Jongmense vra . . .
Moet ek selfverdediging leer?
“Daar is ’n baie slegte bende in die skool”, sê Jesse. “As hulle jou in die gang sien en jou tekkies, baadjie of selfs jou broek wil hê, vat hulle dit. As jy hulle verkla, sal hulle later met jou afreken.”
OM GEWELD te moet verduur, het vir baie jongmense ’n lewenswyse geword. Die tydskrif USA Today het gesê: “Ongeveer een uit elke vyf hoërskoolleerlinge dra gereeld ’n vuurwapen, mes, knuppel of ander wapen. Baie dra dit skool toe.” ’n Tienderjarige seun met die naam Jairo het dit al self gesien. “Ons skool was die eerste skool [in die stad New York] met metaalverklikkers”, sê hy, “maar dit keer nie dat die kinders messe en vuurwapens dra nie. Ek weet nie hoe hulle dit inbring nie, maar hulle kry dit reg.”
Weens die gevaar dat hulle aangerand kan word, is dit verstaanbaar dat baie jeugdiges aan maniere dink om hulleself te beskerm. Jong Lola sê: “Nadat ’n meisie in ons skool vir haar oorbelle doodgesteek is, het hulle selfverdedigingskursusse in die skool begin aanbied. Byna almal het daarvoor ingeskryf.” Ander jongmense gebruik weer chemiese spuitmiddels en ander wapens. Die vraag is: Beskerm selfverdedigingsmetodes jou werklik?
Die Oosterse gevegskuns
Hulle wys dit gereeld op TV—Oosterse gevegskunsdeskundiges wat deur die lug vlieg terwyl hulle met die grasie van ’n danser skop en boks. Binne sekondes lê die skurke bewegingloos op die grond. Verstommend! Dit lyk asof die Oosterse gevegskuns die allerbeste beskerming bied. Die werklike lewe is egter nie soos in die rolprente nie. ’n Man met jare lange ondervinding in karate het gesê: “Net ’n koeël is nodig. As iemand ’n entjie van jou af ’n vuurwapen het, het jy nie ’n kans nie. As jy te beperk is sonder enige ruimte om te beweeg, help dit ook nie.”
Jy moet ook besef dat ’n mens baie geld moet spandeer en baie jare hard moet oefen om in die Oosterse gevegskuns bedrewe te raak. En tensy jy aanhou oefen, sal jy die vermoë om daardie vernuftige bewegings uit te voer sommer gou verloor. Dieselfde kan gesê word van ander vorme van selfverdediging, soos boks. As jy bowendien ’n reputasie het dat jy weet hoe om te baklei, sal dit waarskynlik onnodige aandag trek. Skoorsoekers besluit dalk om jou as ’n uitdaging aan te durf.
Om die Oosterse gevegskuns te leer, hou egter ’n groter gevaar in. Die tydskrif The Economist het onlangs berig: “Die meeste Oosterse gevegskunste, indien nie almal nie, is onlosmaaklik verbonde aan die drie vernaamste Oos-Asiatiese godsdienste: Boeddhisme, Taoïsme en Confucianisme.” ’n Ander bron voeg by: “Alles wat in karate gedoen word—elke beweging, elke gevoel—is van die een of ander beginsel van Zen afkomstig.” Zen is ’n sekte van Boeddhisme wat godsdiensmeditasie beklemtoon. Hierdie godsdienstige oorsprong skep vir Christene ’n ernstige probleem in die lig van die Bybel se woorde in 2 Korintiërs 6:17: “‘Gaan dus onder [valse aanbidders] uit en sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is aan te raak.’”
Gebruik van wapens
Sê nou jy dra ’n vuurwapen of mes? As jy dit doen, laat dit jou heel moontlik vol vertroue voel. Maar daardie vertroue kan noodlottig wees as jy begin om onnodige kanse te waag of moeilikheid te soek. Die Bybel waarsku: “Hy wat die kwaad soek, oor hom sal dit kom” (Spreuke 11:27). En as ongevraagde moeilikheid na jou kant toe kom, sal dit net die konflik vererger as jy ’n wapen uitpluk. Jy kan doodgemaak word—of iemand anders doodmaak. Hoe sal God, die Bron van lewe, jou dade beskou as jy dit kon vermy het om geweld te gebruik?—Psalm 11:5; 36:9, NW.
Dit is waar dat party nie werklik bedoel om dodelike geweld te gebruik nie. Hulle sê dalk dat hulle net ’n wapen dra om aanvallers af te skrik. Maar die tydskrif Health sê: “Vuurwapeninstrukteurs is dit eens: Moenie ’n vuurwapen aanskaf as jy nie bereid is om dit te gebruik nie. Party aanvallers sal dalk afgeskrik word as jy hulle met ’n vuurwapen probeer bangmaak, maar ander sal net woedend raak.”
Wat van “veiliger” wapens, soos chemiese spuitmiddels? Benewens die feit dat dit in party plekke onwettig is, het hierdie wapens ernstige nadele. In plaas van ’n aanvaller wat onder die invloed van dwelms is buite aksie te stel, sal dit hom dalk net woedend maak. Dit is selfs moontlik dat die wind die chemikalie eerder in jou gesig as in die aanvaller s’n kan waai—dis nou te sê as jy die spuitmiddel in die eerste plek kan uitkry. As die aanvaller sien dat jy in jou sakke of handsak vroetel, sal hy dalk dink dat jy na ’n vuurwapen gryp en besluit om self aggressief op te tree. Een polisiespeurder het dus gesê: “Daar is geen waarborg dat [’n chemiese spuitmiddel], of enige ander wapen, sal werk nie. Of dat jy dit betyds sal kan uitkry nie. Wapens doen ’n situasie nooit goed nie. Mense stel te veel vertroue daarin.”
Wapens—die Goddelike beskouing
Die gevaar van geweld was ook in Jesus se dag ’n werklikheid. Een van sy bekendste gelykenisse, wat gewoonlik die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan genoem word, het vertel van ’n voorval toe iemand gewelddadig beroof is (Lukas 10:30-35). Toe Jesus sy dissipels gevra het om hulle met swaarde toe te rus, was dit nie vir beskerming nie. Trouens, dit het daartoe gelei dat hy dié beginsel neergelê het: “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan.”—Matteus 26:51, 52; Lukas 22:36-38.
Ware Christene bewapen hulle derhalwe nie om hulle medemens leed aan te doen nie. (Vergelyk Jesaja 2:4.) Hulle volg die Bybel se raad in Romeine 12:18: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.” Beteken dit dat ’n mens weerloos moet wees? Glad nie!
Wysheid—beter as wapens
In ’n era waarin dit lyk asof daar ’n apparaat vir alles is, verbaas dit jou dalk om te weet dat jy ’n selfverdedigingsmetode tot jou beskikking kan hê wat baie doeltreffender as enige mensgemaakte toestel is. In Prediker 9:18 lees ons: “Wysheid is beter as oorlogswapens.” Hierdie wysheid is meer as dit wat party “straatsin” sal noem. Dit is die toepassing van Bybelbeginsels, en dit kan jou dikwels help om gewelddadige situasies in die eerste plek te vermy.
Byvoorbeeld, Jairo wat vroeër sy gewelddadige skool beskryf het, vermy moeilikheid deur die Bybel se woorde in 1 Tessalonisense 4:11 toe te pas: ‘Stel julle dit ten doel om rustig te lewe en om julle met julle eie sake te bemoei.’ Jairo sê: “As jy weet daar gaan ’n bakleiery wees, moet jy jou met jou eie sake bemoei en huis toe gaan. Party staan daar rond, en dis wanneer hulle in die moeilikheid beland.”
“My beste beskerming is om almal te laat weet dat ek een van Jehovah se Getuies is”, sê jong Lola. “Mense los my uit, aangesien hulle weet dat ek nie vir hulle ’n bedreiging gaan wees nie.” “Dit behels meer as om net te sê dat jy ’n Getuie is”, voeg Eliu by. “Hulle moet sien dat jy anders is.” Christene moet “geen deel van die wêreld” wees nie (Johannes 15:19). Maar wees versigtig om nie die indruk te skep dat jy meerderwaardig is nie (Spreuke 11:2). Een jongmens het dit so gestel: “Moenie met die gang afloop asof die plek aan jou behoort nie.” Dit kan tot vyandigheid aanleiding gee. ’n Jong Christen met die naam Luchy vertel: “Ek is vriendelik en praat met my klasmaats; maar ek tree eenvoudig nie soos hulle op nie.”
Hoe jy aantrek, is ook belangrik. “Ek is versigtig om nie dinge te dra wat aandag trek nie”, sê een jongmens. “Ek reken dat ek nie die duurste klere hoef te dra om goed te lyk nie.” As jy die Bybel se raad volg om beskeie geklee te wees, kan dit jou dalk help om op die agtergrond te bly en moeilikheid te vermy.—1 Timoteus 2:9.
As jy voor geweld te staan kom
Maar sê nou jy word, ten spyte van jou pogings om uit die gevaar te bly, met geweld gedreig? Probeer eerstens om die beginsel in Spreuke 15:1 toe te pas: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.” Jong Eliu het dit gedoen toe hy op skool was. Hy sê: “Partykeer moet ’n mens aggressiewe woorde net nie ernstig opneem nie. In baie gevalle is dit hoe jy reageer wat die moeilikheid veroorsaak.” Deur nie ‘kwaad vir kwaad te vergeld’ nie, sal jy moontlik keer dat ’n situasie handuit ruk.—Romeine 12:17.
Wanneer taktvolle optrede egter nie werk nie, moet jy iets doen om jouself te beskerm. As ’n groep jeugdiges jou tekkies of ’n kosbare besitting wil hê, gee dit vir hulle! Jou lewe is baie kosbaarder as die dinge wat jy besit (Lukas 12:15). As dit lyk asof hulle geweld gaan gebruik, loop weg—nog beter, hardloop weg! “Laat die twis vaar voordat dit losbreek”, sê Spreuke 17:14. (Vergelyk Lukas 4:29, 30; Johannes 8:59.) As dit onmoontlik is om te vlug, het jy dalk geen keuse as om geweld so goed moontlik af te weer nie. Daarna moet jy jou ouers vertel wat gebeur het. Hulle sal jou dalk op die een of ander manier kan help.
Net soos die Bybel voorspel het, lewe ons in gewelddadige tye (2 Timoteus 3:1-5). Maar om ’n vuurwapen te dra of om karateskoppe te leer, sal jou geensins veiliger maak nie. Wees versigtig. Gebruik goddelike wysheid wanneer jy voor moeilikheid te staan kom. En bowenal moet jy geloof en vertroue in Jehovah stel. Soos die psalmis kan jy vol vertroue bid: “U bevry my van die man van geweld.”—Psalm 18:49.
[Prent op bladsy 13]
Oosterse gevegskunste is nie die oplossing vir Christene nie