Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 7/22 bl. 16-19
  • Vroue van Indië—Beweeg in die 21ste eeu in

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vroue van Indië—Beweeg in die 21ste eeu in
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nuwe werksgeleenthede
  • Veranderinge op die gebied van die huwelik
  • Babadogtertjies kry meer aandag
  • Plattelandse en stedelike verskille
  • Hulle beweeg die 21ste eeu in!
  • Vroue se verbeterde rol in ons dag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Respek en waardigheid omdat God omgee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • “Vroue wat hard werk in die Here”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Vroue—Word hulle vandag gerespekteer?
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 7/22 bl. 16-19

Vroue van Indië—Beweeg in die 21ste eeu in

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË

Hulle is lank, hulle is kort. Hulle is maer, hulle is geset. Hulle is humoristies, hulle is stug. Hulle is ontsaglik ryk, hulle is vreeslik armoedig. Hulle is hoogs geleerd, hulle is geheel en al ongeletterd. Wie is hulle? Die vroue van Indië. En waarheen is hulle op pad? Hulle beweeg in die 21ste eeu in.

DIE beeld wat die meeste mense wat buite Indië woon van ’n Indiese vrou het, is een van grasie, skoonheid, misterie en sjarme. Baie mans rig hulle aandag op Indië om ’n vrou te soek, deels weens die beskouing dat Indiese vroue meer geneig is om onderdanig te wees, om hulle man te behaag en om goeie tuisteskeppers te wees as hulle onafhankliker susters in die Weste. Dit is egter misleidend om te praat van ’n tipiese Indiese vrou in hierdie mengelmoes van etniese, godsdiens- en maatskaplike agtergronde. Allerhande soorte vroue woon in hierdie fassinerende land.

Die geskiedenis van Indië is een waarin baie kulture saamgevloei het, hetsy vreedsaam of met geweld. Daar word bespiegel oor waar die vroeë setlaars, die Dravidiane, vandaan gekom het. Dit lyk of hulle die produk is van ’n vermenging van Australiese en Suid-Mediterreense volke, met ’n besondere verbintenis met Kreta. Namate die Ariërs en Perse uit die noordweste en die Mongole uit die noordooste in Indië ingetrek het, het die Dravidiane na die suide toe teruggetrek. Ons vind dus oor die algemeen dat die vroue van Suid-Indië kleiner is en ’n donkerder vel het as die vroue van die noorde, wat gewoonlik langer is en ’n ligter vel het, maar steeds donker hare en oë het. Mense in die noordooste het dikwels Oosterse gelaatstrekke.

Godsdiens het ’n groot rol daarin gespeel om die status van vroue in Indië te bepaal. Omdat moderne Indië ’n sekulêre staat is, word alles moontlik gedoen om tradisionele beskouings te verander wat verhinder het dat vroue vooruitgang maak. Groot stappe word gedoen om meer opvoedkundige geleenthede te bied, nie net vir welgestelde of invloedryke vroue nie, maar vir almal. Lees-en-skryf-klasse, vakopleiding in dorpies en gratis skoolopleiding vir meisies is besig om die situasie van Indië se vroue te verander.

Op 22 Junie 1994, in die staat Maharashtra, is ’n groot tree vorentoe geneem toe ’n regeringsbeleid oor vroue uitgereik is. Dit is deur Indië se vise-president, K. R. Narajanan, as “van groot belang” en “revolusionêr” beskryf en dit het aandag geskenk aan die basiese probleme van vroue, soos medebesitregte, voogdyskap, behuisingsvoordele en gelyke werksgeleenthede.

Namate meer vroue universiteit toe gaan en die arbeidsmark betree, aangesien hulle nie langer tot die huis beperk word nie, het die kwessie van veranderinge in die sedelike klimaat ontstaan. Daar verskyn berigte oor dwelmmisbruik en verslegtende sedes in universiteite. Die media speel ’n groot rol in die metamorfose van party jonger Indiese vroue. Wanneer hulle Indiese rolprente van 30 jaar gelede met dié van vandag vergelyk, vind baie dat die uitbeelding van vroue geweldig verander het. Een Indiese vrou het gesê: “Die voormalige stemmige, saggeaarde, selfopofferende rolprentheldin van die tyd toe ek op skool was, het plek gemaak vir die moderne meisie wat, as sy ongelukkig is, haar man en skoonouers verlaat en vir haar regte en haar onafhanklikheid stry.”

Maar in vergelyking met baie lande is Indië oor die algemeen gematig wat gedrag en kleredrag betref. Die rok wat die algemeenste gedra word, die pragtige sari, bedek op ’n beskeie manier die grootste deel van die liggaam. Die shalwar-kameez, ’n losserige rok wat oor ’n broek gedra word wat soos ’n pajamabroek lyk, is veral in die noorde by jonger vroue gewild. Westerse modes, wat hoofsaaklik in Bombaai, Goa en Kalkutta gesien word, is gewoonlik beskeie in styl en lengte.

Nuwe werksgeleenthede

Watter soort werksgeleenthede is vir Indiese vroue beskikbaar namate hulle die 21ste eeu tegemoetgaan? ’n Groot deel van Indië se bevolking woon in dorpies, en hulle verrig landbouarbeid. Miljoene werk in die lande. Vroue werk saam met die mans en doen allerhande soorte plaaswerk. Hulle dra ook water oor lang afstande van riviere en putte aan en maak vuurmaakhout met groot moeite bymekaar. Terwyl hulle werk, word babas op die heup gedra of in hangmatte neergelê wat tussen bome gespan is.

Sedert die begin van die 20ste eeu het plattelandse Indiese gesinne in die stedelike gebiede ingestroom op soek na werk. Vroue het in wewerye en fabrieke gewerk. Die modernisering van nywerhede het vrouewerkers egter meer as mans geraak. Mans is opgelei om met die masjiene te werk, maar vroue nie. Dit het groot swaarkry vir vroue veroorsaak. Hulle moes boumateriaal op boupersele aandra, handkarretjies trek wat met swaar sakke belaai was, tweedehandse klere verkoop of ander laagbesoldigde werk doen.

Maatskaplike hervormers het pogings aangewend om die lot van vroue te verbeter. Bewegings soos SEWA (Assosiasie vir vroue met hulle eie onderneming) het ontstaan met die doel om die ongeletterde vrouewerkers te help om na hulle gesondheid om te sien sodat hulle kan werk, om genoegsaam geletterd te wees sodat hulle nie in wanpraktyke verstrik raak nie, om hulle werkvaardighede te verbeter en om te leer spaar sodat hulle hulle eie kapitaal kan opbou en die hoë rentekoerse kan vermy wat deur gewetenlose geldskieters geëis word. Toe sy gevra is oor die gebruik van feminisme as ’n maatskaplike instrument het die vooraanstaande sosioloog Zarina Bhatti gesê: “In Indië beteken feminisme om na die probleme van vroue te luister, hulle te organiseer, hulle tegniese opleiding tesame met gesondheid en voeding te probeer gee.”

Terselfdertyd het menings verander oor die situasie van geleerde vroue uit welgestelde families wat van ’n hoër sosiale stand geag is, asook dié van vroue uit middelklasfamilies. Nou kan vroue van albei agtergronde in alle arbeidsvelde gevind word, nie net in die onderwys of die geneeskunde nie. Hulle het loopbane as vlieëniers, modelle, lugwaardinne en polisievroue en word in topbestuursposte aangetref. Indië het baie jare lank ’n vrou as eerste minister gehad, wat in die wêreld se grootste demokrasie verkies is. Indiese vroue beklee posisies in die gewapende mag en is regsgeleerdes en hoofregters, en duisende het as ondernemers tot die sakewêreld toegetree.

Veranderinge op die gebied van die huwelik

Hoe voel die moderne Indiese vrou oor die huwelik, in die lig van hierdie neiging tot onafhanklike sekulêre werk? Die 19de en 20ste eeu het groot veranderinge vir getroude Indiese vroue meegebring. Die antieke gebruik wat sutti genoem word, waarin ’n weduwee haar vrywillig op haar man se lykstapel verbrand, is onder Britse heerskappy afgeskaf. Kinderhuwelike is deur wetgewing verbied sodat ’n meisie onder die ouderdom van 18 nou volgens wet nie kan trou nie. Om ’n bruidskat van ’n meisie se familie te eis, word ook deur die wet verbied, maar hierdie euwel bestaan nog. Duisende jong bruide is op die een of ander manier vermoor, óf omdat hulle familie nie ’n groot genoeg bruidskat voorsien het nie, óf omdat meer geld uit ’n tweede huwelik gekry kon word.

Daar word geleidelik aandag gegee aan die onderliggende oorsake van bruidskatsterftes. ’n Indiese meisie het tradisioneel ná die huwelik na haar man in sy ouers se huis gegaan en tot haar dood toe daar gebly. Haar ouers het haar onder geen omstandighede in hulle huis teruggeneem nie. Die meeste vroue kon weens ’n gebrek aan formele skoolopleiding nie hulle man se huis verlaat en werk om hulleself te onderhou nie. Jong vroue is dus dikwels gemartel en die dood het soos ’n swaard oor hulle gehang, en as hulle ouers nie nog geld of goedere kon voorsien om die hebsugtige skoonfamilie te bevredig nie, het die bruide eenvoudig in stille angs op hulle uiteindelike lot gewag, wat gewoonlik ’n beplande noodlottige ongeluk was waarin ’n stoof ontplof of ’n dun sari aan die brand geraak het.

Nou bied wetgewing en polisie-eenhede, howe en ondersteuningsgroepe vir vroue ’n getroude vrou ’n plek waartoe sy haar om hulp kan wend as sy meen dat haar lewe in gevaar is. Omdat daar meer skoolopleiding vir hulle beskikbaar is en werksgeleenthede vir hulle oopgaan, verkies party vroue om nie te trou nie of om baie later in hulle lewe te trou nadat hulle vir hulle ’n loopbaan geskep het. Daarom is afhanklikheid van mans, wat dikwels tot hardvogtige oorheersing lei, nie so algemeen nie.

Babadogtertjies kry meer aandag

Nog ’n probleem wat vroue raak, en wat verander namate die 21ste eeu nader, is die buitengewone begeerte om seuns te hê. Hierdie opvatting, wat op antieke godsdiensleringe gebaseer is, tesame met ekonomiese oorwegings, het dikwels gelei tot die moord van babadogtertjies en die mishandeling van meisies deur vir hulle minder kos, opvoeding en gesondheidsorg te gee as vir seuns.

In onlangse tye het die gebruik van amniosentese om die geslag van die fetus te bepaal, wat menigmaal tot die aborsie van dogtertjies lei, algemeen geword. Hoewel dit deur die wet beperk word, is die prosedure nog ’n redelik alledaagse gebruik. Ywerige pogings word aangewend om die beskouing te verander dat ’n seun verkiesliker is.

Mensgemaakte filosofieë het vroue op baie maniere verkleineer. Die behandeling van weduwees dien as voorbeeld. In eertydse Indië was dit vir weduwees aanvaarbaar om weer te trou. Maar wetgewers het dit van omtrent die sesde eeu G.J. af teëgestaan, en die lot van weduwees het bejammerenswaardig geword. Omdat hulle die geleentheid ontsê is om weer te trou, dikwels deur familielede beroof is van hulle afgestorwe man se besittings en as ’n vloek op die familie beskou is, het baie weduwees verkies om hulle eerder op hulle man se lykstapel te offer as om ’n lewe van mishandeling en vernedering te lei.

Hervormers het vanaf die laat 19de eeu die las van sulke vroue probeer verlig, maar dit is moeilik om van diepgewortelde emosies ontslae te raak. In baie gemeenskappe is die lot van die weduwee, wat partykeer ’n baie jong vrou is wie se bejaarde man gesterf het, waarlik ellendig. Dr. Saharada Jain van die Instituut vir Ontwikkelingstudies sê: “Die trauma van weduweeskap ontstaan hoofsaaklik weens die feit dat vroue so gekondisioneer is dat hulle hele psige op hulle man se identiteit gebou is.” Pogings word aangewend om weduwees te help om die 21ste eeu met waardigheid tegemoet te gaan.

Plattelandse en stedelike verskille

Daar is ’n geweldige verskil tussen stedelike vroue en dié op die platteland. Daar word geraam dat 25 persent van plattelandse vroue geletterd is; in die stede vind ’n baie hoër persentasie vroue by skole en universiteite baat. Om plattelandse vroue te help, reël maatskaplike werkers lees-en-skryf-klasse, opleiding in gesondheidsorg en werkverskaffingskemas. Party state se regerings het 30 persent van die geleenthede in die openbare sektor, koöperatiewe verenigings en plaaslike regering vir vroue gereserveer. Vrouebewegings streef daarna om die pyn en ellende wat die lot van miljoene in Indië is te verlig. Hulle het in sekere mate sukses behaal. Wat kan ons derhalwe oor die toekoms van die vroue van Indië sê?

Hulle beweeg die 21ste eeu in!

Verander die rol van die Indiese vrou namate sy in die 21ste eeu inbeweeg? Ja, en vinnig daarby. Maar Indiese vroue het te kampe met ’n situasie wat soortgelyk is aan dié van hulle susters regoor die wêreld. Daar is vooruitgang, maar daar is terugslae. Daar is hoop, maar daar is wanhoop. Daar is pragtige huise en weelderige lewenstyle, maar daar is krotbuurte, knellende armoede en verlammende honger. Vir miljoene is enigiets meer as ’n blote bestaan buite bereik. Ander besit blykbaar alles wat die wêreld kan bied. Die toekoms is vir die meeste onseker; hulle het drome, maar ook bedenkinge.

Vir party is die toekoms egter vol belofte, veral vir diegene wat hoop op die Paradysaarde wat onder die heerskappy van Jehovah se Koninkryk in die hande van Christus Jesus gaan kom (Openbaring 21:1, 4, 5). Hulle sien met volle vertroue uit na ’n 21ste eeu waarin vroue die lewe ten volle sal geniet.

[Prent op bladsy 16]

Bakstene word na ’n bouperseel aangedra

[Prent op bladsy 17]

Water word uitgeskep vir tuisgebruik

[Prent op bladsy 18]

In konferensie met mans

[Prent op bladsy 18]

Agter ’n rekenaar

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel