Van ons lesers
Uitstellery Die artikel “Uitstellery—die dief van tyd” (8 April 1995) was op ’n praktiese en humoristiese manier geskryf. Terwyl ek dit gelees het, het ek gevind dat ek vir myself lag, aangesien ek die nare gewoonte het om dinge uit te stel.
F. B. H., Brasilië
Ek was nog my lewe lank ’n ongeneeslike uitsteller; gevolglik was dit baie tydige inligting vir my. Dit was goed geskryf en ek beoog om die inligting te gebruik om my te help om my tyd beter te beplan. Ek wou al dikwels skryf om dankie te sê vir verskillende artikels en het dit nooit gedoen nie. Nou het ek dit uiteindelik uitgevoer!
M. H., Verenigde State
Terwyl ek deur die tydskrif geblaai het, het ek die artikel gesien. Ek het die inleiding gelees en gedink dat ek die res van die artikel later sou lees. Maar die openingswoorde was: “Stop! Moenie hierdie artikel neersit nie!” Ek besef nou dat ek toegelaat het dat ek van tyd beroof word as gevolg van uitstellery.
A. E., Italië
Ek is ’n kleremaker, en uitstellery was vir my ’n leefwyse. Ek het nagelaat om dinge neer te skryf, op die geskikte tyd te delegeer en vir onderbrekings te beplan. Maar nou het ek geleer om julle wenke toe te pas, en ek geniet die belonings.
S. N., Nigerië
Laaste dae As ’n voltydse evangeliedienaar wil ek julle graag bedank vir ons tydskrifte. Terwyl ek die voorbladartikels in die nommer van 22 April 1995, “Is hierdie die laaste dae?” gelees het, het ek gedink: ‘Hoe duidelik, reguit en goed geïllustreer is hierdie artikels tog nie!’ Die uitleg, skitterende fotografie en byskrifte het werklik die punte laat insink en het dit maklik gemaak om die artikels te lees en te verstaan. Dit was ’n genot om sulke materiaal vir ons bure aan te bied!
J. B., Verenigde State
Gordelroos Ek het julle artikel “Gordelroos—Hoe om die pyn die hoof te bied” (22 April 1995) gelees. Drie dae later het ek ’n veluitslag ontwikkel wat baie ooreengestem het met die beskrywing van gordelroos in julle artikel. Ek het dokter toe gegaan en vir hom gesê ek dink dat ek dalk gordelroos het. En jou waarlik, hy het vir my volpunte gegee—my diagnose was reg! Omdat die siekte in ’n vroeë stadium ontdek is, het hy gesê dat ek baie van die pyn gespaar sou word wat die meeste gordelroospasiënte ondervind. Dankie vir julle artikel!
K. B., Verenigde State
Matresjka Dankie vir die artikel “Matresjka—Wat ’n pop!” (22 April 1995). Terwyl ek dit gelees het, was ek beïndruk deur die manier waarop dit geskryf is. Die foto’s is pragtig! Hierdie pop het my van kleins af gefassineer, maar ek het niks van die oorsprong daarvan geweet nie. Nou sal ek iemand moet oorreed om vir my een te koop!
M. T., Italië
Aborsie Die artikel “Jongmense vra . . . Aborsie—Is dit die oplossing?” (8 Maart 1995) het my aandag getrek. Vier-en-twintig jaar gelede, toe ek op 15-jarige ouderdom swanger geraak het, het ek dieselfde vloedgolf emosies ervaar as die meisies wat in die artikel gemeld word. Die baba se vader het my aangemoedig om ’n aborsie te ondergaan, maar ek het daarteen besluit. My priester wou hê dat ek my baba moes opgee vir aanneming. Ek het nooit weer my voete in die Katolieke Kerk gesit nie! My ouers het my egter ondersteun. Ek het daaroor begin dink om my baba ’n goeie geestelike opvoeding te gee. Toe Jehovah se Getuies na ons huis gekom het, het ek ’n Bybelstudie aanvaar, en ek is kort voor lank gedoop. Vandag is ek gelukkig getroud. En my seun? Hy dien by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies. Ek sidder as ek dink aan die eerste alternatief—aborsie. Dit is nie die oplossing nie!
G. J., Verenigde State