Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 4/8 bl. 3-4
  • Waar Is die gelowiges?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waar Is die gelowiges?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat gebeur met kerkbywoning?
  • Plesier en voorkeur voor godsaligheid
  • Waarom verloor die kerk sy invloed?
    Ontwaak!—1996
  • Die Katolieke Kerk in Spanje—Waarom die krisis?
    Ontwaak!—1990
  • ’n Veranderende kerk in Frankryk
    Ontwaak!—1993
  • Geestelike waardes—Wat word daarvan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 4/8 bl. 3-4

Waar Is die gelowiges?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

“Niks is so noodlottig vir godsdiens soos onverskilligheid nie.”

EDMUND BURKE, 18DE-EEUSE BRITSE STAATSMAN.

OP ’N winderige vlakte in die noordelike deel van Spanje lê die klein dorpie Caleruega. Die Middeleeuse dorpie word deur ’n indrukwekkende Romaanse klooster oorheers. Dit is 700 jaar gelede gebou ter ere van Dominicus de Guzmán, die stigter van die Dominikanerorde, wat hier gebore is. Sewe eeue lank huisves hierdie klooster al nonne wat ’n lewe van stilte en afsondering verkies.

Die klooster se dak lek, en die ou mure is besig om te verkrummel. Maar die moeder-owerste is bekommerd oor ’n ernstiger verval—die verkrummeling van godsdiens self. “Toe ek byna 30 jaar gelede by die klooster aangesluit het, was daar 40 nonne hier”, verduidelik sy. “Nou is ons net 16. Daar is geen jong nonne nie. Dit lyk of die kloosterroeping tot die verlede behoort.”

Wat in Caleruega aan die gebeur is, is besig om regdeur die grootste deel van Europa te gebeur. Daar was nie ’n vlaag van antigodsdienstige gevoel nie, net ’n stil, onstuitbare verlating. Die groot Europese katedrale bedien die toeriste eerder as wat dit die plaaslike “gelowiges” aantrek. Die eens onoorwinlike kerk—hetsy Protestant of Katoliek—word nou deur onverskilligheid oorval. Mense se lewens word eerder deur wêreldlike as geestelike sake oorheers—’n neiging wat kerkwoordvoerders verwêreldliking noem. Dit lyk of godsdiens net nie meer saak maak nie. Is die godsdiensklimaat in Europa miskien ’n voorsmaak van ’n soortgelyke verval wat op die punt staan om deur ander wêrelddele te versprei?

Wat gebeur met kerkbywoning?

Hierdie verskynsel is niks nuuts in Noord-Europa nie. Net 5 persent van Skandinawiese Lutherane gaan gereeld kerk toe. In Brittanje gaan ’n skrale 3 persent van verklaarde Anglikane na die Sondagdiens toe. Maar nou lyk dit asof Europese Katolieke in die suide die voorbeeld van hulle bure in die noorde volg.

In Frankryk, ’n oorheersend Katolieke land, gaan net 1 uit elke 10 inwoners een keer ’n week kerk toe. In die afgelope 25 jaar het die persentasie Spanjaarde wat hulleself as “aktiewe Katolieke” beskou van 83 persent tot 31 persent gedaal. In 1992 het die Spaanse aartsbiskop Ramon Torrella aan ’n perskonferensie gesê dat “Katolieke Spanje nie bestaan nie; mense gaan na die Paasweekoptogte en die Kersmis toe—maar hulle gaan nie elke week [na die Mis toe] nie”. Gedurende ’n pouslike besoek aan Madrid in 1993 het Johannes-Paulus II gewaarsku dat “Spanje na sy Christelike oorsprong moet terugkeer”.

Die godsdienslose stemming het die geestelikes sowel as die leke aangesteek. Die aantal nuutgeordende priesters in Frankryk het in 1988 tot 140 gedaal (minder as die helfte van die syfer vir 1970), terwyl daar in Spanje ongeveer 8000 is wat die priesteramp verlaat het sodat hulle kon trou. Aan die ander kant twyfel sommige wat wel aanhou om hulle kuddes te bedien oor hulle boodskap. Net 24 persent van Swede se Lutherse geestelikes voel dat hulle “met ’n skoon gewete” oor die hemel en die hel kan preek, terwyl ’n kwart van die Franse priesters selfs onseker is oor die opstanding van Jesus.

Plesier en voorkeur voor godsaligheid

Waardeur word godsdiens vervang? In baie huise word aanbidding deur ontspanning verdring. Op Sondae gaan gesinne eerder na die strand of die berge toe as kerk toe. “Om na die Mis toe te gaan, is vervelig”, het Juan, ’n tipiese Spaanse tiener, skouerophalend gesê. Kerkdienste kan nie met sokkerwedstryde of popkonserte, gebeure wat skares trek en stadions volmaak, meeding nie.

Die afname in kerkbywoning is nie die enigste bewys van die godsdiensverval nie. Baie Europeërs verkies om self hulle godsdiensidees uit te soek. Deesdae toon die amptelike kerkleer moontlik ’n skrale ooreenkoms met die persoonlike beskouing van diegene wat sê dat hulle aan daardie godsdiens behoort. Die meeste Europeërs—of hulle nou Katolieke of Protestante is—glo nie meer in die lewe na die dood nie, terwyl meer as 50 persent van die Franse, Italiaanse en Spaanse Katolieke ook nie in wonderwerke glo nie.

Dit lyk of die kerkleiers magteloos is om hierdie golf van nonkonformiteit te verhoed. Dit was nêrens meer opmerklik as in die pouslike veldtog teen geboortebeperking nie. In 1990 het pous Johannes-Paulus II Katolieke aptekers nadruklik versoek om nie voorbehoedmiddels te verkoop nie. Hy het beweer dat hierdie produkte “strydig is met die natuurwette tot nadeel van die mens se waardigheid”. Die Catechism of the Catholic Church hou eweneens vol dat “die huweliksliefde van ’n man en vrou die tweevoudige verpligting van getrouheid en vrugbaarheid meebring”.

Ondanks hierdie streng vermanings gaan die gemiddelde Katolieke paartjie heel gelukkig hulle eie gang. Gesinne met meer as twee kinders is nou die uitsondering in die Katolieke lande van Suid-Europa. In Spanje word kondome—wat twee dekades gelede amper ’n swartmarkitem was—gereeld oor die televisie geadverteer, en slegs 3 persent van Franse Katolieke vroue sê dat hulle by die amptelike Katolieke beslissing oor geboortebeperking bly.

Dit is duidelik dat Europeërs die kerke en hulle leerstellings die rug toekeer. Die Anglikaanse aartsbiskop van Kantelberg, George Carey, het ’n grafiese beskrywing van die situasie in sy kerk gegee: “Ons is besig om dood te bloei”, het hy gesê, “en dit is ’n baie dringende saak wat ons onder die oë sal moet sien.”

Sedert die omwentelinge van die Hervorming het die godsdiensstruktuur van Europa nog nooit so wankelrig gelyk nie. Waarom het baie Europeërs onverskillig geraak teenoor godsdiens? Wat is die toekoms van godsdiens?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel