Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 3/8 bl. 9-12
  • Die Katolieke Kerk in Spanje—Waarom die krisis?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Katolieke Kerk in Spanje—Waarom die krisis?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “’n Tweede evangelisasie”
  • “’n Pragtige seepbel”
  • Waarom verloor die kerk sy invloed?
    Ontwaak!—1996
  • Die Katolieke Kerk in Spanje—die misbruik van mag
    Ontwaak!—1990
  • Die Katolieke Kerk in Spanje—die teenstrydighede
    Ontwaak!—1990
  • Die Katolieke Kerk in Spanje—die mag en die privilegie
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 3/8 bl. 9-12

Die Katolieke Kerk in Spanje—Waarom die krisis?

“Hulle saai die wind, maar hulle sal die stormwind maai.”Hosea 8:7, “The Jerusalem Bible”.

OP 20 Mei 1939 het generaal Franco in die kerk van Santa Bárbara, Madrid, sy oorwinning-swaard aan aartsbiskop Gomá, primaat van Spanje, oorhandig. Die leër en die kerk het die oorwinning, wat die pous beskryf het as die “verlangde Katolieke oorwinning”, saam gevier. Die burgeroorlog het geëindig, en blykbaar het ’n nuwe era van Spaanse Katolisisme aangebreek.

Die seëvierende kerk het milddadige staatsubsidies, beheer oor die onderwys asook algemene sensuurmag ontvang oor enigiets wat nie vir nasionale Katolisisme bevorderlik was nie. Maar die geslaagde militêr-godsdienstige kruistog het ook die sade van die kerk se agteruitgang gesaai.

In die oë van talle Spanjaarde was die kerk aandadig aan die wreedhede van die seëvierende leërs. Die meerderheid van die bevolking het weliswaar gedurende die jare onmiddellik na die oorlog die Mis bygewoon. Dit was verstandig om ’n goeie Katoliek te wees as jy werk of bevordering wou kry. Maar het gewapende mag en politieke druk opregte geloof bevorder?

Veertig jaar later sou ’n reeks krisisse daardie vraag beantwoord.

Geloofskrisis: Teen 1988 het net 3 uit 10 mense in Spanje die Katolieke godsdiens gereeld beoefen, en die meeste mense het gemeen dat hulle “minder godsdienstig is as tien jaar gelede”. ’n Opname wat vir El Globo, ’n Spaanse weekblad, gedoen is, het getoon dat minder as die helfte van die Spanjaarde oortuig is dat daar ’n lewe na die dood is, hoewel die meeste Spanjaarde aan God glo. Die verbasendste was die bevinding dat tot 10 persent van diegene wat hulleself as aktiewe Katolieke beskou, gesê het dat hulle nie aan ’n persoonlike God glo nie.

Roepingskrisis: Spanje het altyd priesters na die uithoeke van die aarde gestuur. Dertig jaar gelede is 9000 elke jaar tot priester gewy. Nou het daardie getal tot duisend gedaal, en talle groot seminaries word nie meer gebruik nie. Gevolglik word die gemiddelde ouderdom van Spaanse priesters al hoe hoër—16 persent is nou oor die 70, terwyl net 3 persent onder 30 is.

Geldkrisis: Die nuwe Spaanse grondwet skei Kerk en Staat. Milddadige staatsubsidies is voorheen vanselfsprekend aan die Katolieke Kerk gegee. Die huidige regering het ’n nuwe stelsel ingestel waarvolgens ’n klein persentasie van elke persoon se belasting òf aan die kerk òf aan die een of ander verdienstelike maatskaplike saak toegeken word, na gelang van die belastingbetaler se wense. Verbasend genoeg wou net 1 uit elke 3 Spaanse belastingbetalers hê dat die kerk sy geld ontvang. Dit was ’n slag vir die Katolieke owerheid, wat geraam het dat amper twee keer soveel mense hierdie “godsdiensbelasting” aan die kerk sou toeken. Dit beteken dat ’n selfonderhoudende kerk nog lank nie bestaan nie.

Intussen lyk dit asof die regering teësinnig sal moet aanhou om die kerk met nagenoeg R312 miljoen per jaar te subsidieer. Nie alle Katolieke is gelukkig oor hierdie situasie nie. Een Spaanse teoloog, Casiano Floristán, het daarop gewys dat “’n kerk wat nie genoeg bydraes van die gelowiges ontvang nie, òf nie die gelowiges het nie òf nie ’n kerk is nie”.

Gehoorsaamheidskrisis: Hierdie krisis raak priesters sowel as gemeentelede. Jonger priesters en teoloë is dikwels meer besorg oor maatskaplike geskille as oor godsdiensgeskille. Hulle “progressiewe” neigings bots met die konserwatiewe Spaanse hiërargie en ook met die Vatikaan. ’n Tipiese voorbeeld is José Sánchez Luque, ’n priester van Málaga, wat meen dat “die Kerk nie ’n monopolie van die waarheid het nie” en dat dit “die burgers [moet] oriënteer, maar sonder om hulle te domineer”.

Talle Spaanse Katolieke is dit hiermee eens—net ’n derde van die Spaanse Katolieke stem oor die algemeen saam met wat die pous sê. En die Spaanse episkopaat word selfs in ’n minder gunstige lig beskou. Van die Katolieke met wie onderhoude gevoer is in ’n onlangse opname, het ’n kwart verduidelik dat hulle hulle “nie steur aan” die biskoppe nie, terwyl 18 persent gesê het dat hulle hul in elk geval nie kan verstaan nie.

“’n Tweede evangelisasie”

Met die oog op hierdie onrusbarende situasie het die Spaanse biskoppe in 1985 ’n buitengewone reeks belydenisse uitgegee. Hulle het onder andere erken:

“Pleks van die ware aangesig van God

te openbaar, het ons dit versluier.”

“Miskien het ons die Woord van God

in kettings geslaan.”

“Nie almal van ons het die suiwer

boodskap van Jesus verkondig nie.”

“Ons het min op God en te veel

op die magte van hierdie wêreld vertrou.”a

Die biskoppe het ook erken dat die land al hoe meer wêrelds, of onverskillig teenoor godsdiens, geword het. Hulle het ’n “tweede evangelisasie” van Spanje aan die hand gedoen. Min het egter op hulle beroep ag gegee. Twee Katolieke dames wat van huis tot huis gegaan het, is verras. Hulle het meer tyd daaraan bestee om vir huisbewoners te verduidelik dat hulle nie Jehovah se Getuies is nie as wat hulle daaraan bestee het om hulle Katolieke boodskap oor te dra.

Dit behoort nie verbasend te gewees het nie, want Jehovah se Getuies het verlede jaar meer as 18 miljoen uur daaraan bestee om Spanjaarde in ’n opregte landswye evangelisasieveldtog by hulle huise te besoek. Soos die eerste-eeuse Christene voel alle Getuies verplig om ‘die werk van ’n evangelis te doen’ (2 Timotheüs 4:5). En hoewel hulle dalk alom onverskilligheid teenoor die kerk teëkom, val die evangelie, of goeie nuus van God se Koninkryk, wat hulle verkondig op horende ore.

Een bejaarde man met wie hulle in aanraking gekom het, was Benito. Toe die burgeroorlog uitgebreek het, was hy in die gebied wat deur die militêre opstandelinge beheer is. Hy is gedwing om hom as ’n soldaat in te skryf, maar in sy hart het hy gevoel dat dit verkeerd is om wapens op te neem. Hy het geweier om te aanvaar dat dit ’n “heilige oorlog” is. Pleks van sy medemens dood te maak, het hy homself met opset in die hand geskiet sodat hy nie ’n sneller sou kon trek nie.

Veertig jaar later het hy en sy vrou die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Benito was verheug om te leer dat God sy volk aanspoor om ‘van hul swaarde pikke te smee’, net soos sy gewete hom baie jare tevore beweeg het (Jesaja 2:4). Ondanks swak gesondheid het ook hy kort voor lank die werk van ’n evangelis gedoen.

“’n Pragtige seepbel”

Gloria was ’n Katoliek wat haar daarby berus het dat sy God op haar eie manier gaan aanbid. Sy het haar lewe jare lank aan die kerk gewy as ’n sendelingnon in Venezuela. Maar sy is ontnugter toe sy nie antwoorde kon vind op haar vrae oor kerkleringe, soos die Onbevlekte Ontvangenis van Maria, die vaevuur en die Drie-eenheid nie.

Wanneer sy verduidelikings gesoek het, is sy altyd meegedeel dat dit ’n verborgenheid is. ‘Waarom maak God dit so moeilik om dit te verstaan?’ het sy haar afgevra. By een geleentheid is sy gewaarsku dat as sy in die tyd van die Inkwisisie geleef het, sy verbrand sou word. ‘En dis waarskynlik waar’, het sy gedink.

As gevolg van sulke afjakke was sy skepties toe Jehovah se Getuies haar besoek het. Maar toe sy besef het dat alles wat hulle haar leer deur die Skrif gestaaf word, dat sy uiteindelik God se boodskap vir die mens kan verstaan, was sy oorstelp van vreugde. Sy wy nou baie van haar tyd aan die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk.

“Wanneer ek nou aan al die godsdiensseremonies van die Katolieke Kerk dink”, sê Gloria, “vergelyk ek hulle met ’n pragtige seepbel wat glinster met talle kleure, maar leeg is—as jy verder ondersoek probeer instel, verdwyn dit eenvoudig.”

Benito, Gloria en duisende ander Getuies van Jehovah in Spanje het ware geestelike verkwikking gevind deur hulle tot die suiwer waters van waarheid in die Heilige Skrif te wend. Sulke verkwikking het ontbreek in daardie imponerende Iberiese instelling, die Spaanse kerk—so ryk aan tradisie maar so arm aan geestelike voedsel, eeue lank so magtig maar nou so hulpeloos om die onverskilligheid van sy kwynende kudde teë te werk.

Jesus Christus het eens daarop gewys hoe belangrik dit is om godsdiensdwaling te identifiseer en te vermy en het gesê: “Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. . . . So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.”—Mattheüs 7:15-20.

Ons laat die leser self oordeel wat die vrugte van Spaanse Katolisisme is.

[Voetnoot]

a Nog ’n belydenis is by ’n gesamentlike byeenkoms van priesters en biskoppe in 1971 gedoen. Hoewel die vereiste tweederdemeerderheid dit nie aangeneem het nie, het meer as die helfte hierdie verklaring onderskryf: “Ons erken en vra nederig om verskoning dat ons nie, toe dit nodig was, geweet het hoe om ware ‘bedienaars van versoening’ te wees nie toe ons volk deur ’n broederoorlog in twee geskeur is.”

[Lokteks op bladsy 12]

Katolieke biskoppe het ’n beroep gedoen om ’n tweede evangelisasie van Spanje. Min het op hulle beroep ag gegee

[Prent op bladsy 9]

Net 3 uit 10 Spanjaarde gaan gereeld kerk toe

[Prent op bladsy 10]

Die Sagrada Familia-kerk in Barcelona is na honderd jaar van bouwerk en versoeke om bydraes steeds onvoltooid

[Erkenning]

Foto: Godo-Foto

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel