Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w11 6/1 bl. 4-6
  • Pogings om armoede te beëindig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pogings om armoede te beëindig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Teorieë in verband met welvaart vir almal
  • Die Marshallplan—’n Manier om armoede te beëindig?
  • Buitelandse hulp—Waarom teleurstellend
  • Die oorsaak van armoede
  • Gevangenes van armoede
    Ontwaak!—1998
  • Antwoorde op Bybelvrae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Die einde van armoede kom nader
    Ontwaak!—1998
  • Wat moet ek doen as my gesin arm is?
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
w11 6/1 bl. 4-6

Pogings om armoede te beëindig

DIE rykes het reeds ’n einde gemaak aan armoede—vir hulleself. Maar pogings om die hele mensdom van armoede te bevry, het nog altyd misluk. Waarom? Omdat die rykes oor die algemeen nie wil hê dat enigiemand of enigiets hulle bevoorregte situasie moet versteur nie. Koning Salomo van eertydse Israel het geskryf: “Kyk! die trane van die onderdruktes, maar hulle het geen vertrooster gehad nie; en aan die kant van hulle onderdrukkers was daar mag.”—Prediker 4:1.

Kan mense met invloed en mag die samelewing verander om armoede wêreldwyd uit die weg te ruim? Salomo is geïnspireer om te skryf: “Kyk! alles was nietigheid en ’n gejaag na wind. Wat krom gemaak is, kan nie reguit gemaak word nie” (Prediker 1:14, 15). ’n Kykie na hedendaagse pogings om armoede te beëindig, lig dit goed toe.

Teorieë in verband met welvaart vir almal

In die 19de eeu, toe ’n paar nasies ongekende rykdom deur handel en nywerheid vergaar het, het party invloedryke mense ernstig aandag geskenk aan armoede. Kon die wêreld se hulpbronne ewerediger verdeel word?

Party het geteoretiseer dat sosialisme of kommunisme ’n internasionale, klaslose samelewing sou kon voortbring waarin rykdom regverdig verdeel word. Die rykes was natuurlik grootliks verontrus deur hierdie idees. Maar die leuse: “Van elkeen ooreenkomstig sy vermoëns, aan elkeen ooreenkomstig sy behoeftes” het groot byval gevind. Baie het gehoop dat alle nasies sosialisme sou aanneem sodat die wêreld ’n Utopia kon word. ’n Paar ryk nasies het aspekte van sosialisme aangeneem en welsynstate geskep wat belowe het om vir alle burgers “van die wieg tot die graf” te sorg. Hulle beweer dat hulle lewensgevaarlike armoede onder hulle burgers uit die weg geruim het.

Maar sosialisme het nooit sy doel bereik om ’n onselfsugtige samelewing voort te bring nie. Die oogmerk dat burgers tot voordeel van die gemeenskap sou werk eerder as vir hulleself, was moeilik om te verwesenlik. Party het gegrief gevoel dat hulle vir die armes voorsiening moes maak en het daarop gewys dat die oorvloedige voorsienings vir die armes veroorsaak het dat party nie wil werk nie. Die Bybel se woorde is waar bewys: “Daar is geen mens regverdig op die aarde wat voortdurend goed doen en nie sondig nie. . . . Die ware God [het] die mensdom regskape gemaak . . . , maar hulle het baie planne bedink.”—Prediker 7:20, 29.

Nog ’n hoop is die Amerikaanse Droom genoem—die droom van ’n plek waar enigiemand wat bereid was om hard te werk, welvarend kon word. Baie nasies regoor die wêreld het die beleide—demokrasie, vrye ondernemerskap en vrye handel—aangeneem wat blykbaar die Verenigde State ryk gemaak het. Maar nie alle nasies kon die Amerikaanse Droom naboots nie, want Noord-Amerikaanse rykdom was nie net te danke aan hulle politieke stelsel nie. Hulle ontsaglike natuurlike hulpbronne en maklike toegang tot internasionale handelsroetes was belangrike faktore. Daarbenewens bring die mededingende ekonomiese stelsel van die wêreld nie net wenners voort wat voorspoedig is nie, maar ook verloorders wat ly. Kon welvarende nasies aangemoedig word om dié te help wat nog steeds arm is?

Die Marshallplan—’n Manier om armoede te beëindig?

Ná die Tweede Wêreldoorlog was Europa verwoes en ’n groot deel van die bevolking het deur hongersnood bedreig gevoel. Die Amerikaanse regering was bekommerd oor die gewildheid van sosialisme in Europa. Hulle het dus vier jaar lank ontsaglike somme geld gegee om die nywerheid en landbou te herstel in lande wat Amerikaanse beleide sou aanvaar. Hierdie Europese Herstelplan, wat die Marshallplan genoem is, is as ’n sukses beskou. In Wes-Europa het die Verenigde State se invloed toegeneem, en lewensgevaarlike armoede het seldsaam geword. Was dít die manier om armoede wêreldwyd te beëindig?

Die sukses van die Marshallplan het die Amerikaanse regering beweeg om hulp aan arm lande regoor die wêreld aan te bied en ontwikkeling te bevorder op die gebiede van die landbou, gesondheidsorg, opvoeding en vervoer. Die Verenigde State het openlik erken dat hulle dit uit eiebelang gedoen het. Ander lande het ook hulle invloed probeer uitbrei deur buitelandse hulp aan te bied. Sestig jaar later, nadat hulle baie keer soveel geld uitgegee het as wat aan die Marshallplan bestee is, was die resultate teleurstellend. Toegegee, party lande wat voorheen arm was, het ontsaglike rykdom verwerf, veral in Oos-Asië. Maar op ander plekke, waar buitelandse hulp weliswaar daartoe gelei het dat minder kinders sterf en meer ’n opvoeding ontvang, is baie nasies nog steeds brandarm.

Buitelandse hulp—Waarom teleurstellend

Om arm nasies te help om uit die greep van armoede los te breek, was moeiliker as om ryk nasies te help om van oorlog te herstel. Europa het reeds nywerhede, handel en ’n vervoerwese gehad. Die ekonomie moes net herstel word. In arm lande was mense, selfs wanneer buitelandse hulp paaie, skole en klinieke voorsien het, nog steeds brandarm omdat daardie lande nie bedrywe, natuurlike hulpbronne en toegang tot handelsroetes gehad het nie.

Die siklusse van armoede is kompleks en word nie maklik gebreek nie. Byvoorbeeld, siekte veroorsaak armoede, en armoede veroorsaak siekte. Ondervoede kinders kan fisies en verstandelik so verswak wees dat hulle, wanneer hulle groot word, nie vir hulle eie kinders kan sorg nie. En wanneer ryk nasies oorskotvoedsel as “hulp” in arm lande stort, gaan plaaslike boere en kleinhandelaars onder, wat tot meer armoede lei. Wanneer geld aan die regerings van arm lande geskenk word, kan nog ’n siklus begin: Sulke fondse kan maklik gesteel word, en daarom kan dit tot korrupsie lei, en korrupsie kan weer tot meer armoede lei. Buitelandse hulp misluk basies omdat dit nie die grondliggende oorsaak van armoede aanspreek nie.

Die oorsaak van armoede

Dit het volslae armoede tot gevolg wanneer nasies, regerings en individue slegs hulle eie belange bevorder en beskerm. Byvoorbeeld, regerings van ryk lande beskou die beëindiging van armoede regoor die wêreld as ’n lae prioriteit omdat hulle demokraties verkies word en hulle kiesers tevrede moet stel. Hulle verbied boere in arm lande dus om hulle produkte in ryk lande te verkoop sodat boere in ryk lande nie besigheid verloor nie. Leiers van ryk lande verleen ook baie geldelike hulp aan plaaslike boere om hulle te help om meer te verkoop as boere in arm lande.

Dit is duidelik dat die oorsaak van armoede—die neiging van mense en regerings om hulle eie belange te beskerm—mensgemaak is. Die Bybelskrywer Salomo het dit so gestel: ‘Die mens het oor die mens geheers tot sy nadeel.’—Prediker 8:9.

Watter hoop is daar dan dat armoede tot ’n einde sal kom? Kan enige regering die menslike natuur verander?

[Venster op bladsy 6]

’n Wet om armes te help

Jehovah God het die eertydse nasie Israel ’n stel wette gegee wat armoede in die meeste gevalle sou voorkom as hulle dit gehoorsaam het. Onder die Wet het elke gesin, behalwe die priesterlike stam Levi, grond as erfdeel ontvang. Die familie se erfdeel was veilig omdat grond nie vir altyd verkoop kon word nie. Elke 50 jaar moes alle grond aan die oorspronklike eienaar of sy familie teruggegee word (Levitikus 25:10, 23). As iemand weens siekte, ’n ramp of luiheid sy grond moes verkoop, moes dit in die Jubeljaar sonder koste aan hom teruggegee word. Geen familie sou geslagte lank in armoede lewe nie.

Nog ’n barmhartige voorsiening van God se Wet het ’n man wat teëspoed ondervind het, toegelaat om homself as ’n slaaf te verkoop. Hy het die verkoopprys vooruit ontvang sodat hy sy skuld kon afbetaal. As hy homself nie teen die sewende jaar teruggekoop het nie, moes hy vrygelaat word en saad en vee gegee word sodat hy weer kon begin boer. Verder, as ’n arm persoon geld moes leen, het die Wet mede-Israeliete verbied om rente te vra. Die Wet het die volk ook beveel om nie die rande van hulle land af te oes nie sodat die armes die oesoorblyfsels kon insamel. Geen Israeliet sou dus hoef te bedel nie.—Deuteronomium 15:1-14; Levitikus 23:22.

Die geskiedenis toon egter dat party Israeliete wel in armoede verval het. Waarom het dit gebeur? Israel het nie Jehovah se Wet gehoorsaam nie. Gevolglik het party, soos in die meeste lande die geval is, ryk grondeienaars geword en ander het grondlose armes geword. Party Israeliete was arm omdat sommige individue God se Wet verontagsaam het en hulle eie belange bo dié van ander gestel het.—Matteus 22:37-40.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel