So baie leef en sterf in knellende armoede!
JATI verlaat haar pondokkie in ’n land in suidoostelike Asië en gaan na die fabriek waar sy stukkies leer en versiersels vir skoene aanmekaarwerk. Vir ’n maand se werk—40 uur per week plus 90 uur oortyd—kry sy minder as R300. Die skoenmaatskappy waar sy in diens is, gee hom uit vir ’n pligsgetroue voorstander van menseregte in die minderontwikkelde lande. In die Westerse wêreld verkoop hierdie maatskappy die skoene vir meer as R215 per paar. Lone maak sowat R5 daarvan uit.
Wanneer Jati “die skoon, beligte fabriek verlaat”, sê ’n berig in die Boston Globe, “het sy net genoeg geld om ’n pondokkie van 10 by 12 voet [3 by 3,6 m] te huur, met vuil mure wat wemel van geitjies. Daar is nie meubels nie; daarom slaap Jati en twee kamermaats opgekrul op die klei-en-teël-vloer.” Haar situasie is ongelukkig tipies.
“Is hierdie mense beter daaraan toe mét my of sonder my?” maak die hoof van ’n handelsvereniging beswaar. “Die lae loon stel hulle in staat om ’n redelike lewenstyl te geniet. Hulle leef dalk nie in weelde nie, maar hulle ly nie honger nie.” Hulle is egter dikwels ondervoed, en hulle kinders gaan dikwels honger bed toe. Hulle het daagliks te kampe met die risiko’s van gevaarlike werkplekke. En baie sterf ’n stadige dood weens die gif en giftige afvalstowwe wat hulle hanteer. ’n “Redelike lewenstyl”?
Hari, ’n plaasarbeider in die suide van Asië, het dit anders ingesien. Met woorde en op digterlike wyse het hy die wrede lewe-en-dood-kringloop oral om hom beskryf. “Tussen die vysel en die stamper”, het hy gesê, “kan die rissie nie heel bly nie. Ons armes is soos rissies—elke jaar word ons fyner gemaal, en binnekort sal daar niks oorbly nie.” Hari het nooit daardie “redelike lewenstyl” gesien nie, en ook het hy nie die vaagste benul gehad van die weelde waarin sy werkgewers waarskynlik gelewe het nie. ’n Paar dae later was Hari dood—nog ’n slagoffer van knellende armoede.
Menigtes leef en sterf soos Hari. Hulle kwyn weg in ellende, te swak om weerstand te bied terwyl hulle tot die laaste druppel bloed uitgebuit word. Deur wie? Watter soort mense sal dít doen? Hulle kom baie welwillend voor. Hulle sê dat hulle jou baba wil voed, jou oeste en jou lewe wil verbeter, jou ryk wil maak. In werklikheid beoog hulle om hulleself te verryk. Daar is produkte wat verkoop kan word, winste wat gemaak kan word. Indien ondervoede kinders, vergiftigde werkers en ’n vuil omgewing die neweprodukte van hulle hebsug is, moet dit maar so wees. Dit is ’n prys wat die maatskappye bereid is om vir hulle hebsug te betaal. Namate die winste toeneem, neem die hartbrekende aantal slagoffers dus ook toe.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
U.N. Photo 156200/John Isaac