Die aarde se onopsigtelike verskuiwings
OP 18 Augustus 1994 het ten minste 171 mense in Algerië as gevolg van ’n kragtige aardbewing gesterf. Honderde is beseer en duisende is dakloos gelaat. ’n Paar weke vroeër is Bolivia, Colombia en Indonesië ook deur groot aardbewings getref, met ’n totale verlies van etlike honderde menselewens.
Was jy bewus daarvan dat hierdie groot rampe plaasgevind het? Waarskynlik nie, tensy jy persoonlik daardeur geraak is of in ’n buurland gewoon het. Daarenteen lyk dit asof die nuus soos ’n veldbrand versprei wanneer groot aardbewings die Kalifornië-gebied, VSA, tref, en wetenskaplike gegewens oor die skuddings word byna oombliklik beskikbaar gestel.
Die rede hiervoor is dat geen ander streek al so deeglik deur wetenskaplikes bestudeer is soos suidelike Kalifornië nie, waar meer as 700 seismometers aardbewings van selfs net 1,5 registreer. Die groot konsentrasie van seismoloë in daardie gebied verklaar waarom so ’n oorvloed van inligting oor aardbewings van die streek kom.
’n Onlangse ontdekking
Hierdie uitgebreide navorsing het wetenskaplikes in baie lande ongetwyfeld gehelp om aardbewings te verstaan en om dit selfs betyds te probeer voorspel om lewensverlies te voorkom. Sulke tegnologie is noodsaaklik, aangesien nagenoeg 40 buitengewoon hewige aardbewings elke jaar verskillende wêrelddele teister. Daar is ook kleiner aardbewings wat feitlik onskadelik is, maar steeds groot genoeg is om gevoel te word. Hulle kom tussen 40 000 en 50 000 keer per jaar voor!
Die meeste aardbewings is blykbaar die gevolg van groot ondergrondse gesteentelae wat breek wanneer dit onder spanning verkeer en met ’n slag in ’n nuwe posisie tot ruste kom. Hierdie versteurings vind gewoonlik al langs breuke in die aardkors plaas. Hierdie breuke veroorsaak verskuiwings.
Wetenskaplikes kan in die meeste gevalle die plekke waar hierdie verskuiwings voorkom in kaart bring en so aantoon watter gebiede geneig is tot aardbewings. Waarom sê ons “in die meeste gevalle”? Omdat wetenskaplikes onlangs uitgevind het dat hulle kaarte nie so volledig is as wat hulle eens gedink het nie. Wetenskaplikes is byvoorbeeld verontrus deur die onlangse ontdekking dat die meeste meetbare aardbewings in Kalifornië al langs onopsigtelike verskuiwings plaasvind—in baie gevalle in gebiede wat geoloë voorheen gemeen het betreklik vry van die gevaar van aardbewings is.
Volgens aardwetenskaplikes Ross Stein van die Amerikaanse Geologiese Opname en Robert Yeats van die Staatsuniversiteit van Oregon “lyk sag golwende of geplooide terrein moontlik na die onskadelikste landskap, wat eerder ’n gevoel van rustigheid as gevaar skep”. Nietemin het hulle studies aan die lig gebring dat daar verskuiwings wat aardbewings kan veroorsaak onder geplooide rotsboë is, waarvan baie al ontgin is vir die olie wat daarin vasgevang is. Waarom kon hierdie ondergrondse verskuiwings nie bespeur word nie, en hoe groot is die bedreiging wat hulle inhou?
’n Bedreiging wat nie verontagsaam moet word nie
Geoloë het lankal reeds besef dat rotse gedruk en geplooi kan word soos ’n verfrommelde mat. Maar daar is algemeen aanvaar dat dit ’n geleidelike, bestendige proses is. Onlangse studies van aktiewe rotsplooie toon egter dat hulle skielik opwaarts stu—tot vyf meter in net ’n paar sekondes! Hierdie plooibeweging pers die rotsmassa daaronder saam. Die gevolglike spanning laat die rots diep onder die plooi kraak, en een stuk van die rots begin oor die ander skuif. Hierdie skynbaar onskadelike plooie met hulle onopsigtelike verskuiwings ontwikkel tot aardbewings voordat seismoloë die geleentheid kry om hulle waar te neem. Net soos die opsigteliker verskuiwings, wat op die aardoppervlak sigbaar is, kan sulke ondergrondse verskuiwingsaktiwiteit hewige aardbewings veroorsaak.
Die aardbewing op 17 Januarie 1994 in Northridge in die Los Angeles-gebied is ’n onlangse voorbeeld van wat ’n onopsigtelike verskuiwing kan doen. Die aardbewing is veroorsaak deur baie diep verskuiwingsaktiwiteit wat tussen 8 en 19 kilometer onder die oppervlak plaasgevind het. Vóór die aardbewing het wetenskaplikes glad nie van die verskuiwing geweet nie. Hierdie onopsigtelike verskuiwing het ’n ontsaglike verwoesting van eiendom veroorsaak en daartoe gelei dat meer as 9000 mense beseer is en 61 gesterf het.
Wetenskaplikes vermoed dat onopsigtelike verskuiwings die oorsaak is van ’n hele aantal groot aardbewings, nie net in Kalifornië nie, maar ook in Algerië, Argentinië, Armenië, Indië, Iran, Japan, Kanada, Nieu-Seeland en Pakistan. Gedurende die laaste paar dekades het duisende in hierdie lande gesterf as gevolg van aardbewings wat moontlik deur onopsigtelike verskuiwings veroorsaak is.
Wetenskaplikes staan nou voor die uitdaging om uit te vind waar hierdie aktiewe plooie voorkom en om te voorspel watter potensiaal hulle het om aardbewings te veroorsaak. Intussen onderskat hulle nie meer die vernietigingskrag van ’n skynbaar onskadelike golwende heuwel nie.
[Venster op bladsy 22]
Is Los Angeles besig om te krimp?
’n Uitgebreide netwerk van verskuiwings en plooie wat onder Los Angeles, Kalifornië, geleë is, maak hierdie streek geweldig onstabiel. Dit wil voorkom asof die Los Angeles-bekken baie van die saampersing absorbeer wat deur ’n nabygeleë buig in die San Andreas-breuk veroorsaak word. (Sien die Ontwaak! van 22 Julie 1994, bladsye 15-18.) Plaaslike geoloë skat dat die plooiing as gevolg van hierdie saampersing moontlik besig is om die grondoppervlakte van die Los Angeles-bekken met 1000 vierkante meter per jaar te verminder.
[Foto-erkenning op bladsy 21]
Aardbol: Mountain High Maps™ copyright © 1993 Digital Wisdom, Inc.