Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 12/8 bl. 11-13
  • Wat ons by Andrew geleer het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat ons by Andrew geleer het
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Goeie raad
  • Ons leer groter medelye
  • Die krag van die liefde
  • Lesse wat ons geleer het
  • Suksesverhale—Deel 1
    Ontwaak!—2009
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1996
  • Jesus begin dissipels maak
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Vir gesinsbespreking
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 12/8 bl. 11-13

Wat ons by Andrew geleer het

TERWYL ek werk toe gery het, was dit heerlik om te dink oor wat die laaste paar dae gebeur het. Ek het pas die vader van ’n seun, my tweede kind, geword. My vrou Betty Jane en ons kleine Andrew sou vandag van die hospitaal af huis toe kom.

Net voordat hulle ontslaan sou word, het my vrou egter geskakel. Daar was ’n noot van angs in haar stem. Ek het soontoe gejaag. “Iets is verkeerd!” was haar groet. Ons het saam gesit en wag vir die dokter om saam met die pediatriese konsultant terug te kom.

Die konsultant se eerste woorde was verpletterende nuus. Sy het gesê: “Ons is redelik seker dat julle seun Down-sindroom het.” Sy het verduidelik dat ons seun waarskynlik verstandelik vertraag sou wees. Feitlik niks meer van haar verduideliking het ingesink nie. My geskokte brein het alle gehoorimpulse afgeskakel. Maar die gesigsbeelde het nog geregistreer.

Sy het Andrew opgetel en ons aandag gevestig op een van die dinge wat haar laat vermoed het dat iets verkeerd is. Die baba se kop het slap gehang. Die gebrek aan spiertonus is kenmerkend van pasgebore babas met Down-sindroom. In ’n latere sessie met die konsultant het ons haar al die vrae gevra wat deur ons verstande gemaal het namate ons begripsvermoë stadig begin terugkeer het. In watter mate sou hy gestrem wees? Wat kon ons verwag? Hoeveel sou ons hom kon leer? Hoeveel sou hý kon leer? Sy het verduidelik dat die antwoorde op baie van ons vrae sou afhang van die omgewing waarin hy leef sowel as sy aangebore vermoëns.

In die meer as 20 jaar sedert daardie tyd het ons probeer om Andrew die liefde en toegeneentheid te gee wat hy verdien en om hom alles te leer wat ons kan. Maar as ons terugkyk, besef ons nou dat dit nie heeltemal net ’n kwessie van gee was nie.

Goeie raad

Voordat ons tyd gehad het om by Andrew se teenwoordigheid aan te pas, het liefdevolle vriende vir ons raad gegee wat hulle uit hulle eie beproewinge geleer het. Hulle het dit goed bedoel, maar soos verwag kan word, het dit later geblyk dat nie al die raad goed of bruikbaar was nie. Ná jare van probeer, het ons hulle raad egter tot twee kosbare brokkies wysheid verfyn.

Party het ons probeer troos deur te sê dat Andrew nie werklik vertraag is nie. Maar toe het ’n ou vriend ons vermaan: “Moenie daarteen stry nie! Hoe gouer julle sy beperkinge aanvaar, hoe gouer sal julle julle verwagtinge hersien en met hom begin werk soos wat hy is.”

Dit was een van die belangrikste lesse wat ons geleer het in die hantering van teenspoed. Daar kan geen genesing wees voordat daar aanvaarding is nie. Hoewel ontkenning dikwels instinktief is, is dit so dat hoe langer die ontkenning duur, hoe meer stel ons dit uit om die probleem aan te pak en te werk binne die grense van die ‘onvoorsiene omstandighede wat almal oorval’.—Prediker 9:11, NW.

Wanneer ons gedurende die jare ouers ontmoet het wie se kinders nie die normale skoolleerplan kon baasraak nie of wat remediërende onderwys ontvang het, het ons dikwels gewonder hoeveel van die kinders in werklikheid dalk vertraag of andersins gestrem is. Is party van hulle dalk “onsigbaar gestrem”—dié wat, anders as Andrew, geen sigbare fisiese verskille het nie en soos normale kinders lyk? Mense met Down-sindroom kan maklik uitgeken word. Maar ander soorte gestremdheid het geen uiterlik waarneembare tekens nie. Hoeveel ouers klou tog aan onrealistiese verwagtinge vas en weier om hulle kind se beperkinge te aanvaar, wat tot ergernis vir almal lei?—Vergelyk Kolossense 3:21.

Die tweede stukkie raad wat deur ons ondervinding gestaaf is, is: Uiteindelik sal JY bepaal hoe die meeste mense jou kind behandel. Hoe jy hom behandel, sal waarskynlik ook die manier wees hoe ander hom behandel.

Mense se gesindheid teenoor die liggaamlik en verstandelik gestremdes het gedurende die laaste paar dekades baie verander. Maar baie van hierdie veranderinge is meegebring deur die gestremde persone self, hulle familielede en ander leke en deskundiges op dié gebied. Baie ouers het die raad om hulle kinders in inrigtings te plaas moedig geïgnoreer en het, as ’t ware, die boeke herskryf. Vyftig jaar gelede was die meeste mediese handboeke oor Down-sindroom gebaseer op data wat van inrigtings verkry is. Vandag is verwagtinge heeltemal anders, dikwels omdat ouers en ander mense nuwe rigtings ingeslaan het.

Ons leer groter medelye

Dit is snaaks hoe maklik ons onsself kan mislei om te dink dat ons werklik medelydend is. Maar totdat ons persoonlik betrokke is, is ons begrip van baie probleme soms oppervlakkig.

Andrew het ons gedwing om te besef dat mense wat op die een of ander manier gestrem is dikwels geen beheer oor hulle omstandighede het nie. Trouens, dit het ons laat dink oor die vraag: Wat is werklik my houding teenoor die swakkes, die stadiges en die bejaardes?

Dit het al dikwels gebeur dat vreemdelinge wat ons saam met Andrew in ’n openbare plek sien en ons onbeskroomde aanvaarding van hom as ’n volwaardige lid van ons gesin gemerk het, na ons toe kom en ons van hulle geheime probleme vertel. Dit was asof Andrew se teenwoordigheid hulle verseker het dat ons begrip vir hulle probleme sou kon hê.

Die krag van die liefde

Verreweg die belangrikste les wat ons by Andrew geleer het, is dat liefde nie net ’n funksie van die verstand is nie. Laat ek verduidelik. Een van die grondbeginsels van ons aanbidding as Jehovah se Getuies is dat die ware Christelike geloof verhewe is bo rasse-, sosiale en politieke verdeeldheid en vooroordeel. Vol vertroue in hierdie beginsel het ons geweet dat Andrew deur ons geestelike broers en susters aanvaar sou word. Ons het die raad geïgnoreer van deskundiges wat gesê het dat dit onrealisties is om te verwag dat hy met respek deur ’n aanbiddingsessie moet sit, en sedert sy geboorte het ons gesorg dat hy ons na vergaderinge vergesel en saam met ons van huis tot huis gaan in ons predikingswerk. Soos ons verwag het, behandel die gemeente hom met vriendelikheid en deernis.

Maar daar is diegene wat verder as dit gaan. Hulle het ’n spesiale geneentheid vir hom. Andrew voel dit blykbaar aan op ’n vlak wat heeltemal onaangetas is deur sy beperkte verstandsvermoë. By hierdie mense oorkom hy maklik sy aangebore skuheid, en aan die einde van die vergaderinge gaan hy reguit na hulle toe. Keer op keer het ons sy instinktiewe vermoë gesien om, selfs in ’n groep, diegene uit te ken wat ’n spesiale geneentheid vir hom het.

Dieselfde geld vir sy betoning van liefde. Andrew werk baie saggies met babas, ouer mense en troeteldiere. Wanneer hy partykeer sonder aarseling na ’n baba toe gaan van iemand wat ons nie ken nie, bly ons naby, gereed om die kind te red as Andrew onbewustelik te rof speel. Hoe dikwels het ons ons tog geskaam oor ons vrese as ons gesien het hoe saggies hy aan die baba vat, net soos ’n sogende moeder sou!

Lesse wat ons geleer het

Omdat alle kinders met Down-sindroom nogal baie na mekaar lyk, het ons verwag dat hulle persoonlikhede ook baie dieselfde sou wees. Ons het egter gou geleer dat hulle ’n groter ooreenkoms met hulle gesin toon as met mekaar. Elkeen het ’n unieke persoonlikheid.

Andrew, soos baie ander jongmense, hou nie van harde werk nie. Maar ons het gevind dat ’n taak nie meer vir hom soos werk was as ons die geduld en deursettingsvermoë gehad het om hom oor en oor daardeur te neem totdat dit ’n gewoonte is nie. Sy werkies in die huis het nou ’n tweede natuur vir hom geword, en slegs ekstra pligte word as werk beskou.

Wanneer ons terugkyk op die lesse wat ons gedurende Andrew se lewe geleer het, kom een interessante paradoks na vore. Feitlik al die beginsels wat ons geleer het deur Andrew groot te maak, is net soveel van toepassing op ons verhoudings met ons ander kinders en met mense in die algemeen.

Wie van ons reageer byvoorbeeld nie positief op opregte liefde nie? As jy ooit ongunstig vergelyk is met iemand wie se vermoëns en ondervinding grootliks van joune verskil, het jy dit nie onregverdig en frustrerend gevind nie? Laastens, is dit nie waar van baie van ons dat ’n taak wat oorspronklik onaangenaam was uiteindelik draaglik, selfs bevredigend, geraak het as ons die dissipline gehad het om dit deur te sien nie?

Hoewel ons in ons menslike kortsigtigheid baie trane oor Andrew gestort het, het ons ook baie vreugdes, klein en groot, gedeel. En ons vind dat ons op gebiede wat niks met Andrew te doen het nie, gegroei het as gevolg van hom. Ons het geleer dat enige ondervinding in die lewe, ongeag hoe moeilik, die potensiaal het om eerder beter mense van ons te maak as om ons te verbitter.

Daar is iets anders wat vir ons baie belangrik is. Ons put baie vreugde uit die verwagting van die wonderlike oomblik wanneer ons die omkering van Andrew se gebrek sal aanskou. Die Bybel beloof dat alle blinde, dowe, lam en stom mense binnekort in God se nuwe wêreld tot blakende gesondheid herstel sal word (Jesaja 35:5, 6; Matteus 15:30, 31). Stel jou die vreugde voor wat daar sal wees wanneer almal eerstehands die genesing van verstand en liggaam aanskou terwyl die mensdom tot hulle volle potensiaal kom! (Psalm 37:11, 29).—Bygedra.

[Venster op bladsy 12]

Grade van gestremdheid

Party deskundiges verdeel mense met Down-sindroom in drie groepe. (1) Opvoedbaar (Lig): dié wat aansienlike akademiese vaardighede kan aanleer. Hierdie groep sluit party in wat akteurs of selfs dosente geword het. Party het daarin geslaag om onafhanklik te lewe met minimale toesig. (2) Opleibaar (Matig): dié wat sekere praktiese vaardighede kan leer. Hoewel hulle geleer kan word om in sekere mate vir hulleself te sorg, is meer toesig nodig. (3) Hewig (Erg): die groep wat die minste funksioneel is, wat baie toesig moet hê.

Wat van Andrew? Ons weet nou dat hy onder die kategorie val wat as “Opleibaar” geklassifiseer word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel