Die oorsprong van Kersfees
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
NET drie dae voor die Kersfees van 1993 het pous Johannes-Paulus II erken dat die viering van Kersfees nie die Bybel as grondslag het nie. Aangaande die datum 25 Desember het die Pous erken: “Op daardie dag het die eertydse heidene die verjaarsdag van die ‘Onoorwinlike Son’ gevier om saam te val met die wintersonstilstand.” Hoe het Kersfees dan ontstaan? Die Pous het voorts gesê: “Dit het vir Christene logies en natuurlik voorgekom om daardie fees met die viering van die enigste en ware Son, Jesus Christus, te vervang.”
“Met ander woorde”, het die joernalis Nello Ajello in La Repubblica geskryf, “iemand het verklaar dat Jesus op ’n denkbeeldige, versinde, valse datum gebore is.” Wanneer het hierdie versinsel ontstaan? ’n Persverklaring van die Vatikaan het gesê: “Kersfees het vir die eerste keer in 354 [G.J.] verskyn.”
Wat van 6 Januarie, Driekoningedag, wat die koms herdenk van die sterrewiggelaars om die pasgebore Jesus te besoek? “Talle bewyse laat ons tot die slotsom kom dat die keuse van 6 Januarie, soos in die geval van 25 Desember vir die Roomse vakansiedag wat Jesus se geboorte vier, ook deur ’n heidense gedenkdag beïnvloed is”, het die persverklaring voorts gesê. “Trouens, in Alexandrië het die heidene gewoonlik die aand tussen 5 en 6 Januarie die verjaarsdag van die god Aeon (god van tyd en ewigheid) gevier. . . . Dit lyk asof die Kerk hierdie fees wou verchristelik.”
Jesus het nooit sy volgelinge die gesag gegee om ware aanbidding met heidense gebruike te vermeng nie. Hy het eerder aan hulle gesê ‘om alles wat ek julle beveel het’ aan ander te leer (Matteus 28:19, 20). En toe Jesus deur die godsdiensleiers van sy dag gekonfronteer is, het hy hulle gevra: “Waarom oortree julle ook die gebod van God weens julle oorlewering?” (Matteus 15:3). Daardie selfde vraag kan met reg gerig word aan sogenaamde Christene wat vandag heidense gebruike bevorder.