Jongmense vra . . .
Kan ek werklik ’n vriend van God wees?
’N VRIEND van God wees? Beslis nie, meen die 20-jarige Doris. “Ek voel so minderwaardig en dat ek dit glad nie werd is dat enigiemand van my hou nie”, sê hierdie jong vrou. “Ek vermy dit selfs om tot Jehovah God te bid omdat ek nie dink dat ek verdien om in sy teenwoordigheid te wees nie.” In hulle binneste voel party jongmense dat hulle God se vriendskap geheel en al onwaardig is. Hoewel die idee om ’n vriend van God te wees dalk vir hulle kosbaar is, voel hulle dat dit vir hulle onbereikbaar is. Het jy al ooit so gevoel?
Soms kan ’n jongmens se eie swakhede hom onwaardig laat voel om God selfs te nader. Neem byvoorbeeld jong Michael. Hy sê dat hy “besmet was met byna elke sondige en skadelike gedagte en daad wat daar is” voordat hy goddelike weë begin waardeer het. Wat hy egter uit sy studie van die Bybel geleer het, het hom laat besef watter hartseer en teleurstelling hy vir God veroorsaak. Hy het verduidelik: “Elke gemeentelike vergadering het ten minste nog een van my gebreke vir my uitgewys. . . . Ek kon nie dink dat Jehovah my sou vergewe vir my skynbaar eindelose sondes wanneer ek myself nie eers kon vergewe nie.”
In ander gevalle is dit moontlik die manier waarop ’n jongmens deur ander behandel word wat hom laat voel dat hy Jehovah se vriendskap onwaardig is. Doris, wat vroeër aangehaal is, is byvoorbeeld as ’n kleuter deur haar moeder verlaat. Sy het gesê: “Ek dink nie enigiemand het my lief nie. Wat is die kanse dat enigiemand anders vir my sal omgee as my eie moeder en familie my verlaat het?” Wanneer ’n jongmens sedert sy kinderdae verneder en mishandel is, glo hy moontlik opreg dat God hom nooit as ’n vriend sal wil hê nie.
Daarenteen het ’n jong persoon dalk ’n vriendskap met God gehad, maar weens swakheid in ernstige sonde verval. Dit het met Tracy gebeur. “Ek kry so skaam”, sê hierdie 21-jarige, “my pyn en skuldgevoel is ondraaglik. Ek het my Vader, Jehovah, só seergemaak.”
Miskien bevind jy jou in ’n situasie wat ooreenkom met een van die voorgaande situasies. Maar daar is hoop: Jy kan God as jou vriend hê!
Waarom jy ’n vriend van God kan wees
Sondige dade kan jou weliswaar verhinder om ’n vriend van God te wees. Gelukkig het ons liefdevolle Vader die inisiatief geneem om ons te help. “God beveel sy eie liefde by ons aan daarin dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was”, skryf die apostel Paulus (Romeine 5:8). Deur sy dood het Jesus ’n losprys betaal om waarderende mense vry te koop uit algehele oorheersing deur die sonde (Matteus 20:28). Die apostel het dus bygevoeg: “Ons was God se vyande, maar hy het ons sy vriende gemaak deur die dood van sy Seun.”—Romeine 5:10, Today’s English Version.
Party jongmense, soos Michael wat vroeër genoem is, het hulle miskien aan growwe oortreding skuldig gemaak voordat hulle besef het wat Jehovah se standaarde is. Maar deur Jesus se losprysofferande kan ’n mens vir vorige sondes vergewe word, ongeag hoe ernstig hierdie sondes was. Die Bybel gee hierdie hartverblydende versekering: “As ons ons sondes bely, is hy getrou en regverdig om ons ons sondes te vergewe en ons van alle onregverdigheid te reinig” (1 Johannes 1:9). ’n Mens moet nietemin stappe doen om aan God te toon dat jy sulke reiniging waardeer. Die apostel Paulus meld ’n beginsel wat toegepas kan word: ‘“Hou op om wat onrein is aan te raak”, sê Jehovah, “en ek sal julle inneem. En ek sal vir julle ’n vader wees”’ (2 Korintiërs 6:17, 18). Hoe aangrypend is dit tog om te weet dat God gewillig is om iemand as ’n vriend in Sy guns te ontvang as hy sulke oortredings verwerp en waarlik berouvol is.
Wat van jongmense wat in ’n milieu grootgemaak is waar mishandeling voorgekom het? Daar moet besef word dat God mense nie as skuldig beskou omdat dinge teen hulle sin aan hulle gedoen is nie. Sulke mense was eerder slagoffers as deelnemers aan sonde. Onthou ook dat jou waarde as ’n mens nie afhang van hoe ’n ander mens beoordeel word nie. Jehovah kan jou Vriend word ondanks jou omstandighede. Maureen is deur ’n Christenmoeder in ’n huis vol geweld grootgemaak, want haar vader was ’n alkoholis. Tog het sy gesê: “Te midde van hierdie onaangename omstandighede kon ek op die een of ander manier ’n verhouding met Jehovah opbou. Ek het hom leer ken as die Een wat my nooit sal verlaat nie.”
Gestel jy maak jou aan ernstige sonde skuldig?
Doug, wat deur godvrugtige ouers grootgemaak is, het op 18-jarige ouderdom by geslagsonsedelikheid betrokke geraak. Dit was te wyte aan sy slegte omgang. “Ek het geweet dat dit verkeerd is, maar ek het dit aanhou doen, want ek wou pret hê”, het Doug erken. ’n Ruk later het Doug besef hoe sinneloos sy weg is. Hy het erken: “Ek het begin sien dat my sogenaamde vriende my net gebruik om my geld te kry of om pret te hê.” Hy het toe stappe begin doen om Jehovah se vriendskap te herwin. Maar ’n baie groot struikelblok het sy vooruitgang verhinder.
“Wat dit hoofsaaklik so moeilik gemaak het om terug te kom, was dat ek so onwaardig gevoel het”, het Doug gesê. “Ek het gevoel dat alles wat ek gedoen het in Jehovah se oë sleg was. Omdat ek geweet het hoe goed hy is en hoeveel hy van my moes duld, het dit gelyk of daar geen moontlikheid was dat hy my sou wou vergewe nie, omdat ek eenvoudig só sleg was.” Maar Doug kon hierdie hindernis met die hulp van ’n gemeentelike ouer man oorkom, asook deur noukeurig na te dink oor die Bybelverslag van Manasse.
Wie was Manasse? ’n Koning van eertydse Juda. Die Bybel toon dat hy deur sy godvrugtige vader, Hiskia, geleer is om Jehovah lief te hê. Maar nadat sy vader gesterf het en hy op 12-jarige ouderdom koning geword het, het hy gedink dat hy toe kon doen wat hy wou. Hy het Jehovah versaak om Baäl te aanbid. Sulke aanbidding is gekenmerk deur uiters onsedelike en bandelose seksorgieë. Manasse “het gruwelik verkeerd gedoen in die oë van die Here en Hom uitgetart”. Deur middel van getroue woordvoerders het Jehovah “Manasse en sy volk aangespreek, maar hulle het daar geen ag op geslaan nie”. Toe is Manasse, as ’n blyk van Jehovah se oordeel, as ’n geboeide gevangene na Babilon geneem.—2 Kronieke 31:20, 21; 33:1-6, 10, 11, NAV.
Toe Manasse oor sy vorige dade nagedink het en hulle vergelyk het met wat hy omtrent Jehovah se wette onthou het, is hy deur ’n skuldgevoel oorweldig en het hy om vergifnis gesmeek. Hy het hom voor God verootmoedig en “tot Hom gebid”. En God “het hom verhoor en na sy smeking geluister en hom na Jerusalem in sy koningskap teruggebring”. Ja, “die Vader van tere barmhartighede” was gewillig om hierdie berouvolle sondaar toe te laat om weer na aan hom te kom. Nadat Manasse sulke barmhartigheid ontvang het, het hy nou, deur persoonlike ondervinding, “te wete gekom dat Jehovah die ware God is”.—2 Kronieke 33:12, 13, vgl. NW; 2 Korintiërs 1:3.
As Jehovah Manasse kon terugneem, sal hy vandag tog sekerlik ook ’n eiesinnige jongmens toelaat om weer ’n verhouding met Hom op te bou as die jongmens ’n berouvolle gesindheid openbaar. Doug het op die hulp van die geestelike herders in sy gemeente gereageer. Hy is gehelp om duidelik te sien dat God ons nie vir altyd ‘ons sonde sal bly toereken en vir ewig toornig sal bly nie’.—Psalm 103:9, NAV.
Bly God se vriend
Wanneer God dan jou Vriend geword het, moet jy hierdie verhouding koester om dit te behou. Een 18-jarige gedoopte meisie het ’n ongehude moeder geword. Sy is nogtans gehelp om sake met Jehovah reg te stel. (Sien Jesaja 1:18, vgl. NW.) Wat was die keerpunt in haar herstel? “Ek het geleer dat Jehovah ’n liefdevolle Vader is en nie ’n skerpregter nie”, het sy verduidelik. “Ek het besef dat hy seergemaak is deur wat ek gedoen het. Dit is so belangrik om God as ’n Vriend te beskou, iemand met emosies, en nie bloot as ’n abstrakte Gees aan wie eer maar nooit waarlik liefde betoon moet word nie.” Soos Manasse het sy gedronge gevoel om ten volle by Jehovah se aanbidding betrokke te raak (2 Kronieke 33:14-16). Dit is vir haar ’n beskerming. Sy raai ander jongmense aan: “Streef voortdurend daarna om Jehovah te loof, selfs al gaan dit swaar. Jehovah sal weer eens jou weë op ’n liefdevolle manier gelykmaak.”
Dit is ook belangrik dat jy vriende kies uit diegene wat God se vriende is. Diegene wat duidelik geen respek vir Goddelike beginsels het nie, moet egter soos die pes vermy word (Spreuke 13:20). Jong Linda het haar aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak met ’n jong man wie se vriendskap “belangriker as enigiets anders” geword het. Ná haar geestelike herstel het Linda erken: “Jy kan jou hele lewe vernietig as jy nie daardie persoonlike band tussen jou en Jehovah het nie.”
Het jy so ’n band? Indien nie, moet jy jou daarop toelê om dit te verkry. Linda som die waarde van ’n vriendskap met God op deur te sê: “’n Goeie persoonlike verhouding met Jehovah is die belangrikste ding in die hele wêreld. Geen seun of meisie of enigiets anders in hierdie wêreld is belangriker as dit nie. As vriendskap met Jehovah ontbreek, dan is niks anders van belang nie.”
[Prent op bladsy 15]
Party jongmense voel dalk onwaardig om God se vriend te wees