Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 2/8 bl. 7-10
  • Jy kan God vertrou

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan God vertrou
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God sal jou nooit in die steek laat nie
  • Redes waarom die Bybel vertrou kan word
  • Die Bybel – ’n Boek wat van God af kom
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Vertroue is noodsaaklik vir ’n gelukkige lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Jy kan jou broers vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Vertrou op Jehovah met jou hele hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 2/8 bl. 7-10

Jy kan God vertrou

JY KAN God en sy Woord, die Bybel, volkome vertrou. Een man van oor die 100 het, nadat hy God ’n leeftyd lank vertrou het, hierdie rede vir sy vertroue gegee: “Kyk”, het hy gesê, “ek gaan vandag die weg van die ganse aarde, maar julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.” (Ons kursiveer.)—Josua 23:14.

Hierdie man, Josua, ’n leier van eertydse Israel, het die algehele betroubaarheid van God en sy Woord ondervind. Alles wat God Israel belowe het, het uitgekom. As jy meer oor die Skepper en sy Woord te wete kom, kan jy dieselfde vertroue opbou. Koning Dawid, ’n latere aanbidder van God, het dit so gestel: “Hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE!”—Psalm 9:11.

God sal jou nooit in die steek laat nie

Hoe beter jy ‘God se naam leer ken’ asook wat daardie naam behels—sy voornemens, bedrywighede en eienskappe—hoe meer sal jy hom vertrou. Hy is ’n betroubare Vriend wat jou nooit in die steek sal laat of sy woord sal verbreek nie. En moenie afgeskrik word deur die huigelary van diegene wat beweer dat hulle sy verteenwoordigers is en wat ander dan verraderlik behandel nie. Sulke mense word deur die Bybel as onbetroubaar geïdentifiseer. Godsdienshuigelaars sê een ding, maar doen die teenoorgestelde. Soos die apostel Petrus gewaarsku het, buit hulle hulle kuddes uit. Petrus het geskryf: “Weens hulle sal daar smadend van die weg van die waarheid gepraat word. Ook sal hulle julle uit hebsug met vals woorde uitbuit.”—2 Petrus 2:2, 3.

Sulke mense is nie verteenwoordigers van God nie. Hulle doen sy Woord oneer aan. Ondersoek gerus self God se eie rekord en getuienis soos dit in die Bybel geopenbaar word. ‘Maar’, vra jy dalk, ‘waarom moet ek die Bybel enigsins meer as enige ander boek vertrou?’ Regdeur die geskiedenis was daar weliswaar al tallose godsdiensbedrieërye, maar die Bybel is anders. Beskou die volgende redes waarom die Bybel vertrou kan word.

Redes waarom die Bybel vertrou kan word

Jy kan die Bybel vertrou omdat sy beloftes en profesieë altyd vervul word. Hier is net een voorbeeld. Hoewel bevryding dalk vir gevange Israel ongelooflik gelyk het, het Jehovah God, die outeur van die Bybel, belowe dat hy hulle uit gevangenskap aan die magtige Babilon sou bevry en hulle na Jerusalem sou terugbring. Dit het na ’n onwaarskynlike hoop gelyk omdat Babilon toe die oorheersende wêreldmoondheid was en Jerusalem geheel en al verwoes het. Maar Jehovah het ongeveer tweehonderd jaar vooruit selfs die Persiese heerser Kores by name genoem as die een wat Babilon tot ’n val sou bring en Sy volk sou bevry en hy het voorspel hoe die rivierverdedigingsmiddele van Babilon sou misluk. Jy kan die verslag in Jesaja 44:24–45:4 lees.

Die boek Redenering uit die Skrif verduidelik hoe die belofte vervul is: “Kores was nog nie gebore toe die profesie neergeskryf is nie. . . . Die profesie is vanaf 539 v.G.J. in besonderhede vervul. Kores het die water van die Eufraatrivier na ’n kunsmatige meer weggekeer, die rivierpoorte van Babilon is nalatig oopgelaat tydens feesvierings in die stad, en Babilon is deur die Meders en Perse onder Kores verower. Daarna het Kores die Joodse ballinge bevry en hulle teruggestuur na Jerusalem met instruksies om Jehovah se tempel aldaar te herbou.”a Elke belofte soos hierdie een wat God gemaak het, elke profesie wat in die Bybel bevat word, word onfeilbaar vervul.

’n Ander voorbeeld van ’n profesie wat vervul is, is juis die feit dat vertroue in ons eeu afgeneem het. Die Bybel het dit voorspel as ’n kenmerk van die tyd waarin ons lewe, want dit noem die tydperk wat in 1914 met die Eerste Wêreldoorlog begin het “die laaste dae” en sê dat dit “kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom”. Dit het bekend gemaak dat mense in ons dag “liefhebbers van hulleself, . . . aanmatigend, hoogmoedig, . . . ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, . . . verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots” sou wees. En dit het ook voorspel: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger” (2 Timoteus 3:1-4, 13). Dit is presies wat ons in ons tyd sien.

Jy kan die Bybel vertrou omdat dit geheel en al eg is. Niemand het al ooit die Bybel se egtheid met welslae betwis nie. Die beroemde wetenskaplike sir Isaac Newton het gesê: “Ek vind meer besliste tekens van egtheid in die Bybel as in hoegenaamd enige sekulêre geskiedenis.” Geen vervalsing soos die Hitler-“dagboeke” hier nie! En hoe vergelyk die Bybel met ander antieke geskrifte? The Bible From the Beginning sê: “Waar dit kom by die aantal antieke mss. [manuskripte] wat ’n geskrif bevestig, en by die aantal jare wat verstryk het tussen die oorspronklike en dié mss. wat dit bevestig, geniet die Bybel ’n besliste voorsprong op klassieke geskrifte [dié van Homeros, Plato en ander]. . . . Vergeleke met Bybelse mss. is daar maar ’n handjievol klassieke mss. Geen antieke boek word so goed bevestig soos die Bybel nie.” Alles omtrent die Bybel dui daarop dat dit heeltemal eg is.

Jy kan die Bybel vertrou omdat dit geheel en al akkuraat is in alles wat dit sê. Die Bybel sê dat God ‘die noorde uitspan oor die leë ruimte, die aarde ophang aan niks’ (Job 26:7, NW). Die Bybel het nie die verdigte teorieë van daardie tyd, soos dat die aarde deur olifante gestut word, herhaal nie, maar het eerder gesê wat sedertdien as wetenskaplike waarheid bevestig is—dat die aarde in die ruimte ‘hang’. Daarbenewens het die Bybel, meer as tweeduisend jaar voor die tyd van Columbus, duidelik gesê dat die aarde rond is.—Jesaja 40:22.

Jy kan die Bybel vertrou omdat dit eerlik en openhartig is. Die Bybelskrywers het niks vervals nie. Selfs toe dit wat hulle gesê het hulle, hulle volksgenote en hulle heersers in ’n slegte lig gestel het, het hulle die feite eerlik gemeld. In sy evangelie het die apostel Matteus byvoorbeeld openlik erken dat Jesus Christus se apostels soms ’n gebrek aan geloof getoon het, onder mekaar om vernaamheid gestry het en Jesus selfs verlaat het toe hy in hegtenis geneem is.—Matteus 17:18-20; 20:20-28; 26:56.

’n Ander belangrike rede waarom die Bybel vertrou kan word, is dat die Bybel se raad nog altyd prakties en nuttig was wanneer mense dit ook al genoeg vertrou het om dit toe te pas (Spreuke 2:1-9). Die Bybel se raad vorm ’n skerp teenstelling met die dikwels onbestendige raad van “deskundiges” oor hoe om lewensprobleme die hoof te bied. The Sunday Times van Londen vra aangaande rubriekskrywers wat in baie nasionale koerante sulke raad gee: “Stort duisende mense elke jaar hulle hart uit aan begaafde amateurs wat raad maar net algaande uitdink?” Die Bybelskrywers het dit nie net algaande uitgedink nie. Hulle het betroubare raad opgeteken wat deur God geïnspireer is en die toets van die tyd deurstaan het.—2 Timoteus 3:16, 17.

“Die Bybel se raad het my teen ’n weg beskerm wat my lewe kon verwoes het”, sê Ellen, wat nou in die dertig en gelukkig getroud is. “My ouers, wat geskei is, het min geloof in die huweliksreëling getoon, en hulle het my eintlik aangespoor om eerder net met iemand saam te leef as om met hom te trou. Wanneer ek dink aan die bestendigheid wat die toepassing van Bybelbeginsels aan my lewe gegee het, is ek bly dat ek die Bybel selfs bo die raad van my eie ouers vertrou het.”—Sien Efesiërs 5:22-31; Hebreërs 13:4.

“Ek was maar 14 toe ek begin leer het wat die Bybel oor dinge sê”, sê Florence. “Wanneer ek nou aan die sestigerjare terugdink en aan die probleme wat my portuurs vir hulleself veroorsaak het deur die waardes en sedes van die tyd te volg, is ek so dankbaar vir die beskerming wat die Bybel se raad my as ’n jong, onervare vrou gebied het.”—Sien 1 Korintiërs 6:9-11.

“In my geval”, sê James, “het ek by dobbelary, rokery en drinkery betrokke geraak.” Hy sê verder: “Ek weet hoeveel skade dit soveel mense en hulle gesinne berokken het. Aanvanklik kon ek nie sien hoe die Bybel op my probleme betrekking het nie. Maar nou kan ek duidelik sien hoe dit my denkwyse ten goede beïnvloed het en my gehelp het om ’n baie gesonder lewe te lei.”—Sien 2 Korintiërs 7:1.

Mary Anne het selfmoord oorweeg weens die druk van die lewe en emosionele probleme wat uit ’n moeilike agtergrond voortspruit. “Selfmoord het toe na die enigste uitweg gelyk”, sê sy. “Maar die Bybel het my denkwyse verander. Dit was net as gevolg van wat ek in die Bybel gelees het dat ek nie selfmoord gepleeg het nie.”—Sien Filippense 4:4-8.

Wat het al hierdie mense gehelp? Hulle het algehele vertroue in God en in sy Woord, die Bybel, opgebou. God het soos ’n vertroude, goeie vriend geword wat in moeilike tye raad in hulle oor gefluister het. (Vergelyk Jesaja 30:21.) Hulle het Bybelbeginsels geleer wat hulle gehelp het om teen die lewe se druk en probleme opgewasse te wees. En hulle het geleer om op die wonderlike beloftes te vertrou van die God wat nie kan lieg nie—soos die belofte van ’n pragtige “nuwe aarde” sonder enige bedrog, leuens en uitbuiting en sonder smart, siekte en selfs die dood!—2 Petrus 3:13; Psalm 37:11, 29; Openbaring 21:4, 5.

Jy kan daardie selfde vertroue opbou. Die hedendaagse wêreld skend dalk jou vertroue, maar jy kan daarvan seker wees dat jou vertroue op God en sy Woord nooit geskend sal word nie. Die uitgewers van hierdie tydskrif sal met graagte reël dat iemand jou help om God en sy Woord, die Bybel, beter te leer ken.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prent op bladsy 8]

God se profeet het ongeveer 200 jaar vooruit voorspel hoe Babilon tot ’n val gebring sou word

[Prent op bladsy 9]

Sir Isaac Newton het die Bybel betroubaar gevind

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel