Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 4/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Unitariërs keur homoseksuele huwelike goed
  • Baba se geslag vooraf bepaal
  • Skadelike babataal
  • China moet waterbesoedeling verminder
  • “Heilige” terroriste
  • Soogdiere meer bedreig as voëls
  • ’n Leesprogram help misdaad verminder
  • Die Olimpiese Spele en armoede
  • Uitgerekte koffiepouses
  • Hitteproduserende plante
  • Evangeliesgesindes erken tekortkomings
  • Die koffiedilemma
    Ontwaak!—1991
  • Bedreigde spesies—die omvang van die probleem
    Ontwaak!—1996
  • Koffie van gehalte—van die plant na jou koppie
    Ontwaak!—1999
  • Kona-koffie—’n Genot vir die fynproewer
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 4/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Unitariërs keur homoseksuele huwelike goed

Die Unitariese Kerk het die eerste Amerikaanse kerkgenootskap geword om huwelike tussen dieselfde geslag amptelik goed te keur, sê die Christian Century. Afgevaardigdes wat die godsdiensgroep se jaarvergadering bygewoon het, het oorweldigend daarvoor gestem om “die waarde van ’n huwelik tussen twee persone” wat aan mekaar verbonde is te ondersteun. Die godsdienstydskrif sê dat “elkeen van die kerk se 1040 gemeentes, onder die kerkwet, self kan besluit of hulle die huwelik van homoseksuele en lesbiese paartjies sal goedkeur en of hulle sulke huwelike sal voltrek”.

Baba se geslag vooraf bepaal

Volgens die tydskrif Popular Science “is dit nou moontlik om ’n baba se geslag vooraf te bepaal deur die vader se sperma te sorteer, aangesien die soort sperma die geslag bepaal”. Eers word die sperma met ’n fluoorkleurstof gekleur. Dan word ’n laserstraal gebruik om (vroulike) X-sperma en (manlike) Y-sperma te identifiseer. ’n Rekenaar lees die verskil, en ’n laboratoriumapparaat wat gewoonlik ‘vir bloedtoetse gebruik word, gee ’n positiewe elektriese lading aan die X-sperma en ’n negatiewe lading aan die Y-sperma. Sperma word dan gesorteer deur van poolklemme met die teenoorgestelde lading gebruik te maak om hulle aan te trek.’ Volgens die wetenskaplike wat die tegniek oorspronklik vir die veebedryf ontwikkel het, is die sortering ongeveer 90 persent akkuraat. Daarna word die uitgesoekte sperma gebruik om eierselle te bevrug, en “embrio’s van die regte geslag word dan in die baarmoeder ingeplant”. Maar tot dusver is net een baba as gevolg van hierdie proses gebore.

Skadelike babataal

Kinders se vroeë pogings om te praat, is dikwels vir mense oulik, en baie ouers reageer liefdevol hierop deur self babataal te praat. Maar dit kan kinders se spraakontwikkeling belemmer, skryf die Brasiliaanse spraakspesialis Eliane Regina Carrasco in die tydskrif Veja. Wanneer ouers ’n kind se verkeerde uitspraak herhaal, “versterk [dit] ’n verkeerde patroon”, sê Eliane. Sy sê dat dit spraakprobleme kan veroorsaak. Dit kan ook ’n kind se sosiale verhoudings beïnvloed, sê sy voorts. “Sulke kinders sonder hulle dikwels af, word skugter en onseker, en vermy situasies waarin hulle hulle [aan bespotting] moet blootstel.” Eliane wys daarop dat dit normaal is vir klein kindertjies om woorde verkeerd uit te spreek en dat dit nie nodig is om hulle voortdurend reg te help nie. Maar dit is belangrik om op die regte manier met hulle te praat en te onthou dat “hulle intelligent is en die vermoë het om te leer”.

China moet waterbesoedeling verminder

“Waterbesoedeling is ’n ontsaglike probleem in China, en om waterbesoedeling te verminder, is ’n dringende taak”, sê ’n woordvoerder vir China se Nasionale Omgewingsbeskermingsagentskap. Die Chinese regering doen gevolglik stappe om waterbesoedeling in China se riviere en mere wat die ergste besoedel is te verminder, sê die tydskrif China Today. Om te voorkom dat afval in een van die land se mees besoedelde riviere, die Huaihe, beland, het die regering “999 klein papierfabrieke in die Huaihe-vallei toegemaak”. Ongeveer 154 miljoen mense woon in die Huaihe-vallei, wat een van China se vernaamste graan- en energieproduserende streke is.

“Heilige” terroriste

In ’n poging om “as die nasionale kerk herstel te word”, het die Roemeens-Ortodokse Kerk “’n verraderlike veldtog van swartsmeerdery teenoor ander kerke van stapel gestuur”, sê die tydskrif Compass Direct in ’n artikel deur Willy Fautré. Fautré sê voorts: “Hooggeplaastes en plaaslike priesters van die Ortodokse Kerk in Roemenië” het ’n aantal groepe op die been gebring om “godsdiensminderheidsgroepe te terroriseer en hulle hulle basiese godsdiensregte te ontsê”. Die Aartsbiskop van Suceava en Radauti het evangeliese radio-omroepers “skenders van ons voorvaders se geloof” genoem en aan die president van die liggaam wat radio- en televisie-uitsendings in Roemenië beheer, geskryf en gesê: “Ons smeek u om hulle te keer of om perke te stel, want hulle is skaamteloos en hulle is openlik daarop uit om in ons eie vaderland proseliete te maak.”

Soogdiere meer bedreig as voëls

“Soogdiere loop selfs groter gevaar om uitgewis te word as voëls”, sê die tydskrif New Scientist. Hierdie bevindinge, gebaseer op syfers wat deur die Wêreldbewaringsunie se Rooi Lys bekend gemaak is, toon dat, terwyl wêreldwye uitwissing 11 persent van die voëlspesies in die gesig staar, word 25 persent van alle soogdierspesies tans bedreig. Primate is die mees bedreigde groep, met 46 persent van die spesies wat met uitwissing bedreig word. Volgende is insekvreters met 36 persent en dan varke en wildsbokke met 33 persent. Die mees bedreigde voëlgroep is die kraanvoël, waarvan 26 persent van die spesies voor uitwissing te staan gekom het. Een rede waarom soogdiere vinniger minder word, is omdat hulle, anders as voëls, nie maklik na ’n ander gebied kan trek wanneer hulle habitat verdwyn nie.

’n Leesprogram help misdaad verminder

In Bradford, Engeland, lewer ’n staatsondersteunde program wat ontwikkel is om skoolkinders se leesvermoë te verbeter dramatiese resultate, sê die Britse koerant The Independent. Nie alleen het die leesprogram leesvaardighede help verbeter nie, maar ook die erkenning gekry dat dit misdaad help verminder het! “Ons het ’n direkte verband gesien tussen die getal jongmense wat by huise inbreek en die getal kinders wat stokkiesdraai”, sê John Watson, hoof van die Lees Beter-vennootskap. “As kinders kan lees, sal hulle waarskynlik meer belangstel in wat by die skool aangaan en minder geneig wees om stokkies te draai. Omdat hulle van die strate af is, is dit minder waarskynlik dat hulle by huise sal inbreek.”

Die Olimpiese Spele en armoede

“Die aantal medaljes wat deur sommige lande by die Olimpiese Spele gewen is en die hoeveelheid geld wat op fasiliteite en maatskappyborgskappe by die spele bestee is, laat vrae ontstaan oor die mate waartoe die wêreld hom daartoe verbind het om ’n einde aan armoede te maak”, sê die ENI Bulletin, van Switserland. “Dit beteken nie dat ons nie aan voortreflikheid erkenning moet gee nie of uitsonderlike prestasies van menslike vernuf en volharding moet prys nie”, sê Greg Foot, van Australië se World Vision-agentskap. “Maar”, voeg hy by, “ons moet ons afvra of ons heeltemal gebalanseerd is wanneer ons soveel daaraan bestee om die dieet van ons topatlete te vervolmaak terwyl miljoene van ons bure skaars genoeg voedsel het om te kan loop.” Na raming het daar gedurende die twee weke waartydens die Olimpiese Spele in Atlanta gehou is wêreldwyd 490 000 kinders van honger en aan voorkombare siektes gesterf.

Uitgerekte koffiepouses

Party werknemers ontsien geen moeite vir ’n koppie koffie in die middel van die oggend nie. Trouens, baie verlaat die werksplek heeltemal. Met koffiekroeë wat keurkoffies aanbied, haas werkers hulle uit die kantoor om hulle gunstelingkoffievermenging te kry. Gevolglik “word die koffiepouse die koffieontvlugting”, sê The Wall Street Journal. Maar werkgewers bekommer hulle oor die duur van uitstappies na plaaslike koffiehuise. In ’n poging om die stroom verdwynende koffieliefhebbers te stuit, sê die Journal, baklei party sakeondernemings terug deur hulle eie cappucino-masjiene te installeer.

Hitteproduserende plante

Twee Australiese navorsers het gevind dat lotusblomme die verstommende vermoë het om hulle eie temperatuur te reguleer. Voorheen is daar gemeen dat slegs warmbloedige diere hierdie vermoë besit. In die Adelaide- Botaniese Tuine, waar dr. Roger Seymour en dr. Paul Schultze-Motel werk, het hulle sensors aan lotusblomme geheg om hulle temperatuur en ander fisiese kenmerke op te teken. Wat het hulle gevind? Selfs wanneer die lugtemperatuur tot 10 grade gedaal het, het die lotusblomme se temperatuur tussen 30 en 35 grade Celsius gebly. Navorsers het nog nie ’n verduideliking vir hierdie verskynsel gevind nie. Maar volgens The New York Times het dr. Hanna Skubatz, ’n plant-biochemikus aan die Universiteit van Washington, VSA, gesê dat “hitteprodusering [onder plante] dalk, in werklikheid, algemeen is, en net moeilik is om waar te neem”.

Evangeliesgesindes erken tekortkomings

“Die evangeliesgesinde wêreld van vandag is besig om sy getrouheid aan die Bybel, sedelike riglyne en sendingywer te verloor”, sê die “Cambridge-verklaring van die Vereniging vir Verklaarde Evangeliesgesindes”. Waarvandaan het hierdie skerp kritiek gekom? Dalk ’n mededingende kerkgroep? Nee, dit het van die evangeliesgesindes self gekom. Die dokument is uitgereik deur meer as 100 evangeliesgesinde leiers wat onlangs in Cambridge, Massachusetts, bymekaargekom het. Die skrywers van die dokument het erken dat hulle en die godsdiensleiers “berou [moes] toon vir hulle gewilligheid om deur die norme van ’n algemeen aanvaarde kultuur oorheers te word”. Die dokument het ook erken dat “terapeutiese metodes, bemarkingstrategieë en die dryfkrag van die vermaaklikheidswêreld dikwels veel meer te sê het oor wat die kerk wil hê, hoe dit funksioneer en wat dit aanbied, as wat die Woord van God sê”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel