Ek was ’n verlore seun
Soos vertel deur Meros William Sunday
Ek is van kleins af geleer om God lief te hê; maar toe ek 18 was, het ek gerebelleer en die huis verlaat. Ek het 13 jaar lank soos die verlore seun van Jesus se gelykenis gelewe (Lukas 15:11-24). Ek het ’n dwelmhandelaar geword en my lewe amper verwoes. Kom ek verduidelik wat daartoe gelei het dat ek my lewenswyse verander het en teruggekeer het.
EK IS in 1956 aan Christenouers gebore, die tweede van nege kinders. Ons het in Ilesha gewoon, ’n dorp in Suidwes-Nigerië. My pa is as ’n Katoliek grootgemaak, maar in 1945 het sy oom vir hom die boek Die harp van Goda gegee. Nadat hy dit gelees het, het my pa na Jehovah se Getuies gesoek. In 1946 is hy gedoop, en my ma kort daarna.
Ek onthou nog hoe werklik Jehovah vir my tydens my kinderjare was en hoe ywerig ek saam met my ouers aan die predikingswerk deelgeneem het. My pa het die Bybel met my gestudeer. Af en toe het Alice Obarah, wie se man ’n reisende opsiener in ons gebied was, ook met my gestudeer. My ouers wou hê dat ek ’n voltydse bedienaar moet word. Maar my ma het voorgestel dat ek eers ’n hoërskoolopleiding kry.
Maar onmiddellik nadat ek op 16 hoërskool toe is, het ek vriende gemaak met skoolmaats wat nie Bybelbeginsels gerespekteer het nie. Wat ’n dwase fout was dit tog! Kort voor lank het ek begin rook en my aan onsedelike gedrag skuldig gemaak. Ek het besef dat my nuwe lewenswyse nie verenigbaar is met die opleiding wat ek by Christelike vergaderinge ontvang het nie, en ek het dus opgehou om vergaderinge by te woon en aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem. My ouers was baie besorg oor my, maar ek het nie meer omgegee oor ander se gevoelens nie.
Ek verlaat die huis
Ná slegs twee jaar op hoërskool het ek uit ons familiehuis getrek en by vriende in die buurt gaan bly. Ek het soms terug huis toe gesluip, enige kos wat ek in die hande kon kry, gesteel en weggehardloop. My pa was raadop en het opgehou om my skoolgeld te betaal, in die hoop dat ek sou verander.
Ongeveer dieselfde tyd is ek egter ’n studiebeurs toegeken. My borg het my skoolgeld van Skotland af gestuur en het ook soms vir my geskenke gegee, wat geld ingesluit het. Intussen het twee van my broers ook opgehou om met Jehovah se Getuies te assosieer, wat alles ongekende hartseer vir my ouers veroorsaak het. My ma het my etlike kere in trane gesmeek om terug te keer. Hoewel dit my sleg laat voel het, het ek nie my weë verander nie.
In die groot stede
Nadat ek in 1977 my skoolloopbaan voltooi het, het ek na Lagos gegaan en werk gekry. Kort daarna het ek geld onwettig in die hande gekry en ’n taxi gekoop. Omdat ek toe meer geld gehad het, het ek dwelms begin gebruik en baie tyd in nagklubs en bordele begin deurbring. Ek het gou verveeld geraak met die lewe in Lagos, en in 1981 het ek na Londen verhuis. Van daar af het ek na België gegaan, waar ek Franse klasse bygewoon het en deeltyds in ’n restaurant gewerk het. Ek het egter baie van my tyd gebruik om motors en elektroniese toerusting na Nigerië te verskeep.
My pa het na die takkantoor van Jehovah se Getuies in België geskryf en gevra dat hulle met my in aanraking moet kom en ’n Bybelstudie met my moet probeer begin. Maar wanneer die Getuies ook al na my huis toe gekom het, het ek hulle weggewys. Ek het die dienste van ’n kerk begin bywoon waar ons ná die tyd geëet, gedrink en aan verskillende sportsoorte deelgeneem het.
Die lewe as ’n dwelmsmous
In 1982 het ek ’n duur luuksemotor na Nigerië verskeep en self na die hawe gegaan om dit deur die doeane te kry. Die Nigeriese Doeane het ontdek dat die doeaneregte-dokument vervals is, en ek is vir 40 dae opgesluit. My pa het my borg betaal. Aangesien ek geld nodig gehad het om die saak af te handel, het ek na België teruggekeer met verskillende handelsware, insluitende ’n paar kilogram dagga. Nadat ek vrygespreek is op die aanklag dat ek die doeaneregte-dokument vervals het, het ek my in die dwelmhandel gevestig.
Gedurende een reis is ek in Nederland gearresteer. Immigrasiebeamptes het my gedeporteer en op ’n vliegtuig na Nigerië gesit. Op pad daarheen het ek ander dwelmsmouse ontmoet, en ons het besluit om ’n vennootskap aan te gaan en met dwelms te smous. In Januarie 1984 het ek na ’n ander Afrikaland getrek. Aangesien ek Frans kan praat, die taal wat daar gepraat word, kon ek kort voor lank met polisiemanne, soldate en immigrasiebeamptes vriende maak. Ons het dit dus reggekry om duisende kilogram dagga in daardie land in te voer.
Gearresteer en in die tronk gegooi
Toe het ek weer in die moeilikheid beland. Ek het met ’n weermagkaptein gereël om my te help om my goedere deur die lughawe in daardie land te kry. Maar hy was laat, en ek is gearresteer. Die polisiesoldate het my so erg aangerand en gemartel dat ek my bewussyn verloor het. Hulle het my hospitaal toe geneem en daar gelos, waar hulle verwag het dat ek sou doodgaan. Maar ek het dit oorleef en is later aangekla, skuldig bevind en in die tronk gegooi.
Teen die tyd dat ek uit die tronk gekom het, het ’n vriend wat ek gevra het om my huis op te pas, al my eiendom verkoop en verdwyn. Om ’n bestaan te maak, het ek dadelik weer dagga begin verkoop. Maar tien dae later is ek weer gearresteer en vir drie maande toegesluit. Toe ek vrygelaat is, was ek so siek dat ek weer by die dood omgedraai het. Op die een of ander manier het ek dit reggekry om weer by Lagos uit te kom.
Terug in die dwelmhandel
In Lagos het ek ’n paar van my vennote ontmoet, en ons het na Indië gegaan, waar ons heroïen ter waarde van ongeveer $600 000 gekoop het. Vanaf Bombaai (nou Moembaai) het ons na Switserland, toe na Portugal en laastens na Spanje gegaan. Ons het elk ’n aansienlike wins gemaak en met verskillende roetes langs na Lagos teruggekeer. Laat in 1984 het ek nog ’n besending dwelms verkoop. Dit was my droom om ’n miljoen dollar te maak en my dan in die Verenigde State te vestig.
In 1986 het ek al die geld wat ek gehad het, bymekaargemaak en suiwer heroïen in Lagos gekoop. Ek het dit na ’n ander land geneem, maar dit het daar in die hande van ’n gierige handelaar beland wat my nooit daarvoor betaal het nie. Uit vrees vir my lewe het ek na Lagos teruggekeer sonder om enigiets te sê oor wat gebeur het. Ek was verpletter, finansieel sowel as emosioneel. Vir die eerste keer het ek gesit en peins oor die doel van die lewe. ‘Waarom is die lewe so wisselvallig?’ het ek my afgevra.
Ek keer terug tot God
Een aand kort daarna het ek tot Jehovah gebid om my te help. Wel, die volgende oggend het ’n bejaarde man en sy vrou aan my deur geklop. Hulle was Jehovah se Getuies. Ek het rustig na hulle geluister en ’n tydskrif geneem. “My ouers is Jehovah se Getuies”, het ek verduidelik. “Alice Obarah het eens op ’n tyd die Bybel met my gestudeer.”
Die bejaarde man, P. K. Ogbanefe, het geantwoord: “Ons ken die Obarahs goed. Hulle dien nou by die Nigeriese takkantoor in Lagos.” Hulle het my aangespoor om die Obarahs te gaan besoek. My ontmoeting met die Obarahs het my baie aangemoedig. Daarna het broer Ogbanefe ’n Bybelstudie met my begin, en kort daarna het ek veranderinge in my onsedelike lewenswyse begin maak. Dit was nie maklik nie, want die langtermyngebruik van dwelms was moeilik om te oorkom. Nogtans was ek vasbeslote om my lewe in orde te bring.
Tog was daar soveel versoekings en druk! My sogenaamde vriende het soms na my huis gekom en aanloklike proposisies gemaak. Vir ’n ruk lank het ek selfs teruggeval in my rookgewoonte en in onsedelike gedrag. Ek het my hart voor God in gebed uitgestort. Ek het gou besef dat aangesien my vriende in die wêreld my op ’n dwaalspoor gebring het, hulle my nie nou kon help nie. Ek het geweet dat ek Lagos sou moes verlaat om geestelike vooruitgang te maak. Maar ek was skaam om terug te gaan huis toe na Ilesha. Ek het egter uiteindelik aan my pa en ouer broer geskryf en gevra of ek huis toe kon kom.
My pa het my verseker dat ek welkom was om terug te kom, en my broer het gesê dat hy my finansieel sou bystaan. Tien jaar nadat ek van my ouers weggeloop het, het ek teruggegaan huis toe. Ek is hartlik verwelkom. “Dankie, Jehovah!” het my ma uitgeroep. Toe my pa daardie aand by die huis aankom, het hy gesê: “Jehovah sal jou help.” Hy het saam met die hele gesin tot Jehovah gebid en Hom gevra om my te help noudat ek teruggekeer het om Sy wil te doen.
Ek haal verlore tyd in
Ek het my Bybelstudie hervat en vinnig vordering gemaak; ek is op 24 April 1988 gedoop. Ek het onmiddellik baie bedrywig in die bediening geword. Op 1 November 1989 het ek as ’n pionier—’n voltydse evangeliedienaar—begin dien. In 1995 is ek genooi om die tiende klas van die Bedieningsopleidingskool in Nigerië by te woon. Toe, in Julie 1998, is ek gevra om gemeentes van Jehovah se Getuies as ’n reisende opsiener te besoek. ’n Jaar later is ek geseën met Ruth, wat my vrou en reisgenoot geword het.
Ander lede van my gesin het ook geestelike vooruitgang gemaak. Een van my broers, wat ook opgehou het om Jehovah te dien, het na ware aanbidding teruggekeer en is gedoop. Ek is bly dat my pa gesien het hoe ons terugkeer. Hy het vreugdevol as ’n bedieningskneg in die gemeente gedien tot sy dood in 1993 op 75-jarige ouderdom. My ma hou aan om Jehovah ywerig in Ilesha te dien.
Ek het na altesaam 16 lande in Europa, Asië en Afrika gereis op soek na rykdom. As gevolg daarvan het ek my oral met baie pyne deurboor (1 Timoteus 6:9, 10). Wanneer ek terugkyk, is ek bitter spyt dat ek soveel van my jeug op dwelms en onsedelikheid vermors het. Ek is spyt oor die hartseer wat ek Jehovah God en my gesin berokken het. Tog is ek dankbaar dat ek lank genoeg oorleef het om tot besinning te kom. Ek is vasbeslote om lojaal aan Jehovah te bly en hom vir ewig te dien.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.
[Prent op bladsy 13]
As ’n opstandige tiener
[Prent op bladsy 15]
Op my doopdag
[Prent op bladsy 15]
Saam met my vrou, Ruth