Reik uit met hande wat praat
VANAF Junie 1995 en gedurende die hele somer het Jehovah se Getuies in die gebied onder die toesig van die tak in die Verenigde State 181 streekbyeenkomste met die tema “Vreugdevolle Lowers” gehou. By twee daarvan—een in die ooste en die ander in die weste—is die hele program direk in Amerikaanse Vingertaal aangebied. Sodoende is die program baie duideliker gemaak—want ’n direkte aanbieding vir die dowes in vingertaal is baie verstaanbaarder as ’n vertolking van die gesproke woord.
Afgevaardigdes van 11 vingertaalgemeentes en nagenoeg 30 vingertaalgroepe van regoor die Verenigde State was teenwoordig. Maar daar was ook afgevaardigdes teenwoordig van Brittanje, Denemarke, die Dominikaanse Republiek, Duitsland, Ecuador, Japan, Kanada, Mexiko, Noorweë, Puerto Rico en Rusland. Daar was gevolglik ’n internasionale atmosfeer.
Videomonitors is opgestel sodat die program op kringtelevisie gesien kon word. ’n Aantal van die afgevaardigdes was egter doof en blind. Hoe kon hierdie mense by die program baat vind? Dit was werklik hartroerend om te sien hoe meer as honderd vrywilligers beurte maak om elke dag se program deur middel van tasvertolking aan hulle oor te dra.
By hierdie twee byeenkomste het 36 hulle toewyding aan Jehovah God deur doop gesimboliseer. Nog ’n hoogtepunt was die drama, Eer bejaarde waardiges. Hoe opwindend was dit tog dat die hele drama in vingertaal aangebied is, wat dit vir die dowes moontlik gemaak het om ’n groot aandeel aan die aanbieding te hê!
Toe is die nuwe Bybelstudiehulp, Kennis wat tot die ewige lewe lei, vrygestel. Die byeenkomsgangers was veral bly om te hoor dat ’n vingertaalweergawe van hierdie boek op videoband beskikbaar gemaak is! Deel 1, wat by die byeenkoms vrygestel is, bevat die eerste drie hoofstukke. Nog vyf kassette sal volg. “Ons is so dankbaar vir hierdie nuwe video”, het een afgevaardigde van Ohio gesê. “Dit sal ons help om die werk onder die dowes te bespoedig.”
Die 2621 wat hierdie twee byeenkomste bygewoon het, het geestelik verkwik na hulle huise teruggekeer. Hulle was meer vasbeslote as ooit om die woorde van die psalmis hulle eie te maak: “Laat alles wat asemhaal Jah loof. Loof Jah!”—Psalm 150:6, NW.