Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 10/8 bl. 16-20
  • Die Iditarod—Tien eeue om gevestig te raak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Iditarod—Tien eeue om gevestig te raak
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hondesleetradisie
  • Hedendaagse sleehondwedrenne ontstaan
  • Die Nome-serumkrisis van 1925
  • Leierhonde
  • Die Alaskaanse sleehond
  • Vier klasse honde
  • Die einde
  • Is kinders veilig by jou hond?
    Ontwaak!—1997
  • Hoe om jou hond op te lei
    Ontwaak!—2004
  • Die hond se reuksintuig
    Is dit ontwerp?
  • Geliefde troeteldier of wrede aanvaller?
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 10/8 bl. 16-20

Die Iditarod—Tien eeue om gevestig te raak

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ALASKA

ONS rek ons nek en kyk in die dorp se hoofstraat af. Hier is ’n skare mense, asook mediakameras en -toerusting. Ons almal kyk na die onderent van die straat. Ons wag hier by die eindstreep in Nome, Alaska, om te sien wie die wenner van “Die Iditarod—die laaste groot wedren” gaan wees.

Die wêreld se bekendste sleehondwedren, van ongeveer 1 800 kilometer, het toe meer as tien dae geduur. Die tyd wat verlede jaar aangeteken is, was ’n paar uur meer as nege dae. Aangesien die eerste 24 uur van die wedren, wat ’n seremoniële begin was, vanjaar nie by die amptelike tyd getel word nie, kan die tye nie met mekaar vergelyk word nie. Tientalle sleejokkies (Engels mushers) uit verskeie lande het vir die wedren ingeskryf, selfs veterane van ander wedrenne.

Stel jou voor dat jy ongeveer tien dae of meer, meestal alleen, in ’n onherbergsame wildernis moet deurbring. Jy gaan oor bergpasse; deur ysige klowe; oor toendras; breë verysde rivierhoofweë en ongelyke seeys en verduur temperature onder vriespunt terwyl jy na jou bestemming hier in Nome voortbeweeg.

Ons sien die opwinding wat deur hierdie vertoon van moed en samewerking tussen mens en dier teweeggebring word, en ons wonder: ‘Waar het dit alles begin?’

Hondesleetradisie

Waar kom die Engelse woorde mushing en musher vandaan? Hierdie terme het ontstaan toe mense hulle in die Kanadese Noordweste gevestig het. Die Frans-Kanadese hondeslee-ryers het geskreeu: “Ma-a-r-r-che!” Die woord het vir die Engelse setlaars in Kanada soos “Mush!” geklink. ’n Hondeslee-ryer het toe as ’n musher bekend geword.

Hoewel hedendaagse sleehondwedrenne ’n betreklik nuwe tydverdryf is, word sleehonde al ten minste duisend jaar lank gebruik. Oorspronklik is honde en sleë hoofsaaklik gebruik om goedere oor die sneeubedekte, barre noordelike gedeeltes van die aarde te vervoer. Die eerste geskrewe verslag van honde wat gebruik is om sleë te trek, word in Arabiese letterkunde gevind wat uit die tiende eeu dateer. Party kenners dink dat dit die Tsjoektsje-mense van Siberië was wat heel eerste op hond en slee staatgemaak het.

Goud het die weg vir die oorspronklike Iditarod-roete gebaan. In 1908 is goud in ’n gebied gevind waar Atapaske-Indiane kariboe gejag het. Hulle het hierdie gebied Haiditarod genoem, wat “die afgeleë plek” beteken, en later is dit na Iditarod verengels. Gevolglik het ’n 1800 kilometer lange roete na Nome ontstaan wat deur die dorp Iditarod loop. Mettertyd het dit as die Iditarod-roete bekend geword.

Gedurende die goudstormloop in Alaska en Kanada het hondesleë toerusting, pos en goud deur die ontsaglike wildernis vervoer. Een verslag sê dat vier hondespanne laat in 1911 1 200 kilogram goud in een vrag met die Iditarod-roete langs vervoer het en op 10 Januarie 1912 in Knik, Alaska, aangekom het.

Hedendaagse sleehondwedrenne ontstaan

In die goudstormloopera, toe daar so baie hondespanne was, het honde-eienaars oor die algemeen gedink dat hulle span of leierhond moontlik die sterkste, die vinnigste of die slimste was. Gevolglik het daar dikwels kompetisies plaasgevind. Toe, in 1908, is die eerste georganiseerde sleehondwedren in Nome gehou, die All-Alaska Sweepstakes. Hierdie voorloper van hedendaagse sleehondwedrenne het daardie sleejokkies vir ’n ander wedloop voorberei—nie om ’n prys van goud te wen nie, maar om lewens te red.

Die Nome-serumkrisis van 1925

Die historiese Nome-serumkrisis was ’n sleehondwedloop met die dood. In Januarie 1925 het witseerkeel in Nome uitgebreek. Weens die gevaar van ’n epidemie moes ’n voorraad serum Nome spoedig bereik. ’n Aflosspan van 20 sleeryers en hulle spanne is byeengekry. Die eerste span het uit Nenana vertrek terwyl die temperatuur op minus 46 grade Celsius gestaan het en het sodoende ’n aflos tussen dorpe begin wat meestal 50 tot 80 kilometer uitmekaar was. Die grootste gedeelte is in die donker afgelê, aangesien die Arktiese daglig gedurende daardie tyd van die jaar net drie of vier uur lank is.

Die meer as 1 080 kilometer na Nome is binne 5 1/3 dae afgelê—’n afstand wat gewoonlik 25 dae geneem het. Die sleeryers het deur hewige sneeustorms met aanvoelbare temperature van minus 57 grade Celsius of laer gery. Dit was so ’n groot prestasie dat die Amerikaanse president Calvin Coolidge aan elke deelnemer ’n medalje en sertifikaat uitgereik het.

Leierhonde

Die leierhond van ’n span is baie belangrik. Baie min honde kan ’n leier wees. Jy moet onthou dat die leierhond, na gelang van die aantal honde in ’n span, van 15 tot 20 meter of selfs meer voor die sleejokkie kan wees. In die donker of in witsigtoestande of wanneer hulle om draaie gaan, sien die sleejokkie die leierhond dalk glad nie. Sonder die hulp van sy baas moet hierdie hond dus die pad uitsnuffel en dit volg of die veiligste roete kies en van tyd tot tyd ander keuses maak.

Verlede jaar kon die sleejokkie DeeDee Jonrowe van Alaska, wat die vorige jaar tweede geëindig het, nie haar betroubaarste leierhond, Barkley, gebruik nie. Dit was ’n ernstige terugslag vir haar span. Twee jaar gelede moes Lavon Barve, wat al tien keer aan die Iditarod deelgeneem het, hom 369 kilometer voor Nome aan die wedren onttrek omdat hy hees was van bevele skreeu aan sy twee onervare leierhonde.

Om die leierhond so te prys, beteken nie dat die sleejokkie niks doen om sy span te lei nie. Inteendeel, hy is beslis in beheer en gee die leiding deur bevele uit te skreeu: “gee” (regs), “haw” (links) of “whoa” (stop). Die “mush” van die verlede is oor die algemeen vervang met die gewone voetbalterm “hike” (hardloop) of bloot “let’s go” (laat ons gaan). Hierdie of soortgelyke frases bring die span in beweging en sê vir hulle wat om te doen. Sulke bevele, asook ’n taamlik indrukwekkende sneeuhaak, ’n soort anker wat in die sneeu ingedruk word om te keer dat oorywerige honde voor die tyd begin, hou die span gewoonlik onder beheer.

Die woord “gewoonlik” word hier gebruik omdat die sleejokkie Mark Nordman van Minnesota dalk ’n bietjie sal stry oor die betroubaarheid van leierhonde of oor die span se gehoorsaamheid aan bevele. In ’n onlangse wedren het hy, net voor ’n kontrolepunt, sy span laat stilstaan om ’n paar geknoopte toue reg te maak. Terwyl hy daaraan gewerk het, het die honde in die toue verstrengel geraak en die spankabel, die metaalsleepkabel wat van die slee af kom en waaraan elke hond vasgemaak is, laat loskom, en die honde het begin hardloop. Terwyl die span begin weghardloop het, het Mark geduik en die kabel net agter die laaste honde gevang. (Om jou span in die wildernis te verloor, kan ’n baie ernstige saak wees.) Die volgende halwe kilometer was hy ’n sneeuploeg en waterskiër terwyl sy span hom deur sneeubanke en water gesleep het. Sy parka het water geskep en ys het onder sy ken opgehoop terwyl hy agter sy span aan gegly het en die hele tyd bevele geskreeu het om hulle te laat stop. Die honde het uiteindelik geluister, en hy het teruggeloop om sy verlate slee te gaan haal. Dis nou vir jou leierhondgehoorsaamheid!

Maar daar is omstandighede wanneer ’n leierhond se betroubaarheid ’n gelukkiger einde het. Gedurende die Iditarod kan daar nie baie geslaap word nie. Wanneer die roete reguit en plat is, is daar tye wanneer die sleejokkie die span aan die leierhond kan oorlaat terwyl die sleejokkie in die slee dut. Die honde draf die hele tyd flink voort na hulle bestemming, Nome.

Op ’n goeie roete kan ’n span soms maklik tussen 18 en 19 kilometer per uur draf of vir korter tye teen 30 kilometer per uur hardloop. Die gemiddelde spoed is baie laer, maar hulle lê dikwels 160 kilometer in ’n dag af. Een kampioenspan se gemiddelde spoed gedurende die volle tiendagwedren was sewe kilometer per uur.

Die Alaskaanse sleehond

Party wonder of die sleehonde nie dalk mishandel word en deur die mens uitgebuit word nie. Aangesien die mens diere soms wel mishandel, is dit nie onredelik dat party hieroor bekommerd is nie.

Dit lyk tog of die sleehonde graag wil deelneem, want by die beginpunt hoor jy net honde blaf—elke hond toon hierdeur dat hy gretig is om in die wedren te hardloop. Party honde is so gretig om te hardloop dat een span van tien met soveel krag aan hulle tuig getrek het dat hulle die bakkie gesleep het waaraan hulle vasgemaak was—en die bakkie was in rat met die handrem aan!

Die sleejokkies is baie besorg oor die welstand van hulle diere. By rusplekke word baie van die tyd daaraan bestee om kos vir die honde voor te berei en strooi uit te sprei om hulle warm te hou in hulle sneeubeddens, asook om hulle skoene, wat hulle pote beskerm, na te gaan en die pote wat snywonde het te versorg. Die sleejokkie op die Iditarod kry dalk net een en ’n half tot twee uur rus op ’n slag, hoewel daar een verpligte stop van 24 uur is waar sleejokkies ses of sewe uur rus kan kry. Die honde kry gelukkig meer rus as die sleejokkie.

Die praktiese reël waarby die sleejokkies hou, is dat ’n hond nie meer as sy eie gewig moet trek nie. Die gemiddelde Iditarod-slee, met inbegrip van die sleejokkie, weeg tussen 140 en 230 kilogram. As ’n jaer ’n span van 15 honde het, trek elkeen ongeveer 15 kilogram of minder, wat heelwat minder is as ’n hond se gemiddelde gewig van 25 kilogram. Daarbenewens ry die sleejokkie die meeste van die tyd nie op die slee nie. Hy hardloop eerder agterna en stoot die slee, moontlik om te help teen ’n opdraande of oor moeilike terrein.

Ten spyte van die versorging wat die sleejokkies hulle honde gee, is daar egter diegene wat sê dat die wedrenne party van die honde benadeel. ’n Brief aan The New York Times het gesê dat die Humanitêre Vereniging van die Verenigde State beweer het dat party van die honde nie die roete kan voltooi nie en dat party selfs doodgaan omdat hulle te hard gedryf word. Daar is gesê dat die hoë prysgeld wat deur maatskappyborge voorsien is in ’n groot mate hiervoor verantwoordelik is.

Vier klasse honde

Watter soort hond is dit wat die pas kan volhou en dit blykbaar kan geniet? Enige hond wat opgelei word om te trek, kan ’n sleehond wees. Maar die sleehond wat in Alaska aan die wedrenne deelneem, is gewoonlik een van vier hoofsoorte: die Alaskaanse Malemoet, die Siberiese huskie, die Alaskaanse huskie of die dorpshond, oftewel Indiaanse hond, aldus die skrywer Lorna Coppinger in haar boek The World of Sled Dogs.

1) Die Alaskaanse Malemoet is ’n afsonderlike inheemse ras van die Noordpool. Russiese ontdekkers het die Malemoet by die Innuït-inboorlingstam van Kotzebue-sont gevind, ’n volk wat toe as die Mahlemut of Malemiut bekend gestaan het. Hierdie hond is groot gebou en baie sterk. Gedurende die goudstormloopera het hierdie honde getoon dat hulle die besondere vermoë het om swaar vragte te vervoer. Hulle geweldige krag en uithouvermoë vergoed vir die feit dat hulle stadiger hardloop.

2) Die Siberiese huskie, wat dikwels ysblou oë het, word eweneens as ’n ras erken. Hy is klein, intelligent en vinnig en het baie kenmerkende vlekke. Hy is in 1909 na Alaska toe gebring deur ’n Russiese pelshandelaar wat sy span van tien Siberiese huskies in die tweede All-Alaska Sweepstakes ingeskryf het.

3) Die Alaskaanse huskie word nie as ’n ras beskou nie, maar mense erken tog dat hy uniek is en verskeie kenmerkende eienskappe het. Hy is ’n mengsel van noordelike honde, en sy naam is afgelei van ’n inboorlingwoord vir Eskimo—Huskie of Huski—wat “rouvleisvreter” beteken. Die naam pas hom nogal, aangesien die noordelike sleejokkies in die verlede grootliks op gedroogde vis staatgemaak het om hulle spanne te voer.

4) Die Indiaanse, of dorps-, hond, wat vandag die algemeenste Alaskaanse rensleehond is, is meestal nie raseg nie. Hy is die produk van jare lange selektiewe teling van die genepoel wat in die dorpsgebied beskikbaar is waar hy ontwikkel. Hierdie hond kan ’n kilometer in byna twee minute aflê en kan ’n wedren van 30 kilometer teen ’n snelheid van oor die 27 kilometer per uur voltooi en nog genoeg energie hê om gretig na môre se wedloop uit te sien. Hoewel hy vir party mense nie mooi is nie, is die hond, as hy goed hardloop, vir die sleejokkie pragtig.

Die einde

Die aankoms van die wenner beëindig nie die Iditarod nie. Dit sal dalk nog agt tot tien dae wees voordat die wedren amptelik verby is en die Rooi Lantern-toekenning aan die sleejokkie gegee word wat laaste oor die eindstreep kom. Die rooi lantern is ’n simbool wat uit die spoorweëdae kom toe ’n rooi lantern aan die einde van die trein, of die agterwa, gehang is.

As ons oor die Iditarod nadink, is ons beïndruk deur die spanwerk tussen man en hond wat dit vir hulle moontlik maak om meer as 1 800 kilometer oor uiters moeilike terrein in baie ongure weer af te lê. Tog doen party spanne dit in ongeveer tien en ’n half dae. Ons is ook beïndruk deur die wonderlike fisiese en verstandelike vermoëns wat die Skepper in die mens en dier gesit het wat hulle in staat stel om so ’n prestasie te behaal.

[Foto-erkenning op bladsy 17]

Foto’s: © Jeff Schultz/ Alaska Stock Images

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel