Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 8/06 bl. 20-22
  • Ek sal “net soos ’n takbok klim”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek sal “net soos ’n takbok klim”
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Ander lewensbeskouing
  • ’n Berg om te klim
  • My begeerte word vervul
  • Veranderinge in my denke
  • Die begeerte om meer te doen
  • ’n Groot verantwoordelikheid
  • Jehovah het my krag gegee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • ’n Koeël het my lewe verander
    Ontwaak!—1995
  • Dankbaar vir Jehovah se onfeilbare ondersteuning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Hoe ek by God se sorg baat gevind het
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 8/06 bl. 20-22

Ek sal “net soos ’n takbok klim”

SOOS VERTEL DEUR FRANCESCO ABBATEMARCO

“Waarom het God dit laat gebeur? Waarom ek?” Hoeveel keer het ek tog nie al daardie vrae gevra nie! Die gedagte dat ek my lewe in ’n rolstoel, sonder die gebruik van my arms en bene, sou moes deurbring, was te veel vir my.

IN 1962, in ’n klein dorpie in die Basilicata-streek, in Italië, is ek amper dood op my geboortedag. My ma het ’n moeilike bevalling gehad, en die inspuitings wat die dokter my gegee het, het ernstige newe-effekte gehad. Drie dae later het my klein liggaampie onbeheerbaar begin ruk. My arms en bene is verlam en my stembande is beskadig.

Terwyl ek grootgeword het, het frustrasie weens my fisiese toestand my oorweldig. Ek was liggeraak en het dikwels uitgevaar teen die mense om my. Dit het gevoel of ek van die hele wêreld afgesny was, en niks het my lewe enige betekenis gegee nie. Teen die tyd dat ek 25 was, was ek ’n emosionele wrak. Omdat ek nie kon verstaan waarom God toelaat dat ek so ly nie, het ek tot ’n gevolgtrekking gekom wat vir my redelik was—dat daar nie ’n God is nie.

’n Ander lewensbeskouing

Een oggend laat in 1987, terwyl ek buitekant in my rolstoel gesit het, het twee netjies geklede jong mans my genader. Ek het aangeneem dat hulle met my broer wou praat en het, met groot moeite, vir hulle gesê dat hy nie tuis is nie. “Ons wil eintlik met jou praat”, het hulle geantwoord. Dit was ’n verrassing, want min mense het daarin belanggestel om met my te praat.

“Glo jy in God?” het hulle gevra. Ek het kortaf geantwoord: “Hoe kan ek, in my toestand?” Ons het begin gesels, en ek het uitgevind dat hulle Jehovah se Getuies is. Hulle het my ’n boek met die titel Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?a aangebied, wat ek teësinnig geneem het. Hulle het gesê dat hulle sou terugkeer. Ek het gehoop hulle sou nie.

Die twee Getuies het teruggekeer soos hulle belowe het, en ons het ons gesprek voortgesit. Ek onthou die Bybelverse, Jesaja 35:5, 6, wat hulle vir my gelees het: “Dan sal die oë van die blindes geopen word, en die ore van die dowes sal ontsluit word. Dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep.” Dit was pragtige woorde, maar het so verskil van die werklikheid van my lewe. Ek kon nie eens opstaan nie, wat nog te sê soos ’n takbok klim. Hoe dit ook al sy, ek het ingestem om die Bybel saam met hulle te studeer, maar ek het nie geglo dat die Bybel my op daardie stadium met my probleme sou help nie. Dit het onrealisties gelyk om te hoop dat ek eendag vry sou wees van my gebreke.

Ná ’n ruk het die Getuies my na ’n vergadering by hulle plaaslike Koninkryksaal genooi. Ek kan nie onthou waaroor die Bybeltoespraak was nie, maar ek sal nooit die hartlikheid en die liefde vergeet wat die Getuies teenoor my getoon het nie. Hulle het my nie oorweldig met bejammering nie, maar het my eerder waarlik welkom laat voel. Daardie Sondag het ek geweet dat my plek by die Koninkryksaal is, en ek het vergaderinge gereeld begin bywoon.

’n Berg om te klim

Die studie van God se Woord het ’n ongelooflike uitwerking op my hart gehad. Dit was asof daar weer sap deur ’n droë boom begin vloei het. Ek het gevoelens ervaar wat ek gedink het dood en begrawe was. Hoe wonderlik was dit tog om weer te voel dat ek lewe! Ek het die begeerte gehad om vir ander te vertel van die wonderlike hoop wat ek begin koester het (Matteus 24:14). Maar hoe kon ek vir ander begin getuig? Ek het hierdie begeerte ’n saak van vurige gebed gemaak, en Jehovah gevra om vir my die weg te open.

In September 1991 is ’n pionier (’n voltydse evangeliedienaar) na ons gemeente gestuur. Eendag toe ek by sy huis was, het ek hom vertel van my begeerte om te getuig. Ek kon nie goed praat nie, en daarom het ons die moontlikheid bespreek dat ek ’n tikmasjien gebruik om briewe te tik. My verlamde arms was ’n struikelblok. Met die pionier se hulp het ek baie dinge probeer. Ek het probeer om ’n potlood vas te byt en die toetse daarmee te druk. Daarna het ek ’n helm probeer gebruik waaraan ’n stok vasgemaak was, en my kop beweeg om die toetse te druk. Niks het gewerk nie.

Later, terwyl ons die probleem bespreek het, het daardie selfde pionier skertsend gesê: “Jy het ’n baie mooi neus.” Ek het onmiddellik die toetse met my neus probeer druk, en dit het gewerk. Uiteindelik kon ek skryf. Stel jou voor hoeveel inspanning dit geverg het om spelfoute met my neus reg te maak! Ons het gou besef dat dit baie makliker sou wees om ’n rekenaar te gebruik. Maar waar sou ek die geld kry om een te koop? Ek het vir die regte oomblik gewag en toe met my ouers gepraat. Kort daarna het ek ’n rekenaar begin gebruik om briewe te skryf.

My begeerte word vervul

Ek het eers vir vriende en familie geskryf, toe vir mense wat in ons dorp en die naburige dorpe gewoon het. Kort voor lank het ek met mense regoor Italië gekorrespondeer. Dit is moeilik om die vreugde te beskryf wat ek ondervind het elke keer as iemand teruggeskryf het. In Desember 1991 is ek as ’n ongedoopte verkondiger van die goeie nuus goedgekeur. Ek het ook by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit, ’n skool wat weekliks in die gemeentes van Jehovah se Getuies gehou word. Wanneer ek ’n toewysing ontvang het om ’n toespraak te hou, het ek dit deeglik by die huis voorberei met behulp van my rekenaar. By die vergadering het ’n broer dan die materiaal wat ek voorberei het, van die verhoog af gelees.

Ek was innig dankbaar oor die liefde wat Jehovah aan my betoon het, en ek het besef die volgende stappe in my geestelike vooruitgang is om my lewe aan God toe te wy en my te laat doop. Ek het die moed bymekaargeskraap en met my ouers oor my besluit gepraat. Hulle was nie gelukkig daaroor nie, maar my begeerte om gedoop te word, was sterker as my vrees. Met die steun van Jehovah en mede-Getuies is ek in Augustus 1992 gedoop. Hoe verheug was ek tog dat my broer en skoonsuster my doop bygewoon het!

Veranderinge in my denke

Namate die beginsels in God se Woord vir my geleidelik duideliker geword het, het ek gesien dat daar ’n behoefte is om my negatiewe karaktertrekke te verander. Ek het besef dat ek, as gevolg van my fisiese toestand, besitlik en selfsugtig geword het. Dit was baie moeilik om van daardie tekortkominge ontslae te raak. Ek moes nederiger word en veg teen die voortdurende frustrasie om van ander afhanklik te wees.

Ek het ook daaraan gewerk om myself nie meer te bejammer nie en op te hou om aan myself as ’n slagoffer te dink. Ek het die snaakse sy van sekere situasies begin geniet. Eendag terwyl ek van huis tot huis getuig het, het ’n dogtertjie die deur oopgemaak. Een van die Getuies wat saam met my was, het haar gevra of haar ouers tuis is. Die dogtertjie het uitgeroep: “Mamma, daar’s twee mans en ’n siek man by die deur.” Toe die ma my sien, was sy so verleë dat sy nie geweet het wat om te sê nie. Een van my vriende het gesê: “Eintlik is ons twee siek mans en ’n gesonde een.” Ons het almal geglimlag en ’n aangename gesprek met haar gehad.

Die begeerte om meer te doen

Ná my doop het ek nege maande lank as ’n hulppionier gedien en 60 uur per maand in die predikingswerk deurgebring. Ek wou egter meer doen. Kort daarna het ek as ’n gewone pionier begin dien en selfs meer tyd aan die predikingswerk bestee. Die eerste paar maande van pionierdiens was moeilik. Baie mense het gedink dat ek aan hulle deur klop om geld te vra, en dit het my en die Getuies wat saam met my was, in die verleentheid gebring.

Verder het baie in die gemeente gesukkel om my te verstaan as ek praat en nie presies geweet hoe om my te help nie. Maar met Jehovah se hulp en die onselfsugtige bystand van my geestelike broers en susters het die situasie mettertyd verbeter. Nou dink mense nie meer aan my net as ’n man in ’n rolstoel nie, maar as een van Jehovah se Getuies wat ander van God se voornemens probeer leer.

In Julie 1994 het ek die geleentheid gehad om ’n spesiale opleidingskursus van twee weke vir pionierbedienaars by te woon. Daar het ons die skriftuurlike beginsels bestudeer waardeur die predikings- en dissipelmaakwerk gerig word. Ons het ook praktiese opleiding in die bediening ontvang. Ek moes hindernisse oorkom om dit by te woon, aangesien die skool sowat 60 kilometer van waar ek woon, gehou is. Omdat ek nie ’n enkele aand weg van die huis af kon wees nie, het die Getuies beurte gemaak om my in die oggend na die skool en saans terug huis toe te neem. Tydens middagete het een van hulle my na die tweede verdieping opgedra, waar ons almal saam geëet het.

’n Groot verantwoordelikheid

In Maart 2003 is ek as ’n gemeentelike ouer man aangestel. Daardie toewysing behels dat ek hard werk ten behoewe van ander. Nou verstaan ek beter wat Jesus bedoel het toe hy gesê het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Ek werk saam met ’n wonderlike liggaam van ouer manne, en hulle het my gehelp om by my rol aan te pas. Ek voel dat die hele gemeente my waardeer—veral die kinders—en hulle betrek my by hulle bedrywighede. Hulle sien hoe ek hindernisse oorkom het om Jehovah te dien, en baie kom vra my vir hulp om hulle eie probleme die hoof te bied.

Ek het geleer dat ’n mens se fisiese toestand nie die deurslaggewende faktor vir geluk is nie. Wat eerder saak maak, is dat jy Jehovah se goedkeuring het en sy wil doen. Ek is veral dankbaar teenoor hom vir die wonderlike hoop om binnekort van my rolstoel ontslae te wees. Ja, ek sien daarna uit om ‘net soos ’n takbok te klim’ en om die ware God tot in alle ewigheid te dien.—Jesaja 35:5, 6.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 22]

Nou dink mense nie meer aan my net as ’n man in ’n rolstoel nie, maar as een van Jehovah se Getuies wat ander van God se voornemens probeer leer

[Prent op bladsy 21]

Ek berei vir ’n gemeentelike vergadering voor deur met my neus te tik

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel