’n Koeël het my lewe verander
DIE beste ding wat ouers vir hulle kinders kan doen, is om kennis van hulle Skepper en ’n begeerte om hom te dien by hulle in te skerp. ’n Tragedie wat my getref het toe ek nog maar net ’n tiener was, het my hierdie feit help waardeer.
Voordat ek beskryf wat toe—meer as 20 jaar gelede—gebeur het, wil ek iets vertel van my lewe terwyl ek in die suide van die Verenigde State grootgeword het. Dit hou direk verband met hoe ek in staat was om oorweldigende teenspoed te verduur.
Wat my lewe gevorm het
Ek is gebore in Januarie 1955 in Birmingham, Alabama—wat deel was van die Diep Suide waar daar rasseskeiding was. Toe ek maar net agt jaar oud was, het ’n bom naby ons huis ontplof en ’n kerk verwoes terwyl die Sondagskool aan die gang was. Verskrikte swart kinders, waarvan baie ongeveer my ouderdom was, het skreeuend uitgehardloop; ander het gebloei en gekerm. Vier was dood—vermoor deur blankes.
Sulke tragedies was nie uitsonderlike gevalle in die Suide nie. Die daaropvolgende somer is drie mense wat hulle vir burgerregte beywer het in Mississippi vermoor. Dit was ’n skrikwekkende tyd van rasse-onrus wat ons almal geraak het.
My ma was een van Jehovah se Getuies, en my pa het in 1966 ’n Getuie geword. Weldra het ons hele gesin ons Bybelse hoop van ’n nuwe vreedsame wêreld aan ander bekend gemaak (Psalm 37:29; Spreuke 2:21, 22; Openbaring 21:3, 4). Ons het elke Saterdag gedurende die somers van die laat sestigerjare na onaangeraakte gebiede buite Birmingham gereis om te preek. Die mense daar het nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor of van die Koninkryksboodskap wat ons verkondig het nie. Hulle het nie eers God se naam, Jehovah, geken nie (Psalm 83:18, NW). Gedurende daardie moeilike tye het ek dit regtig geniet om met mense te praat oor Jehovah se voorneme om hierdie verdorwe ou wêreld deur ’n aardse paradys te vervang.—Lukas 23:43.
’n Doelwit in die lewe
In Desember 1969 het ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Ek het tot Jehovah gebid en my opregte begeerte uitgespreek om die voltydse bediening as loopbaan na te streef. ’n Paar weke later is my pa gevra om die klein gemeente in Adamsville, ’n paar kilometer van Birmingham af, te gaan help. Hierdie verandering van gebied het my begeerte versterk om ’n pionier, of voltydse bedienaar, te wees. Gedurende my hoërskooljare het ek elke geleentheid gebruik om tydelike pionierdiens te doen, wat beteken het dat ’n mens elke maand ten minste 75 uur aan die bediening bestee.
Ek het besluit om ’n vaardigheid aan te leer om my voor te berei vir die voltydse diens ná die voltooiing van my skoolopleiding. Maar in my laaste hoërskooljaar het ek voor ’n uitdaging te staan gekom. Ek was een van ’n groep toppresteerders en is dus eendag vir etlike akademiese toetse na ’n nabygeleë universiteit geneem. Agterna het die voorligtingsbeampte my na haar kantoor laat kom. Sy was opgewonde en bly om my onthalwe. “Jy het uitstekend gevaar!” het sy uitgeroep. “Jy kan na enige universiteit van jou keuse gaan!” Sy wou hê dat ek daar en dan aansoekvorms om ’n studiebeurs moes invul.
Ek was ontsteld, want ek was nie voorbereid hierop nie. Ek het dadelik verduidelik dat ek van plan is om ’n voltydse bedienaar te word en deeltydse werk te kry om myself in die bediening te onderhou. Ek het selfs vir haar gesê dat ek dalk later, soos ander Getuies, as ’n sendeling in ’n vreemde land kon dien. Maar dit was asof sy my nie gehoor het nie. Sy het aan die hand gedoen dat ek wetenskap as hoofvak kies en dat sy sou toesien dat ek werk by ’n wetenskapsentrum kry, indien ek ’n plaaslike universiteit bywoon.
“Beperk jou godsdiens tot naweke, Gloria”, het sy gesê, “jou ouers sal nog steeds trots wees op jou.” Ek het beledig gevoel weens die feit dat sy kon dink dat ek die voltydse bediening op aandrang van my ouers my doelwit gemaak het. Sy het my skuldig laat voel, asof ek die hele swart ras die rug toekeer deur hierdie wonderlike geleentheid van die hand te wys. Maar ek het voet by stuk gehou. Nadat ek die skool verlaat het, het ek deeltyds as ’n sekretaresse begin werk eerder as om universiteit toe te gaan.
Ek het ’n pioniermaat gesoek, maar kon nie een vind nie. Toe ’n reisende opsiener ons gemeente besoek het, het ek hom van my probleem vertel. “Jy het nie ’n pioniermaat nodig nie”, het hy gesê. Daarna het hy ’n rooster opgestel waarvolgens ek die verantwoordelikhede van my sekulêre werk kon nakom en ook genoeg tyd kon hê om pionierdiens te doen. Ek het gedink dat die rooster ideaal was. Ek was so opgewonde dat ek besluit het om die pionierdiens op 1 Februarie 1975 te betree.
Maar ’n paar dae later, op 20 Desember 1974, is ek deur ’n verdwaalde koeël getref terwyl ek van ’n kafee af huis toe gestap het.
Op die randjie van die graf
Terwyl ek op die grond gelê het, kon ek letterlik sien hoe my lewensbloed uitstroom. Ek onthou dat ek gedink het dat ek gaan sterf. Ek het Jehovah gevra om my lank genoeg te laat lewe sodat ek my ma kon help verstaan dat so ’n verpletterende ongeluk selfs ’n gesin kan oorkom wat hulle volkome op Jehovah se diens toespits. Alhoewel ons vertroud was met die Bybelteks dat ‘tyd en lotgeval almal tref’, het ek nie gedink dat ons gereed was om so ’n verskriklike tragedie te verwerk nie.—Prediker 9:11.
Die koeël het my links in die nek getref en senuwees in my rugmurg afgesny. My spraak en asemhaling is aangetas. Daar is verwag dat ek nie langer as twee dae sou lewe nie. Daarna het hulle “twee weke” gesê. Maar ek het bly lewe. Toe ek longontsteking opdoen, is ek na ’n ingewikkelder asemhalingstoestel oorgeplaas. Mettertyd het my toestand gestabiliseer, en reëlings is vir my rehabilitasie getref.
Beproewinge tydens rehabilitasie
Ek het nie gedurende die eerste paar weke neerslagtig gevoel nie. Ek het eintlik níks gevoel nie. Almal by die Spanje-rehabilitasiesentrum in Birmingham was vriendelik en het hard gewerk ten behoewe van my. By die personeel het ek gehoor dat die dokters verwag het dat ek heeltemal verlam sou wees en vir die res van my lewe plat op my rug sou lê. Ek is as ’n C2-kwadrupleeg geklassifiseer, wat beteken dat hulle van mening was dat ek vir die res van my lewe aan ’n asemhalingstoestel gekoppel sou wees, in staat om net met ’n fluisterstem te praat.
Die dokters het ’n buisie in my lugpyp ingesit waardeur ek asemgehaal het. Later het die longspesialis ’n dunner buisie ingesit om te sien of ek daarmee sou kon praat. Maar die grootte het geen verskil gemaak nie. Hulle het dus tot die slotsom gekom dat my onvermoë om te praat aan senuweebeskadiging toe te skryf was. Dit was om en by daardie tyd dat ek neerslagtig begin raak het, en daar was niks wat enigiemand kon sê om my beter te laat voel nie. Elke vriendelike woord het vir my soos ’n belediging gevoel. Ek het derhalwe baie gehuil.
Ek het besef dat daar twee dinge is wat kan help indien iets jou geestelikheid ondermyn—volgehoue gebed tot Jehovah en heelhartige deelname aan die bediening deur Bybelwaarhede aan ander bekend te maak (Spreuke 3:5). Wel, dit was maklik om te bid. Ek kon dit doen. Maar hoe kon ek, in my toestand, meer bedrywig in die bediening wees?
Ek het my gesin gevra om vir my eksemplare van die Wagtoring en Ontwaak! en ander Bybelstudiehulpe wat ons destyds in die bediening gebruik het te bring, soos Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, Ware vrede en veiligheid—Uit watter bron? en Is hierdie lewe al wat daar is? Hulle het dit op verskillende plekke in my kamer neergesit. Personeellede het my dikwels medelydend aangekyk en gevra: “Hartjie, is daar enigiets wat ek vir jou kan doen?”
Ek het dan my oë na die lektuur gedraai en deur die woorde met my mond te vorm, gevra dat die persoon vir my lees. Die tyd wat die persoon daaraan bestee het om te lees, het ek as my ure in die bediening getel. Om my waardering te toon vir die feit dat die persoon vir my gelees het, het ek dikwels die boek of tydskrif vir hom of haar gegee. Dit het ek as my plasings getel. Wanneer iemand ’n tweede keer vir my gelees het, het ek ’n herbesoek getel. Hierdie deelname aan die bediening het my bemoedig, asook die hartverblydende kaartjies, blomme en besoeke van my talle Christenbroers en -susters.
Ná maande van rehabilitasie kon ek my kop maar net effens oplig. Maar ek was vasbeslote om groter beweeglikheid te verkry. Daarom het ek om meer tyd in fisio- en beroepsterapie gevra. Toe ek gevra het dat hulle my in ’n rystoel sit, is daar vir my gesê dat dit onmoontlik was, dat ek nie my kop hoog genoeg kon oplig om regop te sit nie. Ek het hulle gevra om in elk geval te probeer.
Nadat die dokters toestemming gegee het, het die toesighoudende terapeut my gehelp om regop in ’n rystoel te sit. Hulle het my met rekbare verbande toegedraai, van borskas tot middellyf, van bobeen tot knie en van knie tot voet. Ek het soos ’n mummie gelyk. Dit was ’n voorsorgmaatreël om te verseker dat my bloeddruk konstant bly en om skok te voorkom. Dit het gewerk! Nogtans is ek net toegelaat om ’n uur op ’n slag regop te sit. Maar ek het gesit—nadat ek 57 dae plat op my rug gelê het!
Uiteindelik tuis!
Oplaas, ná vyf lang maande, is die buisie uit my lugpyp verwyder, en ek kon huis toe gaan. Dit was Mei 1975. Daarna het ek heen en weer gereis vir behandeling by die rehabilitasiesentrum. Ek het reeds gedurende die somer van 1975 in my rystoel in die Christelike bediening begin uitgaan. Ek kon nie veel doen nie, maar ek was ten minste daar saam met die Getuies.
Vroeg in 1976 is ek gevra om vir herevaluasie na die VRS (beroepsrehabilitasiedienste) te gaan, die instelling wat die fondse vir my rehabilitasie voorsien het. Ek het gedink dat ek vordering maak. Ek het begin leer om met ’n verfkwas te skilder wat ek met my tande vasgehou het. Deur ’n stokkie op dieselfde manier te gebruik, het ek begin tik, en ek het selfs ’n bietjie met ’n potlood geskryf. Aangesien die VRS vir die meeste van my behandeling betaal het, wou hulle my help om op die een of ander wyse ’n werk te kry en ’n produktiewe lid van die gemeenskap te word.
Die raadgewer het aanvanklik baie bedagsaam voorgekom, maar hy het my begin vra om harder te probeer praat. Ek kon op daardie tydstip net met effens meer as ’n fluisterstem praat. Toe het hy gevra: “Kan jy nie regop sit nie?”
Ek kon nie.
“Beweeg net een vinger”, het hy gesê.
Toe ek selfs dit nie kon doen nie, het hy sy pen op sy lessenaar neergegooi en gefrustreerd gesê: “Jy is nutteloos!”
Hy het gesê dat ek huis toe moet gaan en vir sy oproep moet wag. Ek het sy dilemma begryp. Nie een van die pasiënte wat voor my by die Spanje-rehabilitasiesentrum was, het sulke ernstige beperkinge soos ek gehad nie. Die toerusting wat hulle daar gebruik, is baie duur, en die persoon wat vir die besluite verantwoordelik was, het nie riglyne gehad oor wat om te doen met ’n pasiënt wat so beperk soos ek was nie. Nogtans het dit my seergemaak om nutteloos genoem te word, aangesien ek reeds so begin voel het.
’n Paar dae later het ek ’n oproep ontvang en is daar vir my gesê dat ek nie meer deel van die program is nie. Ek het verlate gevoel. En dit het nog ’n vlaag van neerslagtigheid tot gevolg gehad.
Ek oorkom neerslagtigheid
Ek het toe aan die teks in Psalm 55:23 gedink, wat sê: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou.” Iets waaroor ek my bekommer het, was die finansiële las op my ouers, en ek het hieroor gebid.
My neerslagtigheid het my liggaamlik benadeel, en gevolglik kon ek gedurende die streekbyeenkoms daardie somer nie regop sit nie. Ek het na die program gelê en luister. By daardie streekbyeenkoms in 1976 is hulppionierdiens ingebring, en dit het my belangstelling gewek. Om hulppionierdiens te doen, moet ’n mens slegs 60 uur per maand aan die bediening bestee, ’n gemiddelde van net 2 uur per dag. Ek het gemeen dat ek dit kon doen. Later het ek my suster Elizabeth gevra om my hulppionierdiens te help doen. Sy het gedink dat ek ’n grap maak, maar toe ek my aansoekvorm ingee om gedurende Augustus pionierdiens te doen, het sy ook een ingegee.
Elizabeth het vroeg opgestaan en na my persoonlike behoeftes omgesien. Dan het ons met telefoongetuieniswerk begin. Dit het behels dat ons mense bel en met hulle praat oor die seëninge wat God vir mense onder sy Koninkryksheerskappy in die vooruitsig stel. Ons het ook briewe geskryf, veral aan persone wat vertroosting nodig gehad het. Gedurende naweke het gesinslede of vriende my in my rystoel in die huis-tot-huis-bediening geneem. Aangesien ek my ledemate glad nie kan gebruik nie, kan ek natuurlik net oor die Koninkryksboodskap praat, tekste aanhaal of ander vra om uit die Bybel te lees.
Teen die laaste dag van die maand het ek nog 6 uur nodig gehad om my vereiste 60 uur te bereik. Elizabeth was nie daar om my te help nie; gevolglik het ek my ma gevra om die rugleuning van my rystoel te verstel sodat ek regop kon sit. Toe het ek met behulp van ’n mondstokkie ses uur lank briewe getik. Ek het geen nadelige gevolge gely nie! Ek weet net dat ek baie moeg was!
My gebed word beantwoord
Die daaropvolgende week het ek, terwyl ek regop in my rystoel gesit het, na die Spanje-rehabilitasiesentrum gegaan vir ’n roetine-ondersoek. My dokter, wat my nie gesien het sedert ek vroeër in die jaar van die program afgehaal is nie, was verbaas. Hy kon nie glo dat ek so verbeter het nie. “Wat het jy gedoen?” het hy gevra. Nog voordat ek klaar kon vertel van my bediening, het hy my werk aangebied.
Sy assistente het ’n onderhoud met my gevoer en was beïndruk met wat ek in die bediening verrig het. Sy het my gevra om deel te neem aan wat hulle die modelpasiënt-program noem. Hierin sou ek toegewys word om ’n ander pasiënt te help. Sy het na ons bediening verwys en gesê: “Dit is wat julle in elk geval doen, nie waar nie?” Ek is toegewys om ’n pasiënt te help wat byna net so beperk soos ek was.
Op die een of ander manier het die nuus van alles wat ek met die hulp van my gesin in die bediening uitrig die VRS bereik. Hulle was so beïndruk dat daar aanbeveel is dat ek weer tot die program toegelaat word. Dit het beteken dat ons gesin fondse sou ontvang om te betaal vir die spesiale toerusting en sorg wat ek nodig het om met my bedrywighede voort te gaan. Ek het gevoel dat God my gebede verhoor het.
My toestand stabiliseer
Ek het fisies in so mate herstel dat ek my kop kan oplig en draai en regop kan sit. Ek is dankbaar dat ek my spraakvermoë feitlik heeltemal herwin het. Met behulp van ’n mondstokkie kan ek skryf, tik, ’n luidsprekertelefoon gebruik en skilder. Van my skilderye is al ingeskryf by uitstallings van mondskilderye. Ek beweeg rond in ’n gemotoriseerde rystoel wat ek met ’n kenbeheermeganisme stuur. ’n Hystoestel lig my rystoel in ons voertuig in, en hiermee kan ek so te sê enige plek geneem word waarheen ek wil gaan.
Ek het baie asemhalingsprobleme ondervind—longontsteking is altyd ’n gevaar. Soms het ek snags suurstof nodig. In 1984 het ek amper gesterf as gevolg van komplikasies weens ’n infeksie. Ek was herhaaldelik in die hospitaal. Maar sedertdien het my gesondheid verbeter. Van 1976 af het ek daarin geslaag om een of twee keer per jaar hulppionierdiens te doen. Maar ek het nie algehele voldoening ervaar nie. Ek het bly dink aan my planne as ’n tiener wat deur die koeël verydel is.
My doelwit word verwesenlik
Op 1 September 1990 het ek uiteindelik ’n voltydse pionier geword en sodoende is die begeerte wat ek van jongs af gekoester het, vervul. Gedurende die wintermaande wanneer dit koud is, getuig ek deur briewe te skryf en die luidsprekertelefoon te gebruik. Maar wanneer dit warmer word, neem ek ook aan die huis-tot-huis-bediening deel. Dwarsdeur die jaar hou ek Bybelstudies van die huis af deur middel van die luidsprekertelefoon.
Ek sien met gretigheid uit na ’n wonderlike toekoms op die Paradysaarde wanneer Christus Jesus en Jehovah God my van hierdie rystoel sal verlos. Elke dag dank ek Jehovah vir sy beloftes rakende blankende gesondheid en die vermoë om te kan “spring soos ’n takbok” (Jesaja 35:6). Ek gaan hardloop so lank as wat ek kan om die verlore tyd in te haal, en dan gaan ek leer perdry.
Selfs nou, terwyl ek op daardie tyd wag, verskaf dit my onbeskryflike vreugde om een van Jehovah se gelukkige dienaars te wees en ’n volle aandeel aan die bediening te hê.—Soos vertel deur Gloria Williams.
[Prente op bladsy 15]
My Christelike bediening—van huis tot huis, getuienis per telefoon, deur briewe te skryf
[Prent op bladsy 16]
My skilderye is al ingeskryf by uitstallings van mondskilderye