Ons beskou die wêreld
Waarom kinders toegee aan dwelms
“Hoe kan ons verhoed dat ons kinders by dwelms en alkohol betrokke raak, en waarom vind sommige kinders dit makliker as ander om ‘net nee te sê’?” Hierdie vrae is onlangs in die tydskrif Parents geopper, wat ’n paar moontlike antwoorde gekry het in ’n studie wat deur navorsers aan die Universiteit van Arizona, VSA, onderneem is. Die studie het bykans 1 200 kinders in standerd vier en vyf bestudeer en dit op tien verskillende risikofaktore toegespits wat kinders vermoedelik beïnvloed om dwelms en alkohol te misbruik. Die twee vernaamste faktore was “vatbaarheid vir portuurdwang en vriende wat alkohol of dwelms gebruik het”. Daarenteen het die studie bevind dat akademiese prestasie ’n voorkomende rol kan speel—moontlik omdat dit ’n gevoel van eiewaarde verhoog en selde vriendskap met verslaafdes bevorder.
Beheptheid met gruwels
“Tieners is verslaaf aan gruwels”, berig The Globe and Mail van Kanada. Die nuusblad sê dat “daar gruwelruilkaarte, -prentboeke, -kunswerke, -rolprente en selfs gruwelmusiek is, en dit alles is vandag gewild onder tienergroepe”. Om in so ’n skokkende leessmaak te voorsien, het een uitgewer die produksie van gruwelboeke vir tieners verhoog van vier per jaar tot een per maand. Ander gee twee gruwelboeke per maand uit. Waarom so ’n beheptheid met gruwels? “Vanuit ’n geskiedkundige oogpunt beskou, was gruwels nog altyd gewild wanneer daar ’n gevoel van onbehaaglikheid of ongelukkigheid is”, was die skrywer Shawn Ryan se mening. Volgens The Globe het mnr. Ryan gesê: “In die negentigerjare is ons klaarblyklik ontevrede met regerings, ongelukkig en bang vir misdaad. Dít is die tye wanneer gruwels goed vaar.”
Was hande deeglik
Dokters sê dat die eenvoudige gebruik om jou hande te was, “help om van kieme en virusse ontslae te raak wat verkoues, griep, seerkeel, maagkwale en ernstiger ongesteldhede veroorsaak”, berig The Toronto Star. Die nuusblad voeg by: “Een . . . studie deur die epidemioloog dr. Julio Soto van Montreal wys dat die deeglike was van hande die verspreiding van aansteeklike virus- en bakteriesiektes grootliks kan verminder—met tot 54 persent by asemhalingsiektes en 72 persent by diarreegevalle.” Volgens die Kanadese Pediatriese Vereniging moet ’n mens, as jy jou hande deeglik wil was, hulle onder lopende water natmaak, 30 tellings met seep skrop, 5 tellings onder lopende water afspoel en hulle, laastens, met ’n skoon, ongebruikte handdoek, ’n papierhanddoek of onder ’n warmlugdroër droogmaak. Mense wat voedsel in restaurante, by voedselstalletjies en eetplekke in winkelsentrums hanteer, moet veral sorgvuldig daarop let dat hulle hulle hande was.
Benarde toestand van die armes
Regoor die wêreld verkeer plattelandse armes in groot nood, aldus die Wêreldspitsberaad vir Maatskaplike Ontwikkeling, ’n konferensie wat onlangs deur die VN in Kopenhagen, Denemarke, gehou is. By die spitsberaad is daar berig dat meer as ’n miljard mense in volslae armoede leef en dat meer as die helfte van hulle elke dag honger is. Werkloosheid dra tot hierdie probleem by. Daar word geskat dat daar tot 800 miljoen mense is wat werkloos is of nie geskikte werk het nie. Altesaam sowat 30 persent van die wêreld se bruikbare arbeidskragte word nie doeltreffend benut nie. Vanaf 1,1 miljard tot 1,3 miljard mense lewe op ’n inkomste van minder as R3,50 per dag. Ongeletterdheid, wat beslis die probleem vererger, is tans die lot van ongeveer 905 miljoen mense. Hulle getalle neem nie gou af nie; 130 miljoen kinders van skoolgaande ouderdom gaan nie skool toe nie, en daar word verwag dat hulle getalle teen die jaar 2000 tot 144 miljoen sal styg.
Gevolge van dronkenskap op kampus
Volgens U.S.News & World Report eis drinkpartye onder studente deesdae ’n hoë tol—selfs onder dié wat nie daaraan deelneem nie. Die tydskrif het die uitslag van ’n studie van 140 kampusse, wat in The Journal of the American Medical Association gepubliseer is, opgesom en berig dat 44 persent van die studente onder wie die opname gemaak is strawwe drinkers was—dit beteken dat die mans die een of ander tyd gedurende die voorafgaande twee weke vyf drankies na mekaar gedrink het en die vroue vier. Negentien persent was gereelde strawwe drinkers; hulle het hulle ten minste drie keer gedurende dieselfde tydperk aan drank vergryp. ’n Groot persentasie van die strawwe drinkers het die verwagte gevolge gely—hulle was babbelas, het onbeplande geslagsomgang gehad, klasse oorgeslaan, beserings opgedoen, eiendom beskadig, ensovoorts. Maar ander studente het ook gely. By kolleges waar strawwe drinkery algemeen was, het 9 uit 10 studente voor sommige van die probleme te staan gekom wat deur ander se drinkery veroorsaak word, soos ongewenste seksuele toenadering, beskadiging van eiendom, onderbroke slaap en vernederende beledigings.
Vergiftigde grond in Brittanje
Brittanje se Ministerie van Verdediging het onlangs erken dat dit ’n aantal stukke grond besit wat só deur wapentuig besoedel is dat die eiendomme nooit verkoop kan word nie, het die tydskrif New Scientist berig. Die Ministerie besit 3 400 grondeiendomme in Brittanje, wat altesaam 242 000 hektaar beslaan. Twee derdes van die eiendomme word as opleidingsterreine en skietbane gebruik. As gevolg van besnoeiings in die militêre begroting is die Ministerie verplig om van hierdie grond te verkoop, maar hulle weet blykbaar nie hoeveel van die eiendomme té besoedel is vir mense om op te woon nie. Hulle meen dat ten minste agt van die eiendomme met radioaktiwiteit besmet is as gevolg van glimverf wat vroeër in militêre kompasse en instrumentpanele gebruik is. Baie skietbane is bestrooi met gevaarlike ammunisie wat nie ontplof het nie. En ten minste een stuk grond is vermoedelik besmet met mosterdgas afkomstig van krygstuig uit die Eerste Wêreldoorlog wat in 1918 nie behoorlik weggedoen is nie.
Verkeersligte vir diere?
Diere wat paaie oorsteek, is lank reeds ’n potensiële gevaar vir motoriste sowel as vir diere. Die Franse natuurtydskrif Terre Sauvage berig dat tegnikusse van die Franse Nasionale Bosbouburo ’n verbasende ontdekking gedoen het as gevolg van die talle ongelukke wat deur diere veroorsaak word wat snags bospaaie oorsteek. Diere stop vir rooi ligte! Eksperimente het getoon dat die frekwensie van rooi lig diere tydelik laat versteen. Rooi weerkaatsers wat die lig van aankomende motors se koplampe opvang, is nou langs die bospaaie in Frankryk aangebring, maar in plaas daarvan dat die lig na die motoriste weerkaats word, word dit in die bos in weerkaats. Die diere wag nou vir die lig om te verdwyn voordat hulle oor die pad spring.
Vigs-weeskinders van Roemenië
In Roemenië is 93 persent van al die gevalle van HIV-besmetting wat tot vigs lei onder kinders jonger as 12 jaar, skryf die verslaggeefster Roxana Dascalu vir Reuters-nuusdiens. Volgens haar word die meeste van die HIV-positiewe kinders in Europa in die hawestad Constantsa aangetref, waar daar 1 200 sulke kinders was, waarvan 420 reeds gesterf het. Na bewering is die helfte van hierdie kinders voor die val van die vorige bewind in 1989 deur bloedoortappings en onsteriele spuitnaalde besmet. Baie van die vigs-besmette bloed is deur verarmde matrose verkoop en het reguit na hospitale en weeshuise gegaan. Die berig sê dat sukses in inrigtings waar HIV-besmette kinders versorg word “nie gemeet word aan oorlewingsyfers nie, maar aan die wyse waarop die kinders hulle laaste dae deurbring en hoe hulle die dood tegemoetgaan”. ’n Werkster by so ’n inrigting sê: “Ons laat nie toe dat die kinders alleen in hulle bed sterf nie. ’n Verpleegster neem hulle in haar arms, gaan sit in hierdie wiegstoel en wieg hulle.”
Nuwe hoop vir onvrugbare paartjies?
’n Nuwe mediese tegniek help onvrugbare paartjies om hulle steriliteit te oorkom, berig die Franse nuusagentskap France-Presse. Die tegniek, waarvan die baanbrekerswerk in Denemarke gedoen is, behels die gebruik van ’n baie fyn glasnaald om ’n enkele manlike sperm op ’n eiersel binne die vrou te plaas. Alhoewel hierdie tegniek presiesheid en groot vaardigheid vereis (’n sperm is net twee duisendstes van ’n millimeter; ’n eiersel is een tiende van ’n millimeter), is daar sukses met hierdie metode behaal. Dit het die bykomende voordeel dat dit binne die vrou se liggaam plaasvind en haar man se sperm gebruik en nie dié van ’n naamlose skenker nie—dus word sensitiewe sedelike en godsdienstige kwessies uitgeskakel. Omdat swak sperma die oorsaak van steriliteit by ’n derde van alle onvrugbare paartjies is, meen ’n dokter wat hierdie tegniek gebruik dat baie paartjies nou hernieude hoop kan hê om ’n gesin te begin.