Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 4/22 bl. 12-14
  • Gordelroos—Hoe om die pyn die hoof te bied

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gordelroos—Hoe om die pyn die hoof te bied
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oorsake, voorkomssyfer en prognose
  • Behandeling
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1995
  • Die pyn wat nie meer daar sal wees nie
    Ontwaak!—1994
  • Vooruitgang in die behandeling van pyn
    Ontwaak!—1994
  • Wie het pyn nodig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 4/22 bl. 12-14

Gordelroos—Hoe om die pyn die hoof te bied

“Die geweldige pyn agter my oog het my banggemaak”, sê Ann. “Ek was bekommerd dat dit ’n breingewas is.”

“Toe ek met so ’n buiten- gewone ongemak in my sy wakker geword het, het ek gedink dat dit blindedermont- steking moet wees”, sê Jean.

“Dis nie die eerste keer dat ek ’n uitslag gehad het nie”, vertel Dilip, “maar ek het gewonder waarom hierdie een so seer is onder die vel.”

WAT presies is gordelroos? Hierdie leketerm vir die siekte kom klaarblyklik van die ou woord sengles (wat “’n buikgord” of “’n lyfband” beteken), wat van die Latynse cingulum afgelei is en “gordel” beteken.

Dit staan medies bekend as herpes zoster (van die Griekse terme herʹpes, wat afgelei is van herʹpo, wat beteken “om te kruip”, en zo·sterʹ, wat “gordel” beteken). In ooreenstemming met die naam kruip die herpesvirus wat gordelroos veroorsaak stelselmatig al langs die sensoriese senuwees en omgord dit dikwels die bolyf met sy kronkelende spoor van pynlike uitslag. Die folterende pyn wat ’n persoon dikwels as gevolg van die ontsteekte senuwee ondervind, kan onuithoudbaar wees, en daarom word die uitdrukking “akute pyn” deur sommige dokters gebruik.

Vroeë simptome van gordelroos, soos koors, verkoues en algemene ongesteldheid, laat dit dikwels na griep lyk, maar kan ook met ’n hartaanval, ’n breingewas of die een of ander ernstige toestand verwar word. ’n Dooie gevoel, gekriewel op die vel en geweldige brandende of jeukerige sensasies wat tot kwaai, onuithoudbare pyn ontwikkel, is die algemeenste klagtes van die gordelrooslyer.

Binne ongeveer ’n week vandat die simptome begin het, verskyn ’n strook jeukerige rooi puisies al langs die sensoriese senuweenetwerk wat deur die virus aangeval word, wat gewoonlik bo die middellyf en slegs aan die een kant van die liggaam voorkom. Tipiese plekke waar dit voorkom, is op die ribbekas, onderrug, bors, nek, voorkop of oë, na gelang van die senuweeganglia wat aangetas is. Die uitslag ontwikkel spoedig tot groepies vesikels, of waterige blasies, wat verwar kan word met die uitslag wat deur die giftige klimopplant veroorsaak word. Binne ongeveer tien dae maak dit rofies en begin dit afval, en dit het in baie gevalle letsels en voortgesette pyn tot gevolg wat as herinnering dien dat ’n mens met gordelroos te doen gehad het.

Oorsake, voorkomssyfer en prognose

Hoe kry ’n mens gordelroos? Dit is waarskynlik die pasiënt wat homself besmet. Mediese navorsers het feitlik sonder twyfel vasgestel dat die herpesvirus (varicella zoster) wat gordelroos veroorsaak dieselfde hoogs aansteeklike virus is wat waterpokkies veroorsaak. Dit verduidelik waarom iemand wat gordelroos het, kan veroorsaak dat ’n ander persoon (gewoonlik ’n kind) waterpokkies kry. Maar om gordelroos te kan kry, moet ’n mens eers waterpokkies gehad het.

Nadat ’n mens waterpokkies gehad het, gewoonlik vroeg in jou kinderjare, raak die immuunstelsel nie heeltemal van die varicella-zoster-virus ontslae nie. Dit beweeg na ’n afgeleë senuweesentrum (navorsers meen dat dit ’n werwel- of kraniale gebied is), en daar lê dit sluimerend totdat dit die regte omstandighede vind om weer aan te val, dikwels jare later wanneer die immuunstelsel geneig is om swakker te wees.

Hoewel 10 tot 20 persent van die gewone bevolking gordelroos die een of ander tyd in hulle lewe kry, is diegene oor die ouderdom van 50 die vatbaarste daarvoor. Navorsers skat dat die helfte van diegene wat die ouderdom van 85 bereik al die siekte gehad het. Ongeveer net soveel mans as vroue word aangetas. Die siekte kan terugkeer, maar dit is darem ’n troos om te weet dat slegs ongeveer 2 tot 4 persent ’n tweede aanval kry.

’n Mens kry gordelroos gewoonlik ná ’n tydperk van kwaai siekte, buitengewone stres, langdurige afgematheid of ander trauma in ’n mens se lewe. Dit kan volg op chemoterapie, bestraling of ander prosedures wat die immuunstelsel ondermyn of verswak. Hierdie tweede aanval deur die waterpokkies-virus veroorsaak nie ’n hernieude aanval van waterpokkies nie, maar wel gordelroos, wat sommige van die algemene kenmerke van waterpokkies het. Hierdie kenmerke sluit stadiums van uitslag, blasies en rofies in, maar gordelroos is nietemin ’n afsonderlike siekte.

Hoe ernstig is gordelroos, en hoe lank duur ’n aanval? Hoewel gordelroos lyding veroorsaak, is die siekte selde lewensgevaarlik. Maar as jy dit eers kry, moet jy daarop voorbereid wees om etlike weke aanhoudende pyn te verduur namate die liggaam verdedigingsmeganismes opbou om hierdie opvlamming van die virusbesmetting die hoof te bied. Die duur van die siekte wissel in die meeste gevalle van sewe tot tien dae, hoewel dit tot vier weke vir die uitslag kan neem om te genees. Dit is nie ongewoon dat gordelroospasiënte ’n aantal weke, of soms maande, nadat die blasies verdwyn het deur senuweepyn, wat postherpetiese neuralgie genoem word, geteister word nie.

As die besmetting na een van die oë versprei, kan dit die gesigsvermoë ernstig aantas en blindheid veroorsaak. Dit is dus raadsaam om onmiddellik ’n oogarts te raadpleeg as die gesigsarea aangetas is. Vroeë behandeling kan dikwels ernstige oogkomplikasies voorkom.

Behandeling

Wat kan gedoen word om gordelroos doeltreffend te behandel? Hoewel baie geneesmiddels al van toeka se tyd af tot nou toe op die proef gestel is, is die eerlike antwoord dat die mediese wetenskap nog met ’n behandelingsmetode vorendag moet kom wat meer sal doen as om die simptome daarvan effens te verlig en die pyn te beheer totdat die siekte vanself opgehou het.

Onlangse navorsing oor die gebruik van viruswerende medisyne in die behandeling van verskillende herpesbesmettings het ’n paar belowende resultate in die behandeling van gordelroos gelewer. Byvoorbeeld, hoewel asiklovir dit weliswaar nie genees nie, vertraag dit die vermenigvuldiging van die virus en help dit om die pyn by sommige pasiënte te verlig en die duur van die siekte te verkort. Navorsers sê om die beste resultate te verkry, moet daar vroeg met behandeling begin word.

In ’n studie by die Universiteit van Colorado se Mediese Fakulteit het gordelroospasiënte wat mondeliks tot 800 milligram asiklovir vyf keer per dag vir tien dae ontvang het aansienlik minder letselvorming, rofies en pyn gehad as diegene wat plasebo’s ontvang het. Navorsers stem nie almal daaroor saam dat asiklovir ook help om die hewigheid van postherpetiese neuralgie te verlig nie. Vidarabien, nog ’n viruswerende medisyne, help ook in ’n sekere mate in die behandeling van gordelroos. Daar word navorsing oor ’n entstof gedoen, maar dit is nog in die proefstadium.

Baie wat gordelroos gehad het, sê dat die pyn draagliker sou wees as dit nie so aanhoudend is nie. Dit duur dag en nag voort, wat die pasiënt verstandelik sowel as liggaamlik uitput.

Gedurende daardie dae wanneer die pasiënt se pynvlak baie hoog is, oorweeg dokters dit dalk om die pasiënt ’n paar dae lank sterker pynstillers te gee, hoewel dit geneig is om ongewenste newe-effekte te hê. Indien die pasiënt dit kan uitstaan, kan die aanwending van kouewaterkompresse strelend wees. ’n Room met 1 persent silwersulfadiasien wat ’n paar keer per dag plaaslik aangesmeer word, het sommige al gehelp. Pasiënte moet die blasies met rus laat; hulle moet dit nie krap of met verbande toemaak nie.

Die sere sal geleidelik genees, maar vir baie lyers is daar geen afname in die pyn namate gordelroos sy tweede aanval doen nie. Postherpetiese neuralgie ontwikkel, wat veral die bejaardes en pasiënte wat immuunswak is, aftakel. Dit is moeilik om hierdie kloppende, brandende pyn te verduur. Kortikosteroïede is al op die proef gestel, maar daar is nog nie afdoende mediese gegewens oor die doeltreffendheid en veiligheid van hierdie kragtige verdowingsmiddel nie. Dokters skryf soms die gemoedsverligter amitriptilien voor as daar langdurige pyn is, maar dit kan ook die probleem vererger, veral as dit oor ’n lang tydperk gebruik word.

Vreemd genoeg, heelwat belowende resultate is verkry om die pyn te beheer met ’n salf wat kapsikum bevat, wat van rissies afkomstig is en gebruik word om rissiepoeier van te maak. Maar dit kan nie aangesmeer word voordat die oop blasies nie heeltemal genees het nie. Jean, wat aan die begin genoem is, wat ’n stryd teen ’n kwaai aanval van gordelroos gevoer het, het verligting gevind deur etlike weke lank dag en nag ’n TENS-eenheid (Transhuid- Elektriese Senuweestimuleringseenheid) te dra. Die klein elektriese impulse het die geweldige inwendige pyn onderdruk en haar vryheid van beweging toegelaat.

Die lys boererate is lank, wat meestal te doen het met ’n heilsame dieet (wat min arginien bevat) en wat aanvullings, soos vitamiene B en C en L-lisien, insluit. Sommige trek voordeel daaruit deur appelasyn plaaslik aan te wend; ander gebruik vitamien E om die huiduitslag te help genees.

As jy gordelroos kry, sal vriende heel waarskynlik kort voor lank ongevra van heinde en ver vir jou hulle gunstelingrate stuur. Sommige wenke sal dalk help, maar baie sal nie help nie. Miskien sal dit jou laat glimlag te midde van jou pyn. Jou vriende gee ten minste om en dié wete sal dalk meer doen as hulle rate.

Om gordelroos dus die hoof te bied, kan die pasiënt en sy dokter ’n paar dinge doen om die aanval en die pyn te verlig. Maar as jou dokter sê: “Dit lyk of jy gordelroos het”, sal hy moontlik eenvoudig sê dat dit die beste is om geduld en uithouvermoë aan die dag te probeer lê terwyl die verdedigingsmeganismes wat die Skepper ons liggaam gegee het die siekte onder beheer kry.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel