Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 7/22 bl. 25-27
  • Die waterbuffel—getrou en nuttig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die waterbuffel—getrou en nuttig
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gespierde wêreldreisiger
  • Florerende immigrante
  • Koninginmoeder
  • ’n Lewendige trekker en meer
  • Die buffel word kleiner
  • Die Kaapse buffel—’n samewerkende dier
    Ontwaak!—1993
  • ’n Paradys met ’n verskil
    Ontwaak!—1998
  • Yellowstone—smeltkroes van water, rots en vuur
    Ontwaak!—2000
  • Insig in die nuus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 7/22 bl. 25-27

Die waterbuffel—getrou en nuttig

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË

‘Vlug, vlug! ’n Tier!’ skreeu die seuns. Hulle haas hulle na hulle buffels, spring op hulle rûe en galop weg. Saïdjah, een van die seuns, verloor skielik sy balans en val in die rysland—prooi vir die naderende tier. Saïdjah se buffel sien egter wat gebeur het. Hy draai om, gaan staan met sy groot liggaam oor sy klein vriendjie en wag die tier in. Die groot kat val aan, maar die buffel staan vas en red Saïdjah se lewe.

HIERDIE ontmoeting, wat beskryf is deur Eduard Douwes Dekker, ’n 19de-eeuse skrywer wat in Asië gewoon het, openbaar ’n innemende eienskap van die waterbuffel: getrouheid. Getrouheid is steeds vandag sy kenmerkende eienskap. “Die waterbuffel”, sê een kenner, “is soos ’n huishond. Hy bly lewenslank getrou aan jou solank jy hom goed behandel.”

Kinders in Asië weet, selfs op vierjarige ouderdom, hoe om dit te doen. Hulle lei elke dag hulle groot vriende tot in die rivier waar hulle die buffels was en, met hulle klein handjies, die diere se ore, oë en neusgate skoonmaak. Die buffel reageer hierop deur tevrede te sug. Sy donker vel absorbeer baie hitte, en omdat die buffel na verhouding baie minder sweetkliere as beeste het, het hy ’n probleem om af te koel. Dit is geen wonder dat hulle daarvan hou om daagliks gebad te word nie! Buffels “is ’n toonbeeld van saligheid”, sê een bron, “wanneer hulle met hulle oë halftoe, in water of modder lê en herkou”.

Hulle liefde vir water maak egter net deel van die geheelbeeld uit. Wat is van hulle ander kenmerke? Waarom is hulle nuttig? Om mee te begin, hoe lyk hulle?

Gespierde wêreldreisiger

Die waterbuffel (Bubalus bubalis) lyk soos ’n oorgroot bees en weeg 900 kilogram of meer. Dit het ’n byna haarlose, leikleurige vel. Met ’n skofhoogte van tot 1,8 meter—en met weglêhorings, ’n reguit rug, ’n lang liggaam, ’n kop wat laer as sy skof is en gespierde liggaamsbou—is hy die toonbeeld van krag. Sy sterk bene eindig in skoeisel wat ideaal is vir diere wat in modder loop: groot, ietwat vierkantige hoewe wat aan uiters buigbare gewrigte vas is. Hierdie lenigheid stel die buffel in staat om sy hoewe terug te buig, oor hindernisse te loop en deur vleierige velde te ploeter waar beeste nie kan loop nie.

Die wêreld se 150 miljoen mak waterbuffels bestaan uit twee soorte: die moerastipe en die riviertipe. Die moerasbuffel, met sy 1,2 tot 1,8 meter lange horings wat na agter geboë is, is van die Filippyne tot in Indië ’n geliefkoosde poskaartmodel. Wanneer hulle nie poseer nie, ploeter hulle kniediep deur ryslande of trek hulle karre oor paadjies wat enige vragmotorbestuurder die skrik op die lyf sal jaag.

Die rivierbuffel is soortgelyk aan die moerastipe. Sy liggaam is effens kleiner en sy horings meer beskeie—gedraaide horings of horings wat reguit hang. Maar hy weeg 900 kilogram en lyk dus ook indrukwekkend. In die verlede het Arabiese handelaars hierdie soort van Asië af na die Midde-Ooste gebring; en later het Kruisvaarders wat na Europa teruggekeer het hulle soontoe geneem, waar hulle steeds floreer.

Hoewel die waterbuffel maar stadig is—hulle loop teen ’n bestendige spoed van drie kilometer per uur—kom moeras- sowel as rivierbuffels oor die hele wêreld voor. Hulle het hulle langs die kus van Noord-Australië gevestig, het op die eilande van die Stille Oseaan aan wal gegaan en maak selfs voetpaadjies in die Amasonewoud. Die Amasone?

Florerende immigrante

Ekotoeriste wat die Amasone deurkruis, hou dikwels die rivieroewers tevergeefs dop vir ontwykende jaguars of reusagtige anakondas. Maar hulle het nie verkykers of selfs brille nodig om die oerwoud se nuwe aankomelinge te sien nie—waterbuffels, by die duisende.

As jy meen dat hierdie Asiatiese immigrante wat in die Amasone plas die ekosisteem bedreig, oorweeg jy dit dalk om by die polisie op Marajó, ’n eiland in die rivierdelta, beswaar te gaan maak. Maar pasop! Jy sal nie met jou aankoms by die stasie onpartydig aangehoor word nie, aangesien die diensdoende offisier dalk op die punt staan om die strate op die rug van ’n intimiderende federale werker te patrolleer. Ja, ’n waterbuffel—en boonop ’n moerastipe! Wie wil in elk geval beswaar maak?

Eintlik is die waterbuffel ’n aanwins vir die Amasonegebied, sê dr. Pietro Baruselli, ’n veearts wat vir een van die twee waterbuffelnavorsingsentrums in Brasilië werk. Hy het vir Ontwaak! gesê dat buffels ’n uitstekende spysverteringstelsel het wat hulle in staat stel om vet te word op weivelde waarop beeste uitteer. Beesboere moet die woud voortdurend uitkap om nuwe weivelde te skep, maar buffels floreer op bestaande weivelde. Dr. Baruselli sê dat waterbuffels “met die bewaring van die reënwoude kan help”.

Maar om in die oerwoud te oorleef, moet die buffel aanpasbaar wees—en hy is. Die boek The Water Buffalo: New Prospects for an Underutilized Animal sê dat die buffel in die reënseisoen, wanneer die Amasone weivelde oorstroom, by sy nat omgewing aanpas. Terwyl beeste wat op hoogliggende lappies grond gestrand is met verleë oë en leë mae toekyk, watertrap buffels om hulle terwyl hulle aan drywende plante smul en selfs onder die water wei. Wanneer die weivelde weer verskyn, lyk die buffels steeds goed gevoer.

Koninginmoeder

Waterbuffels in ander dele van Brasilië floreer ook. Sedert die vroeë tagtigerjare het die land se trop van vierhonderdduisend tot etlike miljoen buffels toegeneem. Trouens, buffels neem teen ’n baie hoër tempo as beeste toe. Waarom?

Wanderley Bernardes, ’n buffelteler in Brasilië, verduidelik dat ’n buffel op tweejarige ouderdom gereed is om te paar. Ná ’n dratyd van tien maande gee die koei geboorte aan haar eerste kalf. Sowat 14 maande later word die tweede kalf gebore. Aangesien die sterftesyfer onder kalwers laag is en buffels groot weerstand teen siektes bied, geniet hulle ’n lang en vrugbare lewe. Hoe lank lewe hulle? Gemiddeld meer as 20 jaar. Hoe vrugbaar is hulle?

“Ek sal jou wys”, sê mnr. Bernardes terwyl hy tot in die golwende weivelde van sy plaas loop, wat 300 hektaar groot is en ongeveer 160 kilometer wes van Sao Paulo geleë is. “Dit is Rainha (Koningin)”, sê hy met geneentheid terwyl hy na ’n dier wys waarvan die verweerde vel en beskadigde horings van ’n lang buffellewe getuig. “Sy is 25 jaar oud en was al baie maal ’n ouma, maar”, voeg hy trots by, “sy het pas aan haar 20ste kalf geboorte gegee.” Met oumas soos Rainha is dit geen wonder nie dat party kenners voorspel dat die grootste trop buffels ter wêreld gedurende die volgende eeu moontlik in Brasilië aangetref sal word!

’n Lewendige trekker en meer

Maar vir eers maak Indië, waar bykans die helfte van die wêreld se buffels voorkom, daarop aanspraak. Daar en in ander Asiatiese lande voer miljoene arm plaasgesinne ’n bestaan op marginale grond, danksy die buffel. Sonder dat hy diesel-olie of onderdele nodig het, trek, ploeg, eg, vervoer en onderhou die gesin se “lewendige trekker” hulle meer as 20 jaar lank. “Vir my gesin”, het ’n bejaarde Asiatiese vrou gesê, “is die buffel belangriker as ek. Wanneer ek sterf, sal hulle oor my huil; maar as ons buffel doodgaan, sal hulle dalk honger ly.”

Behalwe dat die buffel ’n plaaswerker is, verskaf hy ook voedsel. Sowat 70 persent van al die melk wat in Indië gelewer word, kom van die riviertipe waterbuffel, en daar is so ’n groot aanvraag na buffelmelk dat dit moeilik kan wees om koeimelk verkoop te kry. Waarom verkies baie dit? “Buffelmelk”, verduidelik die boek The Water Buffalo: New Prospects for an Underutilized Animal, “bevat minder water, meer totale vaste stowwe, meer vet, effens meer laktose en meer proteïen as koeimelk.” Dit gee baie energie, smaak lekker en word gebruik om mozzarella, ricotta en ander heerlike kase te maak.

Wat van buffelvleis? “Ons kan nie bybly by die aanvraag nie”, sê die buffelboer Bernardes. In smaakvoorkeurtoetse in Australië, Venezuela, die Verenigde State en ander lande is buffelvleis bo beesvleis verkies. Trouens, miljoene mense oor die wêreld smul dikwels aan buffelvleis terwyl hulle onder die indruk verkeer dat hulle aan ’n sappige biefstuk peusel. “Mense is dikwels bevooroordeeld”, sê dr. Baruselli, “maar buffelvleis is net so lekker, en dikwels lekkerder, as beesvleis.”

Die buffel word kleiner

Hoewel die aantal buffels toeneem, verkeer hulle in gevaar. “Groot bulle wat die geskikste vir teeldoeleindes sou wees”, sê Earthscan Bulletin, “word dikwels as trekdiere gekies en gekastreer of na die slagpale gestuur.” Sodoende gaan oorerflike eienskappe vir grootte verlore, en die buffel word al hoe kleiner. “Tien jaar gelede in Thailand”, sê die kenners, “was dit nie ongewoon om buffels te vind wat 1000 kg weeg nie; nou is dit moeilik om buffels van 750 kg te vind.” Kan hierdie probleem opgelos word?

Ja, sê ’n verslag wat deur 28 dierkundiges opgestel is, maar “dringende optrede is nodig . . . om groot buffels te bewaar en te beskerm”. Tot dusver, erken hulle, is die buffel afgeskeep, maar “’n beter begrip van die waterbuffel kan vir baie ontwikkelende lande van onskatbare waarde wees”. Meer navorsing, sê hulle, sal help om sy “ware eienskappe na vore te bring”.

Wêreldwyd ontdek wetenskaplikes ten einde laaste wat Asiatiese boere al eeue lank weet: Die getroue en nuttige waterbuffel is een van die mens se beste vriende.

[Venster op bladsy 27]

Wanvoorstelling

“DAAR word algemeen geglo”, sê die boek The Water Buffalo: New Prospects for an Underutilized Animal, “dat die waterbuffel vyandig en gevaarlik is. Ensiklopedieë versterk hierdie mening.” Maar in werklikheid is die mak waterbuffel “een van die saggeaardste plaasdiere. Ondanks ’n intimiderende voorkoms is hy meer soos ’n troeteldier—sosiaal, saggeaard en rustig.” Hoe het die waterbuffel dan hierdie onverdiende reputasie gekry? Hulle kan met die Afrikaanse Kaapse buffel (Synceros caffer) verwar word, wat hoewel verlangs verwant inderdaad sleggeaard is. Maar waterbuffels sal nie met hulle paar nie. Hulle verkies om sulke wispelturige familie te hou waar hulle is—op ’n afstand.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel