Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 3/1 bl. 13-18
  • Vertrou op Jehovah met jou hele hart

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vertrou op Jehovah met jou hele hart
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die goeie voorbeelde van Josua en Kaleb
  • Waarom ons volkome op Jehovah moet vertrou
  • Dawid het op Jehovah vertrou
  • Hiskia se vertroue word geregverdig
  • Wat beteken dit om op Jehovah te vertrou?
  • Volg Paulus se voorbeeld
  • Vertrou op Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Vertroue is noodsaaklik vir ’n gelukkige lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Volg jy Jehovah volkome na?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Jy kan jou broers vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 3/1 bl. 13-18

Vertrou op Jehovah met jou hele hart

“Dié wat u naam ken, sal op u vertrou.”—PSALM 9:10.

1, 2. Wat is party van die dinge waarop mense tevergeefs vertrou om vir hulle veiligheid te bied?

VANDAG, wanneer daar soveel dinge is wat ons welsyn bedreig, is dit net natuurlik om na iemand of iets te soek wat vir ons veiligheid sal bied. Party dink dat hulle toekoms veilig sal wees as hulle meer geld het, maar geld is in werklikheid ’n uiters onsekere toevlug. Die Bybel sê: “Wie op sy rykdom vertrou—hy sal val” (Spreuke 11:28). Ander vertrou op menseleiers, maar selfs die beste leiers maak foute. En uiteindelik sterf hulle almal. Die Bybel sê wyslik: “Moenie julle vertroue in edeles stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie” (Psalm 146:3). Hierdie geïnspireerde woorde waarsku ons ook om nie op ons eie pogings te vertrou nie. Ons is ook blote ‘mensekinders’.

2 Die profeet Jesaja het die volksleiers van Israel in sy dag gekritiseer omdat hulle op “die leuentoevlug” vertrou het (Jesaja 28:15-17). In hulle soeke na veiligheid het hulle politieke bondgenootskappe met buurnasies aangegaan. Sulke bondgenootskappe was onbetroubaar—’n leuen. Net so knoop baie godsdiensleiers vandag betrekkinge met politieke leiers aan. Hierdie bondgenootskappe sal ook op die ou end “’n leuen” wees (Openbaring 17:16, 17). Dit sal nie blywende veiligheid meebring nie.

Die goeie voorbeelde van Josua en Kaleb

3, 4. Wat was die verskil tussen Josua en Kaleb se verslag oor die Beloofde Land en dié van die tien ander verkenners?

3 Waarheen moet ons ons dan wend vir veiligheid? Na dieselfde bron waarheen Josua en Kaleb hulle in Moses se dag gewend het. Kort nadat Israel uit Egipte bevry is, was die nasie gereed om Kanaän, die Beloofde Land, binne te gaan. Twaalf manne is uitgestuur om die land te verken, en ná 40 dae het hulle teruggekeer om verslag te gee. Net twee, Josua en Kaleb, het positief gepraat oor Israel se vooruitsigte in Kanaän. Die ander het saamgestem dat die land begeerlik was, maar het gesê: “Die feite is . . . dat die mense wat in die land woon, sterk is, en die versterkte stede is baie groot . . . Ons kan nie teen die mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.”—Numeri 13:27, 28, 31.

4 Die Israeliete het na die tien verkenners geluister en bang geword, in so ’n mate dat hulle teen Moses begin murmureer het. Uiteindelik het Josua en Kaleb met groot emosie gesê: “Die land waardeur ons getrek het om dit te verken, is ’n baie, baie goeie land. As Jehovah behae in ons het, dan sal hy ons beslis in hierdie land bring en dit aan ons gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Moet net nie teen Jehovah in opstand kom nie; en julle, julle moenie die mense van die land vrees nie” (Numeri 14:6-9). Die Israeliete het nietemin geweier om te luister en is gevolglik nie toegelaat om die Beloofde Land op daardie stadium binne te gaan nie.

5. Waarom het Josua en Kaleb ’n gunstige verslag gegee?

5 Waarom het Josua en Kaleb ’n gunstige verslag gegee, maar die tien verkenners ’n ongunstige verslag? Al 12 het dieselfde sterk stede en gevestigde nasies gesien. En die tien was reg toe hulle gesê het dat Israel nie sterk genoeg was om die land te verower nie. Josua en Kaleb het dit ook geweet. Maar die tien het dinge vanuit ’n vleeslike oogpunt beskou. Josua en Kaleb daarenteen het op Jehovah vertrou. Hulle het sy kragtige dade in Egipte, by die Rooi See en aan die voet van die berg Sinai gesien. Trouens, selfs dekades later was blote berigte van hierdie dade genoeg om Ragab van Jerigo te beweeg om haar lewe vir Jehovah se knegte te waag! (Josua 2:1-24; 6:22-25). Josua en Kaleb, wat ooggetuies van Jehovah se dade was, het volkome vertrou dat God sou voortgaan om vir sy volk te veg. Hulle vertroue is 40 jaar later geregverdig toe ’n nuwe geslag Israeliete Kanaän, onder Josua se leierskap, binnegegaan en die land verower het.

Waarom ons volkome op Jehovah moet vertrou

6. Waarom ervaar Christene vandag druk, en in wie moet hulle hulle vertroue stel?

6 In hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, het ons, soos die Israeliete, te kampe met vyande wat sterker as ons is (2 Timoteus 3:1). Ons ervaar sedelike, geestelike en, in sommige gevalle, selfs fisiese druk. Ons kan nie hierdie druk op ons eie die hoof bied nie, want dit kom van ’n bomenslike bron, Satan die Duiwel (Efesiërs 6:12; 1 Johannes 5:19). Tot wie kan ons ons dan wend? ’n Getroue man van die ou tyd het in gebed tot Jehovah gesê: “Dié wat u naam ken, sal op u vertrou” (Psalm 9:10). As ons Jehovah werklik ken en verstaan wat sy naam beteken, sal ons net so seker op hom vertrou as wat Josua en Kaleb gedoen het.—Johannes 17:3.

7, 8. (a) Watter redes gee die skepping ons om op Jehovah te vertrou? (b) Watter redes gee die Bybel ons om op Jehovah te vertrou?

7 Waarom moet ons op Jehovah vertrou? Een rede vir Josua en Kaleb se vertroue was omdat hulle gesien het hoe Jehovah sy krag uitoefen. Ons het ook. Dink byvoorbeeld aan Jehovah se skeppingswerke, onder andere die heelal, met sy duisendmiljoene sterrestelsels. Die ontsaglike fisiese kragte wat Jehovah beheer, toon dat hy inderdaad die Almagtige is. Wanneer ons oor die wonders van die skepping nadink, kan ons nie anders nie as om saam te stem met Job, wat van Jehovah gesê het: “Wie kan hom teëstaan? Wie sal vir hom sê: ‘Wat doen u?’” (Job 9:12). Ja, as Jehovah aan ons kant is, hoef ons niemand in die ganse heelal te vrees nie.—Romeine 8:31.

8 Beskou ook Jehovah se Woord, die Bybel. Hierdie onuitputlike bron van Goddelike wysheid help ons op kragtige wyse om verkeerde gebruike te bowe te kom en ons lewe in ooreenstemming met Jehovah se wil te bring (Hebreërs 4:12). Dit is deur middel van die Bybel dat ons Jehovah by name leer ken en sien wat sy naam beteken (Eksodus 3:14). Ons besef dat Jehovah kan word wat hy ook al wil om sy voornemens te vervul—’n liefdevolle Vader, ’n regverdige Regter, ’n seëvierende Krygsman. En ons sien hoe sy woord altyd bewaarheid word. Wanneer ons God se Woord bestudeer, word ons beweeg om soos die psalmis te sê: “Ek het op u woord vertrou.”—Psalm 119:42; Jesaja 40:8.

9. Hoe versterk die losprys en Jesus se opstanding ons vertroue in Jehovah?

9 Die losprys is nog ’n rede om op Jehovah te vertrou (Matteus 20:28). Hoe wonderlik is dit tog dat God sy Seun gestuur het om as ’n losprys vir ons te sterf! En die losprys het werklik groot krag. Dit bedek die sondes van alle mense wat berou toon en hulle met ’n opregte hart tot Jehovah wend (Johannes 3:16; Hebreërs 6:10; 1 Johannes 4:16, 19). Die opstanding van Jesus was een van die aspekte om die losprys te betaal. Daardie wonderwerk, waarvan honderde mense ooggetuies was, is nog ’n rede om op Jehovah te vertrou. Dit is ’n waarborg dat ons verwagtinge nie op teleurstelling sal uitloop nie.—Handelinge 17:31; Romeine 5:5; 1 Korintiërs 15:3-8.

10. Watter persoonlike redes het ons om op Jehovah te vertrou?

10 Dit is net ’n paar van die redes waarom ons volkome op Jehovah kan en moet vertrou. Daar is nog baie ander redes, waarvan party persoonlik is. Ons almal kom byvoorbeeld van tyd tot tyd voor moeilike omstandighede in ons lewe te staan. Wanneer ons Jehovah se leiding vra om ons daarmee te help, sien ons hoe prakties daardie leiding is (Jakobus 1:5-8). Hoe meer ons in ons daaglikse lewe op Jehovah vertrou en die goeie resultate hiervan sien, hoe sterker sal ons vertroue in hom wees.

Dawid het op Jehovah vertrou

11. Ondanks watter omstandighede het Dawid op Jehovah vertrou?

11 Dawid van eertydse Israel is iemand wat op Jehovah vertrou het. Dawid is bedreig deur koning Saul, wat hom wou doodmaak, en deur die magtige leër van die Filistyne, wat Israel probeer verower het. Tog het hy dit oorleef en selfs geseëvier. Waarom? Dawid verduidelik self: “Jehovah is my lig en my redding. Vir wie sou ek bang wees? Jehovah is die vesting van my lewe. Wie sou ek vrees?” (Psalm 27:1). Ons sal ook seëvier as ons eweneens op Jehovah vertrou.

12, 13. Hoe het Dawid getoon dat ons op Jehovah moet vertrou selfs wanneer teenstanders hulle tong as ’n wapen teen ons gebruik?

12 By een geleentheid het Dawid gebid: “Hoor, o God, my stem in my besorgdheid. Mag u my lewe teen die verskrikking van die vyand bewaar. Mag u my vir die vertroulike gesprekke van die kwaaddoeners verberg, vir die beroering van dié wat skadelike dinge beoefen, wat hulle tong skerp gemaak het net soos ’n swaard, wat hulle pyl, bitter woorde, gerig het om uit verborge plekke op die onberispelike te skiet” (Psalm 64:1-4). Ons kan nie met sekerheid sê wat Dawid beweeg het om hierdie woorde te skryf nie. Maar ons weet dat teenstanders vandag ook ‘hulle tong skerp maak’ en woorde as ’n oorlogswapen gebruik. Hulle “skiet” op onberispelike Christene deur met gesproke of geskrewe woorde wanvoorstellings te gee wat soos ‘pyle’ is. Wat sal die gevolg wees as ons onwrikbaar op Jehovah vertrou?

13 Dawid sê verder: “God sal skielik met ’n pyl op hulle skiet. Hulle het wonde opgedoen. En hulle laat iemand struikel. Maar hulle tong is teen hulleself. . . . Die regverdige sal hom in Jehovah verbly en sal inderdaad sy toevlug tot hom neem” (Psalm 64:7-10). Ja, hoewel vyande hulle tong teen ons skerp maak, sal hulle tong op die ou end ‘teen hulleself wees’. Jehovah sorg dat sake uiteindelik goed afloop, sodat dié wat op hom vertrou, hulle in hom kan verbly.

Hiskia se vertroue word geregverdig

14. (a) In watter kritieke situasie het Hiskia op Jehovah vertrou? (b) Hoe het Hiskia getoon dat hy nie die leuens van die Assiriër geglo het nie?

14 Koning Hiskia is nog iemand wie se vertroue in Jehovah geregverdig was. Gedurende Hiskia se bewind het die magtige Assiriese leër Jerusalem bedreig. Daardie leër het baie ander nasies verslaan. Hulle het selfs die stede van Juda verower totdat net Jerusalem nog vry was, en Sanherib het gespog dat hy ook daardie stad sou verower. Deur Rabsake het hy tereg daarop gewys dat dit tevergeefs sou wees om op Egipte te vertrou vir hulp. Maar toe het hy gesê: “Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou bedrieg nie deur te sê: ‘Jerusalem sal nie in die hand van die koning van Assirië gegee word nie’” (Jesaja 37:10). Hiskia het egter geweet dat Jehovah mense nie bedrieg nie. Hy het dus gebid en gesê: “O Jehovah ons God, red ons uit [die Assiriër se] hand, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat u, o Jehovah, alleen God is” (Jesaja 37:20). Jehovah het Hiskia se gebed verhoor. In een nag het ’n engel 185 000 Assiriese soldate doodgemaak. Jerusalem is gespaar, en Sanherib het Juda verlaat. Almal wat van hierdie gebeurtenis gehoor het, het besef hoe groot Jehovah is.

15. Slegs wat sal help om ons voor te berei vir enige moeilike situasie waarin ons ons in hierdie onbestendige wêreld kan bevind?

15 Soos Hiskia is ons vandag in ’n oorlogsituasie. In ons geval is dit ’n geestelike oorlog. Maar selfs as geestelike soldate moet ons oorlewingsvaardighede aanleer. Ons moet aanvalle verwag en ons voorberei sodat ons dit kan afweer (Efesiërs 6:11, 12, 17). In hierdie onbestendige wêreld kan situasies vinnig verander. Burgerlike oproerigheid kan onverwags ontstaan. Lande met ’n geskiedenis van godsdiensverdraagsaamheid kan onverdraagsaam word. Slegs as ons, soos Hiskia, ons voorberei deur onwrikbare vertroue in Jehovah op te bou, sal ons gereed wees vir enigiets wat kan gebeur.

Wat beteken dit om op Jehovah te vertrou?

16, 17. Hoe toon ons dat ons op Jehovah vertrou?

16 Vertroue in Jehovah behels meer as om net sê dat jy op hom vertrou. Ons hart is daarby betrokke en dit word deur ons dade weerspieël. As ons op Jehovah vertrou, sal ons sy Woord, die Bybel, ten volle vertrou. Ons sal dit elke dag lees, daaroor peins en toelaat dat dit ons lewe rig (Psalm 119:105). Vertroue in Jehovah beteken ook dat ons op die krag van die heilige gees vertrou. Met behulp van die heilige gees kan ons vrugte aankweek wat Jehovah behaag, en ons kan diepgewortelde slegte gewoontes oorwin (1 Korintiërs 6:11; Galasiërs 5:22-24). Met behulp van die heilige gees kon baie dus ophou rook of dwelms gebruik. Ander het ’n onsedelike lewenswyse die rug toegekeer. Ja, as ons op Jehovah vertrou, tree ons in sy krag op, nie ons eie nie.—Efesiërs 3:14-18.

17 Daarbenewens beteken vertroue in Jehovah dat ons diegene vertrou wat hy vertrou. Jehovah het byvoorbeeld gereël dat “die getroue en verstandige slaaf” na die aardse Koninkryksbelange omsien (Matteus 24:45-47). Ons probeer nie onafhanklik optree nie en ons ignoreer nie daardie aanstelling nie, want ons vertrou Jehovah se reëling. Verder is daar ook ouer manne wat in die plaaslike Christengemeente dien, en hulle is, volgens die apostel Paulus, deur die heilige gees aangestel (Handelinge 20:28). As ons met die ouermanreëling in die gemeente saamwerk, toon ons ook dat ons op Jehovah vertrou.—Hebreërs 13:17.

Volg Paulus se voorbeeld

18. Hoe volg Christene vandag Paulus se voorbeeld, maar waarin stel hulle nie hulle vertroue nie?

18 Die apostel Paulus het baie druk in sy bediening ondervind, net soos ons. In sy dag is daar vir die owerhede ’n wanvoorstelling van die Christelike godsdiens gegee, en hy het soms probeer om daardie valse indrukke reg te stel of om die predikingswerk wetlik te bevestig (Handelinge 28:19-22; Filippense 1:7). Vandag volg Christene sy voorbeeld. Waar moontlik, gebruik ons alle beskikbare middele om ander te help om ingelig te wees oor ons werk. En ons probeer om die goeie nuus te verdedig en wetlik te bevestig. Maar ons stel nie ons volle vertroue in sulke pogings nie, want ons glo nie dat sukses of mislukking daarvan afhang of ons hofsake wen of gunstige publisiteit kry nie. Ons vertrou eerder op Jehovah. Ons onthou sy aansporing aan eertydse Israel: “Julle sterkte sal eenvoudig daarin lê dat julle rustig bly en vertroue het.”—Jesaja 30:15.

19. Hoe is ons broers se vertroue in Jehovah geregverdig toe hulle vervolg is?

19 Gedurende ons hedendaagse geskiedenis is ons werk soms verbied of beperk in Oos- en Wes-Europa, in dele van Asië en Afrika en in lande van Suid- en Noord-Amerika. Beteken dit dat ons vertroue in Jehovah misplaas was? Nee. Hoewel Jehovah soms hewige vervolging in ooreenstemming met sy goeie voorneme toelaat, het hy diegene wat die skyf van daardie vervolging was, liefdevol versterk. In sulke tye het baie Christene ’n wonderlike rekord van geloof en vertroue in God opgebou.

20. In watter opsigte sal ons nooit ons oortuigings prysgee nie, al vind ons baat by wetlike vryheid?

20 Daarenteen word ons in die meeste lande wetlik erken, en ons ontvang soms gunstige publisiteit in die media. Ons is dankbaar hieroor en besef dat dit ook in ooreenstemming met Jehovah se voorneme is. Met sy seën gebruik ons die groter vryheid om Jehovah openlik en volkome te dien en nie om ons eie lewenswyse te verbeter nie. Maar ons sal nooit ons neutraliteit prysgee, ons predikingswerk verminder of ons diens aan Jehovah in enige opsig inkort net sodat ons die guns van die owerhede kan hê nie. Ons is onderdane van die Messiaanse Koninkryk en ondersteun Jehovah se soewereiniteit onwrikbaar. Ons vestig nie ons hoop op hierdie stelsel van dinge nie, maar op die nuwe wêreld, waar die hemelse Messiaanse Koninkryk die enigste regering sal wees wat oor die aarde heers. Nie bomme of missiele of selfs kernaanvalle kan hierdie hemelse regering laat wankel of dit vernietig nie. Dit is onoorwinlik en sal Jehovah se voorneme daarvoor vervul.—Daniël 2:44; Hebreërs 12:28; Openbaring 6:2.

21. Wat is ons vasbeslote om te doen?

21 Paulus sê: “Ons is dan nou nie die soort wat terugdeins tot vernietiging nie, maar die soort wat geloof het tot die behoud van die siel” (Hebreërs 10:39). Mag ons almal Jehovah dan tot die einde toe getrou dien. Ons het alle rede om ons volle vertroue nou en tot in alle ewigheid in Jehovah te stel.—Psalm 37:3; 125:1.

Wat het jy geleer?

• Waarom het Josua en Kaleb ’n gunstige verslag gegee?

• Wat is party van die redes waarom ons Jehovah volkome moet vertrou?

• Wat beteken dit om op Jehovah te vertrou?

• Watter standpunt is ons vasbeslote om in te neem omdat ons op Jehovah vertrou?

[Prent op bladsy 15]

Waarom het Josua en Kaleb ’n gunstige verslag gegee?

[Prente op bladsy 16]

Die skepping gee ons kragtige rede om op Jehovah te vertrou

[Erkenning]

Al drie foto’s: Courtesy of Anglo-Australian Observatory, photograph by David Malin

[Prent op bladsy 18]

Vertroue in Jehovah beteken dat ons diegene vertrou wat hy vertrou

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel