Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 8/8 bl. 10-11
  • Egbreuk—Moet dit vergewe word of nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Egbreuk—Moet dit vergewe word of nie?
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Moet jy altyd vergewe?
  • Vergifnis—Wat van die gevolge?
  • Vergifnis en egskeiding
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Vergewe jy soos Jehovah vergewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • ‘Hou aan om mekaar vryelik te vergewe’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 8/8 bl. 10-11

Die Bybelse beskouing

Egbreuk—Moet dit vergewe word of nie?

“VERGEWE wat julle ook al teen enigeen het; sodat julle Vader wat in die hemele is julle ook julle oortredings kan vergewe” (Markus 11:25). Daardie woorde van Jesus opper ’n paar netelige vrae in die geval van ’n huwelik wat deur egbreuk ontwrig word: Moet die onskuldige Christen haar maat vergewe en die huwelik ongeskonde hou?a Stel sy haar eie posisie voor God in gevaar as sy besluit om te skei? Kom ons kyk hoe die Bybel help om hierdie vrae te beantwoord.

Moet jy altyd vergewe?

Beteken Jesus se woorde, “vergewe wat julle ook al teen enigeen het”, dat ’n Christen in alle gevalle—selfs wanneer ’n maat egbreuk pleeg—verplig is om te vergewe? Jesus se woorde moet verstaan word in die lig van ander kommentare wat hy oor vergifnis gelewer het.

Ons leer byvoorbeeld ’n belangrike beginsel in verband met vergifnis uit Jesus se woorde in Lukas 17:3, 4: “As jou broer ’n sonde pleeg, bestraf hom, en as hy berou het, vergewe hom. Selfs as hy sewe keer per dag teen jou sondig en sewe keer na jou toe terugkom en sê: ‘Ek het berou’, moet jy hom vergewe.” In gevalle van ernstige sonde word die verontregte beslis aangemoedig om te probeer vergewe indien daar opregte berou getoon word. Jehovah beskou sake ook op hierdie manier; om Goddelike vergifnis te ontvang, moet ons opreg berouvol wees.—Lukas 3:3; Handelinge 2:38; 8:22.

Maar ons leer ook hieruit dat, as ’n owerspelige maat onberouvol is en weier om die verantwoordelikheid vir sy sonde te aanvaar, dit te begrype is as die onskuldige maat dalk verkies om nie te vergewe nie.—Vergelyk 1 Johannes 1:8, 9.

Vergifnis—Wat van die gevolge?

Maar sê nou die egbreker is berouvol? Wanneer daar berou is, is daar ’n grondslag vir vergifnis. Maar beteken vergifnis dat die oortreder van alle gevolge van sy verkeerde weg vrygestel word? Kyk na ’n paar voorbeelde van Jehovah se vergifnis.

Toe die Israeliete in opstand gekom het nadat hulle na die tien spioene geluister het wat ’n slegte verslag oor die land Kanaän gegee het, het Moses Jehovah gesmeek: “Vergeef tog die ongeregtigheid van hierdie volk.” Jehovah het geantwoord: “Ek vergewe, volgens jou woord.” Het dit beteken dat die oortreders van enige gevolge van hulle dade vrygestel is? Jehovah het voorts gesê: “Al die manne wat . . . na my stem nie geluister het nie, hulle sal die land nie sien wat Ek aan hulle vaders met ’n eed beloof het nie” (Numeri 14:19-23). Jehovah het sy woord gestand gedoen; daardie ouer geslag—buiten Josua en Kaleb—het nie die Beloofde Land gesien nie.—Numeri 26:64, 65.

Toe die profeet Natan koning Dawid vir sy sonde met Batseba bestraf het, het ’n berouvolle Dawid eweneens erken: “Ek het gesondig teen die HERE!” Natan het toe vir Dawid gesê: “So het die HERE dan ook u sonde vergewe” (2 Samuel 12:13). Maar hoewel Jehovah Dawid vergewe het, het Dawid die res van sy lewe weens die gevolge van sy sonde gely.—2 Samuel 12:9-14; sien ook 2 Samuel, hoofstuk 24.

Hierdie voorbeelde van Goddelike vergifnis beklemtoon ’n belangrike les: Ons kan nie sondig en ongestraf bly nie (Galasiërs 6:7, 8). ’n Berouvolle sondaar, hoewel hy dalk vergifnis ontvang, word nie noodwendig die gevolge van sy verkeerde weg gespaar nie. Beteken dit dat die onskuldige maat die egbreker kan vergewe—ten minste in die sin dat die bittere wrok laat vaar word—en nog besluit om van hom te skei?

Vergifnis en egskeiding

By drie geleenthede gedurende sy bediening het Jesus oor egskeiding gepraat (Matteus 5:32; 19:3-9; Lukas 16:18). Interessant genoeg, Jesus het nie een keer in enige van hierdie besprekings vergifnis gemeld nie. Hy het byvoorbeeld gesê, soos in Matteus 19:9 opgeteken staan: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery, en met ’n ander trou, pleeg egbreuk.’ Deur “behalwe op grond van hoerery” te sê, het Jesus erken dat geslagsonsedelikheid die onskuldige maat die reg, oftewel skriftuurlike “grond”, sou gee om te skei. Nogtans het Jesus nie gesê dat die onskuldige maat moet skei nie. Hy het nietemin duidelik te kenne gegee dat sy dit kan doen.

Die huwelik is ’n verbintenis wat twee mense saambind (Romeine 7:2). Maar wanneer een van hulle ontrou is, kan die band verbreek word. In sulke gevalle kom die onskuldige huweliksmaat eintlik voor twee besluite te staan. Eerstens, moet sy vergewe? Soos ons gesien het, is die egbreker se opregte berou of gebrek daaraan ’n belangrike faktor. Wanneer daar berou is, sal die onskuldige maat dalk mettertyd vergewe—ten minste in die sin dat die wrok laat vaar word.

Die tweede besluit is: Moet sy ’n egskeiding verkry? Waarom ontstaan hierdie vraag dan as sy hom vergewe het?b Wel, sê nou sy is met reg besorg oor haar en haar kinders se veiligheid, veral as haar man hulle in die verlede mishandel het? Of sê nou sy vrees dat sy met ’n seksueel oordraagbare siekte besmet gaan raak? Of sê nou sy voel sterk daaroor dat sy hom weens sy troubreuk nie meer in ’n man-en-vrou-verhouding kan vertrou nie? In sulke situasies is dit heel denkbaar dat die onskuldige maat haar maat wat gesondig het, kan vergewe (in die sin dat die wrok laat vaar word) en tog steeds besluit om van hom te skei omdat sy nie meer saam met hom wil lewe nie. Om die wrok te laat vaar, kan haar help om met haar lewe voort te gaan. Dit sal dalk ook help om enige nodige assosiasie met die egbreker in die toekoms op ’n aangenamer voet te hou.

Om van ’n ontroue maat te skei, is ’n persoonlike besluit, een wat die onskuldige maat moet neem nadat sy al die betrokke faktore versigtig en biddend oorweeg het (Psalm 55:23). Ander het nie die reg om te probeer om aan die onskuldige maat voor te skryf of druk op haar uit te oefen om die een of ander besluit te neem nie. (Vergelyk Galasiërs 6:5.) Onthou, Jesus het nie gesê wat die onskuldige maat moet doen nie. Dit is dus duidelik dat Jehovah nie ontevrede met diegene is wat verkies om op gepaste skriftuurlike grond te skei nie.

[Voetnote]

a Hoewel ons hier na die onskuldige maat as “sy” sal verwys, is die beginsels wat bespreek word net so toepaslik wanneer die onskuldige maat die Christenman is.

b Deur geslagsgemeenskap te hervat, sal die onskuldige maat toon dat sy besluit het om versoen te raak met haar maat wat gesondig het. Sy sal daardeur enige skriftuurlike grond vir egskeiding ongeldig maak.

[Foto-erkenning op bladsy 10]

Life

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel