Tabakmaatskappye in ’n vuurstorm vasgevang
VOLGENS ’n verslag wat in The New York Times van 26 Julie 1995 verskyn het, “het die Departement van Justisie ’n voorlopige jurie in New York byeengeroep om na te gaan of tabakmaatskappye die inhoud en slegte gevolge van sigarette verkeerd aan Federale kontroleurs voorgestel het. Die departement sal heel waarskynlik ’n tweede paneel hier byeenroep om na te gaan of maatskappybestuurders vir die Kongres gelieg het oor tabakprodukte.”
Op grond waarvan word dit gedoen? Die verslag het dit verduidelik. In April 1994 het vooraanstaande uitvoerende bestuurders van die sewe vernaamste tabakmaatskappye in die Verenigde State onder eed voor ’n Kongreskomitee getuig dat “hulle nie gedink het dat nikotien verslawend is, dat sigarette siektes veroorsaak of dat hulle maatskappye die nikotienvlak in tabakprodukte manipuleer nie”.
Daarna het die dak ingeval—hulle bewerings van onskuld het in duie gestort—toe tweeduisend beswarende dokumente in Junie 1995 aan die lig gekom het. Hierdie dokumente toon dat tabaknavorsers 15 jaar daaraan bestee het om nikotien se “farmakologiese” uitwerking op die liggaam, brein en gedrag van rokers te bestudeer. Dr. Victor DeNoble, ’n voormalige wetenskaplike navorser by een van die maatskappye, beskryf die belangrikste bevinding van die navorsing: “Die maatskappy het begin besef dat hulle die teer kon verminder maar die nikotien kon vermeerder, en die sigaret sou steeds vir die roker aanvaarbaar wees. Ná al hulle werk het hulle besef dat nikotien nie net kalmerend of stimulerend is nie, maar dat dit ’n uitwerking in die brein het en dat mense ter wille van die uitwerking in die brein rook.”
Volgens The New York Times het maatskappystudies getoon dat mense, “ongeag die soort sigaret wat hulle gerook het, geneig was om die hoeveelheid nikotien te kry wat hulle nodig gehad het deur dieper in te asem, die rook langer in hulle mond te hou of meer sigarette te rook”. Maatskappynavorsers het ’n sigaret probeer maak met ’n lae teergehalte en ’n nikotienvlak wat hoog genoeg is om rokerbevrediging te bied.
Die dokumente het ook aan die lig gebring dat die tabakmaatskappy ’n intense belangstelling in sy klante aan die dag gelê het. Dit het kollegestudente meer as 15 jaar lank bestudeer. Mense in een dorp in Iowa, met inbegrip van ’n paar 14-jarige rokers, is oor hulle rookgewoontes uitgevra.
Die onthulling van hierdie navorsingsdokumente word as ’n seën gesien vir ’n koalisie van regsgeleerdes wat ’n groepaksie teen sewe tabakfirmas instel. Hulle beskuldig tabakmaatskappye daarvan dat hulle kennis van nikotien se verslawende eienskappe verswyg het en nikotienvlakke gemanipuleer het om verslawing te bevorder. Een regsgeleerde het gesê dat geen jurie in die wêreld sal glo dat hierdie maatskappye hierdie navorsing as ’n stokperdjie gedoen het nie.
Namate die vuurstorm in die ontwikkelde wêreld hewiger raak, waai die tabakrook meer na die ontwikkelende wêreld toe. Veertig jaar gelede het feitlik geen vroue nie en net ongeveer 20 persent van die mans in die Suide, of ontwikkelende wêreld, gerook. Maar vandag is 8 persent van alle vroue en 50 persent van alle mans in ontwikkelende lande tabakrokers—en daardie getal styg. “Rook”, sê navorsers, “waai na die Suide.”
Ontwaak!-medewerker doen verslag oor die neiging
Ons skrywer in Brasilië lewer ’n paar algemene kommentare oor die situasie in die Suide. Navorsing in die nywerheidswêreld skilder ’n al hoe dodeliker prentjie vir die tabakroker. Dit werp vrugte af. “Lande wat besef het dat openbare inligting van die allergrootste belang is, sien nou dat tabakverbruik begin afneem”, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). “In die Noorde”, voeg Panos, ’n inligtingsorganisasie in Londen, by, “is rokery in baie huise, openbare plekke en werksplekke nie meer sosiaal aanvaarbaar nie”, en die meeste mense besef nou dat “rokery hulle dood kan veroorsaak”. “Die tabakbedryf beweeg na die Suide.”
In teenstelling hiermee is die opening van ’n nuwe mark in die Suide so maklik soos om ’n pakkie sigarette oop te maak. Vir die tabaknywerheid is toestande in ontwikkelende lande aanloklik. In 3 uit 4 van die ontwikkelende lande is daar geen beperkings op reklame nie, en terselfdertyd is die publiek grotendeels onbewus van die gevare van rokery. “Mense is nie van die risiko’s bewus nie omdat hulle nie daarvan vertel word nie”, sê Panos.
Advertensies “beeld rokery uit as ’n bekoorlike, prettige bedrywigheid wat deur onafhanklike vroue geniet word” ten einde jong vroue—een van die nywerheid se vernaamste teikens—te oorreed om hulle eerste sigaret aan te steek. Die tabakadvertensies klink gans te veel soos dié wat ’n halfeeu gelede in die nywerheidswêreld gebruik is. Destyds was die advertensies suksesvol. Volgens een bron het 1 uit 3 vroue kort voor lank “met manlike entoesiasme gerook”.
Vandag verseker verskerpte aggressiewe bemarking wat teen onkundige vroue in ontwikkelende lande gerig word dat hierdie reklame-“sukses” van die twintiger- en dertigerjare op die punt staan om herhaal te word. Die sombere vooruitsig is derhalwe dat miljoene jong vroue in die wêreld se armer lande nou die risiko loop om, soos een waarnemer dit gestel het, “in hulle vroeë tienerjare mooi jong nikotienverslaafdes” te word.
Die hoofteiken
Hoewel vroue een van die tabakbedryf se vernaamste teikens is, is jongmense sy hoofteiken. Tekenprentadvertensies en sigaretembleme op speelgoed is lonend, en borgskap van sportgeleenthede is ook.
Onder jongmense in China is daar volgens die tydskrif Panoscope “baie wat begin rook”. Ongeveer 35 persent van 12- tot 15-jariges en 10 persent van 9- tot 12-jariges is rokers. In Brasilië, berig die dagblad Folha de S. Paulo, is tienmiljoen jeugdiges na raming rokers. Is hulle onbewus van die gevare? “Ek weet dat dit nadelig is om sigarette te rook”, sê Rafael, ’n 15-jarige Brasiliaanse seun wat een en ’n half pakkies sigarette per dag rook, “maar dis baie lekker.” Die gevolg van hierdie ligsinnige redenasie? “Elke dag”, sê Panos, “begin ten minste nog 4000 jongmense rook.”
Die tabakbedryf voer party produkte na die Suide toe uit wat ’n hoër teer- en nikotiengehalte het as soorte wat in die Noorde verkoop word. Die rede is vanselfsprekend. “Ek vra nie om verskoning vir nikotien nie”, het een tabakbedryfamptenaar ’n paar jaar gelede gesê. “Dis wat herhaalde sakegeleenthede meebring. Dis wat mense laat terugkom.” Dit werk. “Weens die hoë nikotienvlak”, bevestig die Nederlandse publikasie Roken Welbeschouwd, “raak mense gouer verslaaf, en dit bied geleenthede om die verbruik en verkope te vermeerder deur daardie vlak geleidelik te verlaag.”
“Die tabakbedryf beskou die Suide as die mark wat die bedryf aan die gang sal hou”, is die slotsom waartoe Panos kom.
Gaan jy rook of aanhou lewe?
Wat sal jy doen as jy in ’n ontwikkelende land lewe? Die feite is duidelik. Tot 1950 was sterftes weens rookverwante siektes onbeduidend, maar vandag sterf daar elke jaar eenmiljoen mense in die Suide weens rookverwante siektes. Die WGO waarsku egter dat die jaarlikse aantal rookverwante sterftes in ontwikkelende lande binne drie dekades tot sewemiljoen sal styg. In teenstelling met wat die tabakadvertensies vir jou vertel, is sigarette op die ou end spykers in ’n mens se doodskis.
Jy sê dat jy van die gevare bewus is? Dit is goed, maar wat gaan jy met daardie kennis doen? Sal jy soos die roker wees wat soveel slegte dinge omtrent rokery gelees het dat hy besluit het om op te hou lees? Of sal jy verstandig genoeg wees om deur die rookskerm te sien wat deur tabakadvertensies opgerig word en nee te sê vir rokery? Tabakrook waai weliswaar na die Suide—maar dit hoef nie na jou kant toe te waai nie!
[Venster op bladsy 19]
China—Die grootste
Zhang Hanmin, ’n 35-jarige werker in China, hou sy hande bak en steek ’n sigaret aan. “Eintlik”, sê hy, “kan ek sonder baie dinge klaarkom, maar sigarette is nie een van hulle nie.” Dieselfde kan blykbaar van nog 300 miljoen van Zhang se landgenote gesê word. Sedert die tagtigerjare het China “meer as enige ander land vervaardig, verkoop en gerook”. In ’n onlangse jaar “is miljarde sigarette aan ’n bevolking van onverbeterlike rokers verkoop”, wat China die “wêreld se grootste tabaknasie” maak.—Die tydskrif Panoscope.
[Venster op bladsy 20]
Sigarette met ’n “waarborg”?
Hoewel driemiljoen mense elke jaar weens tabakverwante siektes sterf, vertel advertensies steeds vir rokers dat hulle gewoonte veilig is. Een onlangse advertensie in ’n Brasiliaanse tydskrif het byvoorbeeld die aankoms van ’n sigaretsoort uitgebasuin wat “met ’n fabriekswaarborg kom”. Die advertensie gee die versekering: “Jou motor het ’n waarborg; jou TV het ’n waarborg; jou horlosie het ’n waarborg. Jou sigaret het ook.” Maar soos die advertensies aantoon en chronies siek rokers kan getuig, is die enigste waarborg: “Rokery is nadelig vir die gesondheid.”
[Prent op bladsy 19]
’n Vername teiken—vroue in ontwikkelende lande
[Erkenning]
WHO photo by L. Taylor
[Prent op bladsy 20]
Nie bewus van die risiko’s nie?
[Erkenning]
WHO