Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 7/22 bl. 15-18
  • Kalifornië se skuddings—Wanneer gaan die Grote kom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kalifornië se skuddings—Wanneer gaan die Grote kom?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • San Francisco
  • Landers-skudding
  • Los Angeles
  • Sal daar ’n tweede Grote kom?
  • Die aarde se onopsigtelike verskuiwings
    Ontwaak!—1996
  • Hoe aardbewingslagoffers gehelp is
    Ontwaak!—1992
  • Nog groot aardbewings word verwag
    Ontwaak!—2010
  • Ontleding van ’n aardbewing
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 7/22 bl. 15-18

Kalifornië se skuddings—Wanneer gaan die Grote kom?

DIE grond het geskud. Gasleidings het gebreek. Geboue het inmekaargestort. Vure het gewoed. Was dit die onlangse aardbewing in Los Angeles? Nee. Dit was die skudding wat San Francisco op 18 April 1906 getref het. Daardie skudding, en die vuur wat daarna drie dae lank gewoed het, het 512 blokke in die middestad vernietig en ongeveer 700 lewens geëis.

Wat veroorsaak sulke rampe?

Wetenskaplikes probeer dit deur middel van die teorie van plaattektoniek verduidelik. Hulle sê dat die aardkors op ongeveer 20 onbuigsame rotsplate, of -blokke, rus wat stadig beweeg en by mekaar verbygly en op sekere plekke onder mekaar ingly. Die Pasifiese plaat gly stadig noordwaarts verby die Noord-Amerikaanse plaat. Die strook waar hierdie twee plate by mekaar verbygly, word die San Andreas-verskuiwing genoem. Dit strek ongeveer 1050 kilometer noordwaarts, van die bopunt van die Golf van Kalifornië af tot waar dit in die Stille Oseaan naby San Francisco verdwyn.

Hierdie plate beweeg baie stadig, ongeveer so vinnig soos wat jou vingernaels groei—’n paar sentimeter per jaar. Deur baie jare heen bou spanning op wanneer die plate vashaak terwyl hulle by mekaar probeer verbybeweeg. Dan kan hulle met ontsaglike krag losbreek.

Die San Andreas-verskuiwing strek 53 kilometer noordoos van Los Angeles en in die Stille Oseaan in naby San Francisco. Is dit enigsins dan ’n wonder dat Kaliforniërs oor die sogenaamde Grote bekommerd is?

San Francisco

Ná die 1906-skudding het die noordelike punt van die San Andreas-verskuiwing betreklik passief gebly. Toe, om 5:04 nm. op 17 Oktober 1989, het nagenoeg 50 miljoen Amerikaners vasgenael voor hulle TV’s gesit om na die Bofbal-wêreldtoernooi vanaf San Francisco te kyk. Skielik het die kameras begin skud. Ongeveer 100 kilometer suid van San Francisco het die twee kante van die San Andreas-verskuiwing by mekaar verbygeskiet en ’n skudding veroorsaak wat 63 mense gedood het, hoofweë en motors verwoes het en duisende mense dakloos gelaat het. Maar daardie aardskudding was baie kleiner as die voorspelde lesing van 8 wat vir die Grote verwag word.a

In die lente van 1985 het die Amerikaanse Geologiese Opname voorspel dat ’n skudding met ’n lesing van 6 binne vyf jaar vanaf 1988 naby die dorpie Parkfield sal plaasvind, ongeveer halfpad tussen Los Angeles en San Francisco. Deur die grondbeweging voor hierdie verwagte skudding te bestudeer, het hulle gehoop om vas te stel hoe om aardbewings te voorspel en in staat te wees om ’n waarskuwing uit te reik moontlik ure of selfs dae voor ’n skudding plaasvind. Hierdie studie het $15 miljoen (R52 miljoen) gekos, maar die skudding het nooit plaasgevind nie. Soos William Ellsworth van die Amerikaanse Geologiese Opname eenkeer gesê het, “die interpretasie van seismiese patrone is ’n onakkurate wetenskap”.

Landers-skudding

Niemand het dus op 28 Junie 1992 verwag dat ’n skudding met ’n lesing van 7,5 die ylbewoonde streek naby Landers, in suidelike Kalifornië se Mojave-woestyn, sou tref nie. Van hierdie skudding het die tydskrif Time gesê: “In ’n paar angswekkende oomblikke het dit paaie verlê, parkeerterreine herskik en die landskap in tallose onberekenbare maniere hervorm, terwyl dit wonderbaarlik net een lewe geëis het.” Vir so ’n groot skudding was die skade gering.

Hierdie skudding was dus ook nie die Grote nie. Trouens, dit was nie eens op die San Andreas-verskuiwing nie, maar op een van die kleiner verskuiwings in die omgewing.

Dit is egter moontlik dat die Landers-skudding, tesame met ’n kleiner skudding naby Big Bear, nabygeleë dele van die San Andreas wakker gemaak het. Wetenskaplikes het gesê dat die plate wat langs die suidelikste deel van die San Andreas vassit ’n 40 persent kans het om die een of ander tyd binne die volgende 30 jaar los te breek. Dit kan tot die Grote lei wat so lank al gevrees word, wat met ’n lesing van 8 ongeveer vyf keer kragtiger as die een by Landers sal wees.

Los Angeles

Toe, op 17 Januarie vanjaar, is Los Angeles om 4:31 vm. wakker geskud. Ongeveer 18 kilometer onder die oppervlak van die digbevolkte San Fernando-vallei in Los Angeles het ’n rotsplaat blykbaar langs ’n diepliggende verskuiwing ongeveer 5,5 meter ver verbygegly. Hierdie skok wat tien sekondes geduur het, met ’n lesing van 6,6, het ten minste 57 lewens geëis. Dit is tragies dat 16 mense omgekom het in een woonstelgebou wat inmekaargestort het. ’n Man wat dit oorleef het, was agt uur lank vasgekeer onder 20 ton beton in ’n inmekaargestorte parkade. ’n Hoofweg wat inmekaargestort het, het die stad se hoofroete na die noorde afgesny. Kerke, skole, winkels en ’n belangrike hospitaal is gesluit. Soos gewoonlik was dit gesinne met ’n laer inkomste wat die ergste geraak is, omdat hulle in ouer geboue bly wat gebou is voor moderne aardbewing-bouregulasies ingestel is.

Hierdie skudding het die probleme aan die lig gebring wat met selfs kleiner, plaaslike verskuiwings reg onder ’n groot stad kan ontstaan. Wat mense betref, is enige aardbewing vir hulle die Grote wanneer hulle bo-op hom slaap!

Die verwoesting sou baie groter gewees het as dit nie vir streng plaaslike bouregulasies was nie. Daar word uit elke aardbewing geleer, wat dit dalk volgende keer makliker sal maak. Party oorhoofse hoofweë wat ná vorige skuddings versterk is, het tydens hierdie skudding bly staan; ander het nie. Maar die eintlike toets sal kom as ’n groter aardbewing—’n waarlik grote—naby ’n groot stad plaasvind. Dalk weer Los Angeles?

Sal daar ’n tweede Grote kom?

‘O, nee! Nie nog een nie! Een is al te veel!’ Party geoloë sien nietemin nog ’n grote in die nabye toekoms. Die tydskrif New Scientist van 22 Januarie 1994 het gesê: “Deskundiges waarsku dat gevaarlike verskuiwingslyne onder Los Angeles ’n ‘Grote’ kan veroorsaak wat net so verwoestend sal wees soos die een wat op die San Andreas-verskuiwing verwag word. . . . In die Los Angeles-bekken is daar besonder baie stootverskuiwings omdat die San Andreas-verskuiwing—wat op die meeste plekke van noord na suid deur die staat loop—by Los Angeles weswaarts buig, wat ekstra druk op daardie punt veroorsaak. Die bewegende land op die Pasifiese plaat moet op die een of ander manier by daardie draai verbykom en sy rit noordwaarts voortsit.”

Met die beweging van die Pasifiese plaat, meen geoloë, is die netwerk van stootverskuiwings in die Los Angeles-bekken geskep, waarvan een verantwoordelik was vir die skudding wat vroeër vanjaar daar gevoel is. ’n Week later het die tydskrif New Scientist sy eerste verslag oor daardie skudding met hierdie verslag opgevolg: “Wetenskaplikes meen steeds dat die verskuiwing wat vir die skudding verantwoordelik was ’n stootverskuiwing is—’n verskuiwing waar ’n rotsblok opwaarts en oor ’n ander rotsblok gly. Gedurende verlede week se skudding is die Santa Susana-berge noord van die episentrum ten minste 40 sentimeter [16 duim] gelig en terselfdertyd 15 sentimeter [6 duim] noordwaarts geskuif.”

Kerry Sieh, ’n geoloog van Caltech, meen dat die kleiner stootverskuiwings wat die Los Angeles-bekken deurkruis net so gevaarlik kan wees soos die verwagte skudding op die San Andreas waarvan die lesing 8 sal wees. Mnr. Sieh vra dan met Los Angeles in gedagte: “Is dit moontlik dat ons ’n waarlik grote, met ’n lesing van 8, onder die middestad kan kry?” ’n Skrikwekkende vraag, as jy die miljoene in ag neem wat bo-op sit!

Kaliforniërs leef blykbaar met aardbewings saam, soos ander mense met orkane, vloede of tornado’s saamleef.

[Voetnoot]

a Hierdie lesing is volgens die momentelegrootte-skaal. Hierdie skaal word reg bo-op die beweging van die rots op ’n verskuiwing geplaas. Die Richter-skaal meet die amplitude van die seismiese golwe en is gevolglik ’n indirekte meting van die aardbewing se intensiteit. Die twee skale toon gewoonlik dieselfde lesing vir die meeste aardbewings, hoewel die momentelegrootte-skaal akkurater is.

[Kaart op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Stootverskuiwingslyne in die Los Angeles-kom

San Andreas-verskuiwing

Los Angeles

STILLE OSEAAN

[Prent op bladsy 15]

’n Hoofweg wat deur die Los Angeles-skudding van 1994 beskadig is

[Erkenning]

Hans Gutknecht/Los Angeles Daily News

[Prent op bladsy 17]

Vlamme uit ’n gasleiding wat deur die 1994-skudding gebreek is

[Erkenning]

Tina Gerson/Los Angeles Daily News

[Prent op bladsy 18]

Hierdie ineengestorte deel van ’n hoofweg in Los Angeles het oorgebly ná ’n skok van tien sekondes met ’n lesing van 6,6

[Erkenning]

Gene Blevins/Los Angeles Daily News

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel