Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 3/22 bl. 8-10
  • Kopers, pas op! Vervalsing kan lewens kos

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kopers, pas op! Vervalsing kan lewens kos
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vervalsings wat kan doodmaak
  • Maar is dit eg?
    Ontwaak!—1992
  • Vervalsing—’n wêreldwye probleem
    Ontwaak!—1996
  • Kredietkaarte en salaristjeks—Eg of vervalsings?
    Ontwaak!—1996
  • Hoe het die vliegtuig ontstaan?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 3/22 bl. 8-10

Kopers, pas op! Vervalsing kan lewens kos

DIE onervare, niksvermoedende slagoffers kan geflous word. Die horlosie wat duur lyk en wat ’n straatverkoper jou teen ’n breukdeel van die prys aanbied—is dit eg of ’n namaaksel? Sal jy dit koop? Die weelderige pelsjas wat jy vanuit ’n motorvenster op ’n systraat aangebied word—die verkoper verseker jou dat dit nerts is. Sal die aantrekkingskrag en lae prys daarvan jou teen jou beterwete laat handel? Die diamantring aan die vinger van die onlangs geskeide vrou—wat nou platsak en haweloos vir ’n trein in ’n New Yorkse moltreinstasie wag—jy kan dit vir ’n appel en ei koop. Sal jy dink dat die winskopie te goed is om van die hand te wys? Omdat dié vrae in hierdie artikel oor vervalsing gevra word en weens die omstandighede wat geskilder word, sal jy waarskynlik “NOOIT!” antwoord.

O, maar laat ons die plekke en die omstandighede verander en kyk wat jou antwoorde dan sal wees. Wat van die duur, gesogte ontwerpershandsak wat by ’n heel wettige winkel teen ’n aanloklike, verlaagde prys te koop aangebied word? Die whiskey met ’n welbekende handelsmerk wat deur die drankwinkel op die hoek verkoop word? Hier is sekerlik geen probleem nie. Dink ook aan die film met ’n bekende handelsmerk wat by ’n apteek of kamerawinkel uitverkoop word. Dié keer is dit nie ’n straatverkoper wat jou die duur horlosie van duisende rande aanbied nie, maar ’n gerespekteerde winkel. Die prys is drasties verminder. As jy in so ’n duur horlosie belangstel, sal jy dit koop? Dan is daar skoene met welbekende handelsname teen aansienlike besparings in een besondere winkel waarvan jou vriende jou vertel het. Is jy seker dat hulle nie net goedkoop namaaksels is nie?

In die kunswêreld, by vername kunsgalerye, is daar talle veilings vir versamelaars van duur kunswerke. “Wees op jou hoede”, het ’n kunsdeskundige gewaarsku. “Kunskenners met jarelange ervaring word geflous. Handelaars ook. Museumkurators ook.” Is jy so kundig dat jy teen die vernuf van moontlike vervalsers opgewasse sal wees? Pas op! Al die artikels wat hier beskryf is, kan vervalsings wees. Dikwels is hulle. Onthou, as ’n artikel skaars en waardevol is, sal daar êrens iemand wees wat dit sal probeer vervals.

Die vervalsing van handelsware is wêreldwyd ’n onderneming met ’n omset van R725 miljard en “groei vinniger as baie van die nywerhede wat daardeur beroof word”, het die tydskrif Forbes geskryf. Wêreldwyd kos nagemaakte motoronderdele Amerikaanse motorvervaardigers en -verskaffers $12 miljard (R43 miljard) per jaar aan verlore inkomste. “Die Amerikaanse motorbedryf sê dat dit nog 210 000 mense in diens sou neem as dit daarin kon slaag om die bedrywighede van verskaffers van nagemaakte onderdele stop te sit”, het die tydskrif gesê. Daar word berig dat ongeveer die helfte van die vervalsingsfabrieke buite die Verenigde State is—feitlik oral.

Vervalsings wat kan doodmaak

Party vervalste produkte is alles behalwe onskadelik. Ingevoerde moere, boute en skroewe maak 87 persent van die $6 miljard (R22 miljard) van die Amerikaanse mark uit. Tot op datum toon getuienis egter dat 62 persent van al hierdie hegstukke versinde handelsname het of dat die gehaltestempels onwettig is. ’n Verslag wat in 1990 deur die Algemene Rekeningkantoor (GAO) opgestel is, het bevind dat ten minste 72 Amerikaanse “kernkragsentrales minderwaardige hegstukke geïnstalleer het, party in stelsels wat die reaktor in die geval van ’n kernongeluk moet afsluit. Die probleem vererger, sê die GAO. . . . Die omvang van die probleem, die koste vir belastingbetalers of die potensiële gevare wat die gebruik van sulke [minderwaardige] produkte tot gevolg kan hê, is onbekend”, het Forbes berig.

Staalboute, wat nie sterk genoeg is vir die doeleindes waarvoor hulle gebruik word nie, word nagemaak en deur gewetenlose kontrakteurs in die Verenigde State ingesmokkel. “Hulle kan die veiligheid van kantoorgeboue, kragsentrales, brûe en militêre toerusting bedreig”, sê American Way.

’n Busongeluk wat ’n paar jaar gelede in Kanada die lewens van 15 mense geëis het, word toegeskryf aan nagemaakte remvoerings. Daar word berig dat vervalste onderdele op sulke onwaarskynlike plekke soos in militêre helikopters en ’n Amerikaanse pendeltuig gevind is. “Die gemiddelde verbruiker is nie juis besorg wanneer jy van ’n vervalste Cartier- of Rolex-horlosie praat nie”, het ’n vooraanstaande vervalsingspeurder gesê, “maar wanneer jou gesondheid en veiligheid bedreig word, is dit ’n heel ander saak.”

Die lys potensieel gevaarlike vervalsings sluit pasaangeërs in wat aan 266 Amerikaanse hospitale verkoop is, nagemaakte voorbehoedpille wat in 1984 op die Amerikaanse mark gekom het, en swamdoders wat hoofsaaklik uit kryt bestaan het en Kenia se koffie-oes in 1979 geruïneer het. Nagemaakte farmaseutiese middels wat die lewens van verbruikers in gevaar kan stel, is alom beskikbaar. Die sterftes regoor die wêreld as gevolg van vervalste medisyne kan skrikbarend wees.

Daar is toenemende besorgdheid oor klein huishoudelike elektriese toestelle wat nagemaak word. “Sommige van hierdie produkte het vals handelsname of goedkeuringstempels soos dié van die Underwriters Laboratory”, het American Way berig. “Maar dit word nie volgens dieselfde veiligheidstandaarde gemaak nie en sal dus ontplof, huisbrande veroorsaak en die hele gebou onveilig maak”, het ’n veiligheidsingenieur gesê.

In die Verenigde State en in Europa is lugvaartmaatskappye net so besorg. In Duitsland het lugrederye byvoorbeeld nagemaakte enjin- en remonderdele op hulle inventaris gevind. Ondersoeke word “in Europa, Kanada en die Verenigde Koninkryk gedoen, waar minderwaardige onderdele (moere aan die stertrotoras) met ’n onlangse noodlottige helikopterongeluk verbind word”, het beamptes van die vervoerwese gesê. “Agente het beslag gelê op hope vervalste straalenjinonderdele, remmeganismes, boute en hegstukke van swak gehalte, foutiewe onderdele vir brandstof- en vlugstelsels, minderwaardige stuurkajuitinstrumente en vlugrekenaarkomponente wat uiters belangrik is vir vlugveiligheid”, het die Flight Safety Digest berig.

In 1989 het ’n gehuurde vliegtuig wat van Noorweë na Duitsland onderweg was skielik van sy kruishoogte van 6600 meter steil ondertoe geduik. Die stertgedeelte is afgeruk, wat die vliegtuig so geweldig laat duik het dat beide vlerke afgebreek het. Al 55 siele aan boord het gesterf. Ná ’n drie jaar lange ondersoek het Noorweegse lugvaartdeskundiges vasgestel dat die ongeluk veroorsaak is deur foutiewe boute, wat sluitpenne genoem word en die stertgedeelte aan die romp vasgeheg het. Spanningsontleding het getoon dat die boute van metaal gemaak was wat gans te swak was om die geskud tydens ’n vlug te weerstaan. Die foutiewe sluitpenne was vervalsings—’n woord wat oral maar alte bekend is by deskundiges op die gebied van lugvaartveiligheid, want vervalsing is ’n groeiende probleem wat die lewe van bemanningslede en passasiers in gevaar stel.

Toe ’n nasionale televisiestasie ’n onderhoud met die inspekteur-generaal van die Departement van Vervoerwese in die Verenigde State gevoer het, het sy gesê: “Al die lugrederye het al nagemaakte onderdele ontvang. Hulle almal het dit. Hulle almal het ’n probleem.” Sy het bygevoeg dat die bedryf erken “dat hulle waarskynlik ’n geraamde twee- of driemiljard dollar [R7 tot R11 miljard] se onbruikbare artikels het”.

Tydens dieselfde onderhoud het ’n lugvaartveiligheidsadviseur, wat inligting aan die FBI verstrek het oor verskillende geheime werksaamhede in verband met nagemaakte onderdele, gewaarsku dat vervalste onderdele ’n wesenlike gevaar inhou. “Ek dink dat ons definitief iewers in die nabye toekoms ’n groot vliegramp as gevolg hiervan te wagte kan wees”, het hy gesê.

Die dag van afrekening is op hande vir diegene wie se gierigheid veroorsaak dat hulle hulle eie selfsugtige begeerte bo die lewe van ander stel. God se geïnspireerde Woord sê duidelik dat gierigaards God se Koninkryk nie sal beërf nie.—1 Korintiërs 6:9-10.

[Prente op bladsy 9]

Klere, juwele, skilderye, farmaseutiese middels, vliegtuigonderdele—enigiets wat waardevol is, is koring op die vervalser se meul

[Prent op bladsy 10]

Nagemaakte enjinonderdele, minderwaardige boute, stuurkajuitinstrumente, rekenaarkomponente en ander vervalste onderdele het ongelukke veroorsaak wat lewens geëis het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel