Vrae van lesers
In watter mate moet ’n getroue Christenvrou ’n egskeiding teëstaan wat haar man aangevra het?
Toe God die huwelik ingestel het, het hy gesê dat ’n man en vrou mekaar sou “aankleef”, dit wil sê getrou aan mekaar sou bly (Genesis 2:18-24). Mense het onvolmaak geword, wat tot probleme in baie huwelike gelei het, maar God wil graag hê dat huweliksmaats nog steeds getrou aan mekaar moet bly. Die apostel Paulus het geskryf: “Aan die getroudes gee ek instruksies—nogtans nie ek nie, maar die Here—dat ’n vrou nie van haar man moet weggaan nie; maar laat sy, as sy tog weggaan, ongetroud bly of haar weer met haar man versoen; en ’n man moet sy vrou nie verlaat nie.”—1 Korintiërs 7:10, 11.
Hierdie woorde toon dat dit wel soms onder onvolmaakte mense sal gebeur dat een van die huweliksmaats sal besluit om die ander een te verlaat. Paulus het byvoorbeeld gesê dat albei partye “ongetroud [moet] bly” as een van hulle besluit om weg te gaan. Waarom? Wel, die maat het weggegaan, maar in God se oë is die twee steeds aan mekaar gebind. Paulus kon dit sê omdat Jesus die standaard vir ’n Christenhuwelik uiteengesit het: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery [Grieks, por·neiʹa], en met ’n ander trou, pleeg egbreuk’ (Matteus 19:9). Ja, die enigste rede vir ’n egskeiding wat ’n huwelik skriftuurlik beëindig, is “hoerery”, dit wil sê geslagsonsedelikheid. In die geval waarna Paulus verwys het, was nie een van die huweliksmaats klaarblyklik onsedelik nie, en daarom is die huwelik nie in God se oë ontbind toe die man of vrou weggegaan het nie.
Paulus het daarna gepraat van ’n situasie waarin ’n ware Christen met ’n ongelowige getroud is. Kyk na Paulus se riglyne: “As die ongelowige weggaan, laat hom weggaan; onder sulke omstandighede is ’n broer of ’n suster nie in diensbaarheid nie, maar God het julle tot vrede geroep” (1 Korintiërs 7:12-16). Wat kan ’n getroue vrou doen as haar ongelowige man haar verlaat het en selfs ’n wettige egskeiding van haar wil kry?
Sy verkies dalk dat hy by haar moet bly. Sy is dalk nog lief vir hom, is bewus van hulle wedersydse emosionele en seksuele behoeftes en weet dat sy en enige minderjarige kinders materiële hulp nodig het. Sy hoop moontlik ook dat haar man mettertyd ’n gelowige sal word en gered sal word. Maar as hy stappe neem om die huwelik te beëindig (om die een of ander onskriftuurlike rede), kan die vrou ‘hom laat weggaan’, soos Paulus geskryf het. Dieselfde sal geld as ’n gelowige man God se beskouing van die huwelik ignoreer en daarop aandring om sy vrou te verlaat.
In so ’n situasie sal sy dalk haarself en die kinders moet beskerm. Hoe so? Sy sal toesig oor haar geliefde kinders wil behou sodat sy kan voortgaan om moederlike liefde aan hulle te betoon, hulle sedelike opleiding te gee en by hulle geloof in te boesem wat op goeie Bybelleringe gegrond is (2 Timoteus 3:15). Die egskeiding kan haar regte in gevaar stel. Daarom sal sy moontlik stappe neem om behoorlik voor die owerhede verteenwoordig te word sodat sy haar reg kan beskerm om toegang tot haar kinders te hê en seker te wees dat haar man verplig word om die gesin wat hy verlaat het, te onderhou. Op sommige plekke kan ’n vrou wat ’n egskeiding teëstaan, wettige dokumente onderteken wat voorsienings vir toesig oor die kinders en finansiële onderhoud stipuleer sonder dat sy instem tot die egskeiding wat haar man aangevra het. Maar op ander plekke kan die bewoording van die dokumente aandui dat sy tot die egskeiding instem; as haar man dus skuldig was aan egbreuk, sal die feit dat die vrou hierdie dokumente onderteken, beteken dat sy hom verwerp.
Die meeste mense in die gemeenskap en in die gemeente sal nie die besonderhede ken nie, soos of die egskeiding op skriftuurlike grond verkry is of nie. Voor sake so ver gaan, sal dit dus raadsaam vir die vrou wees om die presiderende opsiener en ’n ander ouer man in die gemeente (verkieslik skriftelik) oor die feite in te lig. Sodoende sal daardie feite beskikbaar wees in geval enige vraag—op daardie stadium of later—ontstaan.
Kom ons gaan nou terug na Jesus se kommentaar: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery, en met ’n ander trou, pleeg egbreuk.’ As ’n man werklik skuldig was aan geslagsonsedelikheid maar met sy vrou getroud wou bly, moet sy (die onskuldige in Jesus se voorbeeld) besluit of sy hom wil vergewe en voortgaan om die huweliksbed met hom te deel of besluit of sy hom wil verwerp. As sy bereid is om haar wettige man te vergewe en steeds met hom saam te leef, beteken dit nie dat sy nou onsedelik is nie.—Hosea 1:1-3; 3:1-3.
In ’n geval waar ’n onsedelike man ’n egskeiding wil hê, sal sy vrou dalk nog steeds bereid wees om hom te vergewe, in die hoop om hom terug te wen. Dit is haar besluit, gegrond op haar gewete en die situasie, of sy sy egskeidingsaansoek wil teëstaan. Op sommige plekke kan ’n vrou wat ’n egskeiding teëstaan, dokumente onderteken wat toesig oor die kinders en finansiële onderhoud stipuleer sonder dat sy instem tot die egskeiding; die feit dat sy hierdie dokumente onderteken, sal nie op sigself bewys dat sy hom verwerp nie. Maar op ander plekke word ’n vrou wat ’n egskeiding teëstaan, dalk gevra om dokumente te onderteken wat aandui dat sy tot die egskeiding instem; as sy hierdie dokumente onderteken, sal dit baie duidelik toon dat sy haar skuldige man verwerp.
Dit is ook in hierdie geval raadsaam vir die vrou om aan verteenwoordigers van die gemeente ’n brief te gee met ’n uiteensetting van die stappe wat geneem word en die redes daarvoor, sodat enige moontlike misverstand vermy kan word. Sy kan noem dat sy vir haar man gesê het dat sy bereid is om hom te vergewe en sy vrou te bly. Dit sal beteken dat die egskeiding sonder haar goedkeuring verkry word; sy het nie haar man verwerp nie, want sy was nog steeds bereid om hom te vergewe. Nadat sy hierdeur duidelik getoon het dat sy bereid is om te vergewe en getroud te bly, sal die feit dat sy dokumente onderteken wat eenvoudig aandui hoe geldelike en/of kindertoesigsake geskik word, nie aandui dat sy haar man verwerp nie.a
As dit selfs ná ’n egskeiding duidelik is dat sy bereid is om te vergewe, is nie sy of haar man vry om met iemand anders te trou nie. As sy, die onskuldige maat wie se vergifnis nie aanvaar is nie, later besluit om hom weens sy onsedelikheid te verwerp, sal albei dan vry wees. Jesus het getoon dat die onskuldige maat die reg het om hierdie besluit te neem.—Matteus 5:32; 19:9; Lukas 16:18.
[Voetnoot]
a Wetlike prosedures en dokumente verskil van plek tot plek. Die egskeidingsvoorwaardes wat in wetlike dokumente uiteengesit word, moet goed bestudeer word voordat ’n mens dit onderteken. As ’n onskuldige maat dokumente onderteken wat aandui dat sy (of hy) nie beswaar maak teen ’n egskeiding wat die maat aangevra het nie, kom dit daarop neer dat hy of sy die maat verwerp.—Matteus 5:37.