Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 3/8 bl. 9-11
  • Vryheid van werkloosheid—Hoe en wanneer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vryheid van werkloosheid—Hoe en wanneer?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Op soek na werk
  • Die belangrikheid van emosionele ondersteuning
  • Vryheid van die skrikbeeld van werkloosheid
  • Lei ’n eenvoudige, gebalanseerde lewe
    Ontwaak!—2010
  • Die werkloosheidsplaag
    Ontwaak!—1996
  • Werkloosheid—Waarom?
    Ontwaak!—1996
  • Geniet jou werk
    Hoe om in God se liefde te bly
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 3/8 bl. 9-11

Vryheid van werkloosheid—Hoe en wanneer?

DIE mens kan, soos sy Skepper, vreugde put uit werk, wat tereg ’n “gawe van God” genoem word (Prediker 3:12, 13; Johannes 5:17). ’n Interessante werk kan vir ons geluk meebring en ons laat voel dat ons nuttig en nodig is. Feitlik niemand wil sy werk verloor nie, ongeag hoe min hy dit geniet. Behalwe dat dit ’n inkomste waarborg, gee werk waarvoor ’n mens betaling ontvang ’n raamwerk, ’n doel en ’n gevoel van identiteit aan ’n mens se lewe. Dit is nie toevallig dat “die werkloses [gewoonlik] ’n werk meer as enigiets anders wil hê” nie.

Op soek na werk

Soos ons reeds gesien het, is die situasie in die arbeidsmark baie ingewikkeld. As gevolg daarvan is daar talle maniere om na werk te soek. Enigiemand wat daarop geregtig is, kan van die staat se werkloosheidsvoordele gebruik maak, waar dit beskikbaar is; en waar dit van toepassing is, kan hulle by die werkloosheidskantore registreer en gebruik maak van die dienste wat aangebied word. Ander skep vir hulleself werk. Maar ’n mens moet versigtig wees. Dié wat in eie diens is, moet dikwels aanvanklik baie hoë uitgawes aangaan wat dalk moeilik is om af te betaal. Dit is ook belangrik om die belastingwette te ken en te respekteer—en in sommige lande is dit glad nie so maklik nie!—Romeine 13:1-7; Efesiërs 4:28.

Om werk te vind, het sommige ’n werk daarvan gemaak om werk te soek en hulle met beplanning en deursettingsvermoë daarop toegelê. Ander het aan maatskappye geskryf wat personeel soek of het kennisgewings in plaaslike koerante geplaas—waarvan sommige werkaansoeke gratis plaas. Ontwaak! het al dikwels nuttige en praktiese raad oor die onderwerp gegee—vir jongmense sowel as volwassenes.a—Sien vensters, bladsy 11.

Jy moet aanpasbaar wees—gewillig om enige soort werk te doen, selfs werk waarvan jy miskien nie hou nie. Volgens deskundiges is van die eerste dinge waaroor navraag gedoen word by werkonderhoude vorige werkondervinding en hoe lank jy werkloos was. Verlies van die werkroetine is nie ’n goeie teken vir die potensiële werkgewer nie.

Iemand wat sy tyd op skool wyslik gebruik het om vaardighede aan te leer, het ’n beter kans om sy eerste werk te kry. “Werkloosheid raak veral ongeskoolde werkers”, sê Alberto Majocchi, ’n lektor in handelswetenskappe.

Die belangrikheid van emosionele ondersteuning

Een belangrike faktor is ’n positiewe gesindheid. Dit kan bepaal of jy ’n werk kry of nie. Die werkloses waardeer emosionele ondersteuning baie; dit help hulle om hulle nie af te sonder of moedeloos te raak nie. Dit help ook om die verlies aan selfrespek te oorkom wat ervaar kan word wanneer jy jou vergelyk met ander wat nie hulle werk verloor het nie.

Dit is miskien nie maklik om die pot aan die kook te hou nie. “Al was ek bekommerd, was dit vir my moeilik om die ekstra tyd wat ek gehad het goed te gebruik”, sê Stefano. “Die situasie het my so gespanne gemaak”, onthou Francesco, “dat ek met van my goeie vriende begin foutvind het.” Dit is hier waar die ondersteuning van die gesin ’n rol speel. Die verlies aan inkomste vereis aanpassings van al die lede van die gesin om hulle lewenstandaard te verlaag. Franco, wat op 43-jarige ouderdom afgedank is nadat hy 23 jaar vir dieselfde maatskappy gewerk het, sê: “Van die tyd toe ek afgedank is, was my vrou positief en ’n bron van groot aanmoediging.” Armando is veral dankbaar teenoor sy vrou omdat “sy so verstandig is wanneer sy inkopies doen”.—Spreuke 31:10-31; Matteus 6:19-22; Johannes 6:12; 1 Timoteus 6:8-10.

Bybelbeginsels kan ons help om ’n positiewe gees te behou en nie die belangriker waardes uit die oog te verloor nie. Diegene met wie Ontwaak! onderhoude gevoer het, wat hierbo genoem is, het vertroostende gerusstelling uit die Bybel geput. Dit het hulle nader aan God laat voel (Psalm 34:11; 37:25; 55:23; Filippense 4:6, 7). ’n Intieme verhouding met Jehovah God is van die uiterste belang, want hy belowe: “Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie.”—Hebreërs 13:5.

Of ’n mens werkloos is of nie, God se Woord spoor almal aan om eienskappe aan te kweek wat nuttig is in die daaglikse lewe. Dit is geen toeval nie dat Jehovah se Getuies soms verkies en waardeer word omdat hulle eerlike werkers is. Hulle volg die Bybel se raad om ywerig en betroubaar te wees, nie lui nie.—Spreuke 13:4; 22:29; 1 Tessalonisense 4:10-12; 2 Tessalonisense 3:10-12.

Vryheid van die skrikbeeld van werkloosheid

Grondliggend tot hierdie tekort aan werk is die mens se selfsug en hebsug. Soos die Bybel sê: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.”—Prediker 8:9.

Die werkloosheidsprobleem—asook ander probleme—sal opgelos word deur die verwydering van menseheerskappy, wat nou in sy “laaste dae” is (2 Timoteus 3:1-3). Daar is ’n behoefte aan ’n werklik nuwe wêreld. Ja, ’n wêreld waarin ’n regverdige mensegemeenskap onder ’n regverdige en onpartydige heerskappy kan lewe en werk, waar daar nie meer hebsug sal wees nie (1 Korintiërs 6:9, 10; 2 Petrus 3:13). Dit is waarom Jesus mense geleer het om te bid dat God se Koninkryk moet kom en dat Sy wil op aarde moet geskied.—Matteus 6:10.

Waar dit ’n profetiese beskrywing van die uitwissing van sommige van die mens se grootste probleme gee, illustreer God se Woord die uitwerking van daardie Koninkryk: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie; . . . my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie” (Jesaja 65:21-23). Die skrikbeeld van werkloosheid sal binnekort vir goed verdwyn. As jy graag meer wil weet oor God se oplossing, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in jou omgewing in verbinding tree.

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 22 Oktober 1994, bladsye 16-18; 8 Augustus 1991, bladsye 6-10; 22 Mei 1983, bladsye 17-19 en 22 September 1982, bladsye 3-8.

[Venster op bladsy 11]

Skep werk by die huis

• Pas kinders op, kindersorg

• Verkoop tuisgekweekte groente of blomme

• Naaldwerk, verstelwerk en herstel van klere

• Stukwerk vir vervaardigers

• Bak en voedselvoorbereiding

• Watteerwerk, hekel, brei; maak van macramé, pottebakkery; ander vaardighede

• Stoffering

• Boekhou, tik, tuisrekenaardienste

• Telefoonantwoorddiens

• Haarkappery

• Loseerders

• Adresseer en vul koeverte vir adverteerders

• Was en poleer motors (klant bring motor na jou huis)

• Troeteldierversorging en -oefening

• Herstelwerk van slotte en maak van sleutels (werkswinkel by die huis)

• Advertensies vir baie van hierdie werk kan gratis of teen lae koste in advertensieblaaie of op kennisgewingborde by supermarkte geplaas word

[Venster op bladsy 11]

Skep werk weg van die huis

• Huise oppas (wanneer mense met vakansie is en wil hê dat hulle huis opgepas moet word)

• Skoonmaak: winkels; kantore; huise en woonstelle ná konstruksie, ná brande, nadat mense uitgetrek het; huiswerk (in ander se huise); vensters (besighede en huishoudelik)

• Herstelwerk: allerhande soorte toestelle (biblioteke bevat eenvoudige boeke oor herstelwerk)

• Algemene werk: bou van kabinette, deure, stoepe; verfwerk; heinings span; dakke opsit

• Plaaswerk: plant- of oeswerk, pluk van vrugte

• Binnenshuise tuinaanleg en versorging van plante in: kantore, banke, winkelsentrums en atriums, voorportale

• Toesig oor eiendomme: skoonmaker, opsigter (sluit soms gratis verblyf in)

• Versekering, eiendomme

• Lê en skoonmaak van matte

• Koerante aflewer (volwassenes en kinders), ander afleweringsdienste: advertensies, rekeninge van munisipaliteite

• Vervoer, berging

• Tuinuitleg, bome snoei, versorging van grasperke, houtkappery

• Bestuurder van ’n skoolbus

• Fotografie (portrette en openbare geleenthede)

• Aas vir vissermanne

• Uitruilwerk: ruil motorherstelwerk vir elektriese werk, naaldwerk vir loodgieterswerk, ens.

[Prent op bladsy 10]

“My uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.”—Jesaja 65:22

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel