Ek kom voor ’n mediese noodgeval te staan
“EK SAL eerlik wees; jy het ’n kwaadaardige gewas. As ons dit nie betyds verwyder nie, sal dit ander lewensbelangrike organe aantas. Daarom beveel ek aan dat jou been afgesit word.”
Die dokter se woorde het my soos ’n emmer koue water getref, soos ons hier in Peru sê. Ek was maar net 21. ’n Maand vroeër het ek pyn in my linkerknie begin voel en is vir rumatiek behandel. Maar binne ’n paar dae kon ek nie eens staan nie.
Op daardie stadium het ek as ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies in die Andesgebergte in Sentraal-Peru gedien. Nadat ek na my tuisdorp Huancayo teruggekeer het, het my moeder saam met my na die kusstad Lima gegaan. Daar het ek op 22 Julie 1994 by die beste kankerhospitaal in die land ingestap en uitgevind dat my siekte ’n osteosarkoom genoem word.
’n Gewetensaak
Ek is gou ingelig dat die hospitaal nie operasies doen sonder om bloed te gebruik nie. Een dokter het selfs gesê: “Ek verkies dat jy eerder by die huis sterf as wat jou dood op my gewete rus.” Maar die plaaslike Hospitaalskakelkomitee (HSK), ’n groep van Jehovah se Getuies wat samewerking tussen die hospitaal en die pasiënt bevorder, het namens my tussenbeide getree. Die hoofchirurg van die hospitaal het gevolglik toestemming gegee dat enige dokter op sy personeel die operasie kon doen as hy die uitdaging wou aanvaar. Een dokter was gewillig, en ek is onmiddellik gereed gemaak vir die operasie.
Ek het baie besoekers voor die operasie gehad. ’n Priester, met ’n Bybel in die hand, het gekom en vir my gesê dat my siekte ’n straf van God is. Hy het my aangespoor om enige behandeling te aanvaar wat my lewe kon red. Ek het vir hom gesê dat ek vasbeslote was om die Bybel se bevel om my ‘van bloed te onthou’ te gehoorsaam.—Handelinge 15:19, 20, 28, 29.
Verpleegsters het ook ingekom en gemompel: “Hoe dwaas, hoe dwaas!” Groepe dokters het ook gekom. Hulle wou die jong man sien wat geweier het om ’n bloedoortapping te neem vir die soort operasie waarin hulle gedink het bloed ’n vereiste is. Maar die besoeke wat vir my die belangrikste was, was dié van my mede-Christene en familielede. Die verpleegsters was nogal beïndruk deur hierdie talle bemoedigende besoeke.
Suksesvolle behandeling sonder bloed
Enkele minute voordat ek narkose toegedien is, het ek een van die narkotiseurs hoor sê: “Ek is nie verantwoordelik vir wat gebeur nie!” Maar die ander narkotiseur sowel as my dokter en die direkteure van die hospitaal het my versoek om nie bloed te ontvang nie, eerbiedig. Die volgende ding wat ek gehoor het, was ’n narkotiseur wat gesê het: “Samuel, word wakker. Jou operasie is verby.”
Hoewel my hele been verwyder is, het ek kwaai pyn begin voel waar my been vroeër was. Ek wou die pyn verlig deur my bobeen te vryf, wat natuurlik nie meer daar was nie. Ek het die eienaardige verskynsel ervaar wat as skynpyn bekend staan. Ek het werklik pyn gevoel, en dit was ondraaglik, selfs al was die ledemaat waarvandaan die pyn blykbaar gekom het nie meer daar nie.
Daarna moes ek chemoterapie ontvang. ’n Newe-effek van hierdie behandeling is ’n verlies aan rooi en wit bloedselle en aan bloedplaatjies, wat noodsaaklik is vir stolling. Dit het beteken dat ’n nuwe groep dokters in kennis gestel moes word dat ek weier om bloedoortappings te neem. Die HSK het weer eens met die verantwoordelike dokters gepraat, en die dokters het ingestem om my sonder bloed te behandel.
Die gewone newe-effekte het op die chemoterapie gevolg—my hare het uitgeval, en ek was naar, het opgegooi en het terneergedruk geraak. Ek is ook meegedeel dat ek ’n 35-persentkans het om breinbloeding te kry. Ek kon nie anders as om een van die dokters te vra wat dit is wat my uiteindelik gaan doodmaak nie—die kanker of die chemoterapie.
Daarna het die dokters gesê dat hulle nie die tweede dosis chemoterapie kon toedien voordat hulle nie eers my bloedtelling met ’n bloedoortapping opgebou het nie. As hy kon, het een dokter woedend gesê, sou hy my onder narkose sit en my die bloed gee. Ek het vir hom gesê dat ek die chemoterapie heeltemal sou staak voordat ek dit sou laat gebeur. Die dokter het bewondering vir my ferm standpunt uitgespreek.
Ek het ingestem om eritropoiëtien te neem om my bloedtelling op te bou. Nadat dit toegedien is, het my bloedtelling gestyg. Daarna is die chemoterapie oor ’n tydperk van ’n paar dae deur my are toegedien. Ek het daar gelê en gewonder: ‘Is dit hierdie dosis wat die breinbloeding gaan veroorsaak?’ Gelukkig het ek die hele behandeling sonder rampspoedige gevolge ontvang.
Voor my operasie was dit die hospitaal se beleid om mense weg te wys wat nie bloedoortappings wou aanvaar nie. Maar hierdie beleid het verander. Trouens, die dag net ná my operasie het my dokter nog ’n operasie sonder bloed gedoen, en hierdie keer was die pasiënt nie een van Jehovah se Getuies nie! ’n Aantal dokters in daardie hospitaal gee nou hulle samewerking aan die HSK, en hulle het ingestem om pasiënte te aanvaar wat bloedlose chirurgie wil hê.
Ek pas by my beperkings aan
Sedert my kinderdae is ek God se weë geleer. Ek is seker dat dit my gehelp het om in hierdie mediese noodgeval by my Bybelse oortuiging te bly. Die laaste tyd het dit my egter begin ontstel dat ek nie soveel in God se diens kan doen as wat ek graag wil nie. Ek het met my oom wat ’n Christen- ouer man is oor my gevoelens gepraat. Hy het my daaraan herinner dat selfs die apostel Paulus iets gehad het wat hy ’n ‘doring in sy vlees’ genoem het en dat dit hom verhinder het om God te dien tot die mate wat hy graag wou. Maar Paulus het gedoen wat hy kon (2 Korintiërs 12:7-10). My oom se woorde het my ontsettend baie gehelp.
Ek het onlangs my mate laat neem vir ’n kunsbeen. Die been sal dit hopelik vir my moontlik maak om my diens aan ons God, Jehovah, meer uit te brei. Ek is dankbaar dat ek gedurende my mediese noodgeval ’n goeie gewete behou het. Ek is vol vertroue dat Jehovah my, as ek getrou bly, sal beloon met ’n gesonde liggaam en die ewige lewe op ’n paradysaarde waar daar nie meer pyn en lyding sal wees nie.—Openbaring 21:3, 4.—Soos vertel deur Samuel Vila Ugarte.