Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 2/8 bl. 4-7
  • Moet ons ander vertrou of nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet ons ander vertrou of nie?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dit kan gevaarlik wees om ander te vertrou
  • Dit kan gevaarlik wees om ander nie te vertrou nie
  • Oorweeg elke tree versigtig
  • Wees redelik en gebalanseerd
  • Vertroue is noodsaaklik vir ’n gelukkige lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Jy kan jou broers vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Vertrou op Jehovah met jou hele hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Om te vertrou of nie te vertrou nie
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 2/8 bl. 4-7

Moet ons ander vertrou of nie?

DIT kan moeilik wees om te weet of ’n mens ander moet vertrou of nie. Albei weë het hulle gevare, veral in ’n wêreld waar bedrog en verraad so algemeen is. Tog het ons almal betroubare vriende nodig wat ons in moeilike tye sal ondersteun (Spreuke 17:17). Ongeveer tweeduisend jaar gelede het die Romeinse skrywer Faidros die dilemma so uitgedruk: “Om ander te vertrou of nie is gevaarlik.”

Dit kan gevaarlik wees om ander te vertrou

Waarom kan dit gevaarlik wees om iemand anders te vertrou? Wel, beskou die waarskuwing wat in die tydskrif Psychology Today gegee word. Dit beskryf party wat mense se vertroue uitbuit as “roofdiere” wat “diegene om hulle deur middel van sjarme en verkleurmannetjieagtige verkleuring bedrieg en manipuleer en hulle lewens skaad”. Aangesien daar sulke bedrieërs is, is dit beslis gevaarlik om ander te veel te vertrou.

Iemand wat ander te veel vertrou, is moontlik liggelowig en word gevolglik maklik bedrieg en gemanipuleer. Een klassieke voorbeeld van liggelowigheid was sir Arthur Conan Doyle, die skepper van die helderdenkende baasspeurder Sherlock Holmes. In 1917 het twee jong meisies, Elsie Wright en haar niggie, Frances Griffiths, beweer dat hulle in die tuin van hulle huis in Cottingley, Engeland, met feetjies gespeel het. Hulle het selfs met foto’s van die feetjies vorendag gekom om dit te probeer bewys.

Conan Doyle, wat ná sy seun se dood baie in spiritisme belanggestel het, het hulle vertrou en die stories oor die feetjies geglo—soos baie mense toe gedoen het. Dit was eers sowat 55 jaar later dat die twee meisies erken het dat dit alles ’n kullery was en dat hulle die “feetjies” uit ’n boek uitgesny het voordat hulle die foto’s geneem het. Frances Griffiths was verbaas dat enigiemand hulle storie geglo het. Sy het gesê: “Hoe op dees aarde enigiemand so liggelowig kon wees om te glo dat hulle werklik bestaan het, was altyd vir my ’n raaisel.”—Hoaxers and Their Victims.

Kan jy die strik sien waarin Conan Doyle getrap het? Hy het die storie blindelings geglo bloot omdat hy wou hê dit moet waar wees. Die outeur Norman Moss sê: “Ons kan verkul word bloot omdat ons gewaarwordings deur gewoonte verswak word, en ons kyk deur halftoe oë na dinge. . . . Partykeer aanvaar ons dat iets waar is omdat ons wil hê dit moet waar wees” (The Pleasures of Deception). Dit gee dieselfde waarskuwing as wat die beroemde Griekse spreker Demostenes ongeveer 350 jaar voor ons Gewone Jaartelling gegee het: “Dit is die heel maklikste om jouself te bedrieg, want ’n mens glo oor die algemeen dat dít waar is wat jy graag wil hê waar moet wees.” Dit kan gevaarlik wees om net op ons gevoelens te vertrou.

Jy kan natuurlik dink dat hierdie ’n uiterste voorbeeld is en dat Conan Doyle dwaser was as wat jy ooit sal wees. Maar dit is nie net die liggelowiges wat gevaar loop om bedrieg te word nie. Talle sorgsame mense wat gewoonlik versigtig is, is al deur oënskynlik betroubare mense verkul en bedrieg.

Dit kan gevaarlik wees om ander nie te vertrou nie

Dit hou egter gevare in om niemand of niks te vertrou nie. Wantroue is soos wegvretende roes. Dit kan dít wegvreet en vernietig wat andersins gelukkige, hegte verhoudings kon wees. Diepgewortelde sinisme en ontoegeeflike wantroue kan jou ’n baie ongelukkige, vriendelose mens maak. Dit kan so nadelig vir verhoudings met ander mense wees dat die Engelse skrywer Samuel Johnson geskryf het dat “dit beter is om partykeer verkul te word as om ander nie te vertrou nie”.

Wantroue kan selfs jou fisiese gesondheid in gevaar stel. Jy is dalk daarvan bewus dat sterk emosies soos woede jou aan die gevaar van ’n hartaanval kan blootstel. Maar het jy geweet dat daar navorsing is wat daarop dui dat wantroue dieselfde kan doen? Die tydskrif Chatelaine sê: “Mense wat maklik in woede uitbars, is nie die enigstes wat dalk hulle kanse vergroot om weens hulle gedrag hartsiekte te ontwikkel nie. Nuwe navorsing toon dat selfs subtiele vorme van vyandigheid, soos ’n neiging om sinies en wantrouig te wees, jou in gevaar kan stel.”

Oorweeg elke tree versigtig

Wat kan jy doen? Die Bybel gee goeie raad oor hierdie saak. “Wie ervaring kortkom, glo alles wat gesê word”, sê Spreuke 14:15 (NAV). Dit is nie afbrekende sinisme nie. Dit is ’n realistiese herinnering aan die nodigheid om versigtig te wees. Net ’n baie naïewe, onervare mens gaan elke woord wat hy hoor blindelings glo. Die Bybelspreuk sê tereg voorts: “’n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.” Die Engelse dramaturg William Shakespeare het geskryf: “Moenie verrotte planke vertrou nie.” Enigiemand wat dink dat die planke van ’n brug oor ’n diep afgrond dalk verrot is, sou baie dwaas wees om daarop te trap. Hoe kan jy dan jou ‘treë oorweeg’ sodat jou vertroue nie misplaas is nie?

Die Bybel spoor ons aan om eerder te toets wat mense sê as om alles wat ons hoor net blindelings te aanvaar. “Die oor toets woorde soos die verhemelte die spys proe”, sê dit (Job 34:3). Is dit nie waar nie? Proe ons nie gewoonlik kos voordat ons dit insluk nie? Ons moet ook mense se woorde en dade toets voordat ons dit sluk. Niemand wat opreg is, sal aanstoot neem as ons sy geloofwaardigheid nagaan nie. Die feit dat ons iets moet nagaan om te sien of dit eg is, word gesteun deur die Skotse spreekwoord wat sê: “Vir hom wat my een keer bedrieg, is dit ’n skande; as hy my twee keer bedrieg, is dit vir my ’n skande.”

Die apostel Paulus het gemaan: “Beproef alle dinge” (1 Tessalonisense 5:21, AB). Die woord wat die apostel Paulus vir “beproef” gebruik het, is ook in verband met die toets van edel metale gebruik om te sien of hulle eg is. ’n Verstandige mens het altyd dít wat hy koop, getoets om te sien of dit eg is. Anders sou hy dalk op die ou end gesit het met wat klatergoud genoem word—iets wat soos goud lyk, maar wat eintlik waardeloos is.

Wees redelik en gebalanseerd

Ons wil natuurlik in hierdie saak redelik wees en nie uitermate agterdogtig teenoor ander wees nie (Filippense 4:5). Moenie te gou slegte beweegredes aan enigiemand toeskryf nie. As beweegredes verkeerd gelees word, kan dit die vinnigste manier wees om goeie, hegte verhoudings te vernietig. Dit is gewoonlik die beste om eerder aan te neem dat jou vriende wil doen wat vir jou die beste is as om slegte beweegredes aan hulle toe te skryf wanneer moeilike situasies ontstaan.

Neem die onvolmaakthede en foute van ander in aanmerking. “Verraad deur ’n vriend beteken ’n skending van vertroue”, sê die skryfster Kristin von Kreisler. Maar sulke verraad was dalk onopsetlik of was dalk die gevolg van swakheid waaroor die persoon nou baie spyt voel. Daarom sê sy voorts: “Moenie oor die verraad tob—of toelaat dat dit keer dat jy ander vertrou nie.” Moenie toelaat dat bitter, negatiewe ondervindinge jou van die vreugde beroof wat uit die opbou van vertroulike verhoudings met ander kan voortspruit nie.

Wees gebalanseerd. Jy hoef nie oogklappe te dra wanneer jy mense beoordeel nie; ’n versigtige mens bly waaksaam. Aan die ander kant stel dokter Redford Williams voor dat ons probeer aanneem dat ander hulle uiterste bes doen, dat ons hulle standpunt probeer verstaan en “oefen om ander te vertrou” wanneer dit ook al moontlik is. Dit is dalk beter om ander te veel te vertrou as om niemand ooit te vertrou nie.

Die skrywer van die Bybelboek Spreuke erken dat ‘daar metgeselle bestaan wat geneig is om mekaar aan stukke te breek’—dit wil sê mense wat jou vertroue sal probeer uitbuit. Die wêreld is vol van hulle. Maar gee ander die tyd en die geleentheid om te toon dat hulle betroubaar is, en jy sal vriende vind wat inderdaad “aanhankliker is as ’n broer”.—Spreuke 18:24, NW.

Is daar dan enigiemand of enigiets wat jy geheel en al kan vertrou, sonder enige vrees dat jou vertroue uitgebuit of geskend sal word? Ja, daar is beslis. Die volgende artikel sal kortliks bespreek waar jy jou vertroue met volkome sekerheid kan plaas.

[Lokteks op bladsy 6]

“Wie ervaring kortkom, glo alles wat gesê word; ’n verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.” —Spreuke 14:15, NAV

[Prent op bladsy 7]

Neem die onvolmaakthede en foute van ander in aanmerking

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel