Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 6/8 bl. 23-25
  • Die Kaapse buffel—’n samewerkende dier

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Kaapse buffel—’n samewerkende dier
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Samewerking vir oorlewing
  • Die eensame bul—’n Alleenloper?
  • Die waterbuffel—getrou en nuttig
    Ontwaak!—1995
  • ’n Unieke trop wilde wit beeste
    Ontwaak!—2002
  • Die groot migrasie
    Ontwaak!—2003
  • Die sebra—Afrika se wilde perd
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 6/8 bl. 23-25

Die Kaapse buffel—’n samewerkende dier

Deur Ontwaak!-medewerker in Kenia

JY RY deur die Afrika-savanne. Jou motor kom oor ’n bult, en skielik sien jy ’n ry skrikwekkende diere net ’n paar meter van jou af. Hulle is enorme diere, elkeen is omtrent een en ’n half meter hoog by die skouer en weeg amper ’n ton. Hulle is onrustig oor jou teenwoordigheid en staan botstil met hulle kop agteroor om jou reuk te kry terwyl hulle oë jou onheilspellend aanstaar.

Maar jou oë is op hulle reusehorings vasgenael wat af en buitentoe na die kante buig. Van punt tot punt is daardie horings tot 147 sentimeter uit mekaar uit. By sommige buffels verbreed die gerifde horingbasis en strek dit oor die bokant van die voorkop en vorm ’n yslike helm. Jy wonder teen hoeveel stampe van so ’n stormram jou motor bestand sal wees.

As ’n mens die reputasie van hierdie diere in ag neem, is sulke vrese verstaanbaar. Hulle is per slot van rekening Kaapse buffels, en daar word gesê dat hulle baie gevaarlik is en sommer by die geringste aanleiding sal storm. Trouens, die Kaapse buffel het na bewering meer mense—en leeus—beseer of doodgemaak as enige ander planteter op aarde. Dit is dus geen wonder dat hulle teenwoordigheid jou dalk bangmaak nie! Wanneer een van die buffels dus hard snork, berei jy jou op die ergste voor. Maar tot jou verbasing en verligting word jy nie aangeval nie. In plaas daarvan draai die hele ry bulle om en draf weg!

Nee, dit was nie jou kyk wat hulle afgeskrik het nie. Want hoewel hulle nie diere is om mee te speel nie, is die Kaapse buffel van nature ’n verbasend vreedsame dier. Hulle eet gras—nie vleis nie (nie diere- of mensevleis nie). Die reputasie dat hulle wreed is, is die gevolg van legendes en oordrewe jagstories, nie wetenskaplike studie nie. Hulle sal eerder konfrontasie vermy as om daarna te soek. Die Kaapse buffel is lank nie ’n nors ondier nie, maar eerder ’n voorbeeld van samewerking.

Samewerking vir oorlewing

Die Kaapse buffels is besonder sosiale diere. Hulle word in die grootste deel van Afrika suid van die Sahara aangetref en is tevrede in bykans enige soort terrein, solank dit naby water is. Gedurende die reënseisoene, wanneer water en kos volop is, trek Kaapse buffels in baie groot troppe rond. Terwyl die gemiddelde trop op party plekke omtrent 350 buffels het, tel party troppe in die duisende. In die droë seisoen word die troppe kleiner tot groepe van tussen 2 en 20. Elke dag—een keer in die oggend en een keer in die nag—gaan die trop na ’n nabygeleë waterbron. Een buffel alleen kan tussen 30 en 40 liter water drink.

Tydens die warmste deel van die dag hou hierdie sosiale viervoeters daarvan om in die water te lê en in die modder te rol. Hierdie gewoonte is nie net om hulle af te koel en te verfris nie, maar help hulle om van irriterende parasiete ontslae te raak. Of dalk lê hulle net in die skadu asof hulle bepeins terwyl hulle die gras, bossies en blare stadig verteer wat hulle gedurende die nag gevreet het.

Wanneer daar gevaar is, word die gees van samewerking gou duidelik. ’n Buffel sal alarm maak deur hard te snork. Gou trek die hele trop saam tot sy verdediging. Trouens, dit is bekend dat buffels as trop al saamgekom en ’n leeu bestorm het! Hierdie instink om mekaar te beskerm is taamlik ongewoon by planteters, want wanneer gevaar dreig, is die reël gewoonlik elke dier vir homself. Gevolglik kan lam en blinde buffels bly leef solank hulle naby aan die trop bly.

Dieselfde samehorigheid duur voort selfs wanneer daar geen gevaar dreig nie. Wanneer hulle byvoorbeeld iets anders doen, soos om te gaan lê nadat hulle gewei het, pas die hele trop hulle binne ’n paar minute daarby aan. Wetenskaplikes het voorheen geglo dat die trop ’n enkele leier volg wanneer hulle dit doen, maar meer onlangs is daar voorgestel dat hulle die dier volg wat die besondere gebied waarin hulle is die beste ken. Gewoonlik is dit ’n ouer koei. Volgroeide bulle is geneig om die trop te verlaat. Daarom word die trop nie deur ’n dominerende leier afgeknou om gehoorsaam te wees nie, maar hulle toon dat hulle van nature maklik saamwerk.

Die eensame bul—’n Alleenloper?

Maar waarom verlaat die bulle die trop? Het hulle antisosiaal geword? Glad nie. Hulle betreklik eensame bestaan is blykbaar as gevolg van hulle groot massa. Omdat hulle te swaar is om so dikwels soos die trop rond te beweeg, verkies hulle naderhand ’n rustiger lewenswyse. Daarom merk elkeen vir homself ’n persoonlike gebied af—’n plek met skadu, plantegroei om in die nag te wei en ’n nabygeleë drinkplek. Maar hy bly steeds so na as moontlik aan die paadjie waarlangs die trop in hulle daaglikse trek na water stap. Van tyd tot tyd sal hy saam met sy ou metgeselle wei. Wanneer water gedurende die droë seisoene minder word, sal verskeie bulle byeenkom om twee maal per dag na hulle waterbron te stap.

Wat gebeur as ’n trop noodgedwonge ’n bul se persoonlike gebied moet oorsteek? Breek daar ’n groot geveg uit? Glad nie. Die bul sal die trop by die grens van sy “eiendom” ontmoet en hulle persoonlik na die grens van ’n naburige bul se gebied begelei. Hierdie bul sal op sy beurt bevel oorneem en hulle na die volgende gebied lei. Hierdie proses word herhaal totdat die trop hulle drinkgebied bereik het. As die trop bedreig word, sal die bulle die rol van beskermers van die koeie en kalwers vervul. Hulle sal outomaties die agterhoede—die gevaarlikste posisie—beskerm en sal die laaste wees wat weghardloop.

Die Kaapse buffel se reputasie as ’n skrikwekkende dier is dus onverdiend. Noudat ons hierdie dier ’n bietjie beter leer ken het, kan ons sien dat hy nie ’n verstandelose en aggressiewe gevaarte is nie, maar ’n vreedsame voorbeeld van samewerking wat ons bepeinsing—miskien selfs ons navolging—verdien.

[Prente op bladsy 24, 25]

Dit is bekend dat buffels as trop al saamgekom en ’n leeu bestorm het

Hoewel bulle die trop verlaat, bly hulle taamlik sosiaal

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel