Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 9/22 bl. 24-27
  • Die Afrikaskool—Watter onderrig het dit gegee?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Afrikaskool—Watter onderrig het dit gegee?
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tuisonderrig
  • Lewensvaardighede
  • Verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap
  • Godsdiensonderrig
  • Hedendaagse tradisionele onderrig
  • Akan-spreekwoorde—’n Weerspieëling van sosiale norme
    Ontwaak!—2003
  • Moet my kind skool toe gaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2003
  • Die sleutels tot ’n goeie skoolopleiding
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 9/22 bl. 24-27

Die Afrikaskool—Watter onderrig het dit gegee?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GHANA

DIE Afrikaskool? Dit verbaas sommige Westerlinge dalk om te weet dat so ’n reëling werklik in die verlede bestaan het. Ongelukkig het die rolprentbedryf se beeld van die Afrikaan as ’n dreigende barbaar met ’n spies in sy hand nie gou uit mense se gedagtes verdwyn nie. Baie kan hulle dit eenvoudig net nie voorstel hoe die Afrikaan van vroeër jare enigsins as geleerd beskou kon word nie.

Afrikane wat in tradisionele gemeenskappe grootgeword het, het weliswaar nie boekgeleerdheid en formele klasonderrig ontvang nie. Maar lank voordat die formele vorm van Europese onderwys na Afrika gebring is, het baie gemeenskappe op dié vasteland doeltreffende onderwysstelsels gehad wat kinders gehelp het om hulle goed toe te rus om in hulle plaaslike kulture oor die weg te kom en te floreer. Beskou byvoorbeeld die onderrig van die Akan, die Twi-sprekende volksgroep in Ghana.

Tuisonderrig

Onder die Akan het die huis as die vernaamste klaskamer gedien. Die kind se onderrigting het begin wanneer sy ouers hom leer praat het. Terselfdertyd het hy ook sy eerste lesse in goeie maniere ontvang. Wanneer ’n kuiergas ’n kind byvoorbeeld gegroet het, is die kind die gepaste, beleefde antwoord daarop geleer. Later, wanneer die kind met boodskappe uitgestuur is, is hy vertel hoe om dit beleefd oor te dra.

Die Akan se onderwysfilosofie het dus in groot mate ooreengekom met wat die Bybel in Spreuke 22:6 sê: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.” Ouers, veral die vader, het belangstelling in die opvoeding van kinders getoon. ’n Akan-spreuk het gesê: “As die kind nie na sy moeder aard nie, dan aard hy na sy vader.”

Namate die kind groter geword het, het sy onderrigting ook uitgebrei. Lewenslesse is nie deur boeke oorgedra nie, maar deur verbeeldingryke stories, soos dié van die legendariese spinnekop genaamd Kwaku Ananse. Hoe het die kinders tog nie hierdie vertellings geniet nie! In die vroeë aandluggie, of op ’n koel maanligaand, het hulle om ’n vuur gesit en hierdie stories oor oorwinning en nederlaag terdeë geniet.

Volgens een gewilde storie het Ananse die aarde deurkruis om al die wysheid van die wêreld in ’n pot te sit. Met sy sending skynbaar voltooi, het hy besluit om die pot hoog in ’n boom op te hang sodat niemand anders hierdie wysheid kon bekom nie. Hy het begin met die moeilike taak om in die boom op te klim, met die pot vol wysheid wat met ’n tou aan hom vasgebind is en onderaan sy maag gehang het. Terwyl hy gesukkel het, het sy oudste seun Ntikuma daar aangekom en vir Ananse gesê: “Ag nee, Vader! Wie klim ooit ’n boom met ’n pot aan sy maag? Waarom sit jy dit nie op jou rug sodat jy makliker kan beweeg nie?” Ananse het afgekyk na sy seun en geskreeu: “Hoe durf jy my leer?”

Maar nou was dit duidelik dat daar nog wysheid buite sy pot was! Hierdie besef het Ananse woedend gemaak, en hy het die pot neergewerp sodat dit in stukkies gebreek en al die wysheid verstrooi het. Dié wat eerste daar aangekom het, het die wysste persone geword. Die les: Niemand het ’n alleenreg op wysheid nie. Die Akan het gevolglik gesê: “’n Raad bestaan nie uit een persoon nie.”—Vergelyk Spreuke 15:22; 24:6.

Lewensvaardighede

Die Akan se onderrigting het opleiding in lewensvaardighede ingesluit. Die meeste seuns het hulle vader se beroep beoefen—gewoonlik boerdery. Maar daar was ander vaardighede wat aangeleer moes word, soos jag, die tap van palmwyn, asook handwerk soos die vleg van mandjies. Vir ingewikkelder vaardighede, soos houtsnywerk of die weefkuns, is die seuns in die leer van bekwame ambagsmanne geplaas. En die meisies? Hulle opleiding het hoofsaaklik huishoudelike vaardighede behels, soos die onttrekking van plantolies, die maak van seep en erdeware, katoenspinnery en dergelike dinge.

Wetenskap is ook in die tradisionele skool se “leerplan” ingesluit. Kennis van geneeskruie, die voorbereiding en toediening daarvan, is oorgedra van vader aan seun of van grootouers aan kleinkinders. ’n Kind het ook geleer om getalle met behulp van sy vingers asook albasters, klippies en merkies op stokke te bereken. Speletjies soos oware en dambord het hulle vaardighede met getalle verskerp.

Deur opehofsittings by te woon, het die jong Akan ook insig in die politieke en geregtelike stelsels verkry. Begrafnisse sowel as feestye was geleenthede om die plaaslike klaagliedere, gedigte, geskiedenis, musiek, tromspel en danse te leer ken.

Verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap

Onder die Akan was ’n kind nie ’n maatskaplike eiland nie. Vroeg in sy lewe is hy tot die besef gebring dat hy ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap het. Hy het sy eerste lesse in hierdie verband geleer wanneer hy met sy maats gespeel het. Later van tyd het hy saam met ander aan bedrywighede deelgeneem wat die gemeenskap tot voordeel strek. Wanneer hy hom swak gedra het, is sy straf nie net deur sy ouers nie, maar deur enige volwassene in die gemeenskap toegedien. Dit is in werklikheid as ’n volwassene se sedelike plig beskou om enige stout kind te dissiplineer.

Sulke dissipline is gunstig aanvaar, omdat kinders geleer is om hoë agting vir volwassenes te hê. Trouens, die Akan het altyd gesê: “’n Ou dame is ouma nie net vir een persoon nie.” Eerbied vir en diens aan die bejaardes was dus ’n verpligting. En enige kind wat, sonder ’n geldige verskoning, geweier het om diens aan ’n volwassene te lewer, is by sy ouers gerapporteer.

Godsdiensonderrig

Die Akan was baie godsdienstig en het die natuur en die onbekende heelal vereer. Hulle was weliswaar politeïste, aangesien hulle in baie gode geglo het. Nogtans het die Akan in die bestaan van ’n Opperwese geglo (Romeine 1:20). Die Akan-woord vir “God”, dit wil sê enige god, is onyame. Maar vir die Akan was daardie woord blykbaar ontoereikend om die Skepper te beskryf. Daarom het hulle hom Onyankopɔn genoem, wat “die God wat die enigste Groot God is”, beteken.

Minder belangrike gode is aanbid in die oortuiging dat dit die Een Groot God se reëling is. Na hulle mening was dit nie veel anders as die wyse waarop die opperhoof deur middel van ondergeskikte hoofmanne gedien word nie. In elk geval, elke Akan-kind is dié godsdiens geleer.

Hedendaagse tradisionele onderrig

In onlangse jare het miljoene Afrikane na groot stede verhuis waar formele klasonderrig feitlik die tradisionele wyse van onderrig vervang het. Die tradisionele Afrikaskool floreer nietemin nog steeds in sommige gemeenskappe, veral op die platteland. Sommige Afrikane het dan selfs die voordeel van beide tradisionele en formele onderrig gehad!

Kyk byvoorbeeld na ’n Christenbedienaar in Ghana met die naam Alfred. Ten spyte daarvan dat hy formele onderrig ontvang het, het hy hoë agting vir baie aspekte van die tradisionele leefwyse. Alfred sê: “Alhoewel die meeste van my ongeskoolde stamgenote net hulle tradisionele opleiding het, is hulle baie goeie leermeesters in praktiese aspekte van die lewe. Ek het saam met mede-Christene onder hulle gewerk, en dit het my talle doeltreffende maniere geleer om my boodskap op ’n eenvoudige, verstaanbare wyse oor te dra. Gevolglik kan ek mense met ’n tradisionele agtergrond sowel as dié met formele onderrigting bereik. Ek neem heel dikwels ’n spreuk of illustrasie wat hierdie mense gebruik, verfyn dit en sluit dit by my Bybellesings in. Dit ontlok dikwels ’n geesdriftige handegeklap van die gehoor! In werklikheid moet hierdie tradisioneel opgeleide manne en vroue die erkenning ontvang.”

Dit is dus duidelik dat die Afrikaskool talle bewonderenswaardige aspekte het en agting eerder as minagting verdien. Dit het dalk nie tegnologiese wonders opgelewer nie, maar dit het wel ’n sterk gesinstruktuur en ’n gemeenskapsgevoel voortgebring, asook ’n volk wat vlug van begrip is en ’n aangename sin vir humor en ’n vrygewige, gasvrye gees het. Dit is dus nie verbasend dat baie verstedelikte Afrikane met hulle plattelandse familielede in voeling probeer bly deur hulle nou en dan te besoek nie. Sulke geleenthede verloop nie sonder daardie ongemaklike oomblikke nie. Stadsbewoners begaan dikwels foute wat tradisionele standaarde betref. Dikwels besef hulle byvoorbeeld nie dat die “gepaste” wyse waarop jy ’n groep mense met die hand groet van regs na links is nie. Sulke besoeke kan nogtans wedersyds verkwikkend wees.

Hoewel die tradisionele Afrikaskool mense geleer het om verering en toegewydheid te toon, moet ons nietemin erken dat dit nie die lewegewende kennis van Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, oorgedra het nie (Johannes 17:3). Jehovah se Getuies het die voorreg om onder die Akan en ander etniese groepe in Afrika te werk om hierdie lewensbelangrike kennis te voorsien. Hulle het duisende Afrikane wat nie formeel onderrig is nie, geleer lees en skryf sodat hulle God se Woord persoonlik kan bestudeer. Vir dié wat “bewus is van hulle geestelike behoefte”, is dit die belangrikste geleerdheid wat ’n mens ooit kan hê.—Matteus 5:3.

[Prente op bladsy 25]

Onder die Akan is die kind gehelp om sy verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap te besef

[Prent op bladsy 26]

Koninkryksale van Jehovah se Getuies wat lees-en-skryf-klasse aanbied

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel