Die sleutels tot ’n goeie skoolopleiding
DAAR was onlangs in The New York Times ’n voorbladartikel oor Latoya, ’n 16-jarige hoërskoolleerling. Sy was 11, het sy gesê, toe haar vader haar begin slaan en seksueel molesteer het. Haar moeder, wat dwelms gebruik het, het die gesin reeds verlaat. “Haar huis”, het die koerant berig, “was ’n verlate woonstel sonder ’n toilet of dit was ’n kamer waar sy te bang was om te slaap.” Latoya was egter uitsonderlik. Ondanks dit alles was Latoya vroeër vanjaar die president van die Nasionale Onderskeidingsvereniging by haar hoërskool en het sy ’n B-gemiddelde in haar onderskeidingsklasse gehandhaaf.
Wat kan selfs ’n kind wat uit ’n slegte milieu kom, help om op skool goed te vaar? Dikwels is ’n sleutel tot ’n goeie skoolopleiding ’n liefdevolle volwassene—verkieslik een of albei die kind se eie ouers—wat ondersteuning bied en diep by die kind se skoolopleiding betrokke is. Een hoërskoolsenior het dit so belangrik geag dat sy beweeg is om te sê: “Dit is net met ouerlike ondersteuning wat kinders in die skool kan voortbestaan.”
Die meeste onderwysers stem saam. ’n Onderwyser van die stad New York het gesê: “Vir elke leerling wat goed vaar en deur die onderwysstelsel kom—en daar is baie—is daar ’n ouer wat heeltyd ondersteuning gebied het.”
Ouerlike ondersteuning, ’n belangrike sleutel
Reader’s Digest het verlede jaar ondersoek ingestel na die vraag: “Waarom vaar party leerlinge beter as ander?” Een van die gevolgtrekkings was dat “sterk gesinne kinders ’n voorsprong op skool gee”. Ouers van sulke gesinne gee hulle kinders liefdevolle aandag en dra aan hulle behoorlike waardes en doelwitte oor. Maar een ouer het gesê: “Jy kan nie die regte leiding gee as jy nie weet wat by die skool aangaan nie.”
’n Goeie manier om uit te vind, is om die skool te besoek. ’n Moeder wat sulke besoeke doen, het geskryf: “Wanneer ek in die gange van my dogter se skool loop, hoor ek vuil, onwelvoeglike taal. Kinders is oral besig om te vry—as dit ’n rolprent was, sou dit ’n hoë ouderdomsbeperking hê.” Sulke besoeke kan jou help besef hoe moeilik dit vandag vir kinders is om ’n goeie skoolopleiding te kry, asook om ’n sedelike lewe te lei.
Dit is opmerkenswaardig dat die publikasie The American Teacher 1994 gesê het: “Dit is waarskynliker dat leerlinge wat slagoffers van geweld was, sal sê dat hulle ouers selde met die skool in verbinding is, soos tydens individuele vergaderinge met onderwysers, ouer- of groepvergaderinge of besoeke aan die skool.”
’n Besorgde moeder het getoon wat ouers moet doen. “Wees daar!” het sy gesê. “Laat die skoolbestuur weet dat jy belangstel in wat jou kind leer. Ek besoek dikwels die skool en woon klasse by.” ’n Ander moeder het die waarde daarvan beklemtoon om ’n kind se voorspraak te wees. Sy het verduidelik: “My kinders het kantoor toe gegaan om met ’n raadgewer te praat en is letterlik geïgnoreer. Toe my kind my die volgende dag ingebring het, het hulle baie moeite gedoen om my—en my kind—te help.”
Hierdie moeder van vier seuns het ook beklemtoon hoe belangrik dit is om belang te stel in skoolbedrywighede wat jou kind se skoolopleiding regstreeks raak. “Wees by die oueraand, die wetenskapstentoonstelling—enigiets wat jou kinders dalk doen waarheen ouers genooi word”, het sy gesê. “Dit bied jou geleenthede om jou kind se onderwysers te ontmoet. Hulle moet weet dat jy jou kind se skoolopleiding as ’n baie belangrike deel van sy lewe beskou. Wanneer onderwysers dit weet, is hulle meer geneig om tyd aan jou kind te bestee en ekstra moeite vir jou kind te doen.”
Samewerking met onderwysers
Party ouers voel dalk dat hulle belangriker dinge het om te doen op aande wanneer skole spesiale geleenthede vir wisselwerking tussen ouers en onderwysers reël. Maar wat is werklik belangriker as om jou beskikbaar te stel vir diegene wat jou kinders probeer help om ’n goeie skoolopleiding te kry? Goeie samewerking tussen ouers en onderwysers is noodsaaklik!
In Rusland is daar ’n uitstekende voorsiening om samewerking tussen ouers en onderwysers te verbeter. Alle skoolopdragte word opgeteken in wat ’n Dnjewnik genoem word—’n daaglikse bedrywigheidsverslag wat met ’n kalender gekombineer word. ’n Leerling moet sy Dnjewnik na elke klas toe bring en dit op aanvraag vir die onderwyser gee. Leerlinge moet die Dnjewnik ook vir hulle ouers wys, wat gevra word om dit elke week te teken. Soos Victor Lobatsjof, ’n vader van skoolgaande kinders in Moskou, gesê het, “help hierdie inligting ouers om op die hoogte van sake te bly wat hulle kinders se opdragte en punte betref”.
Maar onderwysers kla vandag dikwels dat ouers nie in hulle kinders se skoolopleiding belangstel nie. Een hoërskoolonderwyser in die Verenigde State het gesê dat hy eenkeer 63 briewe aan ouers gestuur het om hulle in kennis te stel van hoe swak hulle kinders op akademiese gebied vaar. Net drie ouers het hierop gereageer deur met hom in aanraking te kom!
Dit is werklik ’n jammerte! Ouers behoort diep betrokke te wees by hulle kind se skoolopleiding, wat hoofsaaklik hulle verantwoordelikheid is. ’n Opvoedkundige het tereg gesê: “Die vernaamste oogmerk van formele skoolopleiding is om ouers te ondersteun in die voortbrenging van verantwoordelike jong volwassenes.”
Ouers moet dus die inisiatief neem om hulle kind se onderwysers te leer ken. Soos een ouer gesê het, “moet die onderwysers die vrymoedigheid hê om jou te eniger tyd te skakel”. En ouers behoort dit te verwelkom—selfs aan te moedig—dat onderwysers openlik oor hulle kind praat. Ouers moet spesifieke vrae vra soos: Ondervind jy enige probleme met my kind? Is hy eerbiedig? Woon hy alle klasse by? Daag hy betyds op?
Sê nou die onderwyser sê iets ongunstigs oor jou kind? Moenie aanneem dat dit nie waar is nie. Ongelukkig lei baie jongmense wat tuis of by hulle plek van aanbidding oënskynlik ’n eerbare lewe lei eintlik ’n dubbele lewe. Luister dus eerbiedig na die onderwyser, en stel ondersoek in na wat hy of sy sê.
Wanneer jou kind huis toe kom
Hoe voel jy as ’n ouer wanneer jy van die werk af by die huis kom? Oorspanne? Gefrustreerd? Jou kind voel dalk erger wanneer hy of sy van die skool af by die huis kom. Een vader het ouers dus aangespoor: “Laat dit vir die kinders lekker wees om huis toe te kom. Hulle het waarskynlik ’n baie moeilike dag gehad.”
Wanneer dit moontlik is, is dit beslis wenslik dat ’n ouer by die huis is wanneer die kind daar aankom. Soos een moeder gesê het, “kan kinders jou nie sê wat aangaan as jy nie daar is om met hulle te gesels nie. Ek sorg dus dat ek daar is wanneer die kinders by die huis kom.” ’n Ouer moenie net weet wat sy kind doen nie, maar ook wat hy of sy dink en voel. Om dit uit te vind, verg baie tyd, inspanning en gemoedelike ondervraging (Spreuke 20:5). Daaglikse kommunikasie is belangrik.
’n Laerskoolonderwyser in die stad New York het gesê: “Op enige gegewe dag is waardes van ’n skoolstelsel wat in ’n krisis is dalk aan jou kind oorgedra.” Hy het ouers dus aangespoor: “Jy moet weet wat in jou kind se hart gekweek word. Ruim die tyd in, ongeag hoe moeg jy dalk is, om hom te laat praat en om enige verkeerde waardes met die regtes te vervang.”—Spreuke 1:5, NW.
’n Ervare hoërskoolonderwyser het ouers eweneens aangeraai: “Pleks van bloot te vra wat in die skool gebeur het, sal dit raadsaam wees om doelgerigte en spesifieke vrae aangaande die dag se bedrywighede te vra. Dit hoef nie op ’n stywe of indringerige manier gedoen te word nie, maar tydens informele, gemeensame gesprekke met die kind.”
Richard W. Riley, die Amerikaanse Minister van Onderwys, het ouers aangespoor: “Praat reguit met jou kinders, veral jou tieners, oor die gevare van dwelms en alkohol en die waardes wat jy wil hê jou kinders moet hê. Sulke persoonlike besprekings, hoe ongemaklik dit jou ook al laat voel, kan hulle lewe red.”
’n Ouer, veral een wat verantwoordelikhede in ’n Christengemeente het, moet nooit die indruk gee dat hy te besig is om na sy kinders te luister nie. Selfs al is dit dalk ontstellend om te hoor wat hulle sê, moet jy hulle deur jou gesigsuitdrukkings en houding laat verstaan dat jy bly is hulle praat vryelik met jou. Een leerling het ouers aangeraai: “Moenie geskok wees wanneer jou kind oor dwelms of seks in die skool praat nie.”
Weens die verbrokkeling van gesinne is daar vandag baie wat “wese” genoem kan word (Job 24:3; 29:12; Psalm 146:9). In ’n Christengemeente is daar gewoonlik iemand wat ’n jongmens kan bystaan wat hulp nodig het. Is jy iemand wat dit kan doen?
Bevorder studie en verantwoordelikheid
Die meeste jongmense doen nie hulle skoolwerk met soveel toewyding soos Latoya wat in die inleiding gemeld is nie. Die meeste het baie aanmoediging nodig om te studeer. Die voormalige skoolkanselier van die stad New York, Joseph Fernandez, het aangaande sy eie kinders gesê: “Ons het verpligte studietye in die huis gehad. Ons het boeke beskikbaar gestel, besoeke aan die biblioteek aangemoedig en skoolbywoning en betrokkenheid voorkeur laat geniet.”
’n Ander administratiewe beampte by ’n skool het gesê: “Ons moet ons kinders met boeke en verhale omring soos ons hulle nou met televisie, rolprente, video’s en winkelsentrums omring.” Wanneer kinders hulle huiswerk doen, kan ouers moontlik reël om naby te wees en ’n bietjie persoonlike studie of leeswerk te doen. Sodoende kan jou kinders sien dat jy waarde aan onderrigting heg.
In baie huise bied die televisie die grootste uitdaging wanneer dit by studie kom. “Teen die ouderdom van 18”, het een opvoedkundige gesê, “het jongmense 11 000 uur in die klaskamer deurgebring en 22 000 uur televisie gekyk.” Ouers moet moontlik hulle kinders se TV-kykery beperk en dalk self net af en toe TV kyk. Daarbenewens moet julle julle daartoe verbind om iets saam met julle kinders te leer. Lees saam. Sit tyd opsy om elke dag huiswerk na te gaan.
In die skool sal jou kinders baie opdragte kry om voor te berei. Sal hulle dit doen? Hulle sal waarskynlik as jy hulle geleer het om na verantwoordelikhede by die huis om te sien. ’n Belangrike manier om dit te doen, is om hulle daaglikse werkies te gee. Dan moet jy vereis dat hulle dit volgens ’n spesifieke rooster doen. Sulke opleiding sal weliswaar baie inspanning van jou kant verg, maar dit sal jou kinders die verantwoordelikheidsbesef leer wat hulle nodig het om in die skool en later in die lewe welslae te behaal.
’n Leerling se toewyding, ’n belangrike sleutel
Die voorligter Arthur Kirson het ’n ander sleutel tot ’n goeie skoolopleiding geïdentifiseer toe hy oor Latoya, wat aan die begin gemeld is, gesê het: “Die eerste keer wat ek haar ontmoet het, was ná een van die groot voorvalle by die huis. Hier sit hierdie kind met ’n gesig vol skrape [weens die beweerde mishandeling deur haar vader]. En die enigste ding waaroor ek haar al ooit bekommerd gesien het, is haar skoolwerk.”
Ja, ’n noodsaaklike sleutel tot ’n goeie skoolopleiding is dat ’n kind werklik met toewyding moet leer. ’n Jeugdige van die stad New York het gesê: “In die skole berus dit deesdae heeltemal by die leerlinge om selfmotivering en dissipline aan te kweek sodat hulle baat kan vind.”
’n Onderwyser het byvoorbeeld vir ’n moeder wat oor haar kind se skoolopleiding bekommerd was, gesê: “Moenie bekommerd wees nie, mev. Smith. Justin is so slim dat hy nie sal hoef te weet hoe om te spel nie. Hy sal ’n sekretaresse dit vir hom laat doen.” Ongeag hoe slim ’n kind is, dit is belangrik om lees- en skryfvaardighede te bemeester—wat duidelike komposisie, leesbare skrif en juiste spelling insluit.
Dit is skokkend dat party opvoedkundiges nie beswaar gemaak het nie toe die beroemde sielkundige Carl Rogers gesê het: “Niemand moet ooit iets probeer leer waarvan hy nie die toepaslikheid sien nie.” Wat is met sy stelling verkeerd? Dit behoort duidelik te wees dat ’n kind dikwels nie die toekomstige waarde van wat hy gevra word om te leer vooruit kan sien nie. In baie gevalle besef hy eers later in die lewe wat die waarde daarvan is. Dit is duidelik dat ’n kind vandag self toegewyd moet wees om ’n goeie skoolopleiding te kry!
Cindy, ’n 14-jarige standerdseweleerling, is ’n goeie voorbeeld van ’n jeugdige wat sulke toewyding aan die dag lê. Sy het verduidelik: “Ek bly ná skool en gesels met die onderwysers en leer hulle ken. Ek probeer bepaal wat hulle van hulle leerlinge verlang.” Sy let ook in die klas op en gee haar huiswerk voorkeur. Suksesvolle leerlinge maak ’n gewoonte daarvan om ’n potlood en papier byderhand te hê wanneer hulle in die klas luister of wanneer hulle lees sodat hulle goeie aantekeninge kan maak.
As ’n mens ’n goeie skoolopleiding wil kry, is dit ook noodsaaklik dat jy jou daarop toelê om slegte omgang te vermy. Cindy het vertel: “Ek soek altyd iemand wat goeie sedes het. Ek sal my skoolmaats byvoorbeeld vra wat hulle daarvan dink dat so-en-so dwelms gebruik of rondslaap. As hulle iets sê soos: ‘Wat is daarmee verkeerd?’ besef ek dat hulle nie goeie omgang is nie. Maar as iemand ’n werklike afkeer toon van sulke gedrag en sê dat sy anders wil wees, dan sal ek etenstyd langs haar gaan sit.”
Daar is beslis baie uitdagings daarby betrokke om vandag ’n goeie skoolopleiding te kry. Maar so ’n skoolopleiding is moontlik as leerlinge sowel as ouers die sleutels gebruik. Ons sal vervolgens ’n ander voorsiening bespreek wat jou geweldig kan help om ’n goeie skoolopleiding te verkry.
[Venster op bladsy 7]
Verwenning of liefdevolle dissipline?
Die Bybel waarsku dat die verwenning van jongmense tot rampspoed lei (Spreuke 29:21). In ooreenstemming hiermee het Albert Shanker, die president van die Amerikaanse Federasie van Onderwysers, gesê: “Daar is ouers wat dink dat hulle alles reg doen vir hulle kinders as hulle alles doen soos die kinders wil hê hulle dit moet doen. En ons weet dat dit verkeerd is.”
Selfs baie jongmense weet dat sulke verwenning verkeerd is. Vroeër vanjaar het ’n koerant van Massachusetts berig: “’n Opname onder 1572 West Springfield-leerlinge in standerd vier tot tien het bevind dat ‘ouerlike permissiwiteit’, en nie portuurdwang nie, ’n betekenisvoller invloed is wanneer dit by dwelm- en alkoholgebruik onder kinders in hierdie ouderdomsgroep kom.”
Sulke verwenning van jongmense het ook tot ’n epidemie van seksuele promiskuïteit bygedra. As dissipline nie uitgeoefen word nie, lei dit inderdaad, soos die Bybel sê, tot skande vir die gesin.—Spreuke 29:15.
[Venster op bladsy 10]
Wat ouers kan doen
✔ Leer ken jou kind se skool, die doelwitte daarvan en die gesindheid daarvan teenoor jou waardes en oortuiging.
✔ Maak kennis met jou kind se onderwysers en probeer om ’n goeie samewerkende verhouding met hulle op te bou.
✔ Stel opreg belang in jou kind se huiswerk. Lees dikwels saam met hom.
✔ Hou toesig oor dit waarna jou kind op TV kyk en hoeveel hy kyk.
✔ Let op jou kind se eetgewoontes. Gemorskos kan ’n nadelige uitwerking op sy konsentrasievermoë hê.
✔ Maak seker dat jou kind genoeg slaap kry. Moeë kinders leer nie goed nie.
✔ Probeer jou kind help om vriende te kies wat ’n heilsame invloed op hom sal hê.
✔ Wees jou kind se beste vriend. Hy het al die volwasse vriende nodig wat hy kan kry.
Wat kinders kan doen
✔ Bepaal, met jou ouers se hulp, opvoedkundige doelwitte en hoe om hulle te bereik. Bespreek hierdie doelwitte met jou onderwysers.
✔ Kies jou vakke sorgvuldig met jou onderwysers en ouers se hulp. Keusevakke wat maklik is, is gewoonlik nie die beste nie.
✔ Probeer om ’n goeie verhouding met jou onderwysers op te bou. Vind uit wat hulle van jou verwag. Bespreek jou vordering en probleme met hulle.
✔ Let goed op in die klas. Moenie by ontwrigtende gedrag betrokke raak nie.
✔ Kies jou vriende verstandig. Hulle kan jou vordering op skool aanhelp of verhinder.
✔Doen jou huiswerk en opdragte so goed moontlik. Bestee kwaliteitstyd daaraan. Vra jou ouers of ’n ander ryp volwassene om hulp as jy dit nodig het.
[Prent op bladsy 8]
Luister eerbiedig as ’n onderwyser klagtes oor jou kind het
[Prent op bladsy 9]
Vra jou kind elke dag uit oor die skool