Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 7/22 bl. 21-24
  • Die gesin wat my waarlik liefgehad het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die gesin wat my waarlik liefgehad het
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My gesin verstoot my
  • Ek word ’n tweede keer die huis verbied
  • ’n Aanloklike aanbod
  • Ek vind ’n ander gesin
  • Ek help die gesin wat my verstoot het
  • Ek was ’n verlore seun
    Ontwaak!—2006
  • My keuse tussen twee vaders
    Ontwaak!—1998
  • Hoe ek by God se sorg baat gevind het
    Ontwaak!—1995
  • Ek geniet nou vrede met God en met my ma
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 7/22 bl. 21-24

Die gesin wat my waarlik liefgehad het

VIR ’n kind, enige kind, is ’n gesin uiters belangrik. ’n Hartlike, liefdevolle gesin help om in ’n kind se fisiese en emosionele behoeftes te voorsien. Dit speel ’n belangrike rol in opleiding, opvoeding en ontwikkeling. Dit laat ’n kind veilig voel. Wat ’n slag is dit tog om deur jou gesin verstoot te word, soos dit met my die geval was!

Ek was deel van ’n groot gesin in Oos-Nigerië. My pa was ’n hoofman met sewe vrouens. Hy het 30 kinders gehad, en ek was die 29ste.

Eendag in 1965, toe ek tien was, het my pa op die stoep gesit toe ek van die skool af by die huis kom. Twee mans met aktetasse het die kampong binnegekom, en nadat ons mekaar vriendelik gegroet het, het hulle hulle as Jehovah se Getuies geïdentifiseer. My pa het aandagtig na hulle geluister. Toe hulle hom twee tydskrifte aanbied, het my pa na my gekyk en gevra of ek dit wil hê. Ek het geknik, en hy het dit dus vir my gekry.

Die Getuies het beloof om ons weer te besoek, en hulle het. Gedurende die daaropvolgende twee jaar het hulle die Bybel met my kom bespreek. Maar hulle het my nie gereeld besoek nie, aangesien hulle tien kilometer ver moes stap van ons dorpie af tot waar hulle gewoon het.

My gesin verstoot my

Ek was 12 jaar oud toe my pa siek geword en gesterf het. Agt dae ná die begrafnis het my oudste broer die gesin vir ’n vergadering byeengeroep. Daar was ongeveer 20 mense. Ons het almal gedink dat hy oor die begrafniskoste gaan praat. Tot my verbasing het hy egter gesê dat hy die vergadering byeengeroep het om sy jonger broer te bespreek—ek! Hy het vir hulle gesê dat ek daarin belangstel om vir vier pennies te gaan “bedel” asof die gesin nie geld het om my te voed nie. Hy het bygevoeg dat ek die gesin se naam deur die modder sleep as ek rondgaan en tydskrifte vir vier pennies verkoop. Hy het gesê dat ek moet kies aan wie ek wil behoort—die Getuies of my gesin.

My ma was al oorlede, maar een van my stiefma’s het gehuil en vir my gepleit. Sy het hulle gesmeek om dit nie as ’n verskoning te gebruik om my te onterf nie. Maar vir hulle het ’n vrou se mening nie veel beteken nie. Die gesin het my broer se kant gekies en ’n besluit van my geëis.

Ek het tyd gevra om oor die saak te dink. Hulle het ingestem om my tot die volgende aand te gee. Ek het begin huil toe ek alleen in my kamer was. Ek het swak, verstoot en bang gevoel. Ek het gewonder wat met my sou gebeur.

Ek was tot op daardie tydstip nog nooit by ’n Koninkryksaal nie en het nog nooit saam met die Getuies aan die predikingswerk deelgeneem nie. Ek het slegs ’n oppervlakkige kennis van Bybelleringe gehad, en daar was geen Getuies in ons dorpie om mee te praat nie.

Ek het tot Jehovah gebid en hom vir die eerste keer in my lewe op sy naam aangeroep. Ek het vir hom gesê dat ek geleer het dat hy die ware God is. Ek het hom gesmeek om my te ondersteun en my te help om die regte besluit te neem, ’n besluit wat hom nie sou mishaag nie.

Die volgende aand het die gesin weer vergader en van my geëis om te sê wat ek besluit het. Ek het verduidelik dat my pa, wat my die lewe gegee het, die een was wat my studie met die Getuies aan die gang gesit het. Hy het vir my tydskrifte en Bybel betaal. Aangesien hy nie aanstoot daaraan geneem het dat ek saam met die Getuies studeer nie, kon ek nie verstaan waarom my ouer broer dit teen my gebruik nie. Toe het ek gesê dat ek nie omgee wat hulle aan my doen nie, ek moet Jehovah dien.

Hulle was nie tevrede met wat ek gesê het nie. Een van hulle het gesê: “Wie is hierdie klein snuiter dat hy so met ons praat?” My broer het onmiddellik woedend by my kamer ingestorm, my klere, my boeke en my klein kartonkoffer gegryp en dit buitekant op die grond gegooi.

Ek het blyplek gekry by ’n skoolmaat wat in die dorpie gewoon het, en ek het ongeveer vyf maande lank by sy gesin gebly. Intussen het ek aan my oom in Lagos geskryf, en hy het my genooi om by hom te kom woon.

Ek het etlike maande lank geld gespaar deur palmpitte bymekaar te maak en te verkoop. My stiefma wat vir my opgekom het, het my ook ’n bietjie geld gegee. Toe ek genoeg geld gehad het, het ek Lagos toe vertrek. Ek het ’n ent agterop ’n vragmotor gereis wat sand vervoer.

Ek word ’n tweede keer die huis verbied

Toe ek in Lagos aankom, was ek verheug om uit te vind dat my oom saam met die Getuies studeer. Ek het onmiddellik gemeentelike vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. Maar my oom se belangstelling daarin om Jehovah te dien het gou verdwyn toe my ouer broer kom kuier het. Hy het vir my oom gesê dat die gesin besluit het dat ek nie onderhou en ook nie toegelaat moet word om skool toe te gaan nie, aangesien ek nog met Jehovah se Getuies omgaan. Hy het my oom gedreig en toe huis toe gegaan.

’n Week ná my broer se vertrek, het my oom my om middernag wakker gemaak en ’n stuk papier waarop daar geskryf was onder my neus gedruk. Hy het ’n pen in my hand gesit en gesê dat ek my naam moet teken. Toe ek sy gesigsuitdrukking sien, het ek geweet dat dit iets ernstigs is. Ek het gesê: “Waarom laat Oom my nie toe om dit môreoggend te onderteken nie?”

Hy het gesê dat ek hom nie moet “oom” nie, maar dat ek onmiddellik die papier moet onderteken. Ek het geantwoord dat selfs ’n moordenaar die reg het om te weet wat die aanklagtes teen hom is. Ek het sekerlik die reg gehad om die papier te lees voor ek dit onderteken.

Hy het toe ergerlik ingestem om my dit te laat lees. Dit het naastenby so begin: “Ek, U. U. Udoh, het ’n eed afgelê om nie een van Jehovah se Getuies te wees nie. Ek het ingestem om my tasse en boeke te verbrand en beloof om nooit enigiets met Jehovah se Getuies te doen te hê nie. . . .” Nadat ek die eerste paar reëls gelees het, het ek begin lag. Ek het onmiddellik verduidelik dat ek nie bedoel het om oneerbiedig teenoor hom te wees nie, maar dat ek beslis nie so ’n dokument kon onderteken nie.

My oom was woedend en het my beveel om sy huis te verlaat. Ek het kalm my klere en boeke in my koffer gepak, na die voorportaal buite sy woonstel gegaan en op die vloer gaan lê om te slaap. Toe my oom my daar sien, het hy gesê dat ek die gebou moes verlaat, aangesien die huur wat hy betaal ook die voorportaal insluit.

’n Aanloklike aanbod

Ek was toe maar twee weke in Lagos en het nie geweet waarheen om te gaan nie. Ek het nie geweet waar die broer woon wat gewoonlik gekom het om my Koninkryksaal toe te neem nie. Ek het dus met dagbreek begin stap en rondgedwaal terwyl ek tot Jehovah gebid het om my te help.

Teen die einde van die dag was ek by ’n vulstasie. Ek het die eienaar genader en hom gevra of hy my koffer vir die aand in sy kantoor sou toesluit sodat diewe dit nie by my sou steel nie. Hierdie versoek het hom nuuskierig genoeg gemaak om te vra waarom ek nie huis toe gaan nie. Ek het hom vertel wat met my gebeur het.

Die man was simpatiek en het aangebied om my as sy huisbediende in diens te neem. Hy het selfs gesê dat hy my skool toe sou stuur as ek hom in sy huis help. Dit was ’n aanloklike aanbod, maar ek het geweet dat ’n huisbediende elke dag van soggens vroeg tot saans laat moet werk. Huisbediendes is ook afgeraai om met mense buite die huisgesin te meng, uit vrees dat hulle met diewe sal saamsweer om die huis te beroof. Ek sou in alle waarskynlikheid hoogstens een Sondag ’n maand vry wees. Ek het hom dus opreg vir sy belangstelling bedank, maar sy aanbod van die hand gewys. Ek het vir hom gesê dat dit vir my moeilik sou wees om vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon as ek as ’n huisbediende vir hom gewerk het.

Die man het gesê: “Hoe kan jy van vergaderinge praat as jy nie eers ’n dak oor jou kop het nie?” Ek het vir hom gesê dat ek in my pa se huis kon woon as ek bereid was om nie vergaderinge by te woon nie. Dit was vanweë my geloof dat ek verstoot is. Al wat ek van hom nodig gehad het, was ’n plek vir my koffer. Hy het toe ingestem om dit vir my in veilige bewaring te hou.

Ek vind ’n ander gesin

Ek het drie nagte buite die vulstasie geslaap. Ek het nie geld gehad om kos te koop nie en het dus gedurende daardie tyd niks gehad om te eet nie. Die vierde dag, terwyl ek rondgedwaal het, het ek ’n jong man gesien wat Die Wagtoring en die Ontwaak! vir mense op straat aanbied. Ek het opgewonde na hom toe gehardloop en hom gevra of hy broer Godwin Ideh ken. Hy het my gevra waarom ek wou weet, en ek het hom dus alles vertel wat met my gebeur het.

Toe ek klaar was, het hy onmiddellik sy tydskrifte in sy sak gesit en gevra: “Waarom moet jy so ly terwyl daar duisende Getuies van Jehovah hier in Lagos is?” Hy het ’n taxi voorgekeer en my na die vulstasie toe geneem om my koffer te kry. Hy het my toe na sy woonstel geneem en vir my ’n maaltyd voorberei. Daarna het hy broer Ideh laat kom, wat daar naby gewoon het.

Toe broer Ideh opdaag, het hulle gestry oor wie van hulle my sou inneem. Hulle albei wou my hê! Uiteindelik het hulle besluit om my te deel—ek sou soms by die een en soms by die ander bly.

Ek het kort daarna ’n werk as ’n bode gekry. Toe ek my eerste loon ontvang, het ek met albei broers gepraat en hulle gevra hoeveel hulle wil hê ek tot die kos en huur moet bydra. Hulle het gelag en gesê dat ek niks hoef te betaal nie.

Ek het kort daarna vir aandklasse sowel as privaat lesse geregistreer, en uiteindelik het ek my basiese opleiding voltooi. Finansieel het dinge vir my verbeter. Ek het ’n beter werk gekry, as ’n sekretaris, en met verloop van tyd het ek my eie blyplek gekry.

Ek is in April 1972 gedoop. Ek was 17 jaar oud. Ek wou die pionierdiens betree om my waardering teenoor Jehovah te betoon vir alles wat hy vir my gedoen het, veral gedurende daardie moeilike tyd. Wanneer ek kon, het ek as ’n tydelike pionier gedien, maar dit het my ’n paar jaar geneem om gevestig te raak. Uiteindelik, in 1983, het ek die gewone pionierdiens betree.

Teen daardie tyd het ek my geestelike gesin ten volle waardeer. Hierdie woorde van Jesus was beslis in my geval waar: “Voorwaar, ek sê vir julle: Daar is niemand wat huis of vrou of broers of ouers of kinders ter wille van die koninkryk van God verlaat het, wat nie op die een of ander wyse in hierdie tydperk baie kere meer sal kry nie, en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe.”—Lukas 18:29, 30.

Die Getuies het werklik liefde aan my betoon en vir my gesorg. Hulle het my ingeneem toe ek haweloos was. Met hulle hulp en die hulp van my hemelse Vader was ek geestelik voorspoedig. Ek het nie net sekulêre opleiding ontvang nie, maar ek het ook Jehovah se weë geleer.

Dit was die mense wat my vleeslike gesin my wou dwing om die rug toe te keer. Toe ek geweier het, het my vleeslike gesin my verstoot. Het my geestelike broers en susters my nou aangemoedig om my vleeslike gesin die rug toe te keer? Hoegenaamd nie. Die Bybel leer: “Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”—Lukas 6:31.

Ek help die gesin wat my verstoot het

Kort nadat ek die huis verlaat het, het die Nigeriese burgeroorlog uitgebreek. Ons dorpie is verwoes. Baie van my vriende en familie het hulle lewe verloor, onder andere my stiefma wat vir my gepleit het. Die ekonomie het in duie gestort.

Toe die oorlog verby was, het ek huis toe gegaan en een van my broers besoek wat ’n aandeel daaraan gehad het om my weg te jaag toe ek ’n seun was. Sy vrou en twee dogters was siek en is in die hospitaal opgeneem. Daarom het ek met hom gesimpatiseer en gevra wat ek kon doen om te help.

Hy het, moontlik weens ’n skuldige gewete, vir my gesê dat hy niks nodig het nie. Ek het verduidelik dat hy nie moet dink dat ek my dalk wil wreek oor wat die gesin aan my gedoen het nie. Ek het vir hom gesê dat ek weet dat hulle in onkunde opgetree het en dat ek hom werklik wil help.

Hy het toe begin huil en erken dat hy niks geld gehad het nie en dat sy kinders ly. Ek het hom die ekwivalent van R1100 gegee en hom gevra of hy graag in Lagos wou werk. Toe ek na Lagos teruggekeer het, het ek vir hom ’n werk gekry en hom genooi om by my te kom woon. Hy het twee jaar lank by my gewoon terwyl hy geld verdien het om huis toe te stuur vir sy vrou en kinders. Gedurende daardie tyd het ek met graagte vir sy losies betaal.

Hy het gesê hy weet dat Jehovah se Getuies die ware geloof beoefen. Hy het verder gesê dat hy ook ’n Getuie sou word as hy nie so by die wêreld betrokke was nie. Maar hy het beloof dat hy sou reël dat sy vrou en kinders ’n Bybelstudie kry.

In 1987 is ek genooi om kringwerk te doen. In April 1991 het ek met Sarah Ukpong getrou. In 1993 is ons genooi om die kringwerk te verlaat en by die Nigeriese takkantoor te dien. Ons het daardie uitnodiging aanvaar en het daar gedien totdat my vrou swanger geword het.

Hoewel my gesin my verstoot het toe ek nog ’n kind was, is ek deur ’n geestelike gesin ingeneem—ouers, broers, susters en kinders. Wat ’n vreugde is dit tog om aan hierdie unieke wêreldwye gesin te behoort, ’n gesin wat ek waarlik liefhet en wat my waarlik liefhet!—Soos vertel deur Udom Udoh.

[Prent op bladsy 23]

Udom en Sarah Udoh

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel