Die Europese bosuil by die Muur van Hadrianus
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
’N DUN strepie mis het oor die boomtoppe gehang toe ’n crescendo van lieflike voëlsang die oggend- stilte verbreek het. Die somertrekvoëls het so pas in die noorde van Engeland aangekom om hulle gesang by dié van die inheemse merels en lysters te voeg.
Ek het ’n bruin gekleurde stroom tussen oewers wat met sleutelblomme en woudviooltjies besaai is na die voorvaderlike woning van die Europese bosuil by die Muur van Hadrianus gevolg.a Ek het geweet dat sy ongeveer 1,5 kilometer verder stroomop naby die stam van ’n ou olmboom sou wees, waar sy oor haar vier jong kuikens waak. Hulle sou knus en veilig in die hol stomp van ’n dooie esseboom wees.
Die uil—wat ’n skeppingswonder! Snags is sy gesigsvermoë honderd keer skerper as dié van die mens. Selfs in die gedempte lig van die maan kan ’n uil sy prooi vang. Menseoë het selle genaamd keëls wat kleure skei en selle genaamd stafies wat lig vergaar, maar die uil se oë is stampvol stafies wat ’n chemikalie bevat wat as gesigspurper bekend staan. Dit skakel die flouste skynsel van lig om tot ’n chemiese sein wat aan die voël ’n visuele beeld gee, terwyl mense slegs die teenwoordigheid van lig sien.
Uile kan nie hulle oë in hulle kasse draai soos die meeste ander diere nie. Elke oog is vas, soos die koplig van ’n motor. Om daarvoor te vergoed, kan die uil—danksy ’n verbasend buigsame nek—sy kop ten minste 270 grade draai sodat hy in alle rigtings kan sien!
Daar is al gesê dat ’n uil van sy uitkykpos 15 meter hoog in ’n boom nie net ’n muis kan sien nie, maar dit ook in die gras kan hoor ritsel. Sy verbasende gehoorsin is te danke aan die manier waarop sy ore ontwerp is. As jy na die gesig van ’n uil kyk, sal jy sien dat dit deur stywe, geboë vere omring word wat klankgolwe bymekaarmaak, na die ore terugkaats en sodoende die geluid op die grootste oortrommels in die voëlwêreld laat val. Die een oor is effens hoër as die ander geplaas, wat die voël in staat stel om akkuraat vas te stel waar ’n geluid vandaan kom.
Sodra die uil sy prooi opgespoor het—hetsy hy hom gesien of gehoor het—swiep hy geluidloos neer. Die uil se liggaam is bedek met vere wat so sag is dat alle klank gedemp word. Selfs die vere op die vlerke het donserige rante sodat hy geruisloos vlieg. Mense op die platteland het al af en toe op ’n donker aand geskrik vir die glimmende gestalte van ’n uil wat laag oor die pad duik. Hulle weet dit dalk nie, maar die uil kan glim van fosfor wat aan sy vere afgesmeer het van liggewende swamme wat op die verrottende hout van sy nes groei.
Ek het verder stroomop beweeg en gou by die knoetserige ou boomstomp uitgekom. Die warmte van die oggend het een van die jong voëls na die ingang van die holte gelok om in die skuins strale van die son wat deur die blaredak syfer te bak. Daar het hy in die opgebreekte sonlig sy oë gesit en knip—’n lieflike gesig!
Êrens in die takke daarbo verskuil, het die ou bosuil en haar maat gesit, terwyl sy alles in haar gesigsveld deur halftoe oë bekyk. Ek het geweet dat sy versigtig oor haar kuikens sal waak totdat hulle alleen kan klaarkom met die instinktiewe wysheid wat hulle Grootse Skepper hulle gegee het.
[Voetnoot]
a Tussen 120 en 130 G.J. is die Muur van Hadrianus op bevel van die Romeinse keiser Hadrianus gebou as ’n beskerming teen die onoorwonne Skotse stamme noord van Engeland. Dit is effens meer as 117 kilometer lank en strek vanaf Solway Firth in die weste van Engeland tot by die monding van die Tyne aan die ooskus.
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Met vriendelike vergunning van English Heritage