Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 10/09 bl. 14-17
  • Suksesverhale—Deel 1

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Suksesverhale—Deel 1
  • Ontwaak!—2009
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Seldsame Christelike erfenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Klein hartjies met groot hartseer
    Ontwaak!—2017
  • Wat ons by Andrew geleer het
    Ontwaak!—1995
  • Sê nou my ouer is siek?
    Jongmense vra
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 10/09 bl. 14-17

Suksesverhale—Deel 1

Soos hierdie spesiale uitgawe van die Ontwaak! alreeds getoon het, is suksesvolle gesinne nie sonder probleme nie. Dit is glad nie verbasend nie, want ons lewe in wat die Bybel beskrywe as “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Elke gesin sal ongetwyfeld probleme ondervind.

Onthou egter dat sukses nie van sogenaamde ideale omstandighede afhang nie. Inteendeel, Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Gesinne wat in hulle geestelike behoefte voorsien deur Bybelbeginsels te volg, het die sleutel tot sukses gevind—ondanks hulle negatiewe omstandighede. Kyk na ’n paar voorbeelde.

Die versorging van ’n gestremde kind. Die Bybel toon dat dit baie belangrik is om na gesinslede om te sien, insluitende dié met spesiale behoeftes. Dit sê: “As iemand vir sy eie mense, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige.”—1 Timoteus 5:8.

Op bladsy 15 vertel Victor, ’n vader in Suid-Afrika, hoe hy en sy vrou al meer as vier dekades na ’n gestremde kind omsien.

Die lewe as ’n aangenome kind. Bybelbeginsels kan ’n mens help om ’n gebalanseerde gevoel van eiewaarde te ontwikkel—selfs as sy of haar biologiese ouers hom of haar verlaat het. Ja, die Bybel sê dat Jehovah God ’n “helper” is vir dié wat geen vader het nie.—Psalm 10:14.

Op bladsy 16 beskryf Kenyatta, ’n jong vrou in die Verenigde State, hoe sy geleer het om die emosionele gevolge te verwerk van die feit dat sy nog nooit haar biologiese ouers ontmoet het nie.

Wanneer ’n ouer sterf. Om ’n ma of ’n pa te verloor, kan emosionele letsels laat wat moeilik is om te genees. Die Bybel kan help. Die Outeur daarvan, Jehovah, is “die God van alle vertroosting”.—2 Korintiërs 1:3.

Op bladsy 17 verduidelik Angela, ’n jong vrou in Australië, hoe haar verhouding met God haar help om ’n pynlike verlies te verwerk.

Alle gesinne het uitdagings wat hulle die hoof moet bied. Soos die verhale op die volgende bladsye sal toelig, het dié wat Bybelbeginsels toepas, ’n noodsaaklike sleutel tot sukses gevind wat hulle help om uitdagings te bowe te kom.

[Venster/Prente op bladsy 15]

Die versorging van ’n gestremde kind

Soos vertel deur Victor Maynes, Suid-Afrika

“Andrew is van geboorte af van ons afhanklik om hom aan te trek, te bad en soms selfs om hom te help eet. Hy is nou 44 jaar oud.”

TOE Andrew ná sy eerste jaar nog nie begin loop het nie, het ons vermoed dat iets fout is. Omtrent daardie tyd het hy stuipe gekry. Ons het met Andrew na die hospitaal gejaag, waar ons uitgevind het dat hy epilepsie het. Maar dit was nie al nie. Verdere toetse het bevestig dat Andrew breinskade het.

Nadat ons baie verskillende behandelings probeer het, kon ons Andrew se stuipeaanvalle onder beheer kry. ’n Tyd lank moes hy drie maal per dag vier verskillende soorte medisyne neem. Sy verstandelike gestremdheid kan natuurlik nie met medikasie verbeter word nie. Andrew het nou nog, op 44-jarige ouderdom, die verstandelike vermoë van ’n vyf- of sesjarige kind.

Dokters het ons aangeraai om Andrew in ’n spesiale inrigting te plaas, maar ons het besluit om dit nie te doen nie. Ons was in staat om in sy behoeftes te voorsien, en daarom het ons, ondanks die onvermydelike uitdagings, besluit om by die huis na hom om te sien.

Ons het dus as ’n gesin vir Andrew gesorg. Ons ander kinders—ons het nog twee dogters en ’n seun in die huis gehad—was ’n groot ondersteuning, en ek is baie dankbaar teenoor hulle! As Jehovah se Getuies het ons ook wonderlike ondersteuning van lede van ons gemeente gekry. Soms het hulle vir ons maaltye voorsien of selfs vir Andrew opgepas wanneer ons aan die bediening deelgeneem het of na ander sake moes omsien.

Die woorde van Jesaja 33:24 het ons nog altyd na aan die hart gelê. Dit bevat God se belofte dat daar ’n tyd sal kom wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”. Ons glo vas dat God sy voorneme sal verwesenlik om ’n nuwe wêreld tot stand te bring en alle siekte uit die weg te ruim (2 Petrus 3:13). Ons sien dus uit na die dag wanneer Andrew gesond sal wees. Intussen stel ons geloof in Jesus se versekering dat daar in ons benodigdhede voorsien sal word as ons die belange van God se Koninkryk eerste in ons lewe stel (Matteus 6:33). Dit was nog altyd die geval. Ons het nog nooit enigiets kortgekom nie.

Dit is natuurlik nie vir almal moontlik om by die huis na ’n sieklike familielid om te sien nie. Vir dié wat dit wel doen, sal ek eerstens intense en gereelde gebed aanbeveel (1 Petrus 5:6, 7). Tweedens moet julle julle kind altyd teer en liefdevol versorg, en moet nooit sy of haar vermoë onderskat om te leer om Jehovah God lief te kry nie (Efesiërs 6:4). Derdens moet julle die hele familie betrek en hulle toelaat om te help. Vierdens moet julle onthou dat julle huis die plek is waar julle kind die meeste liefde sal ontvang. Omstandighede verskil natuurlik. Maar ons was nog nooit spyt dat ons besluit het om by die huis na Andrew om te sien nie. Vir my is hy die dierbaarste kind—die dierbaarste man—wat ek ken.

[Venster/Prente op bladsy 16]

Die lewe as ’n aangenome kind

Soos vertel deur Kenyatta Young, Verenigde State

“As jy ’n stiefkind is, is daar ’n biologiese band. Maar omdat ek aangeneem is, het ek dit nie. Ek weet nie eens soos wie ek lyk nie.”

EK HET geen idee wie my pa is nie, en ek het nog nooit my biologiese ma ontmoet nie. Sy het alkohol en dwelms misbruik toe sy my verwag het. Ek is by geboorte in pleegsorg geplaas en was in etlike pleeghuise voordat ek op omtrent tweejarige ouderdom aangeneem is.

Toe die welsynwerker vir hom ’n foto van my gewys het, sê my aanneempa, moes hy my eenvoudig aanneem. Ek het onmiddellik ’n band met my nuwe ma gevorm. Ek het vir haar gesê dat sy my ma is en dat ek saam met haar wil huis toe gaan.

Maar ek onthou dat ek as ’n kind bang was dat ek iets verkeerds sou doen en weer in pleegsorg geplaas sou word. Ek het gevoel dat ek nie buierig kon wees of selfs soos ander kinders kon siek word nie. Ek het selfs probeer om nie verkoue te kry nie! My ouers het my bly verseker dat hulle vir my lief is en dat hulle my nie sal verlaat nie.

Selfs as ’n volwassene worstel ek soms met die gevoel dat daar nie soveel waarde aan my geheg word as aan diegene wat deur hulle biologiese ouers grootgemaak is nie. Net wanneer ek dink dat ek dit verwerk het, sê iemand vir my: “Jy moet so dankbaar wees dat jy wonderlike ouers het wat bereid was om jou aan te neem!” Ek is dankbaar, maar sulke kommentare laat my voel dat daar iets fout is met my en dat dit buitengewone inspanning van iemand geverg het om my lief te hê.

Dit is vir my moeilik om die feit te aanvaar dat ek waarskynlik nooit sal weet wie my biologiese pa is nie. Soms voel ek seergemaak dat my biologiese ma nie haar lewe in orde kon kry sodat sy my kon hou nie, asof ek nie die moeite werd was nie. Ander tye voel ek vir haar jammer. Ek dink dikwels wat ek vir haar sou wou sê as ek haar ooit ontmoet—dat ek ’n sukses van my lewe gemaak het en dat sy nie sleg moet voel dat sy my weggegee het nie.

My aanneemouers is Jehovah se Getuies, en een van die beste geskenke wat ek van hulle ontvang het, is ’n kennis van die Bybel. Ek vind die woorde van Psalm 27:10 altyd vertroostend: “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem.” Dit is beslis in my geval waar. En om ’n aangenome kind te wees, het ’n paar positiewe aspekte. Ek word byvoorbeeld gefassineer deur mense—hulle agtergrond en hulle lewe—waarskynlik omdat ek nie my eie biologiese familie ken nie. Ek is lief vir mense, en in die Christelike bediening is dit werklik belangrik. Om een van Jehovah se Getuies te wees en oor die Bybel te praat, gee my waardigheid en ’n doel in die lewe. Wanneer ek terneergedruk voel, gaan ek in die bediening uit en help ek ander. Wanneer ek mense van die Bybel leer, vind ek dat ek werklik met hulle ’n band kan vorm. Elkeen het sy eie verhaal.

[Venster/Prente op bladsy 17]

Wanneer ’n ouer sterf

Soos vertel deur Angela Rutgers, Australië

“Toe my pa dood is, het ek gevoel asof iemand ’n yslike gat in my veiligheidsnet gesny het. Die een mens wat alles geweet het en enigiets in my lewe kon regmaak, was nie meer daar nie.”

MY PA is tien jaar gelede oorlede, toe ek ’n tiener was. Hy het ses maande vroeër ’n operasie gehad, en terwyl hy nog in die herstelkamer was, het die dokter vir ons gesê dat hulle niks meer vir hom kon doen nie. My ma wou dringend meer inligting hê, my broer het flou geword en ek is deur baie verskillende emosies oorweldig. My pa is ses maande later dood.

Ek het ’n tyd lank teenstrydige emosies ervaar. Ek wou hê dat my vriende moes verstaan wat ek deurmaak, maar ek wou nie soos ’n slagoffer behandel word nie. Ek het dus probeer om nie vir hulle te wys hoe ek voel nie. Aan die ander kant het ek gedink dat dit die indruk sou skep dat my lewe in ’n mate normaal is as ek hulle geselskap geniet, maar my lewe was nie normaal nie. As ek nou terugdink, besef ek net hoe geduldig my vriende met my was!

Worstel ek met skuldgevoelens oor my pa se dood? Ja, beslis! Ek wens ek het meer dikwels vir hom gesê: “Ek is lief vir Pa!” Ek wens ek het hom meer drukkies gegee of meer tyd saam met hom deurgebring. Ongeag hoeveel keer ek vir myself sê: ‘Hy sou nie wou hê dat jy so moet dink nie’, pla dit my nog steeds.

As een van Jehovah se Getuies put ek groot vertroosting uit die opstandingshoop wat in die Bybel gevind word (Johannes 5:28, 29). Ek probeer my voorstel dat my pa net op ’n oorsese reis gegaan het en dat hy eendag huis toe sal kom, maar dat ek nie weet presies wanneer nie. Wanneer mense aan die begin vir my gesê het: “Jou pa sal in die opstanding terugkom”, was dit vreemd genoeg nie vir my bemoedigend nie. Ek het gedink: ‘Ek wil my pa nou terughê!’ Maar die illustrasie van die oorsese reis het gehelp. Dit het op die opstanding gesinspeel, terwyl dit my gehelp het om die onmiddellike verlies te verwerk.

Mede-Christene was vir my ’n ongelooflike ondersteuning. Ek onthou veral een wat vir my gesê het dat hy baie ongemaklik voel om oor my pa se dood te praat, maar dat hy die hele tyd aan ons gesin dink. Ek het aan daardie woorde bly dink. Dit het my gehelp om deur die dae te kom wanneer niemand enigiets gesê het nie, want dit het my laat besef dat hulle wel aan ons gesin dink, al sê hulle niks nie. Dit het vir my soveel beteken!

Vier maande ná my pa se dood het my ma meer in die bediening begin doen, en ek kon sien dat dit haar die grootste vreugde verskaf. Ek het dus haar voorbeeld gevolg. Dit is verbasend hoe dit ’n mens help om probleme te verwerk as jy ander help. Dit het my geloof in Jehovah se Woord en sy beloftes versterk, en dit help my selfs nou om nie die geheelbeeld uit die oog te verloor nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel