Vervalsing—’n wêreldwye probleem
Tot in die laat 18de eeu is mans in Frankryk lewendig gekook weens die oortreding. Van 1697 tot 1832 was dit ’n halsmisdaad in Engeland en is die daad as verraad beskou. Meer as 300 Engelse is daarvoor gehang, terwyl ’n ontelbare aantal mense na die strafkolonie in Australië verban is om dwangarbeid as straf daarvoor te verrig.
MEER as 130 jaar lank het die Amerikaanse regering dié wat daaraan skuldig was tot 15 jaar in staatsgevangenisse opgesluit. Daarbenewens is boetes van duisende rande by die straf gevoeg. Selfs vandag nog is dit in Rusland en China met die dood strafbaar.
Ten spyte van die ernstige strawwe wat deur baie nasies daarvoor vasgestel is, duur die misdaad voort. Selfs vrees vir die dood was nie genoeg om die kitsrykskemas van diegene met die nodige tegniese vaardighede te verydel nie. Regeringsamptenare sit met die hande in die hare. “Dit sal moeilik wees om ’n goeie afskrikmiddel te vind”, sê hulle, “net soos dit al eeue lank die geval is.”
Vervalsing! Een van die oudste misdade in die geskiedenis. Laat in hierdie 20ste eeu het dit ’n wêreldwye probleem geword, en dit neem steeds toe. Robert H. Jackson, mederegter van die Amerikaanse Appèlhof, het daaroor gesê: “Vervalsing is ’n oortreding wat nooit per ongeluk of uit onkunde of in ’n woedebui of weens uiterste armoede gepleeg word nie. Dit is ’n misdaad wat deskundig beplan word deur iemand wat die tegniese vaardigheid het en groot somme geld aan toerusting spandeer.”
Die Amerikaanse geldeenheid word byvoorbeeld regoor die wêreld onwettig gereproduseer en in groter hoeveelhede as ooit tevore. “Die Amerikaanse geldeenheid”, het ’n woordvoerder van die Tesourie gesê, “is nie net die gesogste geldeenheid in die wêreld nie. Dit is ook die maklikste om te vervals.” Wat die Amerikaanse regering verstom, is dat die meeste van die vervalste note buite die Verenigde State gemaak word.
Let op die volgende: In 1992 is daar oorsee op vervalste dollars ter waarde van $30 miljoen (R109 miljoen) beslag gelê, het die tydskrif Time berig. “Verlede jaar het die som $120 miljoen [R435 miljoen] beloop, en daar word verwag dat dit daardie rekord in 1994 sal oorskry. Baie, baie meer as dit sirkuleer sonder dat dit opgemerk word”, het die tydskrif berig. Hierdie syfers vertel lank nie die hele verhaal nie. Deskundiges op die gebied van vervalsing reken dat die aantal vals dollars wat buite die Verenigde State sirkuleer selfs tienmiljard dollar (R36 miljard) kan beloop.
Aangesien die Amerikaanse geldeenheid so gewild is by baie lande—selfs verkiesliker as hulle eie geldeenheid—en makliker is om te dupliseer, slaan baie lande en elemente van die onderwêreld munt daaruit. In Suid-Amerika vervals Colombiaanse dwelmkartelle die Amerikaanse geldeenheid al jare lank om hulle onwettige inkomste te vergroot. Party Midde-Oosterse lande begin ook nou ’n groot rol in die wêreldwye vervalsingsbedryf speel, het die U.S.News & World Report berig. Die tydskrif het bygevoeg dat een van daardie lande “glo gesofistikeerde drukprosesse soortgelyk aan dié van die Amerikaanse Tesourie gebruik. Gevolglik kan [die land] vervalste $100-note maak wat feitlik onmoontlik is om uit te ken en ‘supernote’ genoem word.”
Mense in Rusland, China en ander Asiatiese lande begin nou ook betrokke raak by die maak van vervalste geld—hoofsaaklik die Amerikaanse geldeenheid. Daar word vermoed dat 50 persent van die Amerikaanse geldeenheid wat tans in Moskou sirkuleer vervals is.
Toe honderdmiljoene Amerikaanse dollars ná die Golfoorlog, in 1991, begin sirkuleer het, “was internasionale bankiers geskok om te vind dat sowat 40 persent van die $100-note vervalsings was”, het Reader’s Digest gesê.
Frankryk het sy eie geldprobleme; so ook baie ander Europese lande. Die vervalsing van geld is nie net ’n Amerikaanse probleem nie, soos ander nasies regoor die wêreld kan getuig.
Vervalsing word vergemaklik
Tot ’n paar jaar gelede het dit skelm ambagsmanne—kunstenaars, meestergraveerders, etsers en drukkers—baie ure se noukeurige werk gekos om die geldeenheid van enige land te dupliseer, en die resultaat was op sy beste ’n swak namaaksel van die egte. Maar met die hipertegnologiese volkleurkopieerders, tweekant-laserdrukkers en aftasters wat vandag in kantore en huise beskikbaar is, is dit vir bykans enigiemand tegnies moontlik om die geldeenheid van sy keuse te dupliseer.
Die era van elektroniese vervalsing is hier! Wat eens op ’n tyd die vaardigheid van professionele graveerders en drukkers geverg het, is nou binne die bereik van kantoorwerkers en mense wat ’n rekenaar by die huis het. Drukprogramme wat saam met persoonlike rekenaars gebruik kan word en minder as R18 000 kos, kan nou vervalste geld produseer wat selfs vir geoefende deskundiges moeilik kan wees om te bespeur. Dit kan beteken dat iemand wie se kontant skraps is hom die uitstappie na die naaste outomatiese tellermasjien kan spaar deur sy eie geld te druk—en soveel as wat hy nodig het! Hierdie stelsels is alreeds kragtige wapens in die hande van vandag se vervalsers. “Hierdeur behaal hierdie vindingryke misdadigers herhaalde oorwinnings oor wetstoepassingsowerhede en kan hulle eendag ’n bedreiging vir die wêreld se groot geldeenhede wees”, het die U.S.News & World Report geskryf.
Byvoorbeeld, in Frankryk is 18 persent van die Fr30 miljoen (R18 miljoen) vervalste geld waarop daar in 1992 beslag gelê is op kantoormasjiene gemaak. ’n Amptenaar van die Banque de France beskou dit nie net as ’n bedreiging vir die ekonomiese stelsel nie, maar ook vir openbare vertroue. “Wanneer hulle agterkom dat jy ’n goeie banknoot kan namaak met tegnologie waartoe ’n groot deel van die bevolking toegang het, kan daar ’n verlies aan vertroue wees”, het hy gekla.
As deel van die poging om die vloedgolf vervalste geld in Amerika en ander lande te bekamp, is nuwe ontwerpe vir banknote in die ontwikkelingstadium, en in party lande is nuwe note reeds in omloop. Op die Amerikaanse geldeenheid gaan die prent van Benjamin Franklin byvoorbeeld op die $100-noot met die helfte vergroot word en twee sentimeter na links geskuif word. “Veertien ander veranderinge in die gravering en geheime veiligheidskenmerke sal ook ingebring word”, het Reader’s Digest berig. Tallose ander veranderinge, soos watermerke en ink wat van kleur verander wanneer dit uit verskillende hoeke beskou word, word ook oorweeg.
Frankryk sluit al geruime tyd nuwe afskrikmiddels in sy ontwerp van banknote in wat hopelik die vervalsers in sekere mate sal kortwiek. ’n Woordvoerder vir die Banque de France erken egter dat “daar steeds geen tegnies onfeilbare metode is om potensiële vervalsers te fnuik nie, maar”, het hy bygevoeg, “dit is nou vir ons moontlik om so baie hindernisse in die banknoot self te kombineer dat dit ’n [moeilike] taak en baie duur is”. Hy beskryf hierdie hindernisse as “die eerste weermiddel teen vervalsing”.
Duitsland en Groot-Brittanje bring nou al geruime tyd veiligheidsveranderinge in hulle geldeenheid aan deur veiligheidsdraadjies in te sit wat dit moeiliker maak om hulle geldeenheid te dupliseer. Op Kanada se $20-noot is ’n blink blokkie wat ’n optiese veiligheidsmiddel genoem word en wat nie op kopieerders gedupliseer kan word nie. Australië het in 1988 begin om plastiekbanknote te druk om veiligheidskenmerke in te bring wat nie met papier moontlik is nie. Finland en Oostenryk gebruik diffraksiefoelie op hulle papiergeld. Dit blink en verander van kleur soos ’n hologram. Regeringsowerhede is egter bevrees dat die vervalsers binnekort die nodige aanpassings sal maak om hulle misdadigheid voort te sit—dat die regering se jongste pogings, ongeag watter regstellende stappe gedoen word, net soos in die verlede uiteindelik te kort sal skiet. “Dit is soos die ou spreekwoord sê”, het ’n amptenaar van die Tesourie gesê, “jy bou ’n 2 meter hoë muur en die boewe bou ’n 2,5 meter lange leer.”
Die druk van vervalste geld is net een aspek van die vervalser se vindingrykheid, soos die volgende artikels sal toon.
[Lokteks op bladsy 4]
Drukprogramme wat saam met persoonlike rekenaars gebruik kan word en minder as R18000 kos, kan nou vervalste geld produseer wat selfs vir geoefende deskundiges moeilik kan wees om te bespeur