vivian en Jane, wat in die suide van Engeland by hulle kinders woon, probeer te alle tye die dissipline handhaaf wat hulle seun en skoondogter op hulle kleinkinders uitoefen: “Ons probeer nie ons eie idees aan hulle opdwing waar ons moontlik anders voel oor ’n saak nie. Die kinders besef dat ons hulle ma en pa steun en probeer nooit ‘die een teen die ander uitspeel’ nie.” Selfs wanneer ouers afwesig is, moet grootouers versigtig wees wanneer hulle kleinkinders wil dissiplineer. Harold, van Brittanje, sê: “Enige dissipline wat die grootouer in die afwesigheid van die ouers nodig ag, moet hy vooraf met die ouers bespreek het.” Harold voeg by dat ’n vriendelike maar ferm woord aan die kleinkinders of net ’n herinnering van “wat die ouer sou verwag het” dikwels voldoende is.

Wanneer Christopher, ’n Nigeriese oupa, die een of ander tekortkoming aan die kant van sy kinders opmerk, praat hy nie in die teenwoordigheid van sy kleinkinders daaroor nie: “Ek gee enige nodige raad wanneer ek alleen saam met die ouers is.” Die ouers moet op hulle beurt hulle deel doen om te verseker dat die rol van die grootouers gerespekteer word. “Dit is van die grootste belang”, sê Carlo, ’n vader wat in Rome, Italië, woon, “om nooit voor die kinders oor die swakhede van die grootouers of ander familielede te kla nie.” Hiroko, ’n Japannese moeder, sê: “Wanneer daar ’n probleem met my skoonouers ontstaan, bespreek ek dit eers met my man.”

Die opvoedkundige rol van grootouers

Elke familie het sy eie geskiedenis, gebruike en ondervindinge wat dit van al die ander onderskei. Gewoonlik is grootouers die historiese herinneringskakel van die familie. ’n Afrika-gesegde lui: “Elke ou man wat doodgaan, is ’n biblioteek wat afbrand.” Grootouers dra die herinneringe aan familielede en belangrike familiegebeurtenisse oor, asook familiewaardes wat dikwels die grondslag vir eenheid in die familie is. Met uitsondering van die sedelike leiding wat die Bybel gee, het een deskundige gesê dat “jongmense, [indien] hulle geen geskiedkundige herinneringe het nie, grootword sonder die grondslag van ondervinding wat hulle voorafgegaan het, sonder enige waardes, onseker en onveilig”.—Gaetano Barletta, Nonni e nipoti (Grootouers en kleinkinders).

Kleinkinders hou daarvan om vertellings te hoor van toe ma en pa en ander familielede jonk was. Dit kan baie leersaam en vermaaklik wees om na ’n foto-album te kyk. Watter teerheid en hartlikheid kan tog gewek word wanneer grootouers vertel van gebeure in die verlede wat in die foto’s uitgebeeld word.

Reg en Molly, twee Britse grootouers wat Getuies van Jehovah is, sê: “Ons het geluk daarin gevind om saam met ons kleinkinders te kan wees en dinge saam met hulle te kan doen, sonder om inbreuk te maak op hulle hegte band met Ma en Pa, en om hulle baie vrae te beantwoord, saam te speel, saam te lees, vir hulle te wys hoe om te skryf, hulle te hoor lees, hulle skoolopleiding met liefdevolle belangstelling te volg.”

’n Ernstige fout wat baie grootouers en ouers begaan, is om net oor die fisiese welsyn van hulle kinders en kleinkinders bekommerd te wees. Die grootouers Reg en Molly, wat hierbo gemeld is, sê: “Die grootste erfenis wat ons aan ons kinders en kleinkinders kan gee, is om toe te sien dat hulle in die ware kennis van die Woord van God grootgemaak word.”—Deuteronomium 4:9; 32:7; Psalm 48:14; 78:3, 4, 6.

Tree in ooreenstemming met goddelike onderrigting op

Die Heilige Bybel, die Woord van God, “oefen krag uit” op mense. Dit het die vermoë om hulle te help om verdelende karaktertrekke, soos selfsug en trots, te beheer of daarvan ontslae te raak (Hebreërs 4:12). Diegene wat die leerstellings daarin toepas, geniet derhalwe vrede en eenheid in die familie. Een van die talle tekste wat die drie geslagte help om enige moontlike gaping tussen hulle uit die weg te ruim, is Filippense 2:2-4, wat almal aanspoor om liefde en ootmoed te openbaar, om eenheid te bewaar deur ‘in persoonlike belangstelling ’n oog nie net op hulle eie sake te hou nie, maar ook in persoonlike belangstelling op dié van die ander’.

Ouers en kleinkinders wat in ooreenstemming met goddelike onderrigting optree, neem die vermaning baie ernstig op om op materiële, emosionele en geestelike gebied “’n verskuldigde vergoeding aan hulle ouers en grootouers te bly betaal” (1 Timoteus 5:4). Weens ’n heilsame vrees vir Jehovah openbaar hulle diepe respek vir hulle grootouers en hou hulle sy woorde in gedagte: “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer; en jy moet jou God vrees” (Levitikus 19:32). Grootouers openbaar goedheid deur na die welsyn van hulle nakomelinge om te sien: “’n Goeie mens laat sy kindskinders erwe.”—Spreuke 13:22.

Grootouers, ouers en kleinkinders, of hulle saam woon of nie, kan almal baat vind by hartlike verhoudinge wat op liefde en respek gebaseer is, soos Spreuke 17:6 sê: “Kindskinders is ’n kroon vir grysaards, en vir die kinders is hulle vader ’n eer.”

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prent op bladsy 8]

’n Familiereünie kan tot familie-eenheid bydra

[Prent op bladsy 9]

Jou grootouers word bemoedig wanneer jy vir hulle skryf

[Prent op bladsy 10]

Dit kan ’n verrykende ondervinding wees om saam met jou kleinkinders deur ’n familie-album te blaai

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel